
Fotobron: https://pixabay.com/photos/books-library-knowledge-history-4646129/
[R]ecovering this unwritten and hidden history of the institution seems imperative, not only for the historians, but for a country in its objective of reconceiving itself as a diverse people who constitute an inclusive nation. (Anthony 2005:444)
Opsomming
In hierdie artikel word die konsepte historiese relevansie en betekenisvolheid, asook die kriteria vir die beoordeling daarvan kortliks bespreek. ʼn Poging word aangewend om die toepassing van die teoretiese beginsels te illustreer deur die beskikbare geskiedskrywing oor die Solitaire-plaasskool (wat uit 1893 dateer) en die historiese Somerset-Wes-dorpskool (1904) te vergelyk. Die implikasies van historiese irrelevansie, historiese stilte en ʼn gebrek aan historiese betekenisvolheid word uitgelig.
- Historiese relevansie
Dit word algemeen aanvaar dat die waarde van geskiedenis op ʼn persoonlike vlak onder andere geleë is in individuele relevansie, soos die ontwikkeling van persoonlike identiteit en eie selfstandige kritiese denke. Daarbenewens hou die waarde van geskiedenis ook verband met die mate van relevansie wat geskiedenisprodukte vir die leser inhou (History Relevant Initiative 2021). Enige produk, soos ‘n geskiedenisverslag, -boek, -tesis, -proefskrif en -artikel lewer gevolglik ʼn verspreiding van houdings ten opsigte van relevansie wat strek van hoogs relevant tot uiters irrelevant vir bepaalde groepe lesers. Relevansie berus dus op die interpretasie van die teksinhoud deur die leser.
Relevansie spruit natuurlik ook voort uit die kenmerke van geskiedenis as ʼn akademiese dissipline. Navorsing van hoë kwaliteit en handhawing van streng standaarde word normaalweg as ‘n vereiste gestel. Op een of ander wyse moet die gegewens van die historiografiese produk in die alledaagse praktyk toegepas kan word. Akademiese opleiding wat ʼn betekenisvolle impak maak op studente se persepsies en ervarings is belangrik en historiese kennis en inligting moet ook terugvoerbaar wees na huidige politieke en sosiale dilemmas. Daar behoort ʼn strewe te wees na konneksie; met ander woorde integrasie tussen gebeurtenisse uit die verlede, die hede en die toekoms moet bevorder word.
- Historiese betekenisvolheid (significance)
Die term historiese betekenis het egter ʼn ander fokus. Omdat die tydspan van die verlede geweldig wyd is en baie gebeurtenisse insluit, is geskiedskrywers verplig om selektief te werk te gaan met geskiedskrywing. Die klem val dus op gebeure wat as belangrik beskou word. Omdat gebeurtenisse as belangrik genoeg geag word, word dit as histories betekenisvol bestempel. Historiese betekenis wat aan ʼn gebeurtenis gekoppel word, is nie ʼn konstante faktor met tydsverloop nie, omdat omstandighede kan verander. Gebeurtenisse wat honderd jaar gelede plaasgevind het, kan as uiters irrelevant vandag beskou word. Hierteenoor kan aan ʼn historiese gebeurtenis in die huidige konteks betekenis toegevoeg word, terwyl dit dalk dekades lank as relatief betekenisloos beskou is.
.............
Gebeurtenisse wat honderd jaar gelede plaasgevind het, kan as uiters irrelevant vandag beskou word. Hierteenoor kan aan ʼn historiese gebeurtenis in die huidige konteks betekenis toegevoeg word, terwyl dit dalk dekades lank as relatief betekenisloos beskou is.
..............
Enkele kriteria op grond waarvan historiese betekenis beoordeel word, is die volgende: die nuutheidswaarde van ʼn gebeurtenis (die kwaliteit van gebeure om nuut, oorspronklik of ongewoon te wees word normaalweg as betekenisvol gesien); selektiewe geheue (slegs sekere aspekte van ʼn persoon of gebeurtenis word oor tyd onthou, en ander word geïgnoreer. Die historiese betekenis wat aan Wladimir Poetin geheg word, sal na alle waarskynlikheid in hierdie kategorie val); die strekwydte van die effek van gebeurtenisse (die Covid-pandemie is betekenisvol weens die groot getal mense wat wêreldwyd daardeur aangetas is).
Die betekenis wat aan ʼn historiese persoon of gebeurtenis gekoppel word, is hoofsaaklik intrapsigies van aard. Harris Doutsemetzis (2018:іх) skryf oor die lewe van Dimitri Tsafendas en sê dat die huldeblyk oor Tsafendas na sy dood in 1999 die eerste prikkel was wat hom gemotiveer het om meer oor Tsafendas uit te vind. Albert Blake (2018:13) stel dit onomwonde dat die primêre doel met sy boek oor die Ossewa Brandwag is “om in die koppe van daardie individuele Afrikaners te klim wat aan die terreurveldtog deelgeneem het”. Volgens Susie Cazenove (2019:14) is haar biografie oor David Pratt ʼn poging om te verseker dat haar kinders ʼn treurige en dramatiese episode in hul moeder se lewe beter sal verstaan. Die historiese figuur, historiese karakter, groep of gebeure kry “lewe” vir die historikus, soos Pretorius (2022a) dit stel. Die motivering om te skryf is dus intern gedrewe.
..........
Die historiese figuur, historiese karakter, groep of gebeure kry “lewe” vir die historikus, soos Pretorius (2022a) dit stel. Die motivering om te skryf is dus intern gedrewe.
............
Heap (1977:9) verduidelik dit soos volg: “ [A]n insatiable curiosity about the past and regret that so much has already been lost prompted me to attempt to draw together some, at least, of the threads which go to make up the history of this region.”
Historiese betekenis kan ook in die wiele gery word deurdat inligting oor die onderwerp nie beskikbaar of verkrygbaar is nie. Harm Oost (1958:37–41) verwys in sy boek Wie is die skuldiges? na die interessante figuur Willem Hendrik Durandt en die opstand wat onder sy leiding vir 15 April 1904 in Lydenburg beplan was. Die opstand het egter misluk en die groep rebelle is by Enkeldoorn naby Lydenburg in hegtenis geneem. Ek het ‘n soektog gedoen op die US en UK se elektroniese databasisse en het slegs een artikel opgespoor, naamlik een deur Van Tonder (2003) in Die Kerkblad, waarvan die inhoud in ‘n groot mate met Oost se teks ooreenstem. Beide Oost en Van Tonder sluit egter geen bronnelyste by hul publikasies in nie.
Durandt se naam verskyn ook nie in die gepubliseerde Milner Papers van Cecil Headlam nie (Pretorius 2022b).
Die Durandt-karakter kan sekerlik vir meer as een skrywer lewe kry. Wat sou sy lewensgeskiedenis behels? Watter soort persoonlike verhoudings het hy gehandhaaf? Was hy in een of ander rigting opgelei? Daar behoort nog ‘n magdom inligting oor hierdie interessante figuur iewers beskikbaar te wees. Durandt se optrede het my onmiddellik aan die opportunisme van genl Ben Viljoen laat dink.
Ten spyte daarvan dat ‘n gebeurtenis as histories betekenisvol beskou word, kan geslote argiewe verhoed dat dit deeglik nagevors word. Van 1880 tot ongeveer 1990 het die Kanadese regering minstens 150 000 inheemse kinders onder dwang uit hul ouerhuise verwyder. Die kinders is na Katolieke skole gestuur waar hul onderrig en opgevoed is. Die historiese betekenis van hierdie gebeure is geleë in bewerings oor wanpraktyke wat oor ‘n tydperk van honderd jaar hier plaasgevind het. Omdat die Katolieke Kerk eers onlangs begin het om die argiewe oop te stel, was dit voorheen onmoontlik om hierdie historiese gebeurtenis krities te ondersoek, omdat die relevante inligting nie beskikbaar was nie.
...........
Historiese betekenisvolheid kan ook benadeel word deurdat inligting deur byvoorbeeld natuurrampe, brande en oorloë vernietig word. Die inligting wat verlore is na die brand in die Jagger-biblioteek van die Universiteit Kaapstad, sowel as die staatsdokumente van die ZAR (Venter 2022) wat voor die Britse inname van Pretoria deur die Krugerregering per skip na Nederland gestuur is en in die proses verlore geraak het, kan as voorbeelde dien.
.............
Historiese betekenisvolheid kan ook benadeel word deurdat inligting deur byvoorbeeld natuurrampe, brande en oorloë vernietig word. Die inligting wat verlore is na die brand in die Jagger-biblioteek van die Universiteit Kaapstad, sowel as die staatsdokumente van die ZAR (Venter 2022) wat voor die Britse inname van Pretoria deur die Krugerregering per skip na Nederland gestuur is en in die proses verlore geraak het, kan as voorbeelde dien.
- Solitaire se plaasskool
Die Overbergse plaasskooltjie wat in die distrik Solitaire naby Caledon geleë is, word hier gebruik om die toepassing van die konsepte historiese relevansie en betekenisvolheid prakties te illustreer.
Die gemeenskappe Tesselaarsdal en Solitaire was oorspronklik deel van die leningplaas Hartebeestrivier wat in 1781 aan Johannes Jacobus Tesselaar toegewys is. Die Solitaire-plaasskool het in 1893 tot stand gekom en het destyds as Hartebeest River Lower bekendgestaan (Overberg Venster, ongedateerd).
Volgens Strauss (2000) behoort die rol van die plaasskole nie onderskat te word nie, weens hul bydrae tot die formele onderwys en opvoeding van plattelanders, asook vir die belangrike bydrae wat hulle lewer op die gebied van die kultuurgeskiedenis. In die plattelandse omgewing bestaan daar gewoonlik ʼn sterk band tussen ouerhuis, die kerk en die plaasskool. Die bekende Stellenbosse akademikus Con de Villiers was byvoorbeeld 'n oudleerling van die plaasskool Solitaire. Wat sy indrukke van die skool betref, wys hy op die sosio-ekonomiese statusverskille wat onder die leerlinge voorkom, en die besonderse bekwaamheid van die onderwyseresse (De Kock 1994).
Baie min inligting oor die geskiedenis van die Solitaire-plaasskooltjie kon opgespoor word. ʼn Bondige artikel met die titel “Weersiensfees by die Solitaire Primêre Skool” is deur die plaaslike koerant, Overberg Venster (ongelukkig sonder dat enige bronverwysings aangedui word), gepubliseer. Besonderhede oor die opeenvolgende skoolhoofde word gegee sowel as die instandhoudingskoste van die gebou met verloop van tyd. Min inligting oor die leerlinge self en leerlingaktiwiteite word egter beskikbaargestel. Op 5 Maart 1986 is die skool finaal gesluit.
Ek het twee foto’s in die versameling van ʼn familielid opgespoor (foto’s 1 en 2) en ʼn foto geneem van hoe die skoolgebou tans daar uitsien (foto 3). Verdere navrae by die Caledon Museum en Kaapse Onderwysdepartement oor die beskikbaarheid van primêre bronne oor die Solitaire-plaasskool en/of die Solitaire-gemeenskap het niks opgelewer nie.
In teenstelling met die Solitaire-plaasskool het die dorpskooltjie in Somerset-Wes (foto 4) wat in 1904 voltooi is (en ongelukkig ʼn paar dekades gelede gesloop is), baie meer formele aandag deur geskiedskrywers ontvang. Die geskiedenis van die skool is deeglik deur bekende historici soos Peggy Heap (1977) en HC Hopkins (1969) gedokumenteer.
- Bespreking en gevolgtrekking
Waarom sou aan die Solitaire-plaasskool relatief minder betekenisvolheid en relevansie toegeskryf word as aan die Somerset-Wes-skool wat uit min of meer dieselfde tydperk dateer?
Die antwoord is waarskynlik te vinde in verskille wat die strekwydte van effek en impak van die historiese gebeurtenisse betref. Omdat Somerset-Wes ʼn baie groter gemeenskap as dié van Solitaire is, het meer leerlinge die skool bygewoon. Meer onderwysers en ouers was betrokke by die ontwikkeling van die skool. Die invloed van die skool het ʼn beduidend groter impak op die gemeenskap gehad en gevolglik word die historiese betekenisvolheid as hoog geag, ʼn faktor wat bekende historici gemotiveer het om die geskiedenis van die skool volledig en professioneel te beskryf.
Historiese betekenisvolheid is egter ‘n vloeibare konsep en is beslis nie in sement gegiet nie. Gebeurtenisse wat tans as irrelevant beskou word, kan in die toekoms dalk as histories relevant met belangrike betekenisvolheid geag word. Solitaire se plaasskooltjie (sowel as ander skooltjies in die Overberg, byvoorbeeld Wolfkraal, Boontjieskraal, Waboomskloof en Jongensklip), beskik oor sluimerende of inherente historiese betekenisvolheid. Die historiese stilte moet bloot deur vernuwende en gemotiveerde skrywers aangedurf en verbreek word.

Onderwyseres en leerlinge aan die Solitaire-plaasskool gedurende die dertigerjare. (Bron: Familielid se privaatversameling)

Skoolhoof en leerlinge aan die Solitaire-plaasskool gedurende die dertigerjare (Bron: Familielid se privaatversameling)

’n Onlangse foto van die Solitaire-plaasskoolgebou. (Bron: Die skrywer)
Bibliografie
Anthony, D. 2005. Unwritten history: African work in the YMCA of South Africa.
History in Africa, 32:435–44.
Blake, A. 2018. Wit terroriste. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Caledon Venster. Ongedateerd. Weersiensfees by Solitaire Primêre Skool, bl 6.
Cazenove, S. 2019. An unwitting assassin. Sandton: Rainbird.
De Kock, CJ. 1994. Die wêreld van Con de Villiers: ʼn Kultuurhistoriese oorsig. DPhil-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Dousemetzis, H. 2018. The man who killed apartheid. The life of Dimitri Tsafendas. Auckland Park: Jacana.
Heap, P. 1977. The story of Hottentots-Holland. Kaapstad: AA Balkema.
Hopkins, HC. 1969. Nederduitse Gereformeerde Gemeente Somerset-Wes 1819-1969. Paarl: Paarlse Drukpers.
Pretorius, F. 2022a. Geskiedenis moet lewe kry. Die Burger Aktueel, bl 7.
—. 2022b. E-pos-korrespondensie, 19 Mei.
Strauss, EM. 2000. ʼn Kultuurhistoriese en opvoedkundige waardebepaling van plaasskole in die Overberg, in die lig van die uitfasering daarvan. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Venter, C. 2022. Persoonlike kommunikasie, Stellenbosch. 4 Augustus.


Kommentaar
Soos altyd, is die skrywer se artikel baie interessant! Soos hy egter erken, is onderwerpe net relevant vir spesifieke groepe lesers en moet dit ook tog implikasies vir alledaagse praktyk inhou!