Versoening in die ban van geskiedskrywing as ''memory politics''?
2006

  • 0

’n Paar inleidende opmerkings

Onlangs het ’n woordewisseling op SêNet ontstaan oor die gebruik van bepaalde gelaaide woorde soos joiners, hensoppers en etniesesuiwering in die taaldebat. Kort voor lank is ander persone daarvan beskuldig dat hulle “holocaust-ontkenners” is in die huidige taaldebat waar dinge verwar is met die lot van die burgerlike bevolking in Britse konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog.

Onder meer het dr Dan Roodt beweer dat 35 persent van alle boerevrouens en -meisies tydens die oorlog verkrag is. Johan Botes het toe op navraag ’n Duitse bron van ene Wilhelm Vallentin uit die jaar 1902 gesiteer as bron om die stelling te staaf.[1] Prof Buks van Rensburg uit Toronto het daarop aangedring dat ek die geloofwaardigheid van hierdie bron as “primêre bron” moet aanvaar. In ’n bydrae op PRAAG se webblad steun dr Roodt ruimskoots op vertaalde tekste deur prof Andries Raath, ’n regsgeleerde aan die Universiteit Vrystaat, van hierdie einste Vallentin om hierdie punt te staaf. Onder die pikante opskrif “Is Loammi Wolf 'n dom of demoniese linkse?” het dr Roodt die stand van die debat gelys sonder om ag te slaan op verskeie bydraes op SêNet deur skrywers wat ook taamlik verbluf was oor hierdie stelling.[2] Prof Raath het sedert die vrylating van Nelson Mandela ongeveer tien boeke oor die Britse konsentrasiekampe en die leed van die boerevrouens, asook oor selfbeskikking en sessesie gepubliseer. Op grond van die omvang van sy publikasies is hy in 2004/2005 in die “Marquis Who’s Who in the World – Cronicle of Human Achievement” opgeneem. Cambridge se Biographical Centre het hom in 2005 benoem vir opname in die lys van “2000 Outstanding Intellectuals of the 21st Century”. [3]

Indien die statistiek van 35 persent korrek is, beteken dit dat meer as ‘n derde van álle vrouens tydens die Boereoorlog in die Transvaal én die Vrystaat verkrag sou wees deur óf Britse soldate en offisiere, óf swart wapendraers wat aan die kant van die Britte geveg het. Volgens die reëls van humanitêre volkereg praat mens dan reeds van sistematiese verkragtings as oorlogsdoelwit om die siviele bevolking te demoraliseer.[4] Sou dit waar wees, kan dit verreikende gevolge vir sowel geskiedskrywing as die omgang met die verlede deur die huidige geslag Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners hê.

Ek het toe begin wonder oor die houdbaarheid van hierdie stelling, want die meeste bekende en gesaghebbende werke verwys nie na sistematiese verkragtings tydens die oorlog nie. Dit kom my as ’n taamlike ongerymdheid voor indien daar plotseling sulke verreikende statistiek as “feite” gelanseer word. Selfs Hermann Giliomee se gesaghebbende werk The Afrikaners – Biography of a People noem nie eers verkragtings in hierdie samehang nie.[5] Ook die Oorlogsmuseum in Bloemfontein het bevestig dat sulke statistieke nie houdbaar is nie omdat daar nie genoeg data bestaan waarop ‘n mens wetenskaplike stellings in hierdie opsig kan begrond nie.

Die tema van verkragtings in oorlogstyd is ’n moeilike en emosionele navorsingsgebied, soos die studie van Heike Sander, Befreier und Befreite. Krieg, Vergewaltigung, Kinder (Bevryers en Bevrydes. Oorlog, Verkragting, Kinders) getoon het. Dit is ’n dokumentêre film en ’n begeleidende teks met dieselfde titel.[6] Tot vandag toe weet niemand presies hoeveel Duitse vrouens deur die Russe in die Tweede Wêreldoorlog verkrag is nie. Dieselfde geld die Duitsers se vergrype met Oos-Europese vrouens tydens die besetting. Die donkersyfer is hoog, want die meeste vrouens wou nie daaroor praat nie en nie almal het mediese versorging na die tyd in aanspraak geneem nie. Die geskatte syfer lê by ongeveer 2,4 miljoen vrouens wat op vlug uit Oos-Europa deur Russe verkrag is.

Deel van die problematiek is sowel die verheerliking as die ontkenning van die misbruik van vrouens as krygsbuit. Diegene teen wie die aantygings gerig is, probeer gewoonlik om die vergrype af te skaal as blote uitsonderings, en diegene wat aan die kant van die slagoffers is, kom dikwels in die versoeking om juis hierdie leed te “verheerlik”, of as tema te instrumentaliseer om ’n lydensgeskiedenis (martelaarskap) te begrond. So ’n bewering is dus taamlike plofstof vir die verwerking van trauma deur latere geslagte, want in daardie geval gaan dit grotendeels om die “ontvriesing” van “verstarde trauma” en die opneem daarvan as deel van die geskiedenis deur die latere geslagte. [7]

Geskiedskrywing as “memory politics”?

Die rol van tydgenote bestaan dikwels daarin om bepaalde feite vas te vang wat later die doel dien om “geskiedenis” te begrond. Hulle is dus die verbindende element in die hede tussen die verlede en die toekoms,[8] maar juis omdat hulle ook vasgevang is te midde van die gebeure, is hulle soms geneig om objektiwiteit oorboord te gooi of, anders uitgedruk, die waarheid effens te plooi om te pas by die “werklikheid” soos hulle dit (graag wil) sien. Hulle vervul dus ’n oorbruggende funksie tussen generasies om kollektiewe en kulturele herinnering voort te voer, maar het ook die ambivalente funksie om ons “oë” te wees waarmee ons op ’n latere stadium in die verlede kan “kyk”. Die vorming van kollektiewe herinnering (collective memory) speel ’n besondere rol in die vestiging van kulturele herinnering (cultural memory) en kulturele identiteit deur geskiedskrywing. [9]

Met die konsentrasiekampe en die afbrandtaktiek tydens die Boereoorlog wat tot die onaanvaarbare praktyk gelei het dat die burgerlike bevolking as krygsgevangenes behandel is, het die Britte ’n grens oorgesteek in die niemandsland van die homo sacer, waar hy net nog aan sy naakte lewe kon vasklou.

Die uitgangspunt is dus die onaantasbaarheid van die homo sacer – die onskendbaarheid van menslike lewe. Agamben gee ’n baie goeie oorsig van die reëls wat uit die antieke dateer.[10] In die Romeinse reg is die naakte lewe van ’n persoon deur die regsbegrip homo sacer gedefinieer. Die homo sacer mag gedood word indien hy dit verdien het, maar nie strafloos geoffer of gefolter word nie. Die homo sacer, of “heilige mens(likheid)” is dus die waterskeiding tussen naakte lewe en ’n lewe binne ’n dimensie van regtelikheid en geregtigheid. Hierdie oorgelewerde regsreëls uit die Romeinse reg het later die basis gevorm vir Hugo Grotius se baanbrekerswerk in die volkereg, De iure belli ac pacis (Oor die Reg van Oorlog en Vrede), 1625 en die latere humanitêre volkereg.

Juis hoe twee tydgenote wat beide verontreg was deur die aantygings oor verkragtings van boerevrouens tydens die Anglo-Boereoorlog vir ons hulle siening van sake as “geskiedenis” neergelê het, kan hoogs interessant wees vandag om min of meer vir onsself ’n prentjie te vorm wat die stand van sake was, vir sover dit nog moontlik is. Dit is dus ’n interessante kontrapunt om dr Wilhelm Vallentin se boek Hunnen in Süd-Afrika! – Betrachtungen über englische Politik und Kriegsführung(1902)[11] te vergelyk met sir Arthur Conan Doyle se The Great Boer War (1900) met ’n latere uitgawe in 1902 om die oorlog tot sy einde te dek.[12]

Vir ’n sinvolle analise van sulke boeke van tydgenote moet mens egter ook in gedagte hou dat daar gedurende die afgelope paar dekades ‘n groot klemverskuiwing plaasgevind het ten opsigte van die akademiese metodiek van die historiografie. Vroeër het geskiedkundiges meer klem gelê op die kwaliteit van die bronne en dit dan as onomstootlike waarheid beskou. Daar is selde daarop ag geslaan hoe die werk saamgestel is, wat die doelwit of perspektief daarvan was, wat dit beklemtoon en wat dit weggelaat het met betrekking tot feite. Vandag word die bronne binne ’n bepaalde konteks geïnterpreteer en gaan geskiedkundiges daarvan uit dat bronne nie noodwendig ’n objektiewe weergawe is van dit wat plaasgevind het nie. [13]

Arthur Conan Doyle – The Great Boer War

Omdat die Britse regering geweier het om te reageer op aantygings dat vrouens tydens die oorlog verkrag is, het Arthur Conan Doyle dit, volgens oorlewering, op homself geneem om die saak te ondersoek.[14] Hy het begin om die boek te skryf op die skip na Suid-Afrika toe, maar die grootste gedeelte het hy in ’n hospitaaltent tydens ’n epidemie in Bloemfontein klaar geskryf. Gedurende die oorlog het 16 herdrukke van sy boek verskyn. Doyle was ‘n mediese dokter en het later roem verwerf vir sy Sherlock Holmes-speurverhale – die befaamde “Dr Watson” was klaarblyklik sy alter ego.

Omdat ’n artikel van hierdie omvang mens nie ’n alte gedetailleerde vergelyking toelaat nie, neem ek verlief met enkele kort opmerkings oor Doyle se werk wat vryelik toeganklik is in digitale vorm op verskeie webblaaie.

Opvallend van Doyle se werk is sy byna ouwêreldse mentaliteit om hoflik en regverdig te wees, ook al kan mens ’n gewisse eensydigheid kritiseer, veral wat sy behandeling van die konsentrasiekampe betref. Wat my verder opgeval het in die boek, is sy deurgaans hoflike neiging om van “Mr Steyn”, “President Kruger” of “Judge Hertzog” te praat. As mens sy boek lees, is dit amper so spannend soos sy Sherlock Holmes-speurverhale, en ek het my heelparty keer betrap dat ek amper kon begin verstaan waarom mans dit heroïes vind om oorlog te maak. Uit ’n vroulike – en ook uit ’n humanitêre – perspektief is ’n oorlog vir my in die eerste plek altyd verbonde met menselewens wat vernietig word, nie net fisies nie, maar ook psigies deur die letsels wat mense ’n lewe lank daarna met hulle saamsleep. Hy beskryf met baie presiese detail elke slag, veral ook taktiese oorwegings, tekortkominge en voorspronge van die een of die ander kant, en skilder dit so lewendig dat mens die gevoel het dat mens dit herlewe en dat die bloed wat vloei, net heroïes vloei.

Vir Doyle gaan dit egter nie net om krygskuns nie, maar ook om die eer van die Britte. Hy wys byvoorbeeld uit dat die Engelse juis nie afdelings van die Indiese leër wou betrek in die oorlog nie, en net infanterie-afdelings uit ander “wit kolonies” (veral Australië en Kanada) gebruik het, omdat hulle dit as ’n “wit man” se oorlog bekou het.[15] Natuurlik was daar ook swart en bruin Suid-Afrikaners as Britse onderdane in die oorlog betrek, maar die onderskeid wat vir Groot-Brittanje belangrik was, is dat hulle Britse onderdane in Suid-Afrika was en nie “van buite af” gekom het nie. Hy maak geen geheim daavan dat hy groot respek het vir die Boere se guerrillataktiek en die persoonlikhede wat hulle aangevoer het nie. Hy beskryf ook sy ontnugtering na sy aankoms in Suid-Afrika oor die vals beeld van Boere wat oorheersend in die Britse pers was.

Die dele van sy boek wat na die konsentrasiekampe verwys, is te vinde in hoofstukke 32–34. Hy verwys egter nie daarna as “concentration camps” nie, maar as “refugee camps”. Hier is een van ongeveer ses paragrawe in die hele boek wat na die konsentrasiekampe verwys:

It has been already stated that part of Lord Kitchener's policy of concentration lay in his scheme for gathering the civil population into camps along the lines of communication. The reasons for this, both military and humanitarian, were overwhelming. Experience had proved that the men if left at liberty were liable to be persuaded or coerced by the fighting Boers into breaking their parole and rejoining the commandos. As to the women and children, they could not be left upon the farms in a denuded country. That the Boers in the field had no doubts as to the good treatment of these people was shown by the fact that they repeatedly left their families in the way of the columns so that they might be conveyed to the camps. Some consternation was caused in England by a report of Miss Hobhouse, which called public attention to the very high rate of mortality in some of these camps, but examination showed that this was not due to anything insanitary in their situation or arrangement, but to a severe epidemic of measles which had swept away a large number of the children. A fund was started in London to give additional comforts to these people, though there is reason to believe that their general condition was superior to that of the Uitlander refugees, who still [a]waited permission to return to their homes. By the end of July there were no fewer than sixty thousand inmates of the camps in the Transvaal alone, and half as many in the Orange River Colony. So great was the difficulty in providing the supplies for so large a number that it became more and more evident that some at least of the camps must be moved down to the sea coast.[16]

Hierdie dele van sy boek kontekstualiseer egter goed die onderhandelinge tussen die Boere en die Britte oor die konsentrasiekampe en die logistieke probleme om die massas vrouens en kinders te kon versorg. Dit wat Doyle te sê het oor die konsentrasiekampe, is egter taamlik bondig en eensydig, en kan verklaar waarom die Britse koning, Edward VII, hom later tot ridder geslaan het vir die boek wat die openbare mening ná die aantygings van Emily Hobhouse (The brunt of war) oor die konsentrasiekampe baie versag het en die Britte se krygsvoering ook weer min of meer in ere herstel het. Dit was vir “services to the Crown”. Volgens berigte wou Doyle eers nie die eer aanvaar nie. Slegs weens druk van sy ma, wat nogal titelbewus was, het hy dit op die ou end aanvaar. Miskien spreek dit in sy guns. Ek het my mening daaroor verander en dink eerder dat iemand wat dokter Watson se speurneus so goed kon beplan, sekerlik ook sou weet hoe hy sy eie geloofwaardigheid kon skend indien hy die eer sonder huiwering sou aanvaar. Wat mens verwonder, is dat hy Suid-Afrika toe is juis om vas te stel of vrouens wel verkrag is, en dat hy hierdie aantygings nie met ’n enkele sin aanspreek of weerspreek nie. Mens moet dus ook by hom versigtig wees om sy swye daaroor as bewys te sien dat verkragtings nie plaasgevind het nie. Verder moet mens onthou dat Doyle ’n trotse Victoriaan was en dat Victoriane maar baie preuts was om openlik oor sulke dinge te praat.

Wilhelm Vallentin se agitasie vir die Boere

Dr Wilhelm Vallentin was ’n Duitser wat hom geroepe gevoel het om aan die sy van Paul Kruger te gaan veg in die Boereoorlog. Hy het heelwat werke oor daardie epog in die Boererepublieke geskryf: Die Geskiedenis van die ZAR,[17] Die Boereoorlog,[18] Engeland en die Boere – Die Johannesburgse Komedie,[19] My Oorlogsbelewenisse by die Boere,[20] en dan nog Die Hunne in Suid-Afrika. Die eerste twee werke is taamlik lywig, maar laasgenoemde is ’n dunner boekie van 136 blasye en Komedie het net 58 bladsye. Wat sy kwalifikasies was, kon ek tot dusver by geen antikwariaat wat van die boeke het, vasstel nie. Hy vermeld nêrens op watter gebied hy gepromoveer het nie. Op die titelblad van Hunnen word vermeld dat hy ‘n “Kapitain” was in Pretoria – waarskynlik ’n verwysing na ‘n militêre diensrang as kaptein. Iewers word na hom as ’n “Forschungsreisende” verwys – iemand wat rond reis en daaroor berig. Dit lyk dus waarskynlik dat Vallentin se boek eerder in die rubriek van berigte van tydgenote val. Die ondertitel van Hunnen in Süd-Afrika! dui daarop dat dit die geval was: “Betragtinge oor Engelse Politiek en Krygsvoering”. ’n Ander werk van hom, Der Burenkrieg, verwys ook in die ondertitel na “Reise, Belewenisse en Waarnemings”.

Wilhelm Vallentin se Hunnen in Süd-Afrika! in meer detail

Dit was taamlik moeilik om nog ’n kopie van Vallentin se Hunnen in Süd-Afrika! - Betrachtungen über englische Politik und Kriegsführung" (1902) in die hande te kry, maar deur interbiblioteekdienste kon ek tog een in die hande kry om dit te beoordeel. Daar hierdie boek feitlik net nog antikwaries beskikbaar is, het ek taamlik breedvoerig uittreksels daaruit vertaal om die leser ’n goeie indruk te bied van die boek. Twee inleidende paragrawe in die voorwoord gee ’n eerste indruk van die boek se inhoud:

In die oorlog wat in Suid-Afrika woed, is die simpatie van alle volke wat hulself as ordentlike mense beskou, aan die Boere se kant. Die oorsake daarvoor is nie alleen te vinde daarin dat die Britte se goudgierigheid hierdie verskriklike vergieting van bloed veroorsaak het nie, maar gaan eerder daarom hoe die "vrome en humane" Engeland met brutale gewelddadigheid 'n roofoorlog (plunderingsoorlog) tot 'n uitroeiingsoorlog gemaak het. Deur hulle rou oorlogsvoering verbreek hulle honend alle volkeregsreëls wat vir alle nasies heilig is en sanksioneer hulle gruweldade ... [21]

Dis die trant waarop die hele boek geskryf is. Die inleidende paragraaf van die eerste hoofstuk verskaf meer inligting oor die rol wat hierdie Duitsers in die Anglo-Boereoorlog gespeel het, waarvan Vallentin deel was:

Toe ons in Oktober 1899 met ons Duitse Freikorps in Natal inval, het niemand ’n idee gehad hoe tragies hierdie oorlog sou verloop nie. Niemand hier of oorsee[22] kon hulle voorstel dat hierdie oorlog wat so boosaardig deur die Engelse ontlok is, so lank sou duur en sulke diep wonde in die land sou slaan nie. Die Britte het, so ver dit hulle aangaan, hierdie oorlog eerder as ’n sportiewe jaguitstappie na Pretoria beskou.

Soos gewoonlik het die Engelse met hulle matelose en arrogante hooghartigheid die Boere onderskat. Hulle het te geredelik hulle eie propaganda geglo dat hulle ‘n daadkragtige en onverslaanbare leër het. Vanuit die perspektief van die Britte se ligsinnigheid en ‘n gebrek aan kennis kon nie naastenby voorspel word hoe hierdie oorlog sou verloop en waarin dit sou ontaard nie. Die huurtroepe van die Britte was tot dusver eintlik net gewoond om teen onbeskaafde nasies en stamme te veg, wat in plaas van moderne wapentuig hulleself net met pyl en boog of spiese kon verdedig, met primitiewe wapens ... Dit is inderdaad nie ’n besondere kuns om die aanstormende hordes dan met Maximkanonne en ander vuurwapens af te maai nie. ... [dan gaan dit voort oor beriggewing in die pers] ... (d)ie onsekere en twyfelagtige roem van die Britse lëer berus op die selfverheerliking deur ’n omgekoopte pers wat net altyd berig oor veldslae wat gewen is om hulle roem in die wêreld te kan uitbasuin.

Vandag is die oë van die wêreld (egter) geopen sodat hulle kan sien hoe die pestilensie van leuens Engeland deurtrek het en dat hulle vir niks terugdeins nie ... [23]

Hoofstuk 3 handel oor die grootmoedigheid van die Boere. Hoofstuk 4 behandel die uitroeiingsoorlog en die minagting van die Geneefse Konvensies deur Groot-Brittanje, en “gruweldade teenoor krygsgevangenes”. Dit gaan daaroor dat die Engelse dum-dum-kanonkoëls gebruik het, die Boere se lasaret-artse gevange geneem, die Rooikruis se vlae geminag en krygsgevangenes nie menslik behandel het nie. Daarteenoor stel hy duidelik dat soortgelyke aantygings dat die Boere ook soms die wit vredesvlag of die Rooikruis se vlag vir taktiese redes misbruik het, “absolute leuens” is.[24] Hy siteer Mommsen (sonder verwysing) wat gesê het dat hierdie oorlog die “morele en politieke korrupsie van Engeland sowel as hulle politieke swakhede blootstel.”[25] Dan trek hy te velde teen die korrupsie in die Britse administrasie wat tot in die murg van hulle samelewing gevreet het, teen die jingo-pers, die eks-jingo-joernalis Milner, en die goud- en diamantespekulant Rhodes.

... Groot-Brittanje, wat so huigel met humaniteit, het met dié soort oorlogvoering versink in die barbaarsheid van die Dertigjarige Oorlog. Nog dieper in die minagting van ander volke kan ’n volk op hierdie aardbol nie sink nie ... Dan help dit ook nie dat Joseph Chamberlain altyd na die tyd om verskoning vra as mense sistematies afgemaai of laat sterwe is nie. [26]

Hoofstuk 5 handel oor verwoesting deur die Britte en oor hulle gruweldade. Dit gaan grotendeels oor die afbrandbeleid en oor vee wat die Britte van Boere op hulle plase geplunder het en dan verkoop het.[27] Hy beskryf taamlik uitvoerig hoe die Britse soldate ’n dominee se dogter wat blykbaar met ’n Duitser getroud was, se huisraad vernietig het tydens so ’n plundertog. Hulle het nie net haar olieverfskilderye, huisorreltjie en pianino in stukke gekap nie, maar ook nog die duur ingevoerde sitkamerstel met hulle sabels aan flarde gesny. Die hoogtepunt was dat ’n borsbeeld van Keiser Wilhelm II se kop afgekap is.[28] Hy skilder ook meer tragiese voorvalle, soos dié van ’n ou man wie se oog met die kolf van ’n geweer uitgeslaan is en ’n grysaard wat deur Britse soldate aan sy baard te perd rondgesleep is.[29] Vallentin spreek verder kritiek uit dat die Engelse met “God save the Queen” die Here se naam so misbruik[30] en sluit dan af met die versugting:

O! Mens moes die gawe van ‘n Jesaja of ‘n Jeremia besit om hierdie gruwels en verwoesting werklik te kan beskryf! [31]

Hoofstuk 6 handel oor die “hordes wilde barbare” as Engeland se “wapenbroers” en begin so:

Ook wat die inboorlinge betref is dit baie duidelik dat Groot-Brittanje 'n laakbare rol speel. Die allerchristelikste nasie, die Britte, ontsien geen middel om hulle doelwitte te bereik nie, en misbruik daarvoor ook die heidene en barbare. Hulle hits die wilde inboorlingstamme aan teen hulle eie wit ras. Dit is ’n skandvlek op die reeds bloedige en brutale politiek van Groot-Brittanje teen Suid-Afrika. [32]

Hoofstuk 7 gaan oor die omstrede skildering van sistematiese verkragtings onder die opskrif "Uitroeiingsoorlog teen weerlose vroue en kinders: Hongerkuur en verkragting, uitlewering aan die dood":

Reeds in die eerste maande van hierdie aanstootlike, gruwelike oorlog het die Engelse en 'n klomp kaffers 'n ooreenkoms teen die Boere by Derdepoort gesluit. Die eerste melding van gruweldade teen wit vrouens en meisies, uitgevoer deur dierlike, rou soldate saam met hulle swart meelopers, het sidderings deur die ordentlike en beskaafde wêreld laat tril. [33]

Dan volg die berig van ’n onbekende Duitser wat saam met hom geveg het. Dis tussen aanhalingstekens, maar geen bron word vermeld nie, ook nie presies waar of wanneer dit plaasgevind het nie – miskien in Natal, omdat die Freikorps daar geveg het.

... Die skurkekommando’s van die Engelse het kaffers opkommandeer om wit vrouens vas te hou terwyl die soldate hulle brutale verkragtings uitgevoer het. Een arme meisie is deur vier kaffers vasgehou sodat nege Engelse soldate haar kon verkrag. Die arme kind het onder eed getuig dat dit gebeur het. ‘n Aantal vroue lê in die hospitaal. [34]

Hy berig oor nog ’n geval in die omgewing van Colenso – ook sonder om te vermeld wanneer dit plaasgevind het en onder watter omstandighede:

Dieselfde skandelike lot het ook ’n boerevrou in die omgewing van Colenso, wie se man teen die Engelse geveg het, en haar 16-jarige dogter te beurt geval. Die dogter is later dood.

Hy kom dié slotsom:

Dit was ongelukkige voorvalle wat destyds by wyse van uitsondering plaasgevind het, en wat ten minste pro forma deur die Britte bestraf is. Maar vandag het dit deel geword van die Britte se (oorlogs)taktiek en is niks alledaags nie! Vrouens is voëlvry verklaar vir mishandeling en verkragting.

Vervolgens gaan dit daaroor dat die Engelse die burgerlike bevolking, veral ook vrouens en kinders wie se plase afgebrand is, as krygsgevangenes in konsentrasiekampe aangehou het en hy beklemtoon sy afsku as volg:

Net 'n Brit kan in ons beskaafde eeu so brutaal wees! Met 'n siddering voel mens herinner aan lank vergange eeue van foltering en verhongering, herinner dit aan die Spaanse Inkwisisie en die lewende verbranding van mense, en die Here weet, nog baie ander verskrikkinge van lang vervloë tye, waaroor ons in ons tyd met ons kultuur en ordentlikheid hemelhoog uittroon en ons op kan roem. ...

Die grootste euwel is boonop dat die Britte met hulle harte van klip nog hoon en spot op die hoofde van die dappere boerevroue hoop deur hulle [in die konsentrasiekampe] onder die toesig van swart polisie te stel! Wat dít beteken, kan net iemand beoordeel wat die werklike plek van kaffers in die gemeenskap verstaan. 'n Groter vernedering is jou kwalik voorstelbaar vir 'n vry witmens en sy familie. Stel julle net voor dat 'n Duitse beampte, 'n handelaar of plantasie-eienaar in Kameroen of Duits-Oos-Afrika ewe skielik onder die opsig van 'n swart hoofman en sy boorlinge gestel sou word! Ondenkbaar! Ongehoord! Mens kan jou dit eenvoudig nie voorstel nie. [35]

Dan skilder hy ’n berig van Fred Lavelle dat meisies tussen die ouderdomme van 12 en 15 van die konsentrasiekamp in Irene (12 km buite Pretoria) in klein groepies na Pretoria gebring is om vir die soldate se “plesier” te sorg, en wanneer hulle nie meer "bruikbaar" was nie, weer terug gebring is.[36] Hy beweer dat Kitchener daarvan kennis gedra het en dat dit openlik gedoen is:

Die mantel van swye bedek die hartverskeurende, vieslike tragedie in (hierdie) verre eensaamheid. Ja, as net 'n honderdste van al hierdie verskriklike tragedies maar bekend sou wees! [37]

Watter angs, watter pyn, hoeveel trane, wat vir 'n neerdrukkende gevoel van skande, onder brutale geweld-aanwending aan hulle eie liggame deur hulle gehate vyande moes hierdie arme vrouens nie verduur nie! Watter erbarminglose gevoel van verlorenheid, van opgekropte woede, om deur dieselfde moorddadige (plaas)afbranders, wie se vaders of broers dalk nog deur hulle doodgeskiet is, hulle plase afgebrand het, alles geplunder het, nog boonop verkrag en verswanger te word – sulke onmenslike barbare (“rowers”)! So ‘n bodemlose gemeenheid – onbeteuelde willekeur, wat hoogty vier by wilde wreedaarde in die gestalte van mense! [38]

Hy voeg by dat nadat plase afgebrand is en die mense sonder enige kos was, die ouer vrouens dikwels die jong meisies gestuur het om te gaan kos vra by die Britse soldate omdat hulle gehoop het dat die Britte ten minste die ongeskondenheid van hierdie jong meisies sou respekteer.[39] Dan volg sy bondige slotsom oor die omvang van die verkragtings:

Feit is dat tot dusver ongeveer 35 persent van alle Boerevroue en -meisies in Transvaal en die Vrystaat deur Britse offisiere en soldate verkrag is, onder meer ‘n kind van tien jaar.

In ’n bydrae op PRAAG se webblad steun dr Dan Roodt op vertaalde data van prof Andries Raath om hierdie punt te staaf.[40] Ek het ook taamlik breedvoerig en ruimskoots uit die boek van Vallentin gesiteer. Die aangehaalde teks op bl 72 van Raath se boek wat Roodt aanhaal, verskyn egter nie op bl 72 van Vallentin se boek nie. Daar gaan dit oor die ou man wie se oog met die geweerkolf uitgeslaan is[41] en die Germaanse voorvaders van Vallentin wat “met hoon en spot deur die strate van Rome gejaag is”. Die Fred Lavelle-berig oor die lot van jong meisies in die kamp van Irene is ook nie in hoofstuk 5 te vinde nie, maar in hoofstuk 7 op bl 89. Daar waar Roodt van “die kilheid om sy hart” praat as hy verder uit Raath se vertaling aanhaal, gaan dit om ’n teks op bll 96-8 van Vallentin se boek, steeds hoofstuk 7. Raath se vertaling is korrek. (Ek kan egter nie beoordeel of die konteks waarin Roodt op Raath steun, ook korrek is, en of dit uit verband geruk is nie.)

Hoofstuk 8 behandel dan die minagting van volkeregtelike reëls op grond van die Geneefse Konvensies. Dit is in ’n groot mate ’n herhaling van dinge wat hy reeds in hoofstuk 3 gesê het. Hy daag Engeland egter uit om uiteindelik ’n ander groot moondheid aan te vat en nie sulke lafhartige oorloë teen kleiner en swakker volke te voer nie.[42] (Inderdaad het die Victoriane 38 sulke klein oorloggies gevoer.[43]) Aansluitend daarby volg dan ’n uitvoerige relaas oor hoe die Britte hulle kolonies ten gronde rig en ’n lofrede oor die vryheidsoorlog van die Verenigde State van Amerika.

Die heel laaste hoofstuk van die boek is egter van sentrale belang om Vallentin as “historikus” te kan beoordeel. Hoofstuk 9 dra die titel “Groot-Brittanje se val. Duitsland se interesse. Die boerevolk is ’n Nederduitse stam. Die Verenigde State van Suid-Afrika.” Hy begin hierdie hoofstuk met ’n aanhaling van ’n Saksiese siener wat sou sê dat “Afrika die spyker in die doodkis van Engeland gaan wees”. [44]

Vervolgens wys hy sy ware kleure en sny die deurslaggewende punt aan dat die Duitsers met hulle koloniale ekspansionisme en florerende handel ten doel gehad het om die Engelse as handelsmag te verdring en te oortref; kortom, om John Bull se monopolistiese mag te verbreek.[45] Hy verwys na wat die Duitsers alreeds alles in die ZAR besit het. Duitsland en Frankryk het naamlik op daardie stadium (volgens hom) verreweg die grootste aandele in die goudmyne gehad.[46]

Duitsland is op die beste weg om nie net in die Transvaal nie, maar in die hele Suidelike Afrika voet vas te skop. Duitse arbeid, Duitse ware, in die besonder masjiene; Duitse arbeiders en handwerkers word hoog geskat.

Mens mag nie vergeet dat Suid-Afrika en die Transvaal nog jonk is en voor groot ontwikkelinge staan nie. Die navraag styg van jaar tot jaar teen ’n asemrowende tempo. Vir die Duitse handel en Duitse industrie is daar ’n reusemark. [47]

Waarop hy veral sy oog gehad het, was die heropbou van die land ná die verwoesting wat deur die oorlog ontstaan het: treinspore, brûe, geboue, kleding en lewensmiddele. Natuurlik moes daar vir ’n “bevolkingsaanwas gesorg word deur immigrante uit Duitsland”, alles dinge wat die “groei van die handel en die industrie fantastiese vooruitsigte bied”.

Die enigste vraag is net wie die hoofaandeel van die koste gaan dra. Met die vernietiging van Boererepublieke beslis nie Duitsland nie! Engeland sal sy deel moet doen; vir ons bly die rol van die tussenhandelaar oor, wat geweldige winste in die sak kan steek, terwyl ons vergoed word met die geringe loon van die fabriekwerkers in Duitsland – alles “Made in Germany” [oorspronklik in Engels].

Sonder enige twyfel bied die Transvaal ’n fantastiese mark om ons produkte af te sit – dit wás dit, en sal dit wéér word; dit was definitief die moeite werd om hierdie mark vir ons te verower. Hoewel die grootste aandeel van hierdie mark reeds deur ander wat eerste gekom het, ingepalm is, is dit tog nog nie te laat om tot die wedywering toe te tree en ’n voet in die deur te kry nie. [48]

So bietjie verder vervolg hy:

Engeland het nog altyd teen ons party gekies, ons verhoon en aan gevare blootgestel. ... Ons weet wat die Engelse van ons dink, hoe hulle ons uit die diepte van hulle harte haat en verag. Hulle haat ons, want hulle vrees ons; hulle haat ons, omdat ons hulle swakhede en hulle tekortkominge ken.

Net wanner sulke astrante uitvaagsels ’n Duitse vuis op hulle bekke kry sodat hulle tande waai, kom hulle weer aangekruip soos ’n hond en vra om verskoning en bied hul vriendskap aan: “Old fellow, come, let us have a drink!” [Oorspronklik in Engels.] Net dan leer hulle ’n les!

Dis die enigste manier om die Britte en die Britse volk te behandel! Mens mag jou niks laat geval nie en in geen geval enige swakheid toon nie!

Reeds in September 1900 is ’n petisie by die goewerneur van die Kaapkolonie, sir Milner, ingedien om alle uitlanders, spesifiek die Duitsers, deur die militêre beamptes te laat uitgooi uit die land uit om plek te maak vir “Greater Britain”. [49]

Hy gaan voort en sê dat deur die ondergang van die twee Boererepublieke ‘n “bolwerk van Germane verlore gaan” [50] – ’n basis waarop Duitse (let wel!) interesse uitgebou kon word. Dan kom daar weer so ’n stukkie soos in die res van die boek voor sy handeldrywende verstand meer rasioneel oorgeneem het. Hy argumenteer dat die Duitsers en Afrikaners eintlik een “stam” is. Later word dit ook nog duideliker waarom.

Duitsland bespeur instinktief die dreigende gevaar vir sy Duitse besittings in Afrika. Met weemoedigheid sien die Duitse volk hoe heldhaftig hulle Nederduitse stambroers teen die oormag van die gehate Groot-Brittanje veg. [51]

Hy redeneer dat dit eintlik onbeduidend is dat die “Kapholländer” toevallig uit Nederland stam – almal is eintlik van Germaanse afkoms en moet dus saamstaan, veral as mens bedink hoe “reusagtig” die “verbruik aan mensemateriaal” op die lang skeepsvaarte na Batavia (Indonesië) is weens siektes en ontbering en dat dit dus net in die interesse van die handel kan wees om saam te staan. Duitse matrose kan op hierdie skepe werk en so as “goeie kultuurkunsmis” dien, “al offer hulle nou wel hulle lewens daarvoor op”.[52] Aansluitend argumenteer hy dat die Hollandse aandeel aan die bevolkingsamestelling eintlik nie so groot was soos wat algemeen aanvaar word nie. ’n Derde van die demografiese samestelling van die Boere bestaan eintlik uit Hugenote en die ander derde uit Duitsers,[53] en sedert die Engelse ook nog bygekom het, het die Hollandse aandeel aan die demografiese samestelling net nog verder gekrimp. Hy wys daarop dat die Engelse aandeel eintlik net geld vir die Kaapkolonie. In die ZAR, daarenteen, moes die Franse en Duitse elemente weer aansienlik versterk word. (Miskien het hy die Franse ook net bygesit omdat hulle op dié stadium die grootste aandeelhouers in die ZAR-myne was.[54]) Wat van die vroeëre Hollandse element oorgebly het, is eintlik net hulle taal, en dit kan mens negeer omdat dit so ’n mengeltaal geword het. Mens hoef nie alte veel daarvan kennis te neem nie, want die oorheersende element van Hollands in hierdie mengelmoestaal was maar net ’n gevolg daarvan dat Hollands die VOC se ampstaal was. Met verbluffing stel mens vas dat Hendrik Pretorius ’n Duitser was. As hy eers op stoom is, keer niks Vallentin nie. Ook FW Reitz was ’n Duitser; om die waarheid te sê, ‘n “vlugtige oorsig” oor die mees prominente boere maak dit duidelik dat hulle eintlik almal van Duitse afkoms is. En daar die Britse “Blutgebäude” (letterlik: bloed-gebou) in duie stort op grond van hulle skandalige optrede in Suid-Afrika, moet hulle die “vlammende skrif” van ‘n “mene tekel” aan die muur lees en uit SA padgee. [55]

Hy vat dan vir oulaas sy boodskap saam: Die “moorddadige brandstigters en verkragters” moet na hierdie roof- en plunderingsoorlog ordentlik op hulle plek gesit word. Die grand finale is:

Dit wat moet kom, is onafwendbaar! En dit is: Die gronding van die “Verenigde State van Suid-Afrika”, vanselfsprekend nie onder die gehate Britse vlag nie! [56]

Dan is dit net nog ‘n klein stappie sodat “ons” ’n wêreldryk kan opbou, waar die “werklik groot en magtige state die aardbol tussen hulle gaan opdeel”.

Beoordeling van Vallentin se historiese data

Ek wil my nie as historikus uitgee en Vallentin se boek historiografies ontleed nie. Ek verkies om liewer met my gesonde verstand te argumenteer en ook ‘n paar riglyne toe te pas wat regsgeleerdes aanwend in die beoordeling van getuienis. Miskien skiet ek daar te kort, maar dis die beste wat ek kan aanbied.

In die omstrede hoofstuk 7 skilder Vallentin twee insidente wat in Natal plaasgevind het, waarvan hy spesifiek na een by Colenso verwys. In daardie gevalle het dit om minstens drie vrouens gehandel wat verkrag is, maar dit kon ook ‘n paar meer gewees het, want hy verwys na ‘n “aantal” vroue wat in die hospitaal gelê het. Voor dit verwys hy na die eerste gevalle van verkragtings toe sidderings deur die beskaafde wêreld getrek het, maar spesifiseer nie wáár die insidente plaasgevind het of hoeveel vroue slagoffers daarvan was nie. Hy sê egter self dat dit “ongelukkige voorvalle [was] wat destyds by wyse van uitsondering plaasgevind het”.

Hy skilder nie uitvoerig of deurlopend in die boek waar die Freikorps oral geveg het nie, maar dit lyk asof hy een of ander tyd terug is na die ZAR toe. Daar berig hy van ‘n “Mitkämpfer” (medestryder), blykbaar ook ’n Duitser, wat hom vertel het hoe die Engelse soldate te werk gegaan het: sodra hulle agtergekom het dat die mans weg is van ’n plaas, het hulle dit gaan afbrand en die vrouens “soos vee aangejaag” na konsentrasiekampe toe. Dan kom die situasie waar die ouer vrouens hulle jong dogters na die Engelse soldate toe gestuur het om te gaan kos vra, en waar hulle die kinders onder een of ander voorwendsel by hulle gehou en misbruik het. Hoeveel sulke insidente daar presies was, sê hy nie. Hy noem ook geen getalle nie. Sy medestryder berig van een meisie wat hy self gesien het wat swanger was op 14-jarige ouderdom. Daar was ook ’n geval van ‘n 10-jarige kind wat verkrag is. Die volgende berig in hierdie kategorie is die Fed Lavelle-berig oor die misbruik van veral jong meisies wat in die konsentrasiekamp van Irene (buite Pretoria) aangehou is. Hy praat van “klein groepies” wat afwisselend oorgeneem is na die soldate se kasernes toe en wat daar misbruik is. Presies hoeveel vroulike persone hierdie lot in die kamp van Irene te beurt geval het, skilder die boek nie. Vallentin verwys byvoorbeeld nie na mediese data waarvan boekgehou is in die konsentrasiekampe waar hierdie kinders en vrouens behandel is nadat hulle verkrag is nie. Ek weet ook nie of daar sulke data bestaan nie. Die verslae en statistieke wat gereeld publiseer is en aan die Britse regering voorgelê is, verwys hoofsaaklik na siektes soos tifus en difterie, nie na verkragtings nie. Dit sou tipies van die Victoriaanse era wees.

Hy skilder dus aanvanklike insidente, twee uitsonderings op die reël in Natal, en dan oënskynlik voorvalle wat in die ZAR gebeur het, soms nadat plase afgebrand is en die vrouens en kinders na konsentrasiekampe toe geneem is, en dan spesifiek die meer uitgebreide misbruik van jong meisies in die konsentrasiekamp van Irene in die Lavelle-berig. Miskien het ek iets oor die hoof gesien, maar ek kon geen verwysing in die boek vind na voorvalle wat spesifiek in die Vrystaat plaasgevind het nie. Sy skildering berus dus hoofsaaklik op ‘n aantal hoorsê-berigte. Nogtans kom Vallentin tot die slotsom dat ongeveer 35 persent van álle vroulike persone in die ZAR en die Vrystaatse Republiek tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag is. Volgens die boek was Vallentin self nooit ’n ooggetuie van enige sulke voorvalle nie en het ook nie enige iemand persoonlik geken wat verkrag is oor wie hy in sy boek berig nie. Dit is nogal vreemd as elke derde vrou verkrag sou gewees het.

Vir die beoordeling van die geloofwaardigheid van ’n getuie neem ’n hof verskillende faktore in ag. Miskien kan mens van hierdie reëls ook op ’n tydgetuie van historiese gebeure toepas. ’n Hof sou onder meer kyk of die getuie ’n versigtige, behoedsame en onpartydige indruk maak, want anders loop die hof gevaar dat die getuie ’n motief het om die teenparty in ’n slegter lig te stel as wat wel die geval is. In die geval van Vallentin kan mens hom kwalik as ’n besonne en onpartydige tydgenoot beskou. Die styl van sy boek is deurgaans hoogs emosioneel en in ’n baie oordrewe toon. Hy benut opruiende taal en laat geen geleentheid verbygaan om te velde te trek teen die Engelse nie of hulle in die slegs moontlike lig te stel nie. Hy is openlik partydig vir die Boere en lê veral klem op die bloedbande van die “Nederduitse stam” as mede-Germane.

Dit is opvallend dat hy juis hierdie vooroordeel uit die weg probeer ruim het in sy boeke oor Die Geskiedenis van die ZAR en Die Boereoorlog. In die voorwoord daarvan word vermeld dat die werke op “amptelike” dokumente steun. Die amptelike inligting waarna hy verwys, het egter meer betrekking op fotos, kaarte en sketse. In Hunnen in Süd-Afrika! beroep hy hom egter nie op enige amptelike data waarop hy steun nie. Vallentin siteer eintlik net homself, en selfs die verwysing na die historikus Mommsen is sonder die aangewing van ‘n bron. Daar is egter een uitsondering, waar hy baie presiese statistiek aanhaal uit die Alldeutsche Blätter van 1901.[57] Daar verwys hy na spesifieke statistiek om te illustreer hoeveel slegter die boere as swart krygsgevangenes behandel is: daarvolgens is alleen in Junie 1901, 777 van 7 840 boere wat in konsentrasiekampe aangehou is dood, terwyl van die 23 489 “kaffers” wat in konsentrasiekampe aangehou is, net vyf dood is. Sodra dit egter gaan oor noukeurige data wat die verkragtings van vroulike persone aangaan, is die grondslag vir sy aannames baie vaag.

Ter agtergrond behoort kortliks geskilder te word wie die Alldeutsche Blätter uitgegee het. Die Alldeutsche Verband, wie se mondstuk hierdie publikasie was, was ’n baie magtige drukgroep. Vallentin was so te sê hulle “korrespondent in Afrika”. Eers vanaf die 19de eeu het die Duitsers self koloniale drome begin koester.[58] Bismarck was absoluut daarteen gekant, en hierdie drukgroep het onder meer daartoe bygedra om Wilhelm II te beïnvloed om Bismarck af te dank. Veral handelaars en sendelinge het die koloniseringspolitiek gedryf vanaf 1870. Een van die hoofeksponente wat hierdie ontwikkeling aktief ondersteun het, was die Allgemeine Deutsche Verband, gestig in 1890, en in 1894 tot die Alldeutsche Verband herdoop (1890–1939). [59]

Hulle hoofdoel was om Duitse nasionalisme (of Deutschtum, soos hulle dit genoem het) te bevorder, om Engeland se handelsmonopolie te verbreek en hulle op ’n oorlog voor te berei. Die Verband was nie ’n massabeweging nie, en die lede daarvan het hoofsaaklik bestaan uit gegoede middelklasondersteuners van koloniale ekspansionisme. Die gewildheid van die Verband by die wending van die vorige eeu het grootliks berus op hulle suksesvolle agitasie vir die Boere tydens die Boereoorlog. Binne die bestek van twee jaar het hulle reeds 22 000 lede gehad. Hulle het gedroom van ’n tipe “etiese” of “kultuurimperialisme”.[60] Die rigting wat hulle ingeslaan het, was om ‘n Pan-Germaanse pakt te bevorder op grond van die “stamverband” van die Duitsers en die Boere as “Nederduitse” Germane in ’n driehoeksverhouding tussen Duitsers, Nederlanders (waarby hulle die Belgiërs ingesluit het) en Boere.[61] In middel-Europa wou hulle die “Nederduitsers” en die “Hoogduitsers” verenig in ‘n nuwe grootmoondheid onder Duitse leiding, veral omdat die Duitsers binne hierdie Verband begerige oë op die kolonies van die Nederlanders en die Belge gerig het.[62] Hulle het na die eeuwending al hoe radikaler begin word, in so ’n mate dat die beroemde sosioloog Max Weber na vier jaar in 1899 weer uit die Verband uitgetree het. Hierdie “Wilhelminiese” nasionalisme van hulle as “opposisie van regs” het veral na 1908 omgeslaan in ‘n uitgesproke anti-Semitiese en rassistiese etos wat die weg voorberei het vir nasionaal-sosialisme. Hulle was pro-oorlog en na die Eerste Wêreldoorlog het hulle die Weimarrepubliek se stabiliteit getorpedeer. [63]

Europa se opvatting teenoor die Boere voor en tydens die Anglo-Boereoorlog moet onderskei word in die sienswyse van die Europese regerings enersyds, en die beskouings van die Europese volkere andersyds. Geen van die Europese magte, dws Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Frankryk of Rusland wou offisieel hulp verleen aan die Boere nie – en glad nie met wapens aan hulle kant in die konflik intree nie. In hierdie opsig het Wilhelm II egter ’n baie ambivalente dubbelspel gespeel, waarop later kortliks ingegaan word.

Die rol van die Alldeutsche Verband as een van vele hulporganisasies is van besondere belang om Vallentin te kontekstualiseer. Die Alldeutsche Verband het nie net vrywilligers gewerf om aan die sy van die Boere te gaan veg nie, maar het ook daadkragtig voorlesings georganiseer in Europa waar lede Europeërs probeer mobiliseer het om druk uit te oefen op die regerings om offisieel hulp te verleen aan die Boere. Vallentin was ’n ywerige ondersteuner van die Alldeutsche Verband en het nie net self in hierdie Duitsers se privaat gerekwiteerde Freikorps gedien nie, maar het ’n stortvloed aan geskrifte gepubliseer om die openbare mening in Duitsland te beïnvloed. Verder het die Alldeutsche Verband tot die einde van 1902 600 000 Duitse Mark ingesamel. Met dié groot bedrag is sowel Boerekrysgevangenes as konsentrasiekamp-gevangenes en hul families ondersteun, en eventueel ook die Freikorps finansier. [64]

Die uitwerking van hierdie driehoeksverhouding in die tydruim 1896–1902 is in ‘n diepgaande analise deur Harald Rosenbach ondersoek. Hy kom tot die slotsom dat die Alldeutsche Verband ’n tweeledige strategie gevolg het in Suid-Afrika: enersyds het hulle die Boere daadkragtig ondersteun in die oorlog in die hoop om saam met die Boere ’n Pan-Germaanse kolonie wat van die Indiese tot die Atlantiese Oseaan sou reik, téén die Britte tot stand te bring; terselfdertyd het hulle ook probeer saamwerk met die Britte in die hoop dat hulle hulle status as “uitlanders” in die Boererepublieke sou kon verbeter, aangesien hulle baie geld in die myne en industrieë gesteek het.

Ernst von Weber (1830–1902) wat die stigter van hierdie Verband was, het vier jaar deur Afrika gereis om die handelsinteresse van die Duitsers te probeer vestig. Hy het ook self ’n diamantmyn gehad in Duits-Wes-Afrika.[65] Binne die Verband in Afrika het die sendelinge en die handelslui die toon aangegee, veral ook Friedrich Fabri. Reeds in 1875 het Ernst von Weber en Adolf Lüderitz vir Bismarck probeer oorreed om van die Transvaal ’n Duitse protektoraat te maak, maar kon hom nie oortuig nie, want Bismarck het gevind dat die “stambroers” darem bietjie te veel “verhollands” het. Fabri het ook probeer om die Rykskanselier te oortuig, maar hy wou nie byt nie en die Boere en die Hollanders was ook nie juis beïndruk met Fabri se planne nie.[66]

Die Duitse konsul in die ZAR, Herf, het ’n telegram aan die Duitse Keiser gestuur na die Jameson-inval en hom meegedeel dat Kruger daarmee reken dat Duitsland en Frankryk ten gunste van die Boere sou inmeng. Wilhelm II het toe gelukwensings gestuur dat Kruger die inval kon teëstaan via die Hollandse gesant, nie net weens die Germaanse “stamverband” nie, maar omdat hy ook trots is op sy familiebande met die Huis van Oranje. Op die ou end het hy niks belowe nie, maar De Volkstem was eufories dat die Duitse Keiser uiteindelik die ware kleure van die Engelse politiek ingesien het en het hulle dank in die naam van die volk uitgespreek. Kruger het daarna inderdaad geglo dat die Duitsers in geval oorlog sou uitbreek, aan die Boere se kant tot die oorlog sou toetree, en die Alldeutsche Verband het ook hulle bes gedoen om die indruk te versterk. Dit het daartoe bygedra dat die Boere bereidwilliger die risiko van ’n oorlog op hulle geneem het. Blykbaar het Wilhelm II self op daardie stadium oorweeg om ’n Duitse protektoraat oor die ZAR uit te roep, maar gelukkig het sy raadgewers hom nog kon oortuig om net die telegram te stuur. [67]

Hierdie dubbelspel van Wilhelm II het nie ongemerk gebly nie. Selfs Kruger was baie wantrouig teenoor hierdie Duitsers en het volgens Chamberlain eenkeer gesê: “I don’t trust an Englishman at all, but I trust a German ten times less.”[68] Die “vriendskaplike verhouding” tussen die Duitse Keiser en die Boererepublieke lyk dus veel meer na ’n mite, want die diskrepansie tussen die offisiële pro-Boere-retoriek en die terughoudende regeringspolitiek was baie duidelik.

Verskeie bronne waarsku dat die perspektiewe van outeurs wat tot die Alldeutsche Verband behoort het, dikwels doelbewus oordrewe of vals was.[69] Hulle geskrifte was ’n agitasie vir propagandadoeleindes. Hulle agitasie ten gunste van die Boere het die primêre doel gehad om hulle eie Pan-Germaanse, polities-ideologiese doelwitte, koloniale ekspansionisme en groei as handelsmoondheid te verwerklik. Ook in vroeëre geskrifte van Vallentin oor Wes-Pruise het dit net vir hom daaroor gegaan hoe ver die “Deutschtum” reeds daar gevestig kon word om Duitse handel en kultuurimperialisme te bevorder.[70] Nadat die droom van die “Verenigde State van Suid-Afrika”, waar die Duitsers die leidende rol sou speel, nie gerealiseer het nie, het hy ’n nuwe opdrag gekry: Wilhelm Vallentin is jare lank as “Forschungsreisende” Suid-Amerika toe en het ongeveer elke jaar of twee ook daar ‘n “primêre” bron oor die handelsmoontlikhede vir die Duitsers, veral ook oor die bevordering van hulle “Deutschtum” nagelaat. [71]

Dat Wilhelm Vallentin soveel aanklank onder ’n bepaalde groep Afrikaners vind ten opsigte van die instrumentalisering van die leed van boerevrouens, terwyl hy in sy agterkop knalhard menselewens geminag het as dit om koloniale ekspansionisme van die Duitsers en hulle handelsinteresse gegaan het, stem mens nogal tot nadenke. Hy knip nie ’n oog daaroor om Duitse fabriekwerkers skaamteloos uit te buit nie, en beskou selfs Duitse matrose op die handelskepe van die Hollanders as “goeie kultuurkunsmis”. Dit pas baie goed by die Alldeutsche Verband se idees oor “etiese” of “kultuurimperialisme”. Vandaar ook Vallentin se hovaardigheid oor die Engelse se morele bankrotskap. Juis hierdie hovaardigheid het tot hulle eie morele bankrotskap gelei. Dieper as die shoa (holocaust) kon geen “beskaafde” nasie val nie.

Sy rassisme ten opsigte van “inboorlinge” en “kaffers” is taamlik blatant. Hierdie smartvraat wat so op die leed van die arme boerevrouens geteer het, het soos die graf geswyg oor die brutaliteit van die Duitse kolonialiste. Op aandrang van hierdie kultuurimperialiste het Wilhelm II generaal Lothar von Trotha, voormalige visegoewerneur van Duits-Oos-Afrika (1894–97), Duits-Wes-Afrika toe gestuur om die Herero-opstand te onderdruk. Na die slag van Waterberg het die Duitsers vir hulle net een vlugweg oopgelaat – die woestyn. Van dié wat dit daarna, verdors en verhonger, tog nog reggekry het om by die vlugtelingskampe uit te kom, het die meeste ook nie oorlewe nie. Sewe duisend Herero’s het in Duitse konsentrasiekampe (1904) in Duits-Wes-Afrika omgekom. Van Trotha was in ’n sekere sin die Duitsers se Kitchener. Natuurlik het alle Duitsers nie hierdie politiek ondersteun nie, nes nie alle Engelse die konsentrasiekampe van die Boere goedgekeur het nie. Die destydse goewerneur van Duits-Wes-Afrika, Leutwein, het uit protes sy amp neergelê toe Wilhelm II nie vir Trotha wou herroep nie.[72] Ook in Duits-Oos-Afrika het dit nie beter gegaan nie. Tydens die Maji-Maji-opstande (1905/1906) het die Duitsers dieselfde afbrandtaktiek as die Engelse gebruik om die inheemse bevolking tot oorgawe te dwing, en om so die oorhand te kry oor hierdie stamme wat guerrilla-oorlog teen hulle gevoer het.[73] Volgens die statistiek van die Duitse administrasie het 75 000 mense as gevolg van hierdie beleid verhonger; ander bronne praat van tussen 100 000 en 120 000.[74] Vallentin het dus skynbaar niks daarteen gehad dat die Duitsers die Geneefse Konvensies ook nie respekteer het nie.

Slotopmerkings

Ek dink dat mens die statistiek van Vallentin dat 35 persent van álle vroulike persone tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag sou wees, met groot voorbehoud moet bejeën. Hy het blatant die lyding van die boerevrouens gelanseer as element om die openbare mening in Duitsland te beïnvloed ten gunste van die Alldeutsche Verband se handelsinteresse en grootmagdrome en het in alle waarskynlikheid mateloos oordryf.

Dat daar egter ’n vuurtjie was waar ’n rokie gedraai het, kan nie betwyfel word nie, al swyg Arthur Conan Doyle ook daaroor. Dit kom baie duidelik na vore uit die “Report on the Concentration Camps in South Africa” van die “Committee of Ladies” (ook bekend as die “Fawcett Report Findings”) wat deur die Britse “Secretary of State for War” afgevaardig was om die haglike toestande in die konsentrasiekampe te gaan ondersoek. Dit was na aanleiding van Emily Hobhouse se aksie om die onmenslike toestande in die konsentrasiekampe onder die Britse parlement en die publiek se aandag te bring.[75] In par 15 van hulle verslag onder die opskrif “Health and morals” sê die dames:

As regards morals, we did not receive, though we went freely and unaccompanied among the people in every camp, any complaint against our soldiers. In view of the false accusations made in some quarters, and also as a reasonable precaution necessary for the protection and discipline of both, we found an invariable rule in every camp that military camps were out of bounds for concentration camps and vice versa. … [W]e dispose to recommend the controlling of ingress and egress more thoroughly than is the case in many camps at present. [76]

Sekerlik sou baie boerevrouens nie vir hierdie “ladies” sommer so uit hulle eie uit vertel het van verkragtings nie. Daarvoor was die skande te groot. As mens egter tussen die reëls lees van hoe Victoriane dinge versluier het, is dit duidelik dat daar wel konsentrasiekampe was waar vroulike persone deur soldate seksueel misbruik is. Vandaar die aanbeveling. Pakenham spreek die volgende mening uit:

Of course, they [die verslag se bevindings] were of no comfort to the government. But Chamberlain had at long last got the message … Milner was in theory the man responsible for the camps, but the main decisions (or their absence) had been left to the soldiers, to whom the life or death of the 154,000 Boer and African civilians in the camps rated as an abysmally low priority. [77]

Daarvolgens is dit baie duidelik dat daar die moontlikheid bestaan het dat soldate die perke duidelik kon oorskry en oënskynlik ook daarvan gebruik gemaak het in Irene. Die dames se verslag verwys ook na “many camps” waar die toegang tot die kampe deur soldate onvoldoende gekontroleer was. Wat dit betref, is dit ook moontlik dat sulke vergrype nie net by Irene plaasgevind het nie. Hoeveel vrouens se lot seksuele misbruik was, sal mens seker nooit presies kan vasstel nie.

Die vraag is egter nie net hoeveel vrouens wel verkrag is nie, maar ook hoe latere geslagte hierdie trauma verwerk en as deel van hulle geskiedenis beskou. Dit word deel van hulle kulturele herinnering en speel ’n belangrike rol in die herevaluering van identiteit. ’n Oordrywing van statistieke in die mate dat mens van “sistematiese verkragtings” as oorlogsdoelwit kan praat, kan egter maklik tot gevolg hê dat baie Afrikaners opnuut identifiseer met ’n oordrewe martelaarsrol. Afrikaners belewe tans ‘n identiteitskrisis na die politieke omwentelinge. In hierdie labiele oorgangsfase speel die geskiedenis ‘n besondere rol in die herbesinning van identiteit. Soms het klein verskuiwings in die nuance van ‘n debat verrykende gevolge. Prof Raath het ‘n nuwe element in die beoordeling van die haglike toestande van Britse konsentrasiekampe ingevoer wat spesifiek fokus op die leed van die vrouens – “seksuele teistering”. Die oorspronklike titel van die omtrede hoofstuk 7 van Vallentin se Hunnen in Süd-Afrika! lui so: Der Ausrottungskrieg gegen wehrlose Frauen und Kinder. Hungerkur und Schändung. Aussterbenlassen. Ek het dit hierbo as volg vertaal: “Uitroeiingsoorlog teen weerlose vroue en kinders: Hongerkuur en verkragting, uitlewering aan die dood". In sy werk Die Boerevrou behandel Prof Raath hierdie hoofstuk onder die opskrif “Seksuele teistering en onsedelikheid teenoor vroue en kinders gepleeg”. Op grond daarvan lanseer Roodt ‘n nuwe martelaarsmite dat minderjarige meisies in die Irene-kamp as “seksslawe vir die Britse offisiere aangehou is”.[78] In die humanitêre volkereg word “Schändung” word normaalweg vertaal as “verkragting” of “onsedelike aanranding”, nie “seksuele teistering” nie. In ‘n regslinguistiese sin fokus eersgenoemde op die individuele vergrepe van soldate, laasgenoemde op ‘n gemeenskapsverontregting. Dit kan gekoppel word aan ‘n oorlogsstrategie van demoralisering in die konteks van die konsentrasiekampe om ‘n volksmoord te konstrueer. ‘n Volksmoord vind egter nie noodgedwonge binne ‘n oorlogskonteks plaas nie, en daarvoor moes die Britte ook konsekwent ‘n vernietigingstrategie ten opsigte van alle Afrikaners gehad het, sowel binne as buite die Boererepublieke. Dit was nie die geval nie.

Historiese siklusse van geweld word dikwels herhaal indien trauma wat in die verlede plaasgevind het, nie oorkom word nie. Een van die grootste dryfvere van apartheid was die xenofobie van Afrikaners na die traumatiese ervaringe van die Anglo-Boereoorlog, en spesifiek ook die lyding in die konsentrasiekampe. Maar hoe erger die xenofobie geword het, hoe groter die vrees vir die “rooi gevaar” en die “swart gevaar”, hoe groter het ook die bereidwilligheid geword om die legitieme aspirasies van die groot meerderheid van die bevolking te negeer en hulle te onderdruk met ’n brutale veiligheidsapparaat. Wat die “Staatsveiligheid” alles aangerig het, het ons ’n goeie idee van gekry in die verslag van die Waarheid-en-Versoeningskommissie. Die Kommissie het ’n baie belangrike rol vervul in soverre daar openlik oor menseregvergrype tydens die apartheidsera gepraat is.

Die nuwe Grondwet se Handves van Menseregte is ’n baie goeie vertrekpunt om in die toekoms te help voorkom dat sulke traumatiese gebeure herhaal word, maar ek dink mens moet versigtig wees om aan te neem dat ’n grondwet genoeg is om demokrasie en die handhawing van gelyke regte vir almal ook outomaties in die toekoms te verseker. Ek is skepties oor die modebegrip transitional democracy. Dit skep die indruk dat indien suksesvolle vredesonderhandelinge plaasgevind het, ’n nuwe grondwet opgestel is, en die trauma van menseregtevergrype deur middel van ’n WVK aangespreek is, dit ’n wenresep vir demokrasie is. Soos die Engelse spreekwoord sê, “the proof of the pudding is in the eating”. Dit is ’n illusie om te glo dat sulke trauma soos wat veroorsaak is deur die Britse konsentrasiekampe, kolonialisme en apartheid sommer net gaan verdwyn omdat daar ’n WVK was. Dit is maar net die begin van helingsproses van hierdie psigiese letsels, en gewoonlik vat dit ’n paar geslagte om dit te verwerk. Die onlangse studie van Melissa Steyn, “Whiteness Just Isn’t what it used to be”,[79] dui daarop dat Afrikaners en Engelssprekende Suid-Afrikaners na drie of vier geslagte so langsaam hierdie kloof oorbrug.

In diep verdeelde gemeenskappe met ’n hoë potensiaal van xenofobie is die ideaal van demokrasie iets waaraan mens voortdurend moet werk, en voortdurend oor moet waak. Die grondwet is maar net die geraamte van die demokrasie – die vleis moet die mense self aansit, elke dag in hulle omgang met mekaar. Suid-Afrika het ’n goeie en vreedsame oorgangsfase gehad, maar as ek die tekens van die tyd reg lees, is die xenofobie-barometer in Suid-Afrika weer aan die styg, nie gevaarlik nie, maar dit kan dalk ook maklik eskaleer indien dit nie betyds ontlont word nie. Onder Afrikaners is ’n toenemende innere immigrasie en politieke apatie ‘n teken dat hulle hulself in ’n hoek gedryf voel. President Mbeki se rede tydens die 75-jarige herdenking van die Freedom Charter, waar hy swartes steeds in ’n martelaarsrol projekteer, dui ook nie daarop dat swart Suid-Afrikaners hulle xenofobie oorkom het nie.[80] Hy verwys onder meer na ’n Khoisan wat in 1488 die “first martyr” geword het in ‘n stryd wat 506 jaar sou duur en homself nie teen die meer gesofistikeerde wapens van Diaz (’n pyl en boog?) kon weer nie en net met klippe kon gooi. Dis nou werklik nie oortuigend nie. Rotstekeninge bewys dat die Khoisan reeds 15 duisend jaar met pyl en boog jag en oor ’n uitstekende kennis van hoogs effektiewe natuurlike giwwe beskik het. Dieselfde geld vir sg “bruin” Suid-Afrikaners, wat baie sensitief is oor die paternalistiese aard en wyse waarop baie wit Afrikaners hulle steeds behandel. Die onlangse swart skrywersberaad het duidelik daarop heengedui.

Op die vraag hoeveel geskiedenis mens nodig het, het Nietzsche in 1870 die goeie antwoord gegee: nie te veel, en nie te min nie. Te veel geskiedenis skaad dié wat lewe, en te min ontneem hulle hul waardigheid. Eers deur die krag wat mens het om op dit te bou wat die verlede aan ons nagelaat het, en weer daaruit geskiedenis te vererf, word die mens tot mens. Dit kom altyd op die regte mengsel aan. Die goue middeweg is een waar dié wat nou lewe, so moet lewe dat hulle kinders nie met ’n onwaardige of ’n traumatiese geskiedenis belas word nie. Net so kan mens werklik vry wees. [81]

Dit is dus sinvol om die trauma van die Boerevrouens tydens die Anglo-Boereoorlog met deernis en respek op te neem as deel van ons kulturele identiteit, maar dit kan ons nageslagte groot skade berokken indien ons ’n nuwe lydensgeskiedenis daaruit wil konstrueer. Om vrede te maak met jou eie geskiedenis is die eerste stappie tot versoening, maar versoening met ander na traumatiese gebeure verg bietjie geduld. Otto Hermann Pesch gee ’n treffende beskrywing van versoening:

Om ‘n mens te vergewe, beteken nie om dit wat hy gedoen het, ongedaan te maak nie; ook nie om dit te verdring of sommer net te vergeet nie. Vergiffenis kan onder omstandighede ook beteken om juis nie te vergeet nie. Om te vergewe beteken om die verlede van ‘n ander persoon te aanvaar soos dit is. Vergiffenis beteken nie ‘n "ja" vir ‘n vergange skuld nie, maar ‘n "ja" teenoor die mens met ‘n skuld wat tot sy verlede behoort.

Verwysings

1. Vgl sy SêNet-brief van 8 November 2005.

2. Vgl dr Dan Roodt se bydrae op PRAAG se webblad: “Is Loammi Wolf 'n dom of demoniese linkse?” by www.praag.co.za/opstelle82d.htm waar hy verwys na die eerste deel van AWG Raath se werk Die Boerevrou, 1899-1902 (2002), uitgegee deur die Volkskomitee vir die Herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog.

3. Vgl die curriculum vitae van prof Raath by http://www.uovs.ac.za/faculties/documents/staff/101_cv.pdf.

4. Sien oa Christine Chinkin, “Rape and Sexual Abuse of Women in International Law”, European Journal of international Law, 1-17 (1994, vol 5, no 3) – klik aan op http://www.ejil.org/journal/Vol5/No3/art2.html.

5. Vgl H Giliomee, The Afrikaners – Biography of a People, hfst 8 (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 2003).

6. BeFreier und Befreite - ‘n dokumentêre film van Heike Sander, Duitsland, 1990/92 (192 min). Daar is ‘n Begeleidende teks tot die film: Heike Sander, Barbara Johr en A Kunstmann, Befreier und Befreite – Krieg, Vergewaltigung, Kinder (Frankfurt aM: Fischer Verlag, 1999).

7. Oor die rol van die verskillende geslagte na ’n traumatiese snit in die polities-kulturele lewe van ’n volk, sien bv Jörn Rüsen, “Holocaust-Erfahrung und deutsche Identität – historische Überlegungen zum Generationswandel im Umgang mit der Vergangenheit”, in: Liliane Opher-Cohn, Johannes Pfäfflin et al (gesamentlike uitgewers), Das Ende der Sprachlosigkeit? Auswirkungen traumatischer Holocaust-Erfahrungen über mehrere Generationen, 71-84 (Giessen: Psychosozial-Verlag, 2000).

8. Vgl Rüsen 77f.

9. Daar word gewoonlik onderskei tussen drie tipes herinnering (memory): (1) Kommunikatiewe herinnering (communicative memory) is baie kortstondig en verander heeltyd – dit is gebaseer op gesprekke. (2) Kollektiewe herinnering (collective memory) is ’n eerste seleksie uit die massa van kommunikatiewe herinnering; dit is meer stabiel as eersgenoemde en verander nie voortdurend nie. (3) Kulturele herinnering (cultural memory): dit is die mees stabiele vorm van herinnering en verander baie selde. Veral laasgenoemde het ‘n groot invloed op dit wat ons as ons geskiedenis beskou.

10. Giorgio Agamben, Homo Sacer – Die souveräne Macht und das nackte Leben, 81 ff, Duitse vertaling uit Italiaans (Frankfurt am Main: Suhrkamp Verlag, 2001).

11. Wilhelm Vallentin, Hunnen in Süd-Afrika, (Berlyn: Verlag Ernst Hofmann & Co, 1902).

12. Doyle se boeke oor die oorlog is vandag blykbaar nog net so gewild soos destyds – ’n digitale kopie van Arthur Conan Doyle, The Great Boer War (Londen: Smith, Elder & Co, 1902) is beskikbaar onder www.pinetreeweb.com/conan-doyle-chapter-00.htm.

13. Vir ’n maklik verstaanbare oorsig daarvan, sien bv Bo Stråth, “Methodological and Substantive Remarks on Myth, Memory and History in the Construction of a European Community 6”, German Law Journal, No 2 (1 February 2005). Deel A beskryf die nuwer historiografiese metodologie goed en oorsigtelik; klik op http://www.germanlawjournal.com/article.php?id=555.

14. Vgl. The Chronicles of Sir Arthur Conan Doyle by www.siracd.com/life_knight.shtml

15. Hoofstuk 4 – The eve of war.

16. Hoofstuk 34 – The Winter Campaign from April to September 1901.

17. Wilhelm Vallentin, Die Geschichte der Süd-Afrikanischen Republik (Berlyn: Paetel, 2de uitgawe 1902).

18. Wilhelm Vallentin, Der Burenkrieg (Wald-Solingen: Rheinisches Verlagshaus, 1903).

19. Wilhelm Vallentin, England und die Buren – die Johannesburger Komödie (Berlyn: Paetel, 1899).

20. Wilhelm Vallentin, Meine Kriegserlebnisse bei den Buren (Berlyn: Paetel, 1900).

21. Hunnen, voorwoord, 5.

22. Vallentin gebruik die uitdrukking “weder hüben noch drüben” wat ambivalent is om te vertaal, want dit kan op twee maniere geïnterpreteer word. Hy kon daarmee bedoel “hier en daar”, wat na die Duitsers oorsee en die Duitsers van die Freikorps in Natal verwys; maar dit kon ook beteken vanuit die perspektief van die Boere en die Duitsers wat vir hulle geveg het, aan die een kant, en die Engelse aan die ander kant. Moeilik om te sê.

23. Hunnen 7-8.

24. Hunnen 55, 59.

25. Hunnen 55 ff. Die sitaat van Mommsen dra geen verwysing na ’n spesifieke werk nie.

26. Hunnen 57.

27. Hunnen 71 ff. Die wins is verdeel tussen die soldate (75%) en die Britse fiskus (25%).

28. Hunnen 79-81.

29. Hunnen 72.

30. Hunnen 78.

31. Hunnen 81.

32. Hunnen 83.

33. Hunnen 88.

34. Hunnen 88 f. Vallentin noem nie getalle nie, maar verwys na “mehrere” - meerdere vrouens.

35. Hunnen 94.

36. Hunnen 95.

37. Hunnen 96.

38. Hunnen 97.

39. Hunnen 97.

40. Vlg. Dan Roodt se bydrae op PRAAG se webblad, “Is Loammi Wolf 'n dom of demoniese linkse?” by www.praag.co.za/opstelle82d.htm, waar hy verwys na die eerste deel van AWG Raath se werk Die Boerevrou, 1899–1902 (2002), uitgegee deur die Volkskomitee vir die Herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog. Hy verwys na Raath se behandeling van "Seksuele teistering en onsedelikheid teenoor vroue en kinders gepleeg", vanaf bladsy 72. Roodt skryf: “Hy haal aan uit 'n Duitse boek deur dokter Wilhelm Vallentin wat in 1902 onder die titel Hunnen in Süd-Afrika verskyn het. Veral skokkend (hoewel seker nie vir 'n dom linkse soos Loammi Wolf wat glo dat alle euwels deur blankes, nasionaliste of Afrikaners gepleeg word nie), is die gedeelte oor minderjarige meisies wat in die Irene-kamp as seksslawe vir die Britse offisiere aangehou is. Hier volg die aanhaling uit Raath, wat op sy beurt Wilhelm Vallentin aanhaal ...”.

41. Vgl vn 29 hier bo.

42. Hunnen 114.

43. Byron Farwell, Queen Victoria's Little Wars (Londen: Norton, 1985).

44. Hunnen 118.

45. Hunnen 120 ff.

46. Hunnen 121: Voor die oorlog het Europeërs reeds 3 000 miljoen Mark in die ZAR se myne geïnvesteer: Frankryk 1 500 miljoen, Duitsland 900 miljoen en Engeland 600 miljoen.

47. Hunnen 122.

48. Hunnen 123.

49. Hunnen 125 f.

50. Hunnen 126 f. Woordeliks verwys hy na ‘n “Bollwerk des Deutschtums”, wat natuurlik moeilik vertaalbaar is, omdat die Afrikaners streng gesproke geen Duitsers was nie. Die enigste verbindende faktor was dat hulle almal van Germaanse afkoms was, en so het Vallentin dit ook begryp, van daar die vertaling.

51. Hunnen 127.

52. Hy gebruik letterlik die uitdrukking dat hulle “vir ander hulle vel na die mark toe dra” – “... für andere ihre Haut zu Markte tragen”. Vgl. Hunnen 129.

53. Hy baseer hierdie argument op ’n rede van Paul Kruger in Frankryk, waar lg gesê het dat die Boere uit “Hollanders, Duitsers en Fransmanne” bestaan het.

54. Vgl vn 46.

55. Hunnen 130–135.

56. Hunnen 136.

57. Hunnen 107. Daar verwys hy na die Alldeutsche Blätter, 1901, 435.

58. Vgl Harald Rosenbach, Das deutsche Reich, Großbritannien und der Transvaal (1896–1902), Anfänge deutsch-britischer Entfremdung, 17 f (Göttingen Vandenhoeck & Ruprecht; 1993).

59. Vgl U Kröll, Die internationale Burenagitation 1899–1902, (Phil Diss Münster, 1973).

60. H Gollwitzer, “Geschichte des weltpolitischen Denkens” , Bd 2: Zeitalter des Imperialismus und der Weltkriege, 81 (Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 1982).

61. Vgl H Gründer, Geschichte der deutschen Kolonien, 102–105 (Stuttgart: UTB, 2004).

62. Vgl dr B Kärger, “Engländer und Deutsche in Südafrika”, Alldeutsche Blätter v. 25.11.1894, Nr. 48, 201. Rosenbach 47 ff.

63. Oor die Verband, vgl in die besonder R Hering, Konstruierte Nation. Der Alldeutsche Verband 1890 bis 1939 (Hamburg: Christians, 2003) – dis deel van die Hamburgse reeks Sozial- und Zeitgeschichte, Bd 40. Sien ook G Fesser, Die Kaiserzeit – Deutschland 1871-1918. 49 ff (Erfurt: Landeszentrale für politische Bildung, 2000); en G Baader/U Scholtz (uitg), Medizin und Nazionalsozialismus. Tabuisierte Vergangenheit – Ungebrochene Tradition?, 42 (Berlyn: Verlagsgesellschaft Gesundheit, 1983).

64. Vgl Claus Nordbruch, Europese Hulporganisasies en Vrywilligers tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902), ’n bydrae van ’n Duitse outeur wat heelwat oor die onderwerp geskryf het; kliek op www.boer.co.za/boerwar/europese_hulporganisasies_en_vry.htm.

65. Oorspronklik stam Von Weber uit Dresden, waar die familie ’n riddergoed besit het wat hom in ‘n finansieel onafhanklike posisie geplaas het. Hy het sy reisbeskrywing gepubliseer onder die titel Ernst von Weber, Vier Jahre in Afrika, 1871-1875, (2 Bde, 1878, Leipzig). Vgl ook KJ Bade, Friedrich Fabri und der Imperialismus in der Bismarckzeit; Revolution-Depression-Expansion, 97 (Freiburg: Atlantis Verlag, 1975).

66. Bade 123.

67. WJ Mommsen, Großmachtstellung und Weltpolitik. Die Außenpolitik des Deutschen Reiches 1870 bis 1914, 136 (Frankfurt aM: Ullstein, 1993).

68. Rosenbach, 52 f.

69. HW van den Doel, “ Nachbarn an der Peripherie. Die Beziehungen zwischen Niederländisch-Ostindien und den deutschen Südseekolonien”, in: Hermann Joseph Hiery (uitg), Die deutsche Südsee 1884–1914. Ein Handbuch, 771–801 (Paderborn: Schöningh, 2001).

70. Vgl Wilhelm Vallentin, “Westpreußen seit den ersten Jahrzehnten dieses Jahrhunderts. Ein Beitrag zur Geschichte der Entwicklung des allgemeinen Wohlstandes in dieser Provinz und ihren einzelnen Theilen”, in: Historische Zeitschrift, Bd 76(2) 1896, 308 ff

71. Werke uit daardie tyd sluit onder meer die volgende in: W Vallentin, Ein unerschlossenes Kulturland. Neuquén und Rio Negro (Argentinien) (Berlyn: Paetel, 1907); Das Deutschtum in Südamerika (Berlyn: Paetel, 1908); In Brasilien (Berlyn: Paetel, 1909).

72. HG Steltzer, Die Deutschen und ihr Kolonialreich (Frankfurt aM: Societäts-Verlag, 1984); W Nuhn, Sturm über Südwest. Der Hereroaufstand von 1904 – Ein düsteres Kapitel der deutschen kolonialen Vergangenheit Namibias (Koblenz: Bernhard & Graefe-Verlag, 1989).

73. W Nuhn, Flammen über Deutschost. Der Maji-Maji-Aufstand in Deutsch-Ostafrika 1905–1906, die erste gemeinsame Erhebung schwarzafrikanischer Völker gegen weiße Kolonialherrschaft, 107 (Bonn: Bernard & Graefe, 1998.); K-M Seeberg, Der Maji-Maji-Krieg gegen die deutsche Kolonialherrschaft. Historische Ursprünge nationaler Identität Tansanias, 81 (Berlyn: Reimer, 1989).

74. Nuhn, Flammen, 157; en Seeberg 88.

75. Op ’n webblad van Stanford University kan mens die debatte wat in die Britse parlement gevoer is in die Hansards van destyds nalees. Die versameling met oorspronklike dokumente is digitaal toeganklik in hulle “Africana Collection” by www-sul.stanford.edu/africa/boers.html.

76. Op 8 van die verslag, digitaal toeganklik by www-sul.stanford.edu/africa/pplc1012.html.

77. T Pakenham, The Boer War, 549 (New York: Avon Books, 1979).

78. Vgl vn 40 waar Roodt verwys na AW Raath, Die Boerevrou – 1899-1902, 72 (Nylstroom: Volkskomitee vir die Herdenking van die Tweede Vryheidsoorlog, 2002 ).

79. Melissa Steyn, Whiteness Just Isn’t what it used to be – White Identity in a Changing South Africa (Albany: State University of New York Press, 2001).

80. ANC Today, 24 June 2005, http://www.anc.org.za/ancdocs/anctoday/2005/text/at25.txt.

81. F Nietzsche, Vom Nutzen und Nachteil der Historie für das Leben, 10 f, 16–18, 23 f (Frankfurt a.M.: Insel-Verlag, 1989)

Eerste publikasie op LitNet: 14 Maart 2006

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top