Afrikaanse geskiedskrywing: ’n Nuwe geslag, ’n nuwe ruimte, ’n nuwe uitdaging

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

“Tog, 20 jaar sedert apartheid beëindig is, het daar ’n ruimte ontstaan waarin ’n nuwe geslag historici die verlede in eie reg kan verken en sonder die hindernisse van die verlede sowel Afrika- as Afrikaner-nasionalistiese stereotipes kan uitdaag.”1

“Deur dít te skryf het jy dit geskep,” merk ’n kommentator onlangs teenoor my op. Hy wil by my weet: Is daar werklik só ’n geslag, is daar werklik só ’n ruimte? My antwoord: Ja. Maar daar is ook uitdagings.2

Vandag, in 2014, is die nuwe geslag historici nie meer vasgevang in die ou ideologiese kampe nie. Ons leermeesters en hulle voorgangers is destyds, in die jare voor 1994, nog geëtiketteer: Afrikaner-nasionalis, Liberale of Marxis. In sommige gevalle was hierdie etikette welverdiend, in baie gevalle was dit ’n oorvereenvoudiging. Ideologie het wel die oorgrote meerderheid van geskiedskrywing oorheers. Onder Afrikaners was daar die groot volkshistorici wat vroeg in die 20ste eeu die Afrikaner wou help ophef deur gestalte aan sy geskiedenis te gee. Dit het hulle met oorgawe gedoen, en aan die Afrikaners ’n narratief verskaf wat gestrek het van Vryburgers tot Voortrekkers, Boereoorlogskrygers en rebelle tot die triomf van Afrikaner-nasionalisme. Daar was ook die kritiese stemme, wat begin skryf het oor slawe, hendsoppers, joiners en “factory meide” [sic].3 Onder Engelse historici het groot debatte gewoed oor ras, klas en geslag. Daar het nog ’n kragtige narratief verrys, oor vernedering, verdrukking en die uiteindelike triomf van veelrassigheid en vryheid teenoor ballingskap en apartheid.4

Die aftakeling van apartheid het, interessant genoeg, nie binne die geskiedskrywing gesorg vir die oorwinning van enige van die ideologiese kampe nie, maar eerder vir ’n vervaging van die ou raamwerke. Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing het teen daardie tyd reeds weggekwyn, die val van kommunisme het die klasse-debat argaïes laat lyk (alhoewel geen historiese werk vandag die rol van klas kan ignoreer nie), en die struggle-narratief, waaraan daar al sedert die 1970’s en 1980’s gebou is, het binne die openbare ruimte impetus en momentum gekry.

Vir kritiese Afrikaner-geskiedenis was daar ’n nuwe ruimte. “Ons is nie almal so nie,” het Jeanne Goosen geskryf,5 en Afrikaner-intellektuele sowel as die wyer gemeenskap het daaraan gestalte begin gee. Nelson Mandela het Ingrid Jonker se gedig “Die Kind” in die parlement voorgelees en in 1999 het Antjie Krog se Country of My Skull6 die Alan Paton-prys gedeel met Stephen Clingman se biografie Bram Fischer: Afrikaner Revolutionary.7 In die openbare ruimte het nuwe Afrikaner struggle-helde na vore getree. Saam met die Bram Fischers was daar ook die Beyers Naudés. Die kragtigste nuwe Afrikaner-narratief was dié van Hermann Giliomee se The Afrikaners: Biography of a People (2003), wat ’n jaar later in Afrikaans gepubliseer is as Die Afrikaners: ’n Biografie.8 Sy narratief het die fokus verbreed na die alternatiewe Afrikaners: die stroomop-denkers wat nog altyd daar was, die Afrikaners se onderdrukte gewete – NP Van Wyk Louw, die Sestigers, Piet Cillié, Schalk Pienaar, die Verligtes en Frederik Van Zyl Slabbert.

Afrikaner-historici en historici oor Afrikaners was ook bedrywig. Daar was ’n herbesinning oor Afrikaner-simbole,9 en nuwe studies, van die Volksmoeder en die Voëlvry-beweging tot armblankes en armblanke-rebelle.10 Dit was ’n verskuiwing wat reeds in die 1970’s en 1980’s wêreldwyd onder historici plaasgevind het en wat binne Afrikaner-geskiedskrywing ook spoed opgetel het: weg van die politieke geskiedenis en die vername helde, na ’n geskiedenis van gewone mense (die sogenaamde “history from below”) en sogenaamde randfigure. Sosiale geskiedenis en kultuurgeskiedenis het ’n opbloei beleef en bestaande verhale, soos dié van die Anglo-Boereoorlog, is herbesin en verbreed.11 ’n Verdere positiewe verwikkeling was studies waar Afrikaners in ’n breër narratief ingeweef is en nie in eksklusief-etniese terme bestudeer is nie.12 Daar word nou selfs teruggekeer na meer ongemaklike studies oor die apartheidsleiers.13 Veral gegewe die voorafgaande 20 jaar is dit alles ’n vars bries, en dit is hierdie groep historici wat vandag se nuwe, opkomende generasie oplei en steeds aan hulle leiding verskaf.

Nou wil ek vir geen oomblik maak asof die nuwe geslag historici bagasieloos is nie. Ons is die erfgename van al hierdie narratiewe, van vóór en ná 1994; ons het met die oorgang van die een na die ander grootgeword en ons ken hulle elkeen. Maar deurdat ons elkeen ken, het ons ’n sensitiwiteit vir die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse verhaal, en deurdat ons makliker tussen verskeie gemeenskappe kan beweeg, is ons ervaringswêreld nie tot ’n bepaalde gemeenskap en ’n bepaalde narratief beperk nie.

Wie is hierdie jong historici? Ek beweeg daagliks tussen hulle en beskou myself as deel van hulle geledere. Hulle is onder die ouderdom van 35 en bevind hulle tans by verskeie Suid-Afrikaanse en oorsese universiteite as MA- en PhD-studente en nadoktorale genote. Hulle is Engels en Afrikaans, wit, bruin, swart en Indiër; hulle kom uit Suid-Afrika, Zimbabwe, Brittanje, Nederland, die VSA, Zambië, Botswana en Malawi. Hulle takel nie net die ou grense van ras en taal af nie. Die afgelope paar jaar is ons jaarlikse geskiedeniskonferensies oorheers deur nagraadse studente wat referate lewer oor Suid-Afrika én die buurlande, en sodoende word ook die landsgrense afgebreek. Ons praat deesdae van ’n Suider-Afrikaanse historiese gemeenskap en doen navorsing wat Suid-Afrika binne die breër, Suider-Afrikaanse streek plaas. Kortom, grense, in welke vorm ook al, het vir ons kunsmatig geword.

Waar bevind die jong Afrikaanssprekendes hulle binne hierdie nuwe veelrassige, veeltalige omgewing? As ek myself moet beperk tot jong, opkomende Afrikaanse historici sal ek eerlik wees: hulle is ’n handjievol. Maar hier lê die groot verskuiwing: ons (ek veroorloof my die “ons”, want ek tel myself onder die handjievol, maar ek alleen dra verantwoordelikheid vir my stellings) is terselfdertyd selfbewustelik en onbeskaamd Afrikaans. As historici ken ons al die sondes van die vaders en tog misken ons nie ons identiteit nie, vratte en al. Ons identifiseer onsself as Afrikaans en ons doen navorsing oor Afrikaners. Ons skryf nie noodwendig altyd in Afrikaans nie, want ons navorsing vorm deel van ’n groter geheel. Ons identiteit as individue én as historici is nie beperk tot Afrikaans-wees nie: ons is eerstens historici voor ons Afrikaanse historici is. As historici voel ons deel van ’n breër gemeenskap en is ons samehorigheid eerder op ons lidmaatskap van ’n bepaalde generasie binne daardie gemeenskap gebaseer as op ons taalgroepering. Natuurlik is daar ook ’n sekere samehorigheid onder jong Afrikaanse historici. Ons deel immers ’n taal, ’n bepaalde kulturele verwysingsraamwerk en ’n navorsingsterrein.

Hierdie uitgebreide identiteit beteken hoegenaamd nie die einde van geskiedskrywing oor Afrikaners in Afrikaans deur ’n nuwe geslag historici nie.14 Afrikanergeskiedenis is fassinerend en dit sal aanhou fassineer, en dit is boonop nie beperk tot navorsing deur Afrikaanssprekendes nie.15 Daar is ’n sterk Afrikaanse lesersmark en uitgewers wat ons in staat stel om ons navorsing in beide Engels en Afrikaans aan te bied. Omdat die ou, nasionalistiese raamwerke ons nie meer inperk nie, is daar ruimte om met vars oë na ons geskiedenis te kyk en dit is presies wat ons doen. Ons is jonk, maar ons het grootgeword in ’n samelewing wat sy waardes in heroënskou neem, en dit het ons met ’n bepaalde versigtigheid toegerus. Omdat ons deel voel van ’n breër gemeenskap, vertolk ons ook Afrikaner-geskiedenis aan ’n breër gemeenskap. Wanneer ons skryf, het ons ’n veelrassige, veeltalige skare in ons kop met wie ons gesels. Dit is vir ons belangrik om die verlede te verstaan, om daardie begrip met sensitiwiteit oor te dra en om seker te maak dit bly nie binne ’n enkele gemeenskap opgesluit nie.

Dit kom natuurlik nie sonder struikelblokke nie. Daar is die prosaïese realiteite van die skaarste aan en uitdagings van akademiese poste, navorsingsbefondsing, die “publish or perish”-mantra, peperduur akademiese joernale wat navorsing ontoeganklik maak vir die breër publiek, ens. Die debat oor sogenaamde “open access”-joernale is van kritieke belang. Té veel van die afgelope 20 jaar se navorsing lê in ontoeganklike joernale opgesluit.

Daar is nog ’n ander uitdaging, waarvoor ek ’n pleidooi wil lewer, naamlik die wyse waarop ons ons werk aanbied en die gehoor waartoe ons onsself rig. Onder historici is daar geen gebrek aan selfondersoek en besinning oor die aard en wese van geskiedenis nie. Die filosofie en metodologie van geskiedenis, sowel as historiografie – die studie van geskiedskrywing – vorm ’n belangrike kern van ons vakbeoefening. So is daar ook al baie gedebatteer oor geskiedenis as empiriese ondersoeksterrein teenoor die historiese verbeelding en geskiedenis as ’n vorm van letterkunde. Wat my betref is dit juis die wonder van geskiedenis: die noukeurige, soms nougesette navorsing, die besinning oor die bronne, die strewe om gestalte daaraan te gee en die poging om ’n boeiende, komplekse verhaal te vertel. Historici word aan hul bronne gebind soos ’n hond aan ’n ketting. Binne daardie beperkte ruimte moet hulle kan ontleed, verbande lê, betekenis gee én kreatief skryf. Dit is ’n unieke uitdaging en dit is verslawend.

Hermann Giliomee

Wat my egter bekommer, is dat die kreatiewe, letterkundige dimensie van geskiedskrywing tweede viool bly speel teenoor die meer harde, empiriese ontleding. Daardeur wil ek wil hoegenaamd nie sê die empiriese dimensie moet terugstaan om plek te maak vir kreatiewe skryfkuns nie – dit gaan daaroor om eersgenoemde, binne die perke en die raamwerk van kritiese bronne-ontleding, verbeeldingryk aan te bied. Historici soos Charles van Onselen, Bill Nasson, Hermann Giliomee en Albert Grundlingh het ons reeds gewys hoe dit gedoen word. Dit is al aan die gebeur – die gemiddelde historiese artikel vandag is tien keer meer leesbaar as dié waardeur ek as voorgraadse student moes ploeg. Die probleem is egter dat, buiten nog ’n paar ander vername uitsonderings, die oorgrote meerderheid historici – jong historici inkluis – hulself bly rig tot ander historici. Dit is nie verkeerd nie – ek glo baie vas aan die meriete van ewekniebeoordeling – maar die probleem wat dit veroorsaak, is dat historici mekaar nie genoeg dwing om meer toeganklik te skryf nie en uiters oorspronklike navorsing só opgesluit bly vir die breër leserspubliek – juis in ’n tyd waarin die publiek ontvanklik daarvoor is.

Die ontvangs van my boek het vir my gewys daardie ontvanklikheid bestaan werklik, selfs vir die meer pynlike en ongemaklike dimensies van ons verlede. In die afgelope twintig jaar het ons strewe na selfinsig en ons vermoë tot selfkritiek net toegeneem – daar is nou ook publikasies wat krities met die struggle-geskiedenis omgaan.16 Ons het ’n ver pad gestap sedert ou prof FA van Jaarsveld in 1978 geteer en geveer is. Die uitdaging vir jong historici lê nie meer in die ou ideologiese raamwerke of oorheersende nasionalistiese narratiewe nie. Dit lê in die toeganklikheid en leesbaarheid van hulle werk, sodat die breër samelewing in ’n dieper begrip van die verlede kan deel.

Daarmee word ons nie ’n nuwe geslag volkshistorici wat meewerk aan ’n nasiebouprojek nie. Dit gaan daaroor om die kompleksiteit van ons samelewing te weerspieël en die spieël daar te hou, sodat ons ons jongmens-puisies en oumens-plooie kan sien, sodat ons medemenslik kan wees teenoor onsself, teenoor mekaar en teenoor ons gedeelde en verdelende verlede. Vir ’n ewig-wordende samelewing is daardie eerlikheid onmisbaar.

 

Eindnotas

1 L Koorts, DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme (Kaapstad: Tafelberg, 2014), xii.

2 Omdat bruin Afrikaanssprekendes ’n baie bepaalde historiese ervaring het van beurtelingse toenadering, verstoting en verdrukking, gaan ek bruin geskiedenis nié in hierdie bespreking onder die kategorie van Afrikaner-geskiedenis insluit nie. Alhoewel ons wil wegbeweeg van apartheidskategorieë, bly dit nogtans, veral wat betref apartheidsgeskiedenis, ’n realiteit wat nie misken kan word nie en wat uit eie reg bestudeer moet word.

3 Raadpleeg byvoorbeeld R Elphick en H Giliomee, The Shaping of South African Society, 1652–1820 (Kaapstad: Longman Penguin, 1979); AM Grundlingh, Die “Hendsoppers” en “Joiners”: die rasionaal en verskynsel van verraad (Pretoria: HAUM, 1979); E Brink, “Maar net ’n klomp factory meide”: Afrikaner Family and Community on the Witwatersrand. In B Bozzoli (red), Class, Community and Conflict: South African Perspectives (Johannesburg: Ravan Press, 1987).

4 Vir meer oor debatte en skole binne die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedskrywing voor 1994, raadpleeg K Smith, The changing past: Trends in South African historical writing (Johannesburg: Southern Book Publishers, 1988); C Saunders, The Making of the South African Past: Major historians on race and class (Kaapstad: David Phillip, 1988); FA van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing: Verlede, Hede, Toekoms (Johannesburg: Lex Patria, 1992); H van Aswegen en P Kapp, Verandering en vernuwing in geskiedsbeskouing: ’n Gesprek oor die ervaring van twee tydgenote (Vanderbijlpark: Kleio, 2006); FA Mouton (red), History, Historians and Afrikaner Nationalism: Essays on the History Department of the University of Pretoria, 1909–1985 (Vanderbijlpark: Kleio, 2007).

5 J Goosen, Ons is nie almal so nie (Pretoria: HAUM, 1991).

6 A Krog, Country of My Skull (Johannesburg: Random House, 1998).

7 S Clingman, Bram Fischer: Afrikaner Revolutionary (Kaapstad: David Phillip, 1998).

8 H Giliomee, The Afrikaners: Biography of a People (Kaapstad: Tafelberg, 2003); H Giliomee, Die Afrikaners: ’n Biografie (Kaapstad: Tafelberg, 2004).

9 AM Grundlingh en S Huigen, Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke (Stellenbosch: Sun Press, 2008).

10 M du Toit, The Domesticity of Afrikaner Nationalism: Volksmoeders and the ACVV, 1904–1929. Journal of Southern African Studies, 29(1) (Maart 2003), 155–76; L Vincent, The Power behind the Scenes: The Afrikaner Nationalist Women’s Parties, 1915–1931. South African Historical Journal, 40 (Mei 1999), 51–73; A Grundlingh, “Rocking the Boat” in South Africa? Voëlvry Music and Afrikaans Anti-Apartheid Social Protest in the 1980s. International Journal of African Historical Studies 37(3) (2004), 483–514; S Swart, “A Boer and his Gun and his Wife are three things always together”: Republican Masculinity and the 1914 Rebellion. Journal of Southern African Studies, 24(4) (Desember 1998), 737–51; A Grundlingh en S Swart, Radelose Rebellie? Dinamika van die 1914–1915 Afrikanerrebellie (Pretoria: Protea Boekhuis, 2009).

11 C Cuthbertson, A Grundlingh en ML Suttie (reds), Writing a Wider War: Rethinking Gender, Race and Identity in the South African War, 1899–1902 (Kaapstad: David Phillip, 2002); A Grundlingh, Potent Pastimes: Sport and Leisure Practices in Modern Afrikaner History (Pretoria: Protea Boekhuis, 2003).

12 Sien byvoorbeeld J Krikler, The Rand Revolt: The 1922 insurrection and racial killing in South Africa (Johannesburg: Jonathan Ball, 2005); N Roos, Ordinary Springboks: White servicemen and social justice in South Africa, 1939–1961 (Aldershot: Ashgate, 2005).

13 H Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers: ’n Opperste toets van mag (Kaapstad: Tafelberg, 2012).

14 Daar is etlike jong Afrikaanse historici om dop te hou, veral dié wat tans met doktorale studie besig is. By die Universiteit van Cambridge werk Danelle van Zyl-Hermann aan ’n geskiedenis van die Afrikaanse werksersklas en hul ervaring van die oorskakeling van apartheid na demokrasie. By die Universiteit van die Vrystaat se Sentrum vir Afrikastudie werk Cornelis Muller aan ’n geskiedenis van die Zuid-Afrikaansche Republiek se polisie (die ZARPS) en by die Noordwes-Universiteit het Charl Blignaut onlangs ’n Akademieprys losgeslaan vir sy MA-verhandeling oor vrouens in die Ossewabrandwag.

15 Jong historici wat ook Afrikaners bestudeer en hul geskiedenis by ’n breër narratief inweef, sluit in Sarah Emily Duff, tans verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy publiseer eersdaags by Palgrave Macmillan ’n boek oor die verhouding tussen die NG Kerk en kinders in die laat 19de eeu onder die titel Changing Childhoods in the Cape Colony: Dutch Reformed Church Evangelicalism and Colonial Childhood, 1860–1895. Stephen Sparks, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se navorsing oor Sasol en die geskiedenis van Sasolburg, volg ’n soortgelyke patroon.

16 Sien byvoorbeeld A Lissoni, J Soske, N Erlank, N Nieftagodien en O Badsha (reds), One hundred years of the ANC: Liberation histories and democracy today (Johannesburg: Wits University Press, 2012).

<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Resensies
Paul Murray takes a look at the Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika
– Paul Murray
2007-12-12
Onderhoude
Die aanlyn-argivering van Suid-Afrikaanse teater
– Temple Hauptfleisch, Naomi Meyer
2012-04-25
Onderhoude
Armblankes: "Nie wat mense dink dit is nie ..."
– Edward-John Bottomley, Henry Cloete
2012-10-30
Akademies
Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika
– Neville Alexander
2001
Seminaarkamer
Die verhouding tussen geskiedskrywing en historiese roman, met verwysing na Die son kom aan die seekant op
– Jeanette Ferreira
2013-04-30
Tale
Martin Bossenbroek se De Boerenoorlog wen die Libris-geskiedenisprys
– Ena Jansen
2013-10-22
Essay
Wie was De la Rey?
– Paul Cilliers
2007-03-21
Young Voices Conference 2004
Memory
– Anton Kruger
2004-10-06
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die stand van die demokrasie in Suid-Afrika: ’n Kritiese perspektief
– Chris Nelson
2010-02-02
Briewe deur die lug
Op pad na die groot versoening
– Elias P Nel
2000

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top