Hoop in die donker: ’n onderhoud met André van der Merwe

  • 3

Foto van André van der Merwe: http://www.sun.ac.za/english/entities/choir/the-conductor

André van der Merwe, musikale direkteur van die US se koor, praat met Naomi Meyer oor universiteitskoorsang in grendeltyd.

André, die reaksie op die US-koor se liedjies die afgelope ruk – te midde van grendeltyd – is opmerklik. Ek verwys veral na jou verwerkings van byvoorbeeld “Die gang” deur Laurika Rauch. Hoe het julle dit reggekry om te oefen en hierdie YouTube-video te maak?

Die nuwe video (“Die donker”) is ’n unieke projek – die eerste van hierdie soort vir ons.

Ons was gelukkig om ’n lewende klankopname te hê van ons laaste uitvoering voor die grendeltydperk by die Woordfees 2020. Ons het die koorlede gevra om vanaf hul onderskeie huise saam met hierdie opname te sing. Uiteindelik is die beeld en die klank gesinchroniseer om hierdie video te vervaardig.

Ons ondersteuners kry dus ’n produk (visueel en klankgewys) baie na aan wat hulle in ’n uitvoering eerstehands sou kon verwag!

’n Videoprojek tydens grendeltyd gee ons die geleentheid om weer as ’n span te funksioneer in ’n tyd waarin ons nie fisies bymekaar mag wees nie.

Die projek probeer nie kompeteer met organiese koorsang nie. En dit sal dit ook nooit vervang nie. Maar dit is tog ’n interessante medium waardeur ons steeds met ons gehore kan kommunikeer. En ons het steeds ’n stem. En ons wil dit steeds met ons ondersteuners deel.

Die projek is nie eenvoudig nie.

Elke koorlid moes ’n video-opname tuis maak saam met ’n metronoomklankbaan om gesinchroniseerde opnames te verseker.

Gerhard Roux het die klank vir ons gemeng en Regardt Visser (hul besonderhede is op my Facebook-tydlyn) moes die 119 video’s saam redigeer – geen grap nie!

Die Woordfees-bestuurspan – Saartjie Botha, Brechmari van Wyk en Corné Kruger – het wonderlike leiding geneem en insette gelewer in die vervaardiging van die video.

Die musiek is ’n verwerking van twee ikoniese Afrikaanse liedjies, “Die gang” (Christopher Torr, uitgevoer deur Laurika Rauch) en “Klein Tambotieboom” (Die Heuwels Fantasties). Ek noem die verwerking “Die donker”.

Beide liedere bevat temas van lig en donker, asook hoop en verlange. Die aangrypende tekste is so mooi geskik vir hierdie komplekse tydperk waarin ons nuwe sin moet vind.

Om die tema van lig uit te bring, moes elke koorlid in ’n donker vertrek opneem met een bron van lig op hul gesigte – lampligte, kerslig, vuur … Dit bring ’n visuele flonkering as al die video’s saam op die skerm is – individuele ligte wat saam harmonie skep.

Hoop in die donker.

Om na koormusiek soos hierdie te luister laat mens sowaar lig aan die einde van die donker gang sien. Hoe sien jy die toekoms van koormusiek in hierdie dae – prakties gesproke? Mens moet tog kaartjies verkoop om wins te kan maak en so ’n wêreldklaskoor soos julle s’n in stand te hou?

Ek glo aan die einde van hierdie tydperk sal koorsang (soos baie kunsvorme) selfs sterker as voorheen terugkeer.

’n Virtuele video is ’n bonus om steeds met ons gehore kontak te maak, maar dit kan eenvoudig nie organiese ensemblesang probeer vervang nie. Ook soos ander kunstenaars moet ons koor nou vasbyt en wag dat ons weer fisies saam musiek kan maak.

Daar is beslis maniere om dmv internetkonserte ’n bietjie geld in te win, maar ek glo nie dit sal enige kunstenaar werklik laat oorleef nie.

Julle koor sou vanjaar oorsee gegaan het en daar was ’n fondsinsamelingskonsert daarvoor by die Woordfees. Hoe nou? Wat dink jy – gaan daardie koorfees wel plaasvind, net later, of dink jy daar gaan dalk nou meer en meer aanlyn feeste vir kore van regoor die wêreld begin opskiet?

Die US-koor, soos kore regoor die wêreld, bevind hulself in ’n dilemma.

Die wese van koorsang is om organies saam musiek te maak – die gemeenskap-in-die-kleine wat weekliks saam asemhaal en harmonie skep.

Die Wêreld-Koorspele (België) is uitgestel tot Julie 2021. Ons hoop van harte dat dit sal realiseer.

Vlaandere het van die mooiste konsertsale denkbaar, en dit sal magies wees om ons kultuureie daar met internasionale kore te deel.

  • 3

Kommentaar

  • Irma Honiball

    Die US Koor en hul passievolle, begenadigde dirigent, maak vir elke Oud-Matie ongelooflik trots! Hulle suiwer en hemelse koorsang roer ons hartsnare keer op keer met elke optrede! Lank lewe André en sy koor!

  • So baie, baie dankie vir hierdie pragtige en beheersde koorsang. Sterkte vir die nou en die toekoms! Julle is in ons harte en sien uit na julle eerste konsert in die Endler!
    Volgende jaar in Vlaandere glo ek julle sal daar wees en baie goed doen!

  • My eerste persoonlike interaksie met André as dirigent van ons 80ste US reüniekoor was lewensveranderend, onvergeetlik.
    Meesleurend, synde die opmerking nav hul Woordfees-toekenning vanjaar is die naaste enkele beskrywende woord vir die luisterervaring, alhoewel dit nie naastenby by koorsang olv André kom nie.
    Naomi, sedert ek jou vergelykende meesleurende onvergeetlike interaksie met Andries oor sy Dao al hier gelees het, val my oë onmiddellik op wat jy skryf. Doen asseblief so voort. Hierdie was net te kort. Julle kon nog baie langer vrae en antwoorde verwissel het...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top