
https://pixabay.com/photos/african-instruments-background-1572535/
............
Om musiek en taal as vertrekpunte te neem vir ’n besinning oor die onlangse Khampepe-verslag en die dekoloniale projek by die Universiteit Stellenbosch mag voorkom as ongewoon. Histories is die verhouding tussen musiek en taal een van nabootsing, skeiding, hereniging en kultuurnasionale fantasieë. Of so het die verhaal verloop in die koloniale Verligtingstydperk. Dit is juis hierdie historiese omgewing wat die moderne universiteit as institusie vorm, wat die rede is waarom dit sin maak as vertrekpunt om musiek en taal by die Universiteit Stellenbosch langs mekaar te spieël.
................
Om musiek en taal as vertrekpunte te neem vir ’n besinning oor die onlangse Khampepe-verslag en die dekoloniale projek by die Universiteit Stellenbosch mag voorkom as ongewoon. Histories is die verhouding tussen musiek en taal een van nabootsing, skeiding, hereniging en kultuurnasionale fantasieë. Of so het die verhaal verloop in die koloniale Verligtingstydperk. Dit is juis hierdie historiese omgewing wat die moderne universiteit as institusie vorm, wat die rede is waarom dit sin maak as vertrekpunt om musiek en taal by die Universiteit Stellenbosch langs mekaar te spieël.
Vir Immanuel Kant in die agtiende eeu was musiek niks meer as klakkelose klanke nie, die soniese streling van die onregeerbare en onbeheerbare realm van sensuele prikkeling. Die probleem met musiek was haar gebrek aan intellektuele krag (en ja, musiek was vroulik), gesetel in ’n onvermoë om betekenisvol na te boots. Vir Kant het dit beteken dat musiek suiwer sentiment was, gestroop van idee en kennis. En dit is dan ook die skeiding met taal. Musiek was anders as taal. Veral instrumentale musiek verteenwoordig die konkrete baie onduideliker as taal. Daarom beskou Kant poësie as die meerdere van musiek.
In dieselfde tydgleuf woed die stryd tussen die sogenaamde antiekes en die modernes. Antieke musiek vind waarde nie in intellektuele inhoud nie, maar in effek. Of eerder affek. Orpheus wat met sy lier mens en dier kan tem en stem. Vir die modernes is musiek suiwer getal, proporsie, komplekse polifonie, ’n onttoweringsprojek in tred met die rasionalisme en soberheid van ’n wetenskapsugtige Verligtingstydperk. Na gelang musiek begin figureer as outonome kunsvorm, dus toenemend nie meer in diens van die seremoniële giere van die adellike hof en die kerk staan nie maar ’n kommoditeit raak wat sirkuleer onder ’n groeiende middelklas wat polities en esteties ’n stem vind en ’n nuwe soort ekonomie vestig vir musiek, kon musiek in die negentiende eeu klink as maar eintlik nabootsing van niks anders as musiek nie, abstrak, a-polities, toegeknoop vir die buitewêreld. En daarmee was musiek se outonomiteit en absolute vryheid gevestig.
In die negentiende eeu word musiek verhef van die laagste ideale kunsvorm na die Romantiese kunsvorm by uitstek, die vorm waarna alle ander kunste streef. Musiek word nie net absolute toon nie, maar ook wil, filosofie, denke, abstraksie, nasie, taal, literêre medium. In die hande van Richard Wagner word musiek ook die kunsvorm van die toekoms, die kunsvorm waarbinne alle kunste herenig. Poësie (manlik) en musiek (steeds vroulik) sublimeer as musiekdrama tot die volkome kunswerk van die toekoms. En dan is daar ook die kunslied, die voorganger in die kleine van die totale kunswerk. Dit is hier, in die intieme omgang tussen woord en klank, binne die mobiele besetting van die kunslied, waar musiek en taal die moontlikheid vir ’n nasionale kern skep.
Hierdie projek van nasionale begeestering ontluik in Suid-Afrika in die twintigste eeu, in diens van ’n Afrikanernasionalisme wat desperaat is om beide Europees en eie, gesofistikeerd en landelik, te wees. Die kunslied en kerklied staan sentraal tot hierdie projek. Jan Bouws, ’n vroeë en meesal amateurgeskiedskrywer van Suid-Afrikaans-Westerse musiek, noem die middeldeel van sy 1946-boek oor musiek in Suid-Afrika, “Stryd om die lied”. Bouws historiseer die Afrikaanse lied as ’n belangrike kampvegter teen die gevreesde verengelsing. In die soeke na ’n Suid-Afrikaanse nasionale musiek, haal Bouws ML de Villiers aan, wat reeds in 1920 sy misnoeë uitspreek omdat ’n Afrikaner-Schubert met honderde Afrikaanse kunsliedere nog nie sy opwagting gemaak het nie. In die kerk is dit die taak van die Afrikaanse psalm en gesang om te waak teen besmetting met wat Bouws noem die “Sankey-gevaar” – ingevoerde evangeliese Engelse liedjies uit die populêre pen van die Skot, Ira David Sankey. Die Afrikaanse lied, dus, staan sentraal tot die verbeel van ’n nasionale musiek en identiteit, oftewel die skepping van ’n Afrikanermusiek en ’n Afrikaner-Westerse identiteit.
Teen hierdie histories-nasionaalverwikkelde agtergrond van musiek en taal, die spanning tussen musiek as diskoers en suiwer strelende effek, musiek as grondbestanddeel vir ’n bepaalde en skadelike nasionalisme en musiek as verwyderd van politiek en betekenis, is dit insiggewend om die posisionering van musiek en Afrikaans en die bestuur van musiek en taal by Stellenbosch te oorweeg. Musiek, aan die Universiteit Stellenbosch, bestaan tans as institusionele tweespalt. Daardie tweespalt het ’n langer geskiedenis, wat wentel rondom die vraag van musiek as kritiese en kreatiewe kennis en/of musiek as religieuse ritueel, seremoniële dekorum, simbool van Westerse beskawing en middelklaskonsert. In 2016 het die musiekdepartement geskeur met die totstandkoming van die Africa Open Institute for Music, Research and Innovation onder akademikus en skrywer, Stephanus Muller. Onder Muller bedryf die instituut ’n selfbewustelik-dekoloniale, artistieke en intellektuele agenda. Aan die musiekdepartement is musiek oorwegend (alhoewel nie eksklusief nie) Europees en hoofsaaklik praktykgedrewe eerder as ’n medium vir kritiese (self-) refleksie. ’n Vlugtige blik op die portrette van voormalige voorsitters wat die mure behang, is beduidend: in postapartheid-Suid-Afrika, uitsluitlik wit mans en oorwegend beoefenaars van Westerse kunsmusiek, en voor 1994, uitsluitlik wit mans en beoefenaars van Westerse kunsmusiek (behalwe vir een wit vrou wat wel die musikale tradisie van haar manlike eweknieë gedeel het). Die musiekdepartement doen wel belangrike soorte werk om inklusiwiteit te bevorder. Maar dit is werk wat somtyds intellektueel en diskursief-naïef staan teenoor die maniere waarop musiek en ras verwikkeld is, soos dit blyk uit die volgende aanhaling uit die voorwoord van die amptelike program van die 2019-Internasionale Kamermusiekfees, ’n vlagskipprojek aan die departement:
“Transformasie is ’n woord wat vrylik gebruik word aan hierdie instelling [US] en waar transformasie tipies geassosieer word met ras, gender, gelykheid en historiesbeïnvloede welstand, vaar die SICMF uitstekend. Dit is omdat musiek, op ’n dieper vlak, onbekend is met die divisies van apartheid, en is om daardie rede die perfekte voertuig om ons te vervoer weg van ons verlede af na ’n toekoms van sosiale harmonie.”[i] Terwyl die Internasionale Kamermusiekfees op bepaalde wyses transformasie help dryf, vergeet hierdie soort retoriese kleding van musiek as apartheidlose voertuig dat musiek historiesverwikkeld is met ras en die skep van ’n ingevoerde Westerse identiteit in diens van ’n Afrikanerbeskawingsprojek wat die “andersheid” van die Afrikaner as sogenaamde Westerling, en daarom ook apartheid, wou rugsteun.
In die Khampepe-verslag maak musiek haar opwagting, maar nie as medium vir sosiale harmonie nie. Musiek verskyn reeds in die “Definisies”-afdeling van die verslag as beskrywende agtergrond vir die rasseinsident wat plaasgevind het by die regsgeleerdheidfakulteit se jaarlikse dans waar ’n wit student en ’n Indiese student woordgemeen geraak het oor verskillende speellysversoeke. Wanneer musiek ’n tweede opwagting maak, is dit skynbaar ’n “skadelose saak” (p 81, para 201).[ii] Die “skynbaar skadelose saak” verwys na musiek wat gespeel word by sosiale studenteaangeleenthede. Soos studentegetuies dit verduidelik in die verslag: “Alhoewel dit [musiek] triviaal mag lyk, kan dit [musiek] ’n groot knelpunt wees omdat studente voel dat hul kulturele voorkeure geakkommodeer behoort te word” (p 81, para 201).[iii] Etlike paragrawe later word hierdie saak verder verduidelik aan die hand van musiek (“wat herhaaldelik genoem is”[iv]), ras en taal (p 87, para 222). Getuies het verduidelik hoe daar by sosiale aangeleenthede hoofsaaklik musiekvoorkeure gehoor word wat wit en Afrikaans is. Dit het tot gevolg dat swart studente hulself afsonder van hierdie geleenthede af. Die fakulteitsdansinsident was dan ook juis so ’n geleentheid. Teen die einde van die aand het ’n “Indiese student” die DJ genader om ’n “Indiese liedjie” te versoek (die taal van die Indiese student en die ras en taal van die DJ word nie gemeld in die verslag nie). Terselfdertyd het ’n “wit, Afrikaanse” student ’n “Afrikaanse” liedjie versoek. ’n Woordewisseling het gevolg wat uitgeloop het op ’n reeks wedersydse “fuck you’s” (p 101–103, para 264–268).
............
Is musiek werklik so skynbaar skadeloos en apartheidloos? Die antwoord het nie uitsluitlik te make met musiek se omgang met ras, kultuur en taal nie, maar ook met primale sintuiglike interaksies met plek en ruimte.
...............
Is musiek werklik so skynbaar skadeloos en apartheidloos? Die antwoord het nie uitsluitlik te make met musiek se omgang met ras, kultuur en taal nie, maar ook met primale sintuiglike interaksies met plek en ruimte. Kort ná die regsgeleerdheidsdansinsident vestig Willemien Froneman aandag op die belangrikheid van soniese regstelling.[v] Toegelig deur die werk van die filosoof, Peter Sloterdijk, voer Froneman aan dat die rassewerk van musiek gestalte vind in die atmosferiese kondisies wat ons omring. Soortgelyk aan ’n giftige gasaanval, beskik musiek oor die kapasiteit vir wat Sloterdijk beskryf as “lugterreur”, ’n atmosferiese aanslag wat ruimtes onleefbaar en verstikkend maak. Die Indiese student verlaat dan ook die dansgeleentheid kort ná die woordewisseling, sou ’n mens ná Sloterdijk kon sê, as kollaterale skade van die onleefbare, verstikkende atmosfeer van skynbaar skadelose musiek as lugterreur.
............
Musiek maak saak. Froneman maak hierdie saak nog sterker wanneer sy, steeds aan die hand van Sloterdijk, verduidelik dat klank die medium is waarbinne ons leer om te diskrimineer, om andersheid te onderskei van die eie.
...............
Musiek maak saak. Froneman maak hierdie saak nog sterker wanneer sy, steeds aan die hand van Sloterdijk, verduidelik dat klank die medium is waarbinne ons leer om te diskrimineer, om andersheid te onderskei van die eie. Om hierdie stelling te verstaan is dit nodig, soos so dikwels die geval, om terug te keer na die baarmoeder. Dit is wanneer die stem van die moeder spreek tot die baba in ’n gebaar van “primale verwelkoming” waar die baba leer om die moeder se stem te onderskei van ander stemme en klanke. Daardie onderskeidingsin verg ’n vorm van primale stemming, die eerste aanleer van diskriminasie deur gehoor. Dus, gehoor is die “primale sintuig vir diskriminasie”, die sintuig wat respondeer op skynbaar skadelose musiek deur wat Froneman beskryf as “affektiewe stemming in rassedenke in die houvas van ras en rassisme op publieke lewe”.
As gehoor die sintuiglike aanleer van primale diskriminasie fasiliteer, raak soniese regstelling van belang. Presies hoe daar by ’n universiteit omgegaan word met musiek, in koshuise, konservatoria, konsertsale en in publieke lewe, raak uiters belangrik. Hierdie soort kritiese omgang met gehoor, musiek en klank is meesal afwesig of institusioneel-gemarginaliseerd by Stellenbosch. Die Khampepe-verslag praat van ’n nieverpligtende, niekredietdraende Gedeelde Menslikheid- [“Shared Humanities”] module waarvoor studente op vrywillige basis kan inskryf. Die module fokus op antropologie, wetenskap en tegnologie, ekonomie, mediese kennis, visuele kuns, regte en sosiologie. Daardie skynbaar skadelose medium, musiek, is afwesig wanneer daar krities en dissiplinêr besin word oor diskriminasie. Musiek klink elders in die universiteit, onder andere as lugterreur, as simbool van Westerse beskawing, as apartheidloos, as sosiale harmonie en as seremoniële dekorum.
.............
Taal vervul ’n heel ander funksie in die Khampepe-verslag. Waar musiek “skynbaar onskadelik” en “triviaal” is, is taal, by name Afrikaans, ’n gewoonteoortreder: “Dit is geensins verrassend dat taal ’n algemene klag was nie,” meld Khampepe (p 82, para 203).[vi] Die gebruik van Afrikaans, verduidelik Khampepe, is ’n “mynveld” in koshuise.
.............
Taal vervul ’n heel ander funksie in die Khampepe-verslag. Waar musiek “skynbaar onskadelik” en “triviaal” is, is taal, by name Afrikaans, ’n gewoonteoortreder: “Dit is geensins verrassend dat taal ’n algemene klag was nie,” meld Khampepe (p 82, para 203).[vi] Die gebruik van Afrikaans, verduidelik Khampepe, is ’n “mynveld” in koshuise. Die indirekte vergelyking met terreur in die verwys na taal as ’n mynveld is interessant. Die res van die verhaal is bekend. Dis reeds in 2015 in die Luister-dokumentêr vasgelê. Koshuise is deurdrenk van Afrikaanse kultuur en kulturele verwagtings en verledes. Dit is ruimtes waar Afrikaans gepraat word asof dit die enigste taal is, die taal vir almal. Persepsies rondom Afrikaans is nou so uiteenlopend dat verskillende narratiewe eintlik geen meer voeling het met ’n gedeelde realiteit nie: swart studente voel Afrikaans as taal en sosiale omgewing word op hulle afgedwing; wit Afrikaanse studente voel daardie selfde taal en kultuur is eksistensieel in gevaar (p 95, para 243), met oudergewoonte Stellenbosch as laaste bastion om die onafwendbare te vertraag.
Die Universiteit Stellenbosch se respons op ’n opbloeiende rasse- en transformasiekrisis is veelvoudig en paraat. Die skep van ’n indrukwekkende transformasiemeganisme bestaande uit beleide, portefeuljes en eenhede. ’n Visie om die toonaangewende navorsingsuniversiteit in Afrika te wees. Miljoene rande geoormerk vir visuele regstelling. Dekolonisering. Stelselmatige transformasie van die samestelling van die studente- en personeelkorpus.
Maar in die besinning oor institusionele kultuur word die kloutjie nie by die oor gebring dat musiek en taal as soniese verskynsels dalk ander dinge oor institusionele kultuur verklap as die benaderings wat tot op hede gevolg is nie. Die verbasing uitgespreek in die Khampepe-verslag oor die skynbaar skadelose verskynsel van musiek; die onvermoë om Afrikaans en musiek as historiesverwikkeld te verstaan; die uitsluit van gehoor, klank en musiek by ’n universiteitswye module wat nadink oor diskriminasie en ander relevante sake; die institusionele oorinvestering in musiek as oorwegend Westers en oorwegend onkrities: dit als getuig van ’n universiteit en ’n musikale projek wat polities- en histories-naïef te werk gaan.
..............
Of daar gepraat word van transformasie, verandering, hernuwing, dekolonisering, derassefisering, ongeag die keuse van woord (en daar is wel genuanseerde verskille tussen van hierdie idees) – wanneer alles in oorweging gebring word, na nóg werkswinkels, posisiestukke, verslae, die skep van eenhede en portefeuljes – is dit uiteindelik die vraag wat die Universiteit Stellenbosch sal moet beantwoord: hoe lyk ’n Afrika-universiteit waar studente en dosente radikaal, impakryk en dekoloniaal kan dink en werk?
................
Of daar gepraat word van transformasie, verandering, hernuwing, dekolonisering, derassefisering, ongeag die keuse van woord (en daar is wel genuanseerde verskille tussen van hierdie idees) – wanneer alles in oorweging gebring word, na nóg werkswinkels, posisiestukke, verslae, die skep van eenhede en portefeuljes – is dit uiteindelik die vraag wat die Universiteit Stellenbosch sal moet beantwoord: hoe lyk ’n Afrika-universiteit waar studente en dosente radikaal, impakryk en dekoloniaal kan dink en werk? Die 2017-TB Davie-lesing wat Mahmood Mamdani gelewer het by die Universiteit van Kaapstad, probeer om ’n antwoord op hierdie vraag te verskaf.[vii] Daarin spreek Mamdani die vraag aan van ’n dekoloniale universiteit in Afrika. Anders as die Universiteit Stellenbosch vind Mamdani uitweë, nie uitsluitlik in burokratiese apparate, internasionale ranglyste en geadministreerde merkers van uitnemendheid nie, maar in ’n histories-kritiese beskouing van die moderne universiteit in Afrika en die krisispunte van ’n postkoloniale hede.
Dit is interessant dat hy juis sy lesing begin met die groot koloniale projek van teorie: om te vergelyk, te kategoriseer, te karteer. Die drang om te vergelyk is nie eie aan die koloniale projek nie, maar kom daardeur tot uitvoering op ongekende skaal. Die Westerskoloniale projek, verduidelik Mamdani, was verantwoordelik vir die globalisering van klassifikasie. Dit vereis natuurlik ’n standaard, ’n basispunt waarvolgens die chaos van andersheid en ’n leefwêreld wat ewe skielik oor kontinente heen strek, gedissiplineer kan word, nie met die strelende klanke van Orpheus se lier nie, maar met behulp van die instrumente van kennis en wetenskap. En, argumenteer Mamdani, in die eerste van twee vertrekpunte, die standaard, die verwysingspunt, was natuurlik die Weste. Sy tweede vertrekpunt is dat die moderne universiteit soos ons dit ken in Afrika “institusionele vorm” vind in die Weste, spesifiek in Duitsland met Wilhelm Humboldt se universiteit in Berlyn.
Hierdie twee vertrekpunte definieer dekolonisering as ’n praktyk wat vereis dat ons die universiteit en kennisprojek goed bekyk, van binne af ondermyn, aanpas wat nuttig kan wees en wegstroop wat nie hoort in die dekoloniale universiteit nie. Die eerste postkoloniale bewuswordings waarbinne hierdie soort werk plaasgevind het, was gesetel in nasionalisme. Die nasionale bewussyn grond idees en die universiteit in plek as ’n kennisprojek wat plaaslik en relevant spreek. Mamdani neem as ’n voorbeeld uit Oos-Afrika die Universiteit van Dar Es Salaam waar Walter Rodney, skrywer van die bekende boek, How Europe underdeveloped Africa, gevestig was in die 1960’s. Rodney se argument was “vir die konsolidering van nasionale onafhanklikheid wat steeds gebuk gegaan het onder imperialisme”. Teenoor Dar Es Salaam en Rodney se nasionalisme, staan die tipies-koloniale universiteit wat in ’n postkoloniale era ’n nuwe identiteit nastreef. Hier neem Mamdani as voorbeeld Makerere-universiteit en die werk van Ali Mazrui in die 1960’s. Die debat wat woed wanneer Uganda staatsonafhanklikheid verkry, is tussen ’n internasionaalgesinde akademiese vryheid en ’n nasionaalgesinde geregtigheid wat konstateer dat akademiese vryheid ’n dekmantel is vir die voortsetting van ’n onregverdige en diskriminerende status quo. Na gelang nasionalisme se magsbehepte onderdrukking die drome van ’n postonafhanklike demokrasie vertroebel, raak Makerere-universiteit ’n inkubator vir kritiese denke wat nasionalisme van binne af beskou en bevraagteken. In hierdie konteks vind daar ’n reeks gesprekke plaas tussen Rodney en Mazrui.
In teenstelling met Rodney se nasionaalgesinde onafhanklikheid, waarsku Mazrui teen die “toenemend outoritêre tendense van nasionalisme en mag.” Vir Mazrui is die probleem met Rodney dat hy nasionalisme gebruik as ideologiese oriëntering om ’n anti-Westerse agenda te dryf, terwyl sy denke spruit uit ’n Westerse manier van redeneer en analiseer. Mazrui onderskei tussen ideologiese oriëntering en “modus van redeneer” of “mode of reasoning”. Eersgenoemde beskryf die voorkeur vir ’n bepaalde ideologiese oriëntering, of dit nou nasionalisme, sosialisme of Marxisme is. Ideologiese voorkeure kan baie maklik anti-Westers of anti-koloniaal of anti-imperialisties raak, soos duidelik is in die werk van Frantz Fanon of Walter Rodney. Maar hierdie denkers, alhoewel anti-Westers, bly steeds verwesters. En hier lê juis sy kritiek. Teenoor ideologiese voorkeure en heroriëntering (moontlik wat by die Universiteit Stellenbosch gebeur) is ’n verandering van modus in denke iets wat stilisties en wesentlik staatmaak op taal en ’n bepaalde gevoelswêreld. En daardie gevoelswêreld en styl van analise moet, vir ’n dekoloniale projek, wegbreek van verwestering. Mazrui verduidelik hierdie verskil tussen ideologiese heroriëntering en modus van redeneer as volg: “Ideologiese ommekeer is ’n meer kunsmatige denkgreep as intellektuele akkulturasie.” Dit is maklik om radikaal en anti-Westers te wees. Dit is heelwat moeiliker om nie langer verwesters te wees in ’n mens se denkprosesse, maniere van analise en redeneer nie. Mazrui gebruik die voorbeeld van Franse denke. ’n Franse Marxis het ideologies baie gemeen met ’n Chinese kommunistiese denker. Maar in styl van denke en redeneer, het daardie selfde Franse Marxis baie meer gemeen met ’n Franse liberale denker as met ’n Chinese kommunis.
Teen hierdie agtergrond vra Mamdani dan sy kernvraag: is daar ’n modus van redeneer en analiseer wat as “Afrikaan” beskryf kan word? Die antwoord is meestal nee. Die rede, verduidelik hy, is omdat kolonialisme ons weggesluit het in twee tale: die taal van die kolonis, in Suid-Afrika Engels en aanvanklik Nederlands, en inheemse tale. Engels en Nederlands het die taal van diskoers, denke, beleid en die reg geraak. Inheemse tale is ingeperk tot folkloristiese taal, was beskou as informeel, aards, maar gestroop van institusionele ontwikkeling. En dan voer Mamdani aan dat die Afrikaanse taal die mees suksesvolle dekoloniseringsinisiatief op die kontinent was. Die storie is welbekend: binne ’n aantal dekades het hierdie taal, met ruim institusionele bemagtiging wat gestrek het van publikasie tot preekstoel, van opvoeding tot staatsinstelling en intellektuele verkenningsveld, kitchen Dutch opgehef tot ’n geïnstitusionaliseerde Afrikaans met ’n ryk literêre en selfs musikale erfenis. Mamdani gaan nie so ver as om te praat van ’n Afrikaanse modus van redeneer nie. Maar hy dring aan daarop dat die Afrikaanse ervaring van belang is. Die ou argument dat daar gewoon te veel tale is om aan elk institusionele ruimte toe te staan, sê hy, is gebaseer op ’n misverstand. Die meertaligheid van Suid-Afrika is eintlik meer korrek gesien, ’n versameling van dialekte. Inderwaarheid kan ons inheemse tale verdeel in twee of drie taalgroepe: Nguni, Sotho, en implisiet ook Afrikaans. Saam met Ngũgĩ wa Thiong’o argumenteer hy dat dekolonisering begin by taal, nie geopolitiek nie.
Mamdani se uitweg, sy dekoloniale program, is van belang vir Stellenbosch en ook vir die Khampepe-verslag. Eerder as om die veelvoudigheid van inheemse tale te beskou as ’n probleem wat enkelvoudig opgelos moet word, stel hy voor dat ons universiteite sentra vir die Nguni- en Sotho-tale stig. Skep ’n gesprek, vra Mamdani, deur middel van vertalings van belangrike werk in en uit hierdie tale. En, sou ’n mens kon byvoeg, skep aantreklike institusionele, selfs finansiële, insentiewe vir studente en dosente om ’n inheemse taal aan te leer. Dit is waar die dekoloniale projek moet begin: in die kweek van plaaslike taal en klank as soniese grondbestanddele vir ’n modus van denke. Neem musiek ernstiger op as krities-diskursiewe ruimte en as lugterreur. Neem taal ernstiger op as esteties-klinkende gevoelswêreld. Gesamentlik bied so ’n verstaan van musiek en taal as soniese verskynsels openinge onderweg na ’n dekoloniale universiteit.
[i] “Transformation is a word liberally used at this institution [Stellenbosch University] and where transformation is typically associated with race, gender, equality and historically influenced affluence, the SICMF excels. It does so because music, on a much deeper level, does not know the divisions of Apartheid, and is therefore the perfect vehicle to transport us away from our past and into a future of social harmony.”
[ii] “[S]eemingly innocuous issue”
[iii] “[A]lthough it seems trivial it [music] can be a great source of contention because the students feel that their cultural preferences ought to be accommodated.”
[iv] " (“which came up several times”
[v] Sien: https://herri.org.za/7/willemien-froneman/
[vi] “Unsurprisingly, language [Afrikaans] was also raised as a common complaint”
[vii] Beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=vKFAYXf05N0
Lees ook:
Deal decisively with dehumanising institutional culture, or step aside
Internasionale konferensie: Slow intimacy (Langsame intimiteit)
Universiteitseminaar: Jan Heunis SC beskou die Khampepe-verslag
Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch
Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor
Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC
DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education
Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is
US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief
Baqonde-meertaligheidsprojek: "Laat hulle verstaan" (en laat die tegnologie help)
BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson
A response to Marlene van Niekerk’s contribution to the Stellenbosch University language debate
Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid
Persverklaring: StudentePlein oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak
Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"
BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia
Kommentaar
Die taalgebruik is so hoogdrawend en akademies dat dit nie 'n noemenswaardige gehoor bereik nie.
Dankie aan die skrywer vir hierdie insiggewende en bemoedigende artikel.
Baie om aan te peusel hier. Mamdani se idees kan met vrug in die taaldebat betrek word. Hoop nog meer kom, Carina.