Die Afrikaners: ’n onderhoud met Hermann Giliomee oor die boek en die kykNET-reeks

  • 8

Die Afrikaners
Hermann Giliomee

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624071075

Hermann Giliomee gesels met Naomi Meyer oor Die Afrikaners, sy boek wat nou bygewerk is vir ’n kykNET dokumentêre reeks.

Die Afrikaners (die boek) is nou op TV en dis verkort - dog dit is aangevul. Sal jy asseblief vertel hoe mens weet wat om te snoei, en ook wat bygewerk moes word?

As jy vir die TV skryf, sny jy dit wat nie visueel aangebied kan word nie, jy werk by wat gebeur het sedert jy die boek geskryf het. Die heel eerste uitgawe van my boek oor die Afrikaners het in 2003 verskyn.

Historici raak dikwels so verlief op die onderwerp waaraan hulle werk dat hulle verlei word om alles wat hulle daaroor vind in die skryfstuk op te neem. Die belangrikste ding van enige boek is wat jy uitlaat om die boek meer verteerbaar te maak en wat jy insit om dit boeiender te maak.

Hoe skryf mens ’n boek vir die TV? Wat is anders aan mens se teks?

As ’n mens boek of artikel vir die TV skryf, dink jy nie aan ’n leser, wat die tyd het om ’n paragraaf of ’n bladsy te lees en te herlees met die doel om die gegewe behoorlik te verstaan nie. Jy dink aan ’n TV-kyker wat oombliklik moet verstaan en die nodige agtergrond wil hê om dit wat op die skerm verskyn te begryp.

Die term Afrikaner is minder gelaai as vantevore, omdat die Afrikaners as groep finaal die mag verloor het en geen vooruitsig het om dit te herwin nie. Swart mense kyk wel deeglik na die wyse waarop die Afrikaners in die 20ste eeu georganiseer het en ’n deel van die stadsekonomie verower het. Die Afrikaners het nie politieke mag gebruik om die Engelse maatskappye te dwing om ’n deel van die ekonomiese koek aan hulle af te staan nie. Hulle moes hulself as entrepreneurs bewys. Dieselfde geld vir die akademici. Gehalte was en bly deurslaggewend om in die akademie uit te styg. Die Engelse as die dominante kultuurgroep in die vorige eeu het die Afrikaners ’n groot guns bewys deur hulle nie te probeer “bemagtig” nie soos wat die beleid van “bevolkingsverteenwoordiging” probeer doen nie.

Ons leef in ’n land waar mense te bang is om te praat, want elke onderwerp is ’n politieke slagveld. Hoe ervaar mense (landwyd) ’n term soos Afrikaner? Is die Afrikaners noodwendig die mense wat Afrikaans praat, of hoe definieer mens die Afrikaner?

Ek dink almal is so onseker oor hul identiteit in hierdie verwarde nasie van ons dat iemand wat hom of haar ’n Afrikaner noem, waarskynlik belangstelling eerder as afkeer sal wek. Miskien word die herontdekking van ’n bepaalde groepsidentiteit die nuwe normaal in die land.

Waar begin ’n storie? In hierdie boek begin die Afrikaners se verhaal by die VOC. Maar hoe gemaak met die ander tale wat invloed gehad het op Afrikaans, die tale wat hier was voordat die Nederlanders voet aan wal gesit het?

My TV-reeks gaan nie oor mense wat vroeg al Afrikaans gepraat het nie, maar oor ’n gemeenskap van oorwegend wit mense wat eers Hollands en later Afrikaans gepraat het. Die term Afrikaners om te verwys na ’n sogenaamd eksklusiewe wit, konserwatiewe groep het eers in die 1940’s beslag gekry, maar teen die 1970’s het die definisie weer oop begin raak, veral onder die invloed van die skrywers. Ek dink daar is ’n TV-reeks te maak oor die geskiedenis van die bruin Afrikaanse mense. Ek het ’n boek oor hulle geskryf met die titel Nog altyd hier gewees: Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap (2007).

Vir my was ’n Afrikaner nog altyd iemand wat hom met die Afrikaners vereenselwig en Afrikaans kon praat.

Waar begin die Afrikaner-storie?

Daar was heelwat interaksie tussen mense van verskillende groepe voor 1652, maar ons het geen verslag van wat hulle gesê het en hoe hulle hul politieke geskille gehanteer het nie. Ek begin dus die verhaal met die eerste konflikte tussen burgers van Europese afkoms, wat nasate gehad het wat hulle later Afrikaners genoem het, en ’n regering wat redelik onsimpatiek teenoor hulle was – baie dieselfde as vandag.

Hermann Giliomee (foto: verskaf)

Is die term Afrikaner gelaai weens die taal? Is die taal gelaai weens die mens, die Afrikaner self?

Omtrent alle tale is gelaai. Ons kan begin met Engels en Duits. Omdat hulle vandag polities magtig en ekonomies suksesvol is, word hul verlede nie teen hulle gehou nie. Die Duitsers het oor en oor verskoning gevra, maar die Engelse (as die sentrale deel van die Britse nasie) eintlik nooit nie.

Engels as internasionale taal het by wyse van spreke ander tale gevange geneem. Ek het op aanbeveling van JM Coetzee Anna Wierzbicka se Imprisoned in English: The hazards of English as a default language (2014) gelees. Sy is ’n Pools-Australiese vrou. Sy aanvaar dat Engels in die Weste die dominante taal op baie vlakke geword het, maar wys daarop dat ons die prisoniers geword het van kultuurspesifieke Engelse konsepte. Dink byvoorbeeld aan die verskil tussen woorde soos “citizen” en “burger”, en “subject” en “onderdaan”, en die wyse waarop nie-Britte of nie-Amerikaners hulle gebruik.

Is alle Afrikaners gemaklik daarmee om hulself as Afrikaners te beskryf? Indien nie, waarom dink jy is dit so?

Ek dink die term Afrikaner is vandag veel minder gelaai as 30 of 40 jaar gelede. Ek sê dit met die ervaring van iemand met ’n sterk Afrikaanse aksent wat in die tweede helfte van my loopbaan by ’n Engelse universiteit gewerk het. Gedurende die tagtigerjare het die getalle van swart studente in my klasse oor die Suid-Afrikaanse politiek sterk gegroei en later die meerderheid gevorm. Ek altyd ’n kursus begin met die woorde: “From my accent you would detect where I come from. Any questions?”

Vertel my van die Afrikaner se rol in "regverdige rasse-apartheid"? En of daar werklik so iets bestaan het.

Apartheid as konsep het eintlik in die dertigerjare in NG Sendingkerk ontwikkel. Toe het aparte gemeentes, kerke en skole al bestaan. Die NG Sendingkerk was ’n instelling wat begin het om die ideologie van apartheid te formuleer. Die NG Moederkerk het gou gevolg. Die uitgangspunt was dat segregasie as beleid net negatief is en die sin het van afskei en wegstoot. Apartheid moes egter vir iets positiefs staan; dit moes gaan oor die ontwikkeling van die “eie”, en daarmee is bedoel eie dorpe en eie stadsrade en ’n eie kamer in die parlement.

Dink jy die Afrikaner as nasie kan op enige manier vergelyk word met ander nasies in ander omstandighede? Duitsers, Amerikaners tydens verkiesingsveldtogte ... Sien jy raakpunte soos vrees, en verskille?

Donald Trump het laas jaar sy verkiesingsveldtog gevoer soos ons politici tussen 1910 en 1994. Miskien selfs erger.

Watter ontdekkings het jy gemaak toe jy die boek geskryf het, en ook nou, toe jy dit bygewerk het?

In watter diep ellendes die Afrikaners kan verval en watter merkwaardige herstelvermoë hulle aan die dag gelê het. Ook die “turning points when history did not turn”. Soos Margaret Thatcher wat vroeg in 1989 vir Pik Botha in die geheim Londen toe ontbied het met die voorstel van ’n Marshall-plan vir suidelike Afrika wat sy en die Duitse leier Helmuth Kohl wou aanpak op voorwaarde dat Nelson Mandela vrygelaat word en ’n ordelike verkiesing gehou word. As dit uitgewerk het, kon Suid-Afrika dalk by die Europese gemeenskap betrek word op dieselfde manier as Griekeland, Portugal en Spanje, wat destyds nie die demokratiese legitimiteit van vandag gehad het nie. Ons sou ontwikkelingshulp kry op voorwaarde dat ons sekere demokratiese standaarde handhaaf.

Wie is jou ideale leser? Of jou ideale kyker? En wie wil jy hê moet weet van hierdie groep mense, en wat moet hulle sien?

Alle mense wat wil weet hoe die Afrikaners gevorm is en wat graag wil hê hulle moet weer politieke selfvertroue ontwikkel.

  • 8

Kommentaar

  • Philippus Janse van Rensburg.

    Vandag het Hennie Heymans op Facebook vertel van 'n vrou met wie hy gepraat het wat van Patagonië kom en Afrikaans en Spaans praat. Dit is noodsaaklik om te weet dat selfs in 'n oorwegende anderstalige land, jy houself kan wees en jou eie kan behou.

  • Prof GV Ferreira

    Hierdie reeks oor die Afrikaner is uiters insiggewend en feitlik objektief aangebied. Kan dit asb in elektroniese formaat beskikbaar gemaak word. Baie geluk prof Gillomee.

  • Attie Linstrom

    Prof Ferreira, ek dink dit is ’n goeie idee. Dit is ideaal vir ons jeug om die geskiedenis oor die Afrikaanse taal te lees en luister. Ongelukkig is alle jeug nie betyds ontvanklik daarvoor nie, maar sal byderhand wees wanneer die belangstelling ontwikkel. So sal die Afrikaanse taal nooit ten gronde gaan nie, maar van krag tot krag. Hierdie reeks maak my trots op my taal, om weer op te skerp wat ek op skool geleer het en ietwat vergeet het. Ek glo baie Afrikaanssprekende mense voel dieselfde in 'n tydperk wat Afrikaans so skerp gekritiseer en verwerp word deur die samelewing.

  • Hanno Visagie

    Staan op die waarheid dat die Afrikanervolk hoofsaaklik van Europese (hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse) afkoms is en wil bly, Christene is en Afrikaans as huistaal praat. Hoewel Afrikaners graag insluitend met ander groepe aan gemeenskaplike belange saamwerk, is mense van ander etniese bevolkingsgroepe soos die Khoi-San/bruines en nie-Christene en huistaal-nie-Afrikaanssprekers nie terselfdertyd ook Afrikanervolksgenote nie. Enigiets waarna die Afrikanervolk streef, gun hy in gelyke mate vir ander.

  • Die program DIE AFRIKANERS is tydig en noodsaaklik. Ek wens net ALLE bevolkingsgroepe kan dit sien en probeer verstaan waar kom die AFRIKANER vandaan, en sy aandeel aan die ontwikkeling van hierdie moderne Afrika-land. Dit sal baie help om die politieke retoriek verkeerd te bewys.

  • Baie dankie vir die uitstekende reeks. Mag ek vra wie die temalied “Handvol gruis uit die ou Hantam” so mooi sing?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top