LitNet Akademies-resensie-essay: 1795 deur Dan Sleigh

  • 2

Foto van Dan Sleigh: Naomi Bruwer

1795
Dan Sleigh
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624073307

“Geskiedenis is ’n kanker, jy kom nie van sy pyn weg nie.”

1795 is Dan Sleigh se vierde historiese roman van omvang, ná Eilande (2001), Afstande (2010) en Wals met Mathilda (2011). Al drie vorige romans is herhaaldelik bekroon en ook vertaal en 1795 het ’n goeie begin gehad deur die Groot Romankompetisie in 2015 te wen.

Sleigh was inderwaarheid sy lewe lank ’n produktiewe skrywer, met ’n digbundel in 1974 (Duif oor water), agt jeugboeke, ongeveer 10 geskiedkundige werke en talle artikels oor historiese onderwerpe. Nogtans is dit asof hy met die historiese romans sy werklike nis gevind het. Dit is bloot logies, want sy belangstelling in die geskiedenis is die goue draad wat regdeur sy studiejare en beroepslewe loop. Sy PhD-navorsing het spesifiek gehandel oor die maritieme ryk van die Nederlande tussen 1602 en 1795 soos wat dit aan die Kaap ontplooi en die plaaslike bevolking beïnvloed het.

Historiese kennis en selfs geskiedskrywing is egter nie dieselfde as die skryf van ’n historiese roman nie.

Of is dit?

In literêre woordeboeke en ensiklopedieë word die historiese roman beskryf as ’n verhaal wat sy stof uit die geskiedenis put en wat teen ’n historiese agtergrond afspeel, maar daar word telkens duidelik bygevoeg dat die roman die historiese stof verbeeldingryk inklee en aanbied (vgl onder meer Van Gorp ea 1991; Cuddon 1977). Dit is veral wat karakterisering betref dat die skrywer vryer met die historiese gegewens kan omgaan omdat hy meestal sterker ingestel is op die individuele belewenis van die historiese gebeure as die politieke of staatkundige implikasies daarvan. Deur middel van die keuse van die vertelinstansie en vertelperspektief en ook die fokalisasie op verskillende vertelvlakke kan die skrywer in sy roman alternatiewe gesindhede oor die geskiedenis met groot oortuigingskrag uitbeeld.

In die tradisie van die historiese roman is daar groot en klassieke werke geskryf. Sir Walter Scott word soms aangedui as die eerste eksponent van die genre met sy Waverley Novels (1814–1819), en in die 19de eeu was hierdie soort romans baie gewild in Europa, in verskillende tale. Beroemde werke soos Victor Hugo se Notre-Dame de Paris (1831), Conscience se De Leeuw van Vlaanderen (1838) en Tolstoi se Oorlog en vrede (1869) is maar enkele voorbeelde.

Nogtans was die verhouding tussen die historiese roman (dit wil sê die estetiese teks) as genre en geskiedskrywing as sodanig nog nooit eenvoudig nie en hierdie verhouding was meermale ’n besprekingspunt in sowel die literêre teorie as die historiografie. Die raakpunt tussen hierdie twee soorte tekste het hoofsaaklik daarmee te make dat beide die geskiedenis en die roman, veral die historiese roman, ’n verhaal vertel. Beide soorte tekste is dus aan sowel die beperkinge as die moontlikhede van narratiwiteit gebonde. In die tweede plek is daar die kwessie van “waarheid” of “feite” en die vraagstuk oor die vermoë of onvermoë van taal om die, of ’n, “waarheid” te kan weergee. Hierdie kwessies is ter sake by alle romans, maar meer spesifiek by die historiese roman, omdat daar in ’n historiese roman elemente voorkom wat herkenbaar is as “waarheid” of “feite”, as historiese of dokumentêre inligting.

In Dan Sleigh se 1795 is daar inderdaad baie dinge wat vir die leser met ’n selfs beperkte historiese kennis herkenbaar is, in die gebeure sowel as in die beskrywing van mense en plekke. Dit is dan ook een van die voortreflike eienskappe van die roman dat die verhaal ontvou teen ’n agtergrond wat met kennis en insig in besonderhede beskryf word. Op die buiteblad is daar ’n afdruk van ’n skildery van Kaapstad deur Johannes Schumacher uit 1777. Dit gee ’n indruk van hoe die stad in die jare vóór 1795 daar uitgesien het. Bokant die skildery is daar ’n detail uit ’n tekening van die begrafnisstoet van baron Van Reede van Oudtshoorn tot Nederhorst, gemaak deur B Mourijk en 17 April 1773 gedateer. Hierdie baron Van Oudtshoorn was aangewys as goewerneur van die Kaap, maar het tydens die bootreis gesterf en is in die Kaap begrawe. Hy was die vader van William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn wat die hoofkarakter in die roman is.

Ná die motto en vóór die eerste hoofstuk word daar ’n aanhaling gegee uit die “Aanteekeningen betreffende verschillende ambtenaren aan de Kaap” waarin William Ferdinand se posisie in die Kaapse regering asook enkele belangrike standpunte wat hy gehuldig het en vermoëns waaroor hy beskik het, beskryf word. William was president van die kommissarisse van die Raad van Justisie en administrateur van die Kompanjie se graanvoorrade. Hy was ook aanvoerder van die Pennistekorps, wat bestaan het uit die amptenare ten tye van gewapende konflik. Belangrik dat reeds in hierdie stukkie dokument melding gemaak word daarvan dat William erg gekant was teen die Engelse oorname van die Kaap en dat dit tot sy nadeel gestrek het, maar daar word ook gesê dat hy in alle opsigte bekwaam was en ’n hoë aansien onder die burgers geniet het.

Op hierdie manier word die dokumentêre agtergrond van die roman gevestig en dit word ook in die teks self deurgaans verder uitgebou. Wanneer William op pad is na die hut naby die klipkuil waar ’n afgetrede en nou verarmde amptenaar, Mattias, dood is, word die straat en die huise waarlangs hy loop noukeurig beskryf. Daar word beskryf hoe die klip vir die kasteel uit die klipkuil gekom het en hoe dit tans gebruik word as ’n wegkruipplek en ’n plek van onwettige dinge. Mattias se hut word net so noukeurig beskryf – die vertrek self én die inhoud daarvan, van die verroeste hoepels tot die Duitse en Engelse boeke op ’n kisplank op bakstene.

Hierdie werkwyse word regdeur die roman gehandhaaf – alles word met fyn waarneming (wat hier eintlik op kennis dui) beskryf en in die verhaal ingebed. Maar die beskrywings word ook van kommentaar voorsien (kyk byvoorbeeld ble 11–16, 66, 72, 75). Sleigh is nie net ’n noukeurige historiese navorser oor die aard en voorkoms van die lewe aan die ou Kaap nie, hy is ’n uiters ruimtelik bewuste skrywer wat historiese omgewings beskryf op so ’n manier dat die atmosfeer vasgevang word. Dit gaan dan wel oor die atmosfeer van die tyd, maar veral die atmosfeer van die verhaal self, die tekstueel geskepte atmosfeer. Elke omgewing word met dieselfde aandag betrag, of dit nou William se elegante huis Saasveld is (38–9) of die plekke waarin hy hom bevind tydens sy studietyd in Leiden (60). Hierdie ruimtelike rykheid en invulling gee aan die roman ’n geankerdheid, ’n plasing in plek en tyd, want elke objek, van geboue tot implemente en klere, en elke mens se voorkoms en optrede, van die hoogste tot die laagste in die koloniale sosiale hiërargie, is gemerk deur die omstandighede en die visuele voorkoms van hierdie spesifieke historiese periode.

Dieselfde narratiewe noukeurigheid word gehandhaaf in die beskrywing van persoonlikhede, individueel en kollektief. Daar is baie opmerkings oor die deursnee-inwoner van die klein kolonie, hulle beperkte visie en kortsigtigheid vanweë hulle geïsoleerde bestaan, hulle inhaligheid (ook ter wille van oorlewing), hulle gebrek aan kennis (16, 72). Met dieselfde aandag aan besonderhede word die onderhandelinge en vergaderings oor strategie van die bestuur in die kasteel beskryf, nog ’n bewys van die grondige navorsing waaruit die roman groei (onder meer op ble 76–8 en die hele hoofstuk 9).

Die narratiewe onderbou van die roman word dus deur hierdie stilistiese en historiese noukeurigheid gekenmerk, in die beskrywing van mense, plekke en gebeure, met die gevolg dat die historiese periode vir die leser helder voor die oë gestel word.

Maar dit is maar die basis van die verhaal. 1795 is inderdaad nie bloot ’n historiese dokument nie; dit is ’n roman, met volledig-ontwikkelde karakters wat aan die geskiedenis kleur en smaak en gevoel gee, met bespiegeling oor gebeure en handelinge wat elke gebeurtenis laai met betekenis vir die 18de eeu en ook vir die hede. Die verhoudinge tussen mense en die emosionele en politieke aspekte van menseverhoudinge word ook uitvoerig beskryf. Die ruimtes waarin die verhaal afspeel, die huis Saasveld, die Kasteel, die omgewing van Kaapstad, die Baai – alles word met invoeling hanteer sodat die betekenis van die geskiedenis, van hierdie spesifieke stel historiese gebeurtenisse, onder die aandag gebring word.

Dit bring ’n mens nader aan die kernvraagstukke waarmee die skrywer van ’n historiese roman, die geskiedskrywer en die literêre en historiese leser te make het. Hiervan is die verhouding van ’n teks, hetsy geskiedskrywing of roman, tot die werklikheid en die aard en wyse van representasie seker die belangrikste. Op grond van gedeelde eienskappe, soos die gebruik van taal as representasiemedium en die narratiewe struktuur, word geskiedskrywing en romans, veral historiese romans, dikwels vergelyk ten opsigte van die manier waarop daar met “waarheid” of “feite” omgegaan word. Die teorie van sowel geskiedskrywing as die literatuur het dan ook inderdaad in die afgelope 50 jaar groot ontwikkelinge en paradigmaskuiwe ondergaan. Geen bespreking van historiese tekste, hoe fiktief of dokumentêr dit ook al aangebied word, kan gedoen word sonder om hierdie ingrypende filosofiese kwessies te betrek nie. Dit sou egter nogtans kortsigtig wees om die problematiek tot die postmodernistiese gesprek te beperk, want dit kom van verder terug in die verlede.

Frank Ankersmit (bron: https://openreflections.wordpress.com/)

In ’n artikel “Truth in history and literature” wys Frank Ankersmit (2010) op belangrike verskuiwings in die ontwikkeling van die filosofie wat te make het met die verhouding tussen waarheid en representasie. In navolging van Gadamer beskou hy die werk van Kant en Schiller as ’n oorgang in die geskiedenis: vóór Kant en Schiller was daar geen skeidslyn tussen die domeine van kennis en dié van die estetiek nie. ’n Konsep soos “estetiese waarheid” was dus nie ’n probleem nie, maar Schiller verbreek hierdie ekwilibrium deur aan “estetiese waarheid” ’n spesiale status te gee. Sodoende verkry die kunste ’n hoër status as ooit tevore, maar ten bate van hierdie waardigheid moes die estetiese teks sy aanspraak op “waarheid” prysgee. Waarheid en skoonheid bevind hulle daarna in totaal verskillende sfere, sonder ’n verbindingsbrug (Ankersmit 2010:30). Hierdie siening van estetiese bewussyn bereik volgens Ankersmit uiteindelik ’n hoogtepunt in Derrida se afwysing van “the metaphysics of presence” met die gevolg dat betekenis oneindig uitgestel en verplaas word. Hieruit volg die opvatting dat taal nie oor die vermoë beskik om na enigiets buite sigself te verwys nie, en daarmee saam word “estetiese waarheid” ook ’n magtelose konsep. Volgens Ankersmit (2010:30) wil Gadamer dié konsep egter opnuut aktiveer en daarom praat hy van “estetiese bewussyn”, “a conception of aesthetic truth that does not permit of reduction to … propositional truth”.

Die naïwiteit oor “waarheid” soos voor Kant en Schiller kan nooit weer herwin word nie, maar volgens Ankersmit is dit ook nie nodig om alle literatuur van enige vorm van waarheid te weerhou nie. Wat wel nodig is, is “[to] redraw the map of the territories of, respectively, aesthetics and science/knowledge” (Ankersmit 2010:30). Om dit reg te kry, gebruik Ankersmit ’n omgekeerde strategie. Deur ’n ontleding van geskiedskrywing wil hy probeer vasstel of hy ’n resultaat kan kry wat hom in staat sal stel om ook in die roman ’n kognitiewe dimensie te kan aantoon: “In sum, instead of arguing from the novel to history, I shall opt for the opposite route, and move from history to the novel […] in order to find out […] what can or should count as the novel’s truth” (Ankersmit, 2010:30).

Hayden White (bron: http://web.stanford.edu)

Hayden White het die waarheidsgetrouheid van geskiedskrywing ondermyn deur te wys op die ooreenkoms, in struktuur en formulering, met fiksionele tekste: “[H]ow a given historical situation is to be configured depends on the historian’s subtlety in matching a specific plot structure with the set of historical events that he wishes to endow with a meaning of a particular kind. This is essentially a literary, that is to say, a fiction-making operation” (White 1974:85). Die grens tussen geskiedenis en fiksie het dus hierna vaag en verskuiwend geraak en enige waarheidsaansprake is as verdag beskou. Die referensiële vermoë van taal is deur latere teoretici ten diepste en toenemend ondermyn, met die gevolg dat die relevansie van literatuur al hoe meer beperk geraak het. Jameson se uitdrukking “the prisonhouse of language” is deur sommige teoretici as besonder aktueel beskou. Die sogenaamde talige wending (en die latere narratiewe wending) lei tot ’n fokus op die krisis in representasie en dit hou teoretici en literatore en skrywers reeds vir meer as twee dekades besig (vgl Van Heerden 1997; Bertens 1995).

Daarteenoor vra Ankersmit (2010:30), uitgaande van ‘n aanname dat historiese tekste tog ’n mate van geloofwaardigheid kan besit: “Hence, does the novel give us access – albeit in its own peculiar way – to the same kind of truth that we express in singular true statements and in our assertions about states of affairs in the world?”

Ankersmit (2010:30) beklemtoon duidelik dat dit nie gaan om “proposisionele” waarheid nie. Estetiese waarheid is nie “waarheid oor” nie, maar “waarheid tot” soos Hospers dit in “Objective verification” uiteensit: “[I]t is a form of similarity.” Die vraagstuk is minder akuut wanneer mens dit het oor suiwer fiksieromans (hoewel die relevansie van tekste en die tematiese aktualiteit steeds is waarom die meeste lesers lees), maar by die historiese roman is dit onvermydelik dat gevra sal word na die korrektheid van die inligting en die geldigheid van die interpretasie van die feite wat in die representasie na vore kom.

Ankersmit (2010:36-37) se verdere ondersoek na hierdie kwessies lei hom daartoe om te onderskei tussen “episodiese” en “diachroniese” ervaring. Episodiese ervaring staan meer op sigself as geïsoleerde kennis, maar die diachroniese hantering van ervaring of kennis impliseer narratiwiteit, insluitend interpretasie en strukturering. Dit is dan ook hier waar die skrywer van historiese romans, hoe fiktief die uiteindelike teks ook al is, inkom.

Die historiese roman het in die tyd van die modernisme (ongeveer 1910–1950, maar die periode kan ook wyer getrek word) minder prominent geraak, maar in die laaste helfte van die 20ste eeu weer sterker na vore getree. In hierdie laat 20ste-eeuse historiese romans word die siening van die verlede en veral die representasie van die geskiedenis ingrypend deur die kontemporêre literêre en taalteorieë beïnvloed, soos hier bo aangetoon. In Afrikaans was die eksperimente van Sestig (Afrikaans se modernisme) miskien minder histories georiënteer en meer op estetiese vernuwing ingestel, maar gewis nie sonder historiese aanleiding en/of effek nie (vgl onder veel meer Leroux se Magersfontein o Magersfontein en Brink se betrokke romans). Maar daar was na 1994 ’n opvallende toename in historiese werke in Afrikaans, hoewel die tekste nogal eerder met die ver verlede as die onlangse geskiedenis gemoeid was.

Die interessantste aspek van historiese romans is die manier waarop daar met die geskiedenis omgegaan word, juis in die lig van die krisis in representasie wat sedert die tagtigerjare so prominent was. In die 1940’s kon ’n skrywer van historiese romans, soos Robert Graves, die standpunt huldig dat die skrywer se historiese insig ’n intuïtiewe komponent bevat wat hy die “analeptic method” genoem het. Dit beteken dat die skrywer homself in die verlede kan onderdompel en homself kan oplei “to think wholly” volgens die geestespatrone van die verlede: “Thus soaked in its sources, the imagination selected and arranged [the mental patterns of the past] intuitively, and recovered the truth” (Green 2015:29). Kort daarna verander die ingesteldheid en die Franse skrywer Marguerite Yourcenar beskryf haar historiese roman Memoirs of Hadrian (1951) as suiwer romantiese drama waarin die skrywer haar groot vryhede veroorloof. In ’n artikel oor die werk van Hilary Mantel skryf Dominic Green (2015:29): “A historical novel combines material verisimilitude with the metaphysic of interiority”, en dit is ook hierdie klem op die binnelewe, die donker stel moontlikhede van wat sou kon wees, wat die uiters suksesvolle en twee maal met die Bookerprys bekroonde romans van Mantel kenmerk (Wolf Hall, 2009, Bring up the bodies, 2012, The mirror and the light, 2016).

Wanneer mens begin lees aan Dan Sleigh se 1795, kom jy baie gou agter dat die skrywer verskillende opsies oor die verlede aan die orde stel en uitbou. Teenoor die dokumentêre aanslag met die afbeelding van Kaapstad en die aanhaling uit die Kompanjie se dokumente oor die posisie en status van William van Reede van Oudtshoorn word daar vooraf as eerste motto ’n aanhaling van Shakespeare uit “Sonnet LXIV” gegee:

Ruin hath taught me thus to ruminate
That Time will come and take my love away.

Hiermee word ’n suggestie gemaak dat wat volg, ’n liefdesverhaal kan wees, maar emosionele liefdeservaringe word nie in die soort historiese dokumente wat as basis vir ’n historiese roman gebruik word, verskaf nie. Die skrywer gaan dus iets bykomend tot die “feite” tot sy beskikking “verbeel” of versin of ten minste op vindingryke wyse uit die beskikbare gewens aflei en uitbou. Net soos wat mens sekere verhaaleienskappe deur die teks kan volg, soos die reeds genoemde beskrywing van historiese plekke en dinge en gebeure, net so kan ’n mens hierdie vryer interpretatiewe passasies regdeur die teks vind. Die belangrikste draer van hierdie “vryer” aspekte van die teks is die hoofkarakter William, wat hoofsaaklik as fokalisator in die roman gebruik word. William word dan ook voorgestel as iemand wat die Kaap as sy tuiste liefhet, wat hom daarvoor beywer dat die beste in die plek en die mense na vore kom. Op ’n manier is William die verpersoonliking van ’n soort ideale persoon (en as mens krities wil dink, dalk ’n, of die, skrywerspersoonlikheid?). Daar word van William gesê: “Hy is met ’n sterk verbeelding gebore, die honderde boeke wat hy gelees het, het dit verder ontwikkel. Geheue en verbeelding is een; herinneringe val hom binne soos helder ligte, hulle daag op in kleur, klank en besonderhede” (41). William se agtergrond word beskryf sodat dit duidelik is watter vormende invloede daar op sy karakter ingewerk het. Daar word dikwels na die boeke wat hy ken, verwys (158–60), sodat daar ’n intertekstuele gesprek via die wêreldliteratuur opgebou word waarteen William se reaksies op sy onmiddellike omstandighede geprojekteer word. Dit gaan veral om sy politieke opvattings en sy kennis van staatkunde.

William is dan ook die een wat dadelik in die verskyning van die Engelse vloot ’n werklike bedreiging sien: hy interpretéér wat gebeur, hy ondergáán nie net wat gebeur nie, hy bedink en beoordeel en bespiegel, net soos ’n skrywer. Dit is byna asof die skrywer homself in William indink (soos Graves voorgestel het) en hom verbeel hoe iemand met William se agtergrond en ingesteldheid en persoonlikheid in daardie posisie sou optree en reageer en veral waarom. William onthou dinge uit sy verlede en maak dit van toepassing op wat hy beleef en moet hanteer op ’n manier wat eintlik nie te onderskei is van hoe ’n skrywer uit sy kennis en verwysingsraamwerke put en daaruit sy verhaal maak nie.

As hy Leiden verlaat saam met sy vader wat sy pos as goewerneur aan die Kaap moet gaan opneem, sê ’n lid van die Here Sewentien by die afskeidsete aan William: “Hoor eens, jonge! ’n Geskenk van my, neem dit saam Kaap toe: Politiek is die kuns om besluite lank genoeg uit te stel tot hulle nie langer ter sake is nie” (60). Later spreek William sy Korps Pennisten toe en verskaf die nodige inligting oor wat agter die skerms aan die gebeur is. Onder meer sê hy: “Gedra julle soos soldate ... Sluit julle ore teen gerugte. Ons grootste vyand is onkunde. Onthou die gesegde: Eerste wat in enige oorlog sneuwel, is die waarheid. Laat ons almal met ons werk voortgaan” (77). Hier sien mens William as leiersfiguur (soos wat hy later ook in die vergaderings met die Goewerneur uitgebeeld word), maar ook as nugter mens wat weet hoe oorlogsomstandighede alles verteken en mense anders laat optree. Die skrywer neem egter ook die geleentheid te baat om ’n mening oor die onbetroubaarheid van mense in konfliksituasies aan die orde te stel.

In ’n historiese roman moet die skrywer as skrywer poog om die verhaal tot lewe te laat kom en karakterisering is hier een van die effektiefste middele. Kolonel Gordon, wat saam met die slap goewerneur Sluysken eintlik verantwoordelik is vir die Kaap se onsuksesvolle verdediging en uiteindelike oorgawe aan die Engelse, word van die begin af as ’n ydel en selfgesentreerde mens voorgestel. By die vergadering van kring Atheneum, William en sy pa se poging om ’n intellektuele gesprek aan die Kaap te stimuleer, word Gordon genooi om te sing (34–5). Inwoners van die Kaap sien Gordon as ’n afwesige soldaat, selfs ’n bedrieër, maar die man is uitgevat in duur klere en sing met oorgawe asof hy professioneel optree. Hy is talentvol en bestudeerd sjarmant, maar terwyl hy sing, kraai daar ’n haan. Hiermee word gesuggereer dat Gordon ook ’n verraaier is. Die dubbelslagtige optrede van Gordon en Sluysken in die vergaderings en later in hulle reaksie op William en ander se pogings tot proaktiewe beplanning om die Kaap te verweer, word al hoe duideliker.

En so word in die roman die toneel subtiel en in uiteenliggende kommentaar voorberei vir die uitspeel van die groot verraad van Sluysken en Gordon. Hulle nooi die vyand tot gesprek en ontvang hulle; hulle verdra Craig (184–5), die Engelse bevelvoerder, se arrogansie, want hulle is besig om voor nog hoër gesagsfigure te voetval. Dit is nabaat duidelik dat die verloop van sake vooraf bepaal was en al die plaaslike mense net rolspelers was wat toegelaat is om elkeen ’n rol te vertolk tot op die punt wat die groot marionetmeesters toelaat.

En William word die individu in wie se ervaring alles saamtrek. Sy smart oor die dood van sy eerste geliefde, sy ongelukkige huwelik met die haas waansinnige Geesje, en die nuwe liefde vir madame De Remony vorm ’n ander deurlopende lyn in die roman. Sy toenemende eensaamheid word besonder treffend beskryf en die afskeid van madame De Remony is aangrypend. Dat daar soveel menslike warmte in die roman ingewerk word, strek die skrywer tot eer. Hy bly getrou aan die historiese feite, gebruik selfs die taal van die tydperk, maar die menslikheid van die karakters staan tog steeds voorop.

’n Mens sou ’n glyskaal kon opstel waarop mens die verskillende maniere waarop daar met die geskiedenis omgegaan kan word, sou kon plaas: van werklik dokumentêre romans en vorme van faksie of New Journalism (soos bv John Miles se Kroniek uit die doofpot) tot by ’n hele reeks moontlikhede waarin daar op meer of minder getroue wyse met die historiese verlede omgegaan word – herinneringsliteratuur, wat by ouer vorme van streekskuns aansluit (Met 'n eie sikspens van Engela van Rooyen, Vatmaar van AHM. Scholtz); alle soorte meer of minder gefiksionaliseerde vorme van egodokumente (Foxtrot van die vleiseters van Eben Venter, Karel Schoeman se Die laaste Afrikaanse boek, Elsa Joubert se tweedelige outobiografie); verskuilde outobiografiese werk soos Strachan se Die Jakkalsjagter en Reise van Isobelle van Elsa Joubert; gewone realistiese pogings tot rekonstruksie en hervertelling; mitologiserings van die verlede (soos in Triomf en Agaat van Marlene van Niekerk); demitologisering (soos in Magersfontein o Magersfontein van Etienne Leroux); en magies-realistiese herskeppings (soos Duiwelskloof van André P Brink en Die swye van Mario Salviati van Etienne van Heerden). Daar is romantiserende fiksionaliserings van die geskiedenis, maar op die ander pool ook ’n soort demonisering wat op die distopiese eienskappe van die verlede fokus en dit in uitvergrote vorm aanbied (soos in Op soek na generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee en Buys van Willem Anker).

Dan Sleigh kan moeilik in een van hierdie kategorieë ingepas word, want 1795, soos ook Eilande, bevat sowel dokumentêr-betroubare inligting as verbeelde elemente en aspekte. En daarin lê die boeiende rykheid van die romans. Die vertelstrategie in 1795 is ook boeiend, met ’n voortdurende heen en weer beweeg tussen hede en verlede, ’n wisseling van afstand tussen vertelinstansie en karakter of gebeure en ’n spanningsvolle ontvouing van die sentrale verloop in sowel die politieke geskiedenis as die persoonlike verhaal van William.

Wat egter in hierdie roman belangrik is, is dat die temas so aangebied word dat dit subtiel in verband gebring word met universele betekenisse, van sowel mense as omstandighede. Sodoende lewer die roman ook kommentaar op die problematiese hede van Suid-Afrika. Hierdie soort aktualiteit word dus nie referensieel nie, maar juis representatief en in terme van die skepping van nuwe betekenis bewerkstellig. Oorgange in regering is altyd moeisaam en pynlik en dit eis altyd slagoffers. Politieke strategieë soos die gebruik van ’n uitsteltegniek en die verdraaiing en toedoek van die waarheid was en is steeds algemeen. Die posisie van die Afrikaanssprekende gemeenskappe wat nou moet toekyk hoe identiteit en taal versand ter wille van die groter politieke spel, vertoon tog onteenseglik raakpunte met die verlies aan ’n geliefde plek en vertroude omstandighede wat William moes oorleef. Die individu se uitgelewerdheid aan groter onpersoonlike magte en kragte wat op ’n groter verhoog wil meespeel, is ook ’n bekende eietydse verskynsel. En daar is ook die feit dat as die Kaap nie in 1795 deur Engeland ingeneem of geannekseer was nie, die geskiedenis in Suid-Afrika waarskynlik tog anders sou verloop het. En dit is die moontlikheid van ’n ander verloop, op politieke sowel as persoonlike vlak, die eb en vloed van hoop en wanhoop, van vreugde en smart wat alle menslike belewenis kenmerk en waarmee die mens se binnelewe gevul is, waaroor die roman uiteindelik gaan. Die feit dat hierdie verskillende aspekte van die roman as historiese roman in balans gehou word, voorkom dat 1795 die verlede óf verheerlik óf demoniseer, dat mense óf beter óf slegter voorgestel word as wat hulle is.

Daar is onderliggend aan die roman ook die tema van die held wat nooit sy vermoëns tot volle ontplooiing kan bring nie, wat op ’n byna tragiese wyse gedoem is om sy positiewe en dienende ingesteldheid al hoe meer te internaliseer en om al hoe meer na binne te lewe. Die uitbeelding van William van Reede van Oudtshoorn as so ’n figuur werp lig op die afwesigheid van helde in bepaalde historiese periodes, maar ook op die magteloosheid van die denkende individu teen die meeslepende krag van ’n politieke en finansiële magspel.

In hierdie stuk kon slegs enkele aspekte van 1795 aangeraak word. Dit is ’n ryk roman wat eintlik “in mondjesmaat” gelees moet word om die fyn afwerking van besonderhede en formulering tot sy reg te laat kom.

 

Bibliografie

Ankersmit, Frank. 2010. Truth in history and literature. Narrative, 18(1):29-50.

Cuddon, J.A. 1992. The Penguin dictionary of literary terms and literary theory. Londen: Penguin.

Green, Dominic. 2015. Wolves Hall. New Criterion, 33(9):25–32.

Sleigh, Dan. 2016. 1795. Kaapstad: Tafelberg.

Van Gorp, H. ea. 1991. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Marthie Labuschagne

    So Lekker gelees aan soveel inligting! Heerlik! Absoluut openbarend en wonderlike stof om in besprekings te gebruik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top