The lie of 1652
Patric Mellet
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624089704
Dit sou baie moeilik, dalk onmoontlik wees om ’n ander, beter toekoms te verbeel sonder om ook die verlede te herverbeel. Met sy The lie of 1652: A decolonised history of land, myns insiens een van die belangrikste niefiksie boeke wat in 2020 in Suid-Afrika gepubliseer is, onderneem Patrick Tariq Mellet presies hierdie projek: ’n deurtastende, kritiese en toekomsontsluitende herverbeelding van die geskiedenis van Suid-Afrika; ’n verhaal van onteiening en vervreemding, en van trauma wat vandag nog individueel en kollektief ervaar word.
Mellet se boek is ’n liefdeswerk, ’n boek wat nie eerstens geskryf is om "Die Geskiedenis" akademies af te baken en vanuit geveinsde neutraliteit te beskryf nie, maar om "ons geskiedenis" te vertel: die historiese konteks wat sin maak van sy eie lewe en dié van miljoene ander Suid-Afrikaners wat deur kolonialisme en apartheid nie net materieel van grond en lewensmiddele ontneem is nie, maar simbolies vervreem is van herkoms en kultuur, en selfs van mekaar as mede-Afrikane. Ek dink hier spesifiek aan die politieke filosoof Cornel West se stelling: "Never forget that justice is what love looks like in public." Want as Mellet se boek ’n liefdeswerk is, is dit beslis een wat in diens staan van ’n soeke na geregtigheid — na regstelling van uitbeelding in die geskiedskrywing van Suid-Afrika, ja, maar ook na materiële en simboliese regstelling in die breër samelewing.
Die insig en dryfveer onderliggend aan Mellet se boek is dat geregtigheid benewens materiële kompensasie ook vereis dat die historiese bewussyn en agentskap van koloniale onderdruktes opnuut bemiddel sal word, ook deur boeke soos hierdie, op maniere wat die marginalisering en vervreemding inherent aan koloniale identiteitsprojekte en representasies ongedaan sal maak. Hiervoor moet die verlede herverbeel word, spesifiek vanuit die uitgangspunt en ervaring van onderdruktes, en buite die oorgelewerde raamwerke van die koloniale verbeelding van dieselfde verlede. Dit is wat The lie of 1652, ’n people’s history as ’t ware, so uitstekend regkry. Dit is ’n boek wat nie bloot óór onderdrukte groepe handel nie, maar vír hulle geskryf is. Dit is ’n strydskrif vir ’n simboliese oorlog, ’n roetekaart na ’n Suid-Afrika wat nie deur "1652" en alles wat dit simboliseer, gedefinieer sal word nie.
Our history was relegated to the realm of the natural history framework of Iron Age and Stone Age hominins. African social history as taught by institutions of learning in South Africa was said to have begun by the establishment of a European colony in 1652. This can be referred to as the ‘1652 paradigm’. (p 12)
The intention of these discussions and perspectives is not to present a new "authentic" version of history, but rather to disrupt the dominant colonial paradigm of thinking about southern Africa and to promote exploration of the past that can build consciousness leading to reclaiming a trajectory of rising above adversity through acts of resistance. (pp 93-94)
Ek bedoel beslis nie dat die boek nie akademiese meriete het nie, net soos ek nie met "verbeelding" en "herverbeelding" bedoel dat Mellet die geskiedenis uit sy duim suig nie. Die boek is deeglik nagevors en goed geskryf; dit is ’n meesleurende en intelligente leeservaring en Mellet se greep op die historiese logika en magstrategieë van koloniale heerskappy in Suider-Afrika, veral wat betref die ideologiese operasionalisering van ras en etnisiteit sedert die vroeë 1700’s, is skitterend. Jy kan nie hierdie boek lees en bly vasklou aan die romantiese idee dat ons "diversiteit" as Suid-Afrikaners dui op ’n soort godgegewe lappieskombers van "rasse", "kulture" en selfs tale wat eers in onmin en ongelykheid geleef en nou versoen moet word nie. Hierdie begrippe en die maatskaplike en eksistensiële werklikhede wat hulle tot gevolg gehad het, is deur koloniale heersers geskep en deur sosiale wetenskaplikes in diens van mag gekodifiseer en uitgebrei. Dit was en bly ’n vorm van simboliese geweld wat in diens gestaan het van die geweld van uitwissing, onteiening, verskuiwing en onderdrukking. Dit was die kulturele sous wat die verontmensliking van die sisteem verteerbaar moes maak. Ons leef, letterlik, binne die koloniale verbeelding; ook wit mense, die begunstigdes van koloniale uitbuiting, is gevange in die selfvervreemdende effekte van ’n ideologiese konstruk, die absurde maar brutaal effektiewe idee van "witheid".
.........
Dit was die kulturele sous wat die verontmensliking van die sisteem verteerbaar moes maak. Ons leef, letterlik, binne die koloniale verbeelding; ook wit mense, die begunstigdes van koloniale uitbuiting, is gevange in die selfvervreemdende effekte van ’n ideologiese konstruk, die absurde maar brutaal effektiewe idee van "witheid".
...........
’n Boek wat die verlede herverbeel en wat dit doen vanuit die perspektief van die onderdruktes, kan dus nie sonder meer verwerp word as ’n "subjektiewe" teks wat die geskiedenis ideologies verdraai nie. Geen geskiedskrywing is bloot ’n weergee van feite nie. Behalwe dat feite altyd binne ’n teoretiese raamwerk geïnterpreteer word, moet hulle ook ’n narratiewe struktuur gegee word om geskiedskrywing eerder as ’n indeks van feite te word. Perspektief, tydsverloop, hoofkarakters en bykarakters, keuses oor onderwerpe, en so meer, alles speel ’n rol. Enige stuk geskiedskrywing is altyd reeds ’n interpretasie van die verlede, eerder as wat dit daardie verlede bloot weergee. Mellet is verder baie bewus van die politieke rol wat amptelike interpretasies van die verlede binne die koloniale projek gespeel het, beide as legitimering en mobilisering daarvan, en dus probeer hy doelbewus die aannames en kategorieë van koloniale geskiedskrywing omverwerp.
............
Mellet gee krediet aan hierdie voorgangers, maar hy gebruik hierdie bronne in ’n omvangryker narratief wat The lie of 1652 nie net ’n boeiende stuk populêre geskiedenis maak nie, maar ’n belangrike politiek-filosofiese bydrae tot die mees dringende gesprekke oor Suid-Afrika vandag: historiese trauma, grondhervorming, die moontlikheid van nierassigheid, ens. Dit is ’n boek wat historiese dimensie gee aan ’n dringende gesprek oor die hede.
............
Van hierdie aannames, soos dat die Kaap en die binneland van wat vandag Suid-Afrika is, grotendeels "leeg" was toe die Europeërs hulleself hier gevestig het, is natuurlik al deur ander historici, soos Shula Marks, weerlê — Mellet gee krediet aan hierdie voorgangers, maar hy gebruik hierdie bronne in ’n omvangryker narratief wat The lie of 1652 nie net ’n boeiende stuk populêre geskiedenis maak nie, maar ’n belangrike politiek-filosofiese bydrae tot die mees dringende gesprekke oor Suid-Afrika vandag: historiese trauma, grondhervorming, die moontlikheid van nierassigheid, ens. Dit is ’n boek wat historiese dimensie gee aan ’n dringende gesprek oor die hede. Mellet se analise van die de-afrikanisering van veral "bruin" maar ook "swart" Suid-Afrikaners deur die wyse waarop ras koloniaal gekonseptualiseer en geïnternaliseer is, en die reproduksie hiervan deur die ANC sedert 1994, moet deur almal gelees word. Natuurlik, die tradisie van nierassigheid waarby Mellet aansluit en wat hy ontwikkel, het niks te make met die oneerlike appropriasie van die term deur die DA en ander wat wit belange teen radikale transformasie wil verskans nie.
Racism, de-Africanisation, constructed identities, segregation and apartheid can be shown to be directly related to the expropriation of African land and the exploitation of slave labour and its successor systems — indentured labour and African migrant labour. Resolution of what are called the "National Question" and the "Land Question" is intricately bound up with this expropriation experience. It is also the mischief in discourse and debate that drives the deviant tangents of narrow identity politics, Verwoerdian ethno-nationalism and "firstism". Often these tangents do more harm than good in the quest for restorative justice and recognition for foundation peoples and the many cultures born of these foundations. (p 276)
Wat dit betref, moet die epistemologiese naïwiteit en politieke tonnelvisie van sommige van Mellet se kritici tog genoem word — al wil ek nie onnodig stilstaan by die verdagmaking en venyn wat Mellet se boek en persoon al ontlok het nie. Hoekom sou ’n mens immers, wanneer iemand soos Leopold Scholtz, wat die uitgewer Tafelberg in ’n rubriek op Maroela Media kritiseer omdat hulle so ’n "swak stuk geskiedskrywing" gepubliseer het, tog ook ruiterlik erken "ek het Mellet se boek nog nie gelees nie"? ’n Herhaalde punt van kritiek is dat Mellet postuleer dat die plaaslike bevolking aan die Kaap in die halfeeu voor Van Riebeeck se aankoms ’n hawe bedryf het. Mellet skryf dit nie regtig nie; hy verwys na ’n "proto-hawe", maar dit maak eintlik nie soveel saak nie. Natuurlik kan en sal historici van hom verskil oor die besonderhede van die lewe aan die Kaap tussen 1600 en 1652.
...............
Die belangriker punt, en dit kyk sy kritici mis, is dat Mellet die plaaslike bevolking as outonome en aktiewe historiese agente beskryf. Hulle figureer nie bloot as agtergrond en ten beste medespelers in die eintlike verhaal van wit vestiging aan die Kaap nie. Hulle leef, dink en droom onafhanklik aan die suidpunt van Afrika. Hulle maak sin van die kom en gaan van skepe, van die winde wat nuwe geleenthede en nuwe gevare bring. Hulle bied weerstand, hulle verloor, hulle bied weer weerstand. Hulle word anders. Die wêreld word anders. Hulle is die middelpunt van ’n verhaal waarin Jan van Riebeeck en die seevaarders voor hom gewoonlik die hoofkarakters is.
..................
Die belangriker punt, en dit kyk sy kritici mis, is dat Mellet die plaaslike bevolking as outonome en aktiewe historiese agente beskryf. Hulle figureer nie bloot as agtergrond en ten beste medespelers in die eintlike verhaal van wit vestiging aan die Kaap nie. Hulle leef, dink en droom onafhanklik aan die suidpunt van Afrika. Hulle maak sin van die kom en gaan van skepe, van die winde wat nuwe geleenthede en nuwe gevare bring. Hulle bied weerstand, hulle verloor, hulle bied weer weerstand. Hulle word anders. Die wêreld word anders. Hulle is die middelpunt van ’n verhaal waarin Jan van Riebeeck en die seevaarders voor hom gewoonlik die hoofkarakters is.
Waarom is dit nog so moeilik vir so baie van ons om te verbeel?
Kommentaar
Indien historici in die slaggat sou trap om vrye teuels aan hul verbeelding te gee en sodoende oor en oor gebeurtenisse uit die verlede in hul verbeeling en herverbeelding op te diep, waar gaan ons eindig met geskiedskrywing as ‘n professionele vakdissipline? Ons weet ook stres het meestal ‘n negatiewe invloed op verbeeldingsinhoude en ‘n hoë mate van stres kan selfs tot verwronge verbeeldingsprodukte aanleiding gee. Objektiewe feite kan op grond van van verbeelding selfs heeltemal verkeerd vertolk word. Realisme is belis ‘n meer sinvolle vertrekpunt. Wees veral versigting vir verbeelding en herverbeelding wanneer dit by die vertolking van historiese feite kom.
Ek weet darem nie hoe feitlik korrek geskiedenis is nie. Veral die ou Krotoa verhaal.
Al wat ek weet, is dat baie Spaanse-Moorse bloed na die Kaap gekom het, na die 30-jaar-oorlog. Die "Nederland" van 1652, het heeltemal anders gelyk as na die 80-jaar-oorlog.
'n Verfrissende, intelligente resensie - baie dankie.
As an AfricanNativeDescendant from millenia goneby to the present journey=Life=truths of OurCollectiveHeritage can,t be erased by lies.
Ek is bewus dat Desmond Painter 'n wye leeskennis het. Derhalwe is ek ietwat verbaas dat hy nie die werk van Mellet oor die boeg van Linda Hutcheon se historiese metafiksie (1988) gooi nie. Dit sou 'n meer oortuigende argument gewees het.
As praktiserende historikus is ek ook daarvan bewus dat die woning van geskiedenis vele kamers het. Talle word verwelkom en gehuisves, maar as jy nie die basiese beginsels van die dissipline eerbiedig nie en oor die lange duur nie die toets van die tyd kan deurstaan en bo deurwinterde kritiese oordeel kan uitstyg nie, sal jy nie langer daar kan oornag nie.
Dit is nogal jammer dat so baie skrywers wat ywerig oor die rasseprobleem in Suid-Afrika skryf en filosofeer geensins enige aandag gee aan die invloed wat 16e en 17e eeuse Europese denke oor ras en rassisme, wat sekerlik 'n baie groot invloed sou gehad het, op die kolonialisering wat plaasgevind het.
Daardie Europese denke sou sekerlik saam met Van Riebeeck in die Kaap aangeland het en sou ook later verder uitgedra word deur die Engelse besetting van Suid-Afrika.
Die geskiedenis oor ras leer ons dat die Engelse van die grootste rassiste was veral ten opsigte van die manier waarop hulle die Ierse volk behandel het. Dit sou ook interessant gewees het om 'n vergelyking te kon sien tussen die optrede van die Suider-Afrikaanse kolonialiste en die Engelse en Spaanse kolonialiste in Amerika en Suid-Amerika.
Rassisme en apartheid of segregasie of rasse-onderdrukking is nie 'n eg Suid-Afrikaanse of Afrikaner uitvinding nie. Dit het 'n lang geskiedenis van voor 1652. Een voorbeeld is die werk van die Romeinse historikus, Tacitus, wat in die eerste eeu NC sy studie, "Germania", oor die Duitse stamme noord van Rome, gepubliseer het wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die "Germaanse Mite".
En die probleme wat met ras en rassisme gepaard gaan gaan nie gou opgelos word nie, indien ooit.
Heinrich Wyngaard voel konstant daar is "onbetaalde skuld"? Hierdie emosionele plakkery oor "skuld" kan ook nou stop. Dit het GEEN basis nie en is niks anders as die Tirannie van Skulddemokrasie nie. Ek is gatvol vir die geslag wat hul by geen etniese kultuurgroepering in SA tuis voel nie en almal beskuldig vir hul sindroom.
Dankie, Desmond, vir 'n uitstekende resensie van Mellet se opspraakwekkende boek. Dit is beslis die moeite werd om die boek te lees en al is dit 'n groot taak om die boek in sy geheel te lees, het dit vir my totaal nuwe perspektiewe op die SA geskiedenis gegee en nie net van die vroeg Kaapse deel daarvan nie. Ek dink die noodsaak vir goeie, robuuste en indringende dialoog tussen historici en ander ingeligte lesers en skrywers is duidelik en dringend. Ronde-tafel-gesprekke en seminare is uitstekende middele daarvoor, selfs virtueel in ons huidige beperkte sosiale interaksie en dialoog. 'n Soort Historikerstreit is wat nodig is, ook oor ander aspekte van die samelewing en die geskiedenis. Dankie vir die onbevange lees van hierdie belangrike boek. Belangrik, al stem 'n mens nie noodwendig met elke stukkie interpretasie daarin saam nie. Ek het die revisie van die geskiedenis in Mellet se boek oortuigend en gegrond op goeie bewysvoering gevind, maar dan gee ek my oordeel as 'n leke-historikus en antropoloog. Ek verbaas my oor die gevestigde Afrikaanssprekende historici se sterk afwysing van die boek sonder om die waarde van hierdie stuk revisionisme in besonderhede te ontleed, te assesseer of te weerlê. Mellet skryf vanuit 'n bruin identiteitsperspektief, maar dit is 'n refleksiewe identifisering en nie 'n essensialistiese een nie. Ons het meer hiervan nodig.
Ek stem saam dat meer perspektiewe welkom is as wat daar reeds bestaan, maar as iemand wat met een voet soms in die akademies-gefundeerde geskiedskrywing en die ander soms in fiksie, van wetenskapfiksie tot historiese romans, en wat al van faksie as stylvorm (om feite indie romanvorm aan te bied) gebruik gemaak het, is ek oortuig dat jy jou motiewe vooraf duidelik moet stel en bewus wees van die onkunde, subjektiwiteit en versugtinge van ’n groot deel van die publiek, sodat jy nie verwarring veroorsaak nie. Historici, wat opgelei is om so geloofwaardig en so onbetrokke as moontlik te werk, kan dus nie anders as om hulle teen heelwat van Mellet se stellings en aggressiewe ingesteldheid uit te spreek nie. Ek is nog besig om die boek te lees, en gaan my dus nie uitvoerig daaroor uitspreek nie, maar dis hoe ek sover daaroor voel, en dis die ingesteldheid wat ek probeer handhaaf, maar ek kan sien dat die skrywer my ernstig uitdaag om onpartydig te bly ... nogtans glo ek dis ’n goeie ding dat nuwe belangstelling in ons, die bontkaros-Suid-Afrikaanse nasie, se ontstaansjare verwek word. Ons hoef ook nie almal saam te stem nie – dis onrealisties en tog nodig in 'n demokrasie. Dog, feite verg bewyse, nes in 'n hof – en die jurie moet nog, in my geval, oor die vonnis ooreenkom.
Mnr Verster, "as iemand wat met een voet soms in die akademies-gefundeerde geskiedskrywing en die ander soms in fiksie, van wetenskapfiksie tot historiese romans, en wat al van faksie as stylvorm (om feite indie romanvorm aan te bied) gebruik gemaak het, is ek oortuig dat jy jou motiewe vooraf duidelik moet stel en bewus wees van die onkunde, subjektiwiteit en versugtinge van ’n groot deel van die publiek, sodat jy nie verwarring veroorsaak nie," is 'n goeie beskrywing van Dan Sleigh. Hy het self gesê hoe hy feite verander het vir sy boek, Eilande.
Ek sien uit na u finale oortuigings, maar is nog nie oortuig van u onpartydigheid nie.
Melanie, Eilande is 'n fiksieboek. The lie of 1652 is nie. Hoe kan jy nie die verskil insien nie, of is jy moedswillig?
Maar dit is juis my punt - die uitreksel beskryf Sleigh se boek, wat ons almal weet fiksie is, en nie The Lie of 1652 nie, want dit is akademies gefundeerd. Iemand wat dit nie wil toegee nie, is myns insiens moedswillig.
Die dichotomie van verbeelde fiktiewe niefiksie rondom 1652 het paradoksaal bygedra tot die diaspora van Afrikaners ná 1994 en daar ver vóór oor die blou dam se branders, kamphoere, die Holocaust, Hutu en Tutsis en ander lank vergange dae sê dinge.
Gautama Boeddha reken, “Do not dwell in the past, do not dream of the future, concentrate the mind on the present moment.”
En daarom, Desmond Painter, sal sukkelende bruin mense van bv. Uniondale meer baat vind by realdade as herverbeeldingsvlugte in die vergetelheid en slimpraatjies uit Stellenbos. Nee, moue oprol (soos bv. AfriForum) en wees self die verskil wat jy wil sien.
Melanie, ek dink ons praat verby mekaar. Lees gerus my resensie van "The lie."