Geskiedskrywing in die "Nuwe Suid-Afrika" – om te vergewe sónder om te vergeet

  • 3

Op Vrydag 28 Januarie 2022 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (hierna die Akademie) se Geskiedeniskommissie hul jaarlikse Geskiedenissimposium aangebied. In die lig van die Covid-regulasies het vanjaar se simposium, soos dié van 2020, virtueel plaasgevind. Altesaam het ongeveer 60 persone dit bygewoon. André Wessels, senior professor (emeritus) en ’n navorsingsgenoot in die Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, asook ’n lid van die Akademie se Geskiedeniskommissie, het die simposium meegemaak en is deur LitNet versoek om daaroor verslag te doen. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid en die interpretasies is sy eie.

*

Die baie aktiewe Geskiedeniskommissie, onder die voorsitterskap van Fransjohan Pretorius, bied elke jaar ’n simposium oor ’n aktuele en histories belangrike onderwerp aan. Hierdie jaar se simposiumtema was "Geskiedskrywing in die 'Nuwe Suid-Afrika'". Die politieke omwentelinge van 1994 het beslis nuwe uitdagings aan alle Suid-Afrikaners, insluitende historici, gestel, en dit is dus noodsaaklik dat van tyd tot tyd bestek opgeneem word van die stand van geskiedenis-as-wetenskap in die land. Vyf sprekers het verskillende temas wat met die beoefening van die geskiedeniswetenskap verband hou, belig.

Alex Mouton (Foto: SAAWK)

Alex Mouton, verbonde aan die Departement Geskiedenis, Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), het oor "Die Javier Cercas-benadering van geskiedskrywing" gepraat. (Mouton is onder meer die outeur van Prophet without honour: FS Malan, Afrikaner, South African and Cape liberal, 2012 en The opportunist: The political life of Oswald Pirow, 2021.) Javier Cercas (gebore 1962) is ’n Spaanse skrywer van talle historiese romans, soos Soldiers of Salamis (2001) en niefiksiewerke soos The anatomy of a moment (2009) en The imposter (2014).

Cercas worstel met sy/die Spaanse verlede, ’n verlede wat onderdrukking onder die diktatuur van Francisco Franco insluit. Soms was daar hoogs morele mense wat ’n onderdrukkende stelsel ondersteun het – selfs passievol ondersteun het. Was hulle noodwendig slegte mense? Hoekom het hulle geglo soos hulle geglo het? Cercas wil dus probeer verstaan, en verduidelik, waarom sy ouers en grootouers, en hulle geslagte, geglo en opgetree het soos hulle het.

Mouton het na aanleiding van Cercas se werke perspektiewe verleen ten opsigte van hoe Suid-Afrikaners, en in besonder wit Afrikaanssprekendes, met hulle en die komplekse Suid-Afrikaanse verlede moet handel. Hoekom het "goeie mense" ’n beleid van rassisme gesteun?

Daar moet, om mee te begin, verstaan word waarom Afrikaners die beleid van apartheid (afsonderlike ontwikkeling) ondersteun het – sónder die drang om dit óf goed te praat óf te veroordeel, maar om werklik te verstáán, te begryp, en te verklaar. Om dít te kan doen, moet goeie, oorspronklike navorsing gedoen word. Daar moet – in navolging van Cercas – ook nie net op die politieke en ander leiersfigure gefokus word nie, maar ook op sogenaamde gewone mense – van onderwysers en polisielede tot predikante en die lede van vroueverenigings. Verder moet in gedagte gehou word dat die foute van die verlede nie as ’n verskoning gebruik kan word om nou mag te misbruik nie, om jou nou skuldig te maak aan korrupsie, staatskaping en die stroping van staatshulpbronne nie.

Dit is maklik om ’n klagstaat teen Afrikaners op te stel, maar veel moeiliker om hul ondersteuning van apartheid te verduidelik. Baie navorsing in dié verband moet nog gedoen word. Die Cercas-benadering kan wel van hulp wees.

Lindie Koorts (Foto: SAAWK)

Lindie Koorts, lid van die Internasionale Studiegroep, Universiteit van die Vrystaat, se tema was "Op soek na ’n gepaste held: Afrikanerbiografie in die apartheid- en postapartheid era". Sy is die outeur van die biografie DF Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme (2014).

Die Afrikaner het die neiging om ’n versugting na leiers te openbaar. Enkele jare gelede is dié neiging beklemtoon deur die sanger Bok van Blerk se "De la Rey"-lied. In die loop van jare is bepaalde persone se beeld deur historici gebou, byvoorbeeld Jan van Riebeeck as "volksplanter", die leiers van die Groot Trek van die 1840’s, en die Boerebevelvoerders van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902), waar die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog die twee belangrikste gebeurtenisse in die latere ontwikkeling van Afrikanernasionalisme was. So byvoorbeeld het die historikus Gustav Preller ’n vorm van "heldhaftige" geskiedenis bevorder – hy het dus in diens van ’n ideologie gestaan.

Met verloop van tyd het ’n hertaksering van historiese figure plaasgevind. ’n Nuwe nasionale narratief kom ná 1994 tot stand. Vroeër reeds het Engelssprekende historici wegbeweeg van die neiging om die geskiedenis "van bo" in terme van sogenaamde belangrike historiese figure te skryf, maar geskiedenis ook "van onder" geskryf; met ander woorde in terme van die ervaringe en optredes van sogenaamde "gewone mense".

Die tematiese verruiming van die afgelope paar dekades sluit onder meer in die klem op die rol van swart mense tydens die Anglo-Boereoorlog. Verder was daar ’n geweldige toename in die aantal politieke biografieë/outobiografieë oor/deur "struggle"-figure, met die bekendste waarskynlik Nelson Mandela se Long walk to freedom (1994).

In Afrikanergeledere het ook verruiming plaasgevind. Let byvoorbeeld op die unieke "biografie" wat Herman Giliomee geskryf het, Die Afrikaners: ’n biografie (2013). Dan was daar ook die biografieë oor Afrikaanse literêre figure, byvoorbeeld JC Steyn se Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal (1998). So is vir Afrikaners ’n veiliger narratief geskep wat terselfdertyd ook die Afrikaner se rol op verskillende terreine (naas die politiek) beklemtoon het. Voorbeelde van meer onbevange biografieë sluit in Albert Blake se Robey Leibbrandt: ’n lewe van fanatisme (2019) en Afrikaner-sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwagleier (2021).

Afrikaners soek nie meer noodwendig helde nie, maar ’n veilige ruimte waar meer onbevange na hulle verlede gekyk kan word en Afrikaners meer geborge kan voel. Koorts het tereg benadruk dat goeie navorsing nooit selektief is nie. Geskiedenis mag ook nooit uit ’n standpunt van bewondering geskryf word nie. Wanneer jy ’n biografie skryf, beteken dit nie dat jy noodwendig van die betrokke persoon hou of die persoon se standpunte ondersteun nie. Maar biografie as genre gee aan ons ’n greep op die geskiedenis; in ’n sekere sin is die biografie immers die mees toeganklike vorm van geskiedskrywing.

Thula Simpson (Foto: SAAWK)

Thula Simpson is die outeur van die insiggewende omvangryke nuwe geskiedenisboek History of South Africa: From 1902 to the present (2021). Vroeër publiseer hy Umkhonto we Sizwe: The ANC's armed struggle (2016). Hy is verbonde aan die Universiteit van Pretoria se Departement Geskiedenis.

Tydens die simposium het hy gepraat oor "History beyond apartheid: Four varieties of modern South African historiography" deur onder meer te verwys na die rol wat ’n aantal invloedryke historici in die hantering van die Suid-Afrikaanse geskiedenislandskap gespeel het. In 1969 het die eerste volume van die Oxford history of South Africa onder die redaksie van Monica Wilson en Leonard Thompson verskyn, wat ’n meer liberale kyk op die Suid-Afrikaanse verlede gebied het, met ras wat as sterk bepalende faktor geïdentifiseer is. Shula Marks en ander meer radikale historici het die klem op die rol wat kapitalisme in die vorming van die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel het, geplaas. Dan was daar Charles van Onselen en Belinda Bozzoli wat sosiale geskiedenis bevorder het waar weer eens nie uitsluitlik op "leiersfigure" gefokus is nie, maar veral ook op "gewone mense". Kyk in hierdie verband byvoorbeeld na Van Onselen se latere The seed is mine: The life of Kas Maine, a South African sharecropper 1894–1985 (1996). Van Onselen en Bozzoli het in 1977 die invloedryke History workshop aan die Universiteit van die Witwatersrand tot stand gebring om sosiale geskiedenis te bevorder; later ook "openbare geskiedenis" post-1994.

Simpson het onder meer ook verwys na kritiese stemme vanuit die geledere van historici verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Verder het hy ’n oorsig verskaf van ontwikkelinge in die geledere van Afrikaanssprekende historici, met besondere verwysing na die rol van FJ du Toit Spies en FA van Jaarsveld.

Johan Wassermann (Foto: SAAWK)

Johan Wassermann van die Departement Geesteswetenskaplike Onderwys aan die Universiteit van Pretoria, het die tema "Die versterking van skoolgeskiedenis: enkele teoretiese beskouinge" onder die loep geneem. Hy het onder meer verwys na die feit dat historiese kennis deur navorsers, historici en argeoloë gekonstrueer word (die veld van produksie); hierdie historiese kennis word in skoolkurrikula herkontekstualiseer (amptelike rekontekstualiseringsveld); dit word opvoedkundig in handboeke verpak (pedagogiese herkontekstualiseringsveld); waarna dit deur onderwysers herkontekstualiseer word (die veld van herprodusering).

Daar is diegene wat die klem plaas op geheuegeskiedenis; ander weer op analitiese geskiedenis (skoolgeskiedenis moet leerders help om analitiese denkwyses en vaardighede te ontwikkel); en andere kritiese geskiedenis benadruk (skoolgeskiedenis moet leerders help om betekenisvol aan die samelewing deel te neem).

Wassermann wys op verskillende benaderings tot die aanbied van geskiedenis op skool, byvoorbeeld: Skoolgeskiedenis skep ’n akademiese identiteit, met ander woorde, wys daarop dat gebeure ’n bepaalde chronologiese ontwikkeling het. In die verlede was daar die neiging om te fokus op politiek, "belangrike" leiers, en die skep van die nasiestaat. Verder skep dit ook ’n siviele identiteit – byvoorbeeld help mense om die "nasionale storie" te verstaan; leer mense waar hulle vandaan kom; en ontwikkel ’n trots op jou land en jou nasionale identiteit. Ander lê weer meer klem op kritiese historiese denke en die bevraagtekening van narratiewe en idees in terme van historiese akkuraatheid.

Wassermann het aangedui dat daar krities omgegaan moet word met idees soos dat die geskiedeniskurrikulum deel moet wees van die nasiebouprojek, moet help met die daarstel van sosiale kohesie, en om geletterdheid te verbeter.

Analitiese geskiedenis en geheuegeskiedenis staan nie noodwendig teenoor mekaar nie, maar analitiese geskiedenis moet van deurslaggewende belang wees. Jy moet geskiedenis ken om geskiedenis te kan doen. Daar moet dus gewaak word teen die afskeep van analitiese geskiedenis.

Albert Grundlingh (Foto: SAAWK)

Die welbekende historikus en outeur van talle belangwekkende publikasies, Albert Grundlingh (emeritusprofessor, Departement Geskiedenis, Universiteit Stellenbosch), het in sy referaat gefokus op die vraag: "Het universitêre akademiese geskiedskrywing in Afrikaans nog ’n toekoms?" Hy het ’n oorsig gegee van hoe Afrikaans as onderrigtaal vir die aanbied van geskiedenis aan Suid-Afrikaanse universiteite ontwikkel het, maar dat daar vandag nog slegs ’n handjievol Afrikaanssprekende historici aan universiteite in Suid-Afrika se Geskiedenisdepartemente verbonde is. Die redes vir hierdie toedrag van sake is onder meer die feit dat die studentekorps aan universiteite veral sedert die 1990’s radikaal verander het en dat al meer studente onderrig in Engels verkies. Verder is Afrikaanse geskiedskrywing in die loop van jare onder verdenking geplaas in die lig van die feit dat dit onder meer met die vorige (pre-1994) politieke bewindhebbers geassosieer is.

Dit sal jammer wees as Suid-Afrikaanse (en ander) historici nie meer bronne wat in Afrikaans (of Nederlands) geskryf is, (sal kan) raadpleeg nie, want dit sal tot die verarming van Suid-Afrikaanse geskiedskrywing lei. Vergelyk in dié verband die inhoud van Afrikaanse koerante as belangrike historiese bronne; derduisende akademiese en ander artikels wat in die loop van baie jare in Afrikaans gepubliseer is; duisende Afrikaanse boeke, en ’n groot aantal MA-verhandelinge en doktorale proefskrifte wat in Afrikaans geskryf is (en waarvan meer as 100 tot 1993 in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis gepubliseer is). Daar moet verstaan word dat die vermoë om Afrikaans te kan lees en te verstaan, ’n vaardigheid is om ’n groot aantal historiese bronne mee te kan ontsluit. Die kind moet dus nie met die badwater uitgegooi word nie.

Die puik referate wat tydens die simposium gelewer is, het die uitdagings, maar ook die geleenthede wat die post-1994 "Nuwe Suid-Afrika" aan historici bied, uitstekend belig. Geskiedenis is ’n gesprek sonder einde, en die debat ten opsigte van die sake wat tydens die simposium aan die orde gestel is, moet dus ook voortgesit word. Uiteraard sluit dit die gesprek oor Afrikaans as voertaal by universiteite (en skole) in, asook die waarde van Afrikaans as taal waarin akademici (en andere) moet voortgaan om te publiseer. In hierdie verband kan en moet die Akademie ’n sleutelrol speel.

Die Akademie gaan onder meer voort om Afrikaans as vaktaal, sowel as Afrikaanse publikasies te bevorder, byvoorbeeld deur die uitgee van geakkrediteerde akademiese tydskrifte, en waar moontlik deur Afrikaanse boekpublikasies te befonds en beurse aan studente wat hul verhandelinge of proefskrifte in Afrikaans wil skryf, beskikbaar te stel.

Die verlede word verskillend geïnterpreteer deur verskillende mense in verskillende tye. ’n Multiperspektiwiese benadering ten opsigte van die verlede, waardeur stem aan alle rolspelers gegee word, kan mense in staat stel om te vergewe sónder die noodsaak/dwang om te vergeet. Elke geslag word opgeroep om opnuut rekenskap van hul verlede te gee. Só kan die toekoms van ons (gedeelde) (Suid-) Afrikaanse verlede verseker word.

  • Die fokusprent by hierdie artikel is ’n verwerking van ’n afbeelding, geskep deur GDJ, op Pixabay, en foto’s wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verskaf is.

 

Lees ook:

Lindie Koorts: “Afrikaanse geskiedskrywing: ’n Nuwe geslag, ’n nuwe ruimte, ’n nuwe uitdaging

Loammi Wolf: “Versoening in die ban van geskiedskrywing as 'memory politics'?

Desmond Painter: “The lie of 1652 deur Patric Mellet: om die verlede te herverbeel

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die deel van die simposium wat ek gesien het, was vir my ook goed en leersaam. Ongelukkig was die klank tydens professor Simpson se aanbieding skielik so sag dat ek nie verder kon luister nie, ten spyte van pogings om dit harder te kry aan my kant. Weet nie of dit net my eie toestelle was wat my in die steek gelaat het nie. Sal goed wees as die simposium iewers beskikbaar gemaak kan word waar mens dit weer kan gaan luister.

  • Raymond van Diemel

    Help my reg, asb? Het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedeniskommissie hulle ooit uitgelaat oor die moontlike vernietiging van die staatsdokumente kort voor en tydens die Kodesa-onderhandelinge? Hoeveel waarheid is daar dat "before he left office, former Pres FW de Klerk ordered the destruction of tens of thousands of pounds of government records — a quantity so vast he had to borrow a local iron smelter’s incinerator when government furnaces became overloaded?"

  • Riaan van Vuren

    "Daar moet, om mee te begin, verstaan word waarom Afrikaners die beleid van apartheid (afsonderlike ontwikkeling) ondersteun het – sónder die drang om dit óf goed te praat óf te veroordeel, maar om werklik te verstáán, te begryp, en te verklaar. Om dít te kan doen, moet goeie, oorspronklike navorsing gedoen word"

    Die boek "Apartheid: Brittains Bastard Child" kan hier van groot waarde wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top