Sol Plaatje: A life of Solomon Tshekisho Plaatje, 1876‒1932 deur Brian Willan: ’n resensie

  • 0

Sol Plaatje: A life of Solomon Tshekisho Plaatje, 1876‒1932
Brian Willan
Uitgewer: Jacana Media
ISBN: 9781431426447 

As daar net ’n handjievol boeke is wat vreemdelinge kan help om Suid-Afrika te verstaan sal die lysie seker moet begin met Nelson Mandela se Long Walk to Freedom en Hermann Giliomee se The Afrikaners. Voeg dan daarby Dan Sleigh se Eilande.

Sol Plaatje se Native Life in South Africa sal ook daar wees want dit wentel om daardie seminale gebeurtenis in ons geskiedenis, die Naturelle Grondwet van 1913. Die boek se swak plek is dat die helfte bestaan uit saai politiek van die dag, maar nou is daar ’n oplossing vir die probleem: ’n biografie van Sol Plaatje self, deur die Skotse geskiedkundige  Brian Willan.

Dis net so dik soos Mandela se lewensverhaal, maar dit lees nog makliker en is propvol beskrywings van die dekades voor en na Uniewording, waartydens die fondamente van ons wankelende staat gelê is. Willan het homself nou gevestig as die voorste kenner van Plaatje en sy lewe, en daarmee as ’n gesaghebbende waarnemer van die Suid-Afrikaanse verhaal as ’n geheel.

Plaatje, die eerste sekretaris-generaal van die ANC se voorloper, die SA Native National Congress, was op sy dag die bekendste swartman in Suid-Afrika. Net Paul Kruger en Cecil John Rhodes was meer beroemd as hy. Wanneer sy vele oorsese vriende vir hom geskryf het, vertel Willan by die boek se bekendstelling by die Universitieit van Johannesburg, het hulle eenvoudig op die koevert geskryf: Sol Plaatje, South Africa.

Plaatje was ’n man van vele kante; politikus, skrywer van die baanbreker roman Mhudi, eerste vertaler van Shakespeare in Afrika, koerantredakteur en een van die eerste bioskoopeienaars in die land. Hy sou gemaklik in ons tyd kon inpas, as die kwintessensiële kosmopolitaan, draer van vele identeite. Hy was inderdaad trots op sy naam, wat sy pa gekry het by Hollanders om sy unieke plat haarstyl te beskryf ‒ sy familienaam was eintlik Mothiba. Hy was bekend vir die foutlose Engels en Hollands, en die nuwe taal, Afrikaans, wat hy kon praat na jare as tolk in ’n hof.

’n Boorling van Barkly-Wes, was hy eintlik, nes Cecil John Rhodes, ’n ikoon van Kimberley, en in Willan se boek en praatjie is die middelpunt van vooruitgang wat die Diamantstad in die laat 19de eeu was, goed beskryf. Dat Johannesburg binne jare hierdie status oorgeneem het, was ’n bron van diep teleurstelling vir die ouer Plaatje.

In Plaatje se jeug kon hy beperkte stemreg uitoefen in die Kaapse parlement, en dis duidelik waar sy simpatie vandag sou gelê het tydens die studente-opstande. Sy kiesafdeling was dié waarin die Kaapse premier, Rhodes, verkies is, maar Plaatje het deurgaans teen hom gestem. Die verhaal van hoe swartmense gaandeweg die bietjie mag wat hulle gehad het, verloor het, tot hulle in 1927 in ’n aparte administrasie gedryf is, is selfs meer hartverskeurend as die verhale van gewone mense wat hy opgeteken het in Native Life. Trouens, hoewel Plaatje se naam deesdae sinoniem is met die teenkanting teen die 1913-wet, het hy eers teen 1930 sy ewige optimisme laat vaar en verklaar dat daar geen redding meer vir swartmense in Suid-Afrika is nie. Na sy mening was die skepping van die Departement van Naturelle-Administrasie in 1927 ’n veel groter gevaar vir die voortbestaan van swartmense as die 1913-wet.

Die boek is propvol anekdotes, soos die een oor die 23-jarige Plaatje wat sy deel bygedra het om die koloniale Kaapse owerheid sover te kry om ammunisie aan Mafeking se swartmense te verskaf om hulself te verdedig teen die komende beleg. Die empire se verteenwoordiger het Plaatje amper laat aankla van “dislojaliteit” toe hy hom weerspreek dat die Britte net 50,000 troepe en ’n paar maande nodig sal hê om die Boere te verslaan. Plaatje het aangedring dit sal minstens 150,000 troepe en minstens ’n jaar kos.

Sy dagboek oor die beleg bly een van die aangrypendste stel dokumente oor enige oorlog en was die kern van die herbesinning oor die deelname van swartmense aan die Anglo-Boereoorlog en die skandelike verraad van die Britte teenoor sekere stamhoofde.

’n Aspek wat groot aandag by Willan kry is Plaatje se houding teenoor inheemse tale. Een van sy grootste besware teen die toenemende ontmagtiging van swartmense in sy leeftyd was dat dit hulle almal in dieselfde hok gedryf het, hulle almal dieselfde gemaak het. In vandag se taal sou ’n mens kon sê hy het die skepping van die kader voorsien, daardie eendimensionele konformis vir wie befondsing deur die staat sy historiese reg is.

Plaatje het hom onvermoeid bewyer vir inheemse tale, veral Setswana. Hy het woordeboeke saamgestel, idiome en spreuke versamel, koerante in ander tale as Engels uitgegee. “He devoted himself to exploring the creative potential that lay in his country’s multiplicity of cultural traditions,” skryf Willan.

Hy het Afrikaans en Kaaps as twee verskillende tale beskou. Omdat hy so baie wit vriende gehad het, het hy deurgaans geglo dialoog sal die gety van segregasie stuit, en toe hy na 1927 finaal besef hy was verkeerd, het hy hom toegespits op die ontwikkeling van Setswana en die bewaring van die Tswana-kultuur.

In vandag se diskoers oor dekolonisasie is daar geen twyfel dat hy hom beide ten gunste van globalisasie sou uitspreek en die bevordering van inheemse tale, insluitende Afrikaans en Kaaps, sou aanbied as bolwerk teen enige neokolonialisme wat globalisasie sou meebring.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top