History of South Africa from 1902 to the present, ’n lesersindruk

  • 0

Titel: History of South Africa from 1902 to the present
Skrywer: Thula Simpson
ISBN: 9781776095865
Uitgewer: Penguin

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Thula Simpson is ’n professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria en hy is veral bekend vir sy navorsing oor Umkhonto we Sizwe, waaroor hy ’n boek geskryf het getiteld Umkhonto we Sizwe: The ANC’s armed struggle (Penguin, 2016). Ten spyte van herhaaldelike goeie voornemens het ek nog nooit daardie boek gelees nie, maar die boek word as ’n goed-gebalanseerde perspektief op die geskiedenis van die African National Congress (ANC) se militêre vleuel beskou. Simpson se nuutste boek waarin hy fokus op die 20ste eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis is ewe-eens goed ontvang. Die boek word veral hoog geag omdat dit ’n algemene geskiedenisboek is waarin die rol van swart mense sentraal in die boek staan, iets waaraan die oorgrote meerderheid van geskiedenisboeke nie gekenmerk word nie.

Wanneer professionele historici na die geskiedenis verwys, sonder dat daar gespesifiseer word watter geskiedenis ter sprake is, dan impliseer dit bykans outomaties dat dit die politieke geskiedenis is wat aan die orde is. Maar die politiek is egter in eie reg ’n wollerige konsep. Daar bestaan goeie basiese definisies van die politiek, en tog is die politiek ’n verskynsel wat deursyfer na haas elke aspek van die menslike bestaan. Of dit nou sport, die kunste, besigheid, regspraak of wat ook al die geval is, daar is politiek aan die orde van die dag. Politieke geskiedenis veronderstel egter enige staatkundige ontwikkelinge, wat veral voortvloei uit verskynsels soos gewapende konflikte en parlementêre prosesse. Simpson se nuwe geskiedenis van Suid-Afrika sny die idee van ’n politieke geskiedenis tot op die been. Trouens, die boek wil-wil vir my te opsommend wees. As voorbeeld, Simpson verwys graag herhaaldelik in die boek na Suid-Afrika se talle sportprestasies, veral rugby en sokker, en selfs die Olimpiese Spele en al die politiek rondom sportboikotte. Maar ’n kulturele ikoon soos Hugh Masekela (1939–2018), wat ook tog ’n belangrike politieke rol gespeel het, haal eers die boek wanneer president Cyril Ramaphosa in 2018 na Masekela verwys tydens ’n staatsrede.

...
As ’n mens so blaai deur Simpson se boek, dan is die storie van Suid-Afrika tog maar ’n droewige storie. ’n Stryd om grond- en minerale-rykdomme, wat diep uit die aarde gedelf is, teen die prys van tragiese ontwrigting van geslag op geslag goedkooparbeid.
...

Dit is egter nie juis ’n boek hierdie waaroor ’n mens besondere kritiek kan (of selfs wil) lewer nie. Die resensies wat oor die boek verskyn het, wat insluit akademiese resensies sowel as resensies in populêre media soos koerante, is oorwegend gloeiend.[1] En met goeie reg. Die skrywer, sowel as die uitgewers van die boek, verdien lof vir hierdie besondere bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing. Daar het natuurlik oor die jare soveel van hierdie algemene geskiedenisboeke verskyn dat ’n mens nie naastenby iets oor elkeen sal kan noem hier nie. In 2012 het die Akademie vir Wetenskap en Kuns byvoorbeeld so ’n algemene geskiedenisboek gepubliseer. Daardie boek was maar grotendeels oordonder deur die rol van Europeërs, koloniste en wit mense. Daar was selfs ’n hoofstuk in die boek oor die Afrikaanse kerke. Nie dat die geskiedenis van godsdienste, en spesifiek die Afrikaanse kerke, onbelangrik is nie. Kerke wemel dikwels juis van politiek. Die ou kopseer van geskiedskrywing, naamlik die historikus as kurator van ons kollektiewe geheue, sal nooit verdwyn nie. Die mens sal bly sukkel om die geskiedenis met andere te deel. En geskiedenis sluit altyd iets uit ten koste van iets anders. Oor die afgelope 30 jaar was daar ’n ontploffing in argeologiese kennis, en daar bestaan ’n reusebehoefte om argeologiese kennis en geskiedskrywing beter met mekaar te integreer. Simpson se geskiedenis vul ongelukkig nie veel van daardie gaping nie. Die boek slaag wel daarin om swart Suid-Afrikaners ’n meer sentrale rol in die teks te laat speel. Daar is ’n groot fokus op arbeidsverhoudinge en die vakbondwese in die boek – ’n logiese keuse gegewe Suid-Afrika se minerale rykdomme en veelbewoë geskiedenis van mynbou. Simpson fokus ook gedurig op militêre konflikte. Die wêreldoorloë en Suid-Afrika se betrokkenheid daarby. Die Grensoorlog van 1966 tot 1989. Gevolglik speel groot dele van die storie ook af in Noord-Afrika of Namibië en Angola, waar Suid-Afrikaanse magte in konflik verkeer het met onder meer die Namibiese vryheidsbeweging SWAPO. Die boek is meesleurend en fassinerend en vol wonderlike inligting en feite, en dit boor ver verby die euforie van die Mandela-era en die reënboogdrome van die 1990’s, deur die Marikana-slagting en staatskaping, Ramaphoria en COVID-19 tot en met die 2021-opstande in KwaZulu-Natal.

Simpson se boek het in alle eerlikheid my egter ietwat ambivalent gelaat. Aan die een kant was ek in vervoering oor die prosa wat die bladsye bykans seepglad laat voortblaai het. ’n Mens kan dit ook goed vergelyk met ’n soet koeldrank op ’n snikhete somersdag, waarvan jy nie jou hande kan afhou nie. Maar aan die ander kant is daar ook die ou stukkie filosofiese kritiek teen geskiedskrywing wat maar gedurig soos ’n vrugtevlieg in my koeldrank kom infoeter het, die waarneming dat die geskiedenis is maar net een ding na die ander na die ander. Daar is eintlik maar ’n baie fyn lyn tussen ’n tersiêre bron soos ’n ensiklopedie, en ’n sekondêre bron soos ’n geskiedenisboek. Benewens die keuse van gebeure, datums en feite, het historici ook die verdere kopseer van interpretasie en kontekstualisering van historiese feite. Vir dié rede is dit nogal gewild onder sommige historici om die geskiedskrywing ’n bietjie te vertroebel met dissiplines soos die sosiale wetenskappe, veral die sosiologie, ekonomie en politieke wetenskap. Die resultaat is miskien geskiedenis wat minder vermaaklik is om te lees, maar wat die verlede beter verduidelik en kontekstualiseer. Simpson skram grootliks weg daarvan en sy boek is gevolglik nie met statistieke en tabelle gelaai nie. Daar is wel goeie fotografiese materiaal en hy sorg ook om van argivale bronne gebruik te maak in die boek, wat liberaal ingespan word. Die boek se leesbaarheid word verder bevorder deur die feit dat daar geen voetnote is nie, maar dat al die verwysings geskuif is na eindnotas.

Een van die vele onverkwiklike vooruitsigte wat Suid-Afrika in die gesig staar, is die Departement van Basiese Onderwys se onverbiddelike voortgesette aandrang op die afdwing van geskiedenis as verpligte vak in Suid-Afrikaanse skole. Vir dié doel het die minister reeds in 2015 ’n taakspan saamgestel, wat in 2018 (natuurlik) aanbeveel het dat geskiedenis verpligtend moet wees.[2] Die taakspan het die noodsaak belig dat geskiedenis en argeologie beter geïntegreer moet word, maar het strydig met internasionale norme aanbeveel dat geskiedenis wel verplig moet wees vir graad 10 tot graad 12. Die deugde van geskiedenis as dissipline is welbekend. Daar is meer as genoeg bronne om te gaan lees oor hoekom ’n studie van die verlede enige mens tot voordeel kan strek. In kort lê die groot waarde van geskiedenis daarin dat dit die mens se perspektief verruim, kritiese denkvaardighede stimuleer, en op praktiese vlak ook vir mense kan help om beter te lees en te skryf. Maar daar is ook baie goeie argumente teen verpligte geskiedenis. Mense verskil. Leerders verskil. En natuurlik sou dit die ideaal gewees het as alle jong mense geskiedenis as waardevol ag, maar ’n mens bevorder nie ’n liefde vir ’n saak deur dit verpligtend te maak en dit af te dwing nie. Daar was nog nooit ’n tyd wat alle groepe tevrede was met die leerplan nie.

En daarom vlug ons dikwels liewer weg van die geskiedenis af. Dis makliker om ’n kopseer soos die geskiedenis, met al die gepaardgaande teenstrydige en onversoenbare perspektiewe, eerder te ignoreer. Maar ook is dit nie ’n goeie en volhoubare oplossing nie. Die geskiedenis is ’n gesprek wat nooit ophou nie, ’n gesprek wat elke generasie moet voortsit. Simpson se geskiedenis laat navorsers van die geskiedenis met ’n wonderlike en betroubare bron wat as vertrekpunt kan dien vir verdere ondersoeke na die verlede. Sy boek is nie een wat die geskiedenis op besondere wyse kontekstualiseer nie, maar die groot waarde lê daarin dat dit aan die een kant maklik lees, terwyl dit aan die ander kant voldoen aan die behoefte aan geskiedenisboeke wat groter balans bring en die rol van swart Suid-Afrikaners sentraal plaas. Gegewe die algemene historiese gebrek aan rekords oor swart mense, in vergelyking met wit mense wie se lewens veel beter gedokumenteer is in die verlede, bly hierdie behoefte aan groter balans in die geskiedskrywing ’n voortdurende uitdaging.

Daar bestaan ’n populêre opmerking deur Jan Smuts (1870–1950), eertydse Boeregeneraal en latere Eerste Minister van Suid-Afrika, waar hy dit stel dat die ergste, sowel as die beste, tref nooit vir Suid-Afrika nie. Ons word dalk weer aan iets hiervan herinner met die hernude konflikte in die Oekraïne in 2022. En tog, as ’n mens so blaai deur Simpson se boek, dan is die storie van Suid-Afrika tog maar ’n droewige storie. ’n Stryd om grond- en minerale-rykdomme, wat diep uit die aarde gedelf is, teen die prys van tragiese ontwrigting van geslag op geslag goedkooparbeid.

Nota’s:

[1] Paballo Moerane van die Universiteit van KwaZulu-Natal het byvoorbeeld ’n akademiese resensie geskryf wat aanlyn beskikbaar is by: http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S2223-03862021000200015. Daar het ook ’n bespreking van die boek verskyn deur Keith Gottschalk van die Universiteit van Wes-Kaapland in The Conversation wat beskikbaar is by: https://theconversation.com/new-book-on-south-africas-history-puts-black-people-at-the-centre-for-a-change-171830.

[2] Die verslag is aanlyn beskikbaar: https://www.sahistory.org.za/sites/default/files/archive_files/Report%20of%20the%20History%20Ministerial%20Task%20Team%20for%20the%20Department%20of%20Basic%20Education%20Final.pdf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top