Fanie Viljoen (1970–)

  • 2

Gebore en getoë

Hendrik Stephanus (Fanie) Viljoen is op 2 Januarie 1970 in Welkom gebore waar hy grootword, skoolgaan en in 1987 aan die Goudveld-Hoërskool matrikuleer.

Fanie se ouers is Thys en Bets Viljoen. Sy pa het op die spoorweë begin werk. Hy was later ’n hysmasjinis by ’n myn in Welkom. Sy ma is ’n huisvrou. Hy is die middelste van drie kinders – Cecilia is die jongste en sy skryf ook en sy oudste broer is Neels.

Fanie het sy laerskooljare aan die Dagbreek Laerskool op Welkom deurgebring waar daar ’n hele paar onderwysers was wat hom aangemoedig en geïnspireer het, veral sy houtwerkonderwyser, meneer Malan en sy onderwyseres in graad 1, mevrou van Heerden. In graad 3 was mevrou van Pletzen sy onderwyseres en sy was die inspirasie agter juffrou Beneke in Geraamte in die kla.

Die skryfgogga was op hoërskool heeltyd daar, vertel Fanie aan LitNet. “Toe ek die eerste A vir ’n opstel by mevrou Groenewald kry, was die koeël seker deur die kerk. Ook meneer de Bod het my aangemoedig, maar dit was veral doktor Anita Fourie wat my destyds en steeds verskriklik ondersteun het. Die skool het jaarliks ’n boekie Uit die skrywerskan uitgebring. Die beste opstelle wat die jaar by die skool geskryf is, het daarin verskyn. Dit het my ook aangemoedig.”

Toe hy in matriek was, het hy ’n aanmoedigingsprys gewen in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se jaarlikse skryfkompetisie.

Fanie vertel aan Vicus Bürger (Volksblad, 5 Julie 2014) dat hy ’n nerd en ’n outsider op skool was – een van die leerders wat nie sport gedoen het nie, maar op die redaksie van die skoolkoerant gedien het. Dit is ook waar hy met kuns te doen gekry het. “Die kunsklas was vir my ’n wegkruipplek – dit was die plek waarheen ek en die ander buitestanders van Goudveld-Hoërskool gevlug het.

“Ek het goeie opstelle op skool geskryf, maar ek het nooit toe gedink dat ek ’n skrywer sou word nie.”

Daar is baie dinge wat Fanie uit sy kinderdae onthou en waarvan hy meer vertel in sy stuk “Ek onthou” in Spoorvat: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers (saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn, LAPA, 2013).

“Ek onthou ’n groen verjaardagkoek met renmotors. En ’n wêreld wat toe nog so groot was dat jy daarna moes opkyk. Ek onthou ’n kamer met ’n blinknuwe fiets langs die bed, die nuuskierige bure wat by die draad staan en lag terwyl ek vallend leer fiets ry. (...)

“Ek onthou die sirkustent, opgeslaan in die stowwerige veld voor die goudmyn in Welkom. Die olifante het aan voetkettings geboei gestaan en die leeus het in stink hokke gelê en lui rondgekyk. Tydens die vertoning het een van hulle sy blaas op my broer in die voorste ry leeggemaak.

“Die sirkus het ’n betowerende wêreld vir my laat oopgaan. Ek onthou hoe my broer ná die vertoning ’n swaai aan die reusebessieboom voor in ons tuin opgehang het. Met skouermantels aan het ons op die drietrapleer gestaan en die sweefstokartieste probeer nadoen, totdat die leer onder my voete weggeskiet het. Ek het op my rug beland. Hard. Ek onthou hoe ek gesukkel het om weer asem te kry. My loopbaan as sirkusarties was daarmee heen, maar die betowering het gebly. (...)

“In graad 1 was ek in die hospitaal. Ek het gedink ek gaan nooit leer lees as ek in die hospitaal bly nie. My gunstelingtyd in graad 2 was wanneer die onderwyseres ons geroep het om voor in die klas op die mat te kom sit. Sy het dan vir ons stories gelees en prente gewys.

“Ek moes die graad 2-juffrou teen jaareinde vra van watter parfuum hou sy. Ma wou dit vir haar koop as geskenk. Ek was bang om met die juffrou te praat. Toe ek uiteindelik moed bymekaarskraap, het ek haar gevra van watter paraffien sy hou. Sy het gemoedelik gelag en ‘Charlie’ geantwoord.

“Ek onthou ek het ’n boek gesteel uit die standerd 1-juffrou se leesboekrak. Niemand het daarvan geweet nie en ek het myself probeer wysmaak dat die juffrou nie sou omgee nie. Dit was ’n boek oor ’n heks. Die mense wou haar wegjaag uit die dorp, toe laat sy klippe op hulle reën. (...)

“Aan die einde van standerd 3 het die juffrou vir my die boek Die klein kaptein in die Land van die Sewe Swaar Take as geskenk gegee. ’n Juffrou met wenkbroue soos die heksma in Snow White and the seven dwarfs-fliek het ons in standerd vier met die voorpunt van ’n visstok geslaan.

“Ek onthou ’n ander juffrou het later in haar plek kom aflos omdat die heksjuffrou swanger was. Die nuwe juffrou was van die Kaap. Toe ons ’n dikteertoets moes skryf, het sy ’n sin gegee soos: ‘Die seun ry op ’n fiets.’ Sy het nie ‘’n’ gesê nie, maar ‘hin’. Sy moes die sin ’n paar keer herhaal, maar nie een van ons Vrystatertjies het geweet watse ding ’n ‘hin’ is nie. (...)

“Ek onthou hoe sleg ek gevoel het op die laaste laerskooldag. My pa sou my ná skool kom haal, maar hy was laat. Ek het alleen voor die skool gestaan. Die wêreld was nog groot, maar nie meer so groot soos vroeër nie. Ek het daar op die stowwerige sypaadjie vir my pa gestaan en wag en dink oor die jaar wat kom. Hoërskool was glo ’n vreeslike plek. Jy moes vinnig kon skryf om in eksamen betyds klaar te maak. Die eerste week word jy ingesout. Jy is nie meer die grootste in die skool nie, jy begin weer onder.

“Maar die ergste van alles was seker dat al my vriende die volgende jaar na dieselfde hoërskool toe sou gaan. Ek het ’n ander hoërskool as hulle gekies net omdat dié skool kuns as ’n vak aangebied het en ek dit graag wou neem.

“Bang – so het ek op daardie laaste laerskooldag op die sypaadjie gevoel. Nuwe goed doen dit mos aan mens. Nuwe skole ook. Jy weet nie hoe die kinders of onderwysers daar sal wees nie. Jy weet nie of hulle vreemde woorde soos ‘hin’ gebruik nie.”

Verdere studie en werk

Ná skool het hy as kassier in die destydse Volkskasbank gewerk voordat hy sy twee jaar-diensplig in Kimberley, Oshivello en Lohatla gedoen het. In 1990 begin hy deeltyds by Sanlam werk as opleidingskonsultant. Gedurende hierdie tyd begin hy op ’n deeltydse basis in die grafiese kunste studeer aan die Tegniese Kollege in Welkom (1993-1995). Hy behaal die N6-sertifikaat in 1995. In 2002 behaal hy sy BA-graad in sosiale wetenskappe en sielkunde aan Unisa.

Fanie bevind hom toe in Bloemfontein waar hy by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) aansluit. Tot op daardie oomblik was skryf vir hom net ’n stokperdjie totdat Jaco Jacobs, die jeug- en kinderboekskrywer, in sy lewe beland het. Jaco het Fanie aangemoedig en geïnspireer om ook ’n heeltydse skrywer te word en net daar verander Fanie se hele lewe. Na sestien jaar by Sanlam waar hy administratiewe werk gedoen het en personeel opgelei het, besluit hy in 2006 om voltyds te begin skryf en vir die Afrikaanse kinder- en jeugboekleser was dit die beste besluit wat hy kon geneem het.

Sy besluit om voltyds te skryf, was ’n “skrikwekkende sprong,” vertel hy aan Johan Brits (Volksblad, 6 September 2008). “’n Mens word mos grootgemaak om ’n vaste werk met medies en pensioen te hê. Ek is nie ’n oomblik spyt nie. In die twee jaar was daar nog nie een dag wat ek gewonder het wat ek vandag gaan doen nie. Goed kom oor jou pad waarvoor ek nie kans gehad het toe ek heeltyds gewerk het nie. Ek werk nogal hard aan ’n leesreeks vir laerskole. Dit is 30 boeke waarvan die illustrasies en skryfwerk gedoen moet word.”

Fanie skryf in 1999 sy verhaal “Weersiens” in vir De Kat en Human & Rousseau se kort-kortverhaalkompetisie en as een van die finaliste word sy verhaal opgeneem in die bundel Vonkfiksie. Nog ’n kortverhaal van hom “Verneukkind” was ’n finalis in die MML-kortverhaalkompetisie en is opgeneem in Sussie Veer is dood en in Verneukkind.

Daarna verskyn daar nog ’n kortverhaal in 1999 in Sarie verskyn en daarna het nog publikasies en tydskrifte en boeke gevolg. Fanie is ook ’n kranige skrywer van radiodramas. In 2000 is sy radiodrama Die losprys met die tweede prys bekroon in die RSG/Sanlam-radiodramakompetisie vir beginners en in 2001 is Oupa Rooijan kry ’n girlfriend uitgesaai. In 2002 loop Agter geslote deure ook met die tweede plek weg in dieselfde kompetisie, maar hierdie keer in die kategorie vir ervare skrywers.

In 2004 verskyn Fanie se eerste boek by LAPA met die titel Slym: die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert. Fanie, wat al vanaf graad 9 kuns op skool geneem het, het ook die illustrasies vir Slym gedoen. Die eerste verhaal van Slym is in 2007 opgevolg met Slym en die gogga-sirkus en in 2009 het Slym en die beker van geluk verskyn. Slym en die gogga-sirkus is deur graad 1–3 lesers in 2008 aangewys as die wenner in dié spesifieke kategorie van die ATKV-kinderboektoekennings en dit kry ook ’n ATKV-kinderboektoekenning vir die illustrasies.

Slym vertel die storie van die wurm wat aspirasies gehad het om deel van die paddakoor te wees en is vreemd en kreatief, maar interessant en net so verbasend fassinerend soos die skrywer, skryf Suzanne Venter in Rooi Rose (Maart 2006). Tydens die Volksblad-kunstefees in 2005 is ’n verhoogverwerking van Slym op die planke gebring.

Oor kinders en jong mense se leesgewoontes vertel Fanie aan Johan Brits dat hulle nie soveel lees soos wat hulle as skrywers graag sou wou hê nie: “Ons is ’n paar skrywers vir wie dit ’n passie is om kinders aan ’t lees te kry. Boeke moet verbeeldingryk wees. Elke storie moet twee elemente hê: humor en spanning. As kinders eers begin lees, hou hulle aan. Hulle soek jou boeke en wil nog van jou goed lees.”

In 2005 tref Fanie se eerste boek vir tieners die boekrakke. BreinBliksem het almal aan die praat gesit én tieners aan die lees gesit. Behalwe die MER-prys vir jeuglektuur vir 2005 het Fanie ook die Sanlam-prys vir jeuglektuur (goud) met François Bloemhof gedeel. Dit was vir Fanie ’n groot lekkerte en eer om hierdie prys met Bloemhof te deel aangesien Fanie se eerste gepubliseerde kortverhaal deur François Bloemhof aanvaar is toe hy verhaleredakteur van Sarie was. Fanie het ook skryfkursusse onder leiding van Bloemhof gedoen.

Die agterblad waarsku lesers dat hierdie nie vir “sensitiewe lesers” is nie. En voorin is daar ook ’n lang waarskuwing wat die lees van hierdie boeke aan jou kan doen.

Fanie sê aan Arnold Vermaak (Die Burger, 24 Augustus 2005): “As ék so iets voor in ’n boek raaksien, sal dit my dwing om die boek te lees.”

BreinBliksem vertel die storie van drie ouens van Bloemfontein, Burns, Kerbs en Sky wat planne beraam om die BreinBliksem-rockfees by Allemanskraaldam in die Vrystaat te gaan bywoon. ’n Paar dae voordat hulle sou vertrek, kry Sky ’n epileptiese aanval in die kuierplek Mystic Boer in Bloemfontein. Hy vertel aan Burns dat hy gedurende die aanval in ’n visioen bloed gesien het. Hy voel dat dit ’n waarskuwing is dat hulle nie na die rockfees moet gaan nie.

BreinBliksem se inspirasie is afkomstig van rockfeeste wat Fanie al bygewoon het, vertel hy aan Willemien Marais (Volksblad, 23 September 2005). “Ook van die musiek wat ek geluister het terwyl ek besig was om te skryf. Musiek soos Linkin Park, Limp Bizkit en die White Stripes.”

Fanie het talle skoolbesoeke gedoen om reklame vir die boek te doen en die graad 11-leerders het die boek met groot entoesiasme ontvang. Fanie het kritiek verwag op die boek, maar vir hom gaan dit oor wat die tieners en jong volwassenes wat die idioom van die boek sal verstaan, daarvan gaan sê.

Fanie het met die skryf van BreinBliksem gehoop dat die boek deure sou oopmaak vir jong skrywers om hulle stories te vertel. “Ek dink dit gaan ’n paar grense verskuif. En die uitgewers soek almal boeke vir die tienermark. Dink net waar kan ons oor ’n paar jaar staan as ons jeugboeke so ’n opbloei beleef soos wat tans die geval is met Afrikaanse musiek! (Dit was in 2005.)

BreinBliksem is egter nie net ’n tienerverhaal nie. Die boek is gerig op jong volwassenes en enigiemand wat jonk van hart is. Daar is ’n neiging om meer vir ’n crossover-mark te skryf. ’n Mens sien dit ook in Engelse boeke.”

Die Sanlam-skryfkompetisies het elke keer ’n tema waarom die verhaal gebou moet word en in 2004 was dit musiek. Fanie self bespeel nie ’n musiekinstrument nie, maar sy kennis van beide plaaslike en oorsese musiek is indrukwekkend. Elke hoofstuk van die boek is getitel soos ’n snit van ’n musiekalbum en Arno Carstens, Prime Circle en Wonderboom is deelnemers aan die rockfees.

Fanie vertel aan Suzanne Venter (Rooi Rose, Maart 2006) dat hy die boek amper nie ingeskryf het vir die Sanlam-prys vir jeuglektuur nie. “Gedink dit is te rof, maar toe dink ek, hoekom nie? Daar is in elk geval niks in die boek wat kinders nie op TV kan sien nie! Ek wou nie graag Chris Burns, die hoofkarakter, se siening van die lewe sugarcoat nie. Ek wou die storie skryf in ’n taal wat tieners sou verstaan en wil lees. Ek skryf vir ’n TV-geslag. Jy moet hulle aandag vinnig kry en behou. Die storie moet aangrypend wees, in kort hoofstukke, want dit beïnvloed die manier waarop ’n mens lees.”

Om die boek se titel in die hande te kry, het Fanie gesoek na ’n Afrikaanse woord om die headbang-aksie, dis nou as jy staan/dans en jou kop op en af en heen en weer skud, te beskryf. “BreinBliksem pas ook by die storie en die tienerfase in; hul breine word heeltyd met inligting en keuses ‘gebliksem’,” verduidelik hy aan Venter.

In Die Burger van 15 Oktober 2005 skryf Mariana Loots dat Viljoen se skryfstyl gemaklik is en die in your face-styl verfrissend is. “Die storie ontwikkel vinnig. En ’n ontnugterende wending ‘breinbliksem’ die leser behoorlik. Maar dit dra slegs by tot die leesplesier: ’n aksie-belaaide jeugroman met ’n goeie skeut spookstorie en selfspot is nie te versmaai nie. Die grense van wat die karakters werklik sou doen, word hier en daar getoets. Maar wys die boek nie juis die menslike psige is bedrieglik nie? Meer gereserveerde lesers kan ontmoedig word deur die alternatief-spitsvondige taalgebruik, maar die doel heilig die middele. BreinBliksem is dalk vir volwassenes, maar beslis vir kinders.”

Ook die tienerlesers was opgewonde en positief. In Jip, die skoolbylae van Die Burger (24 Oktober 2005) skryf Wortel Strydom dat dit ’n “vinnige, soms kru” storie is wat jou rondruk tussen die probleme van die hedendaagse tiener. “Die boek gee nie oplossings en raad nie – net ’n storie. Dit is verfrissend dat die skrywer nie ’n lieflike wêreldjie skets waar kinders nog kinders is nie. Hy tref redelik naby aan die werklikheid. Fanie Viljoen slaag daarin om op ’n maklik leesbare manier ’n televisie-agtige raaiselriller tuis te bring. Die tema lyk bekend, maar hy doen dit op sy eie manier.”

Die verhoogverwerking van BreinBliksem deur Thys Heydenrych is in 2006 ingeskryf vir die Sanlam-prys vir Afrikaanse teater. Heydenrych was ook die regisseur met Alec Debbo as Chris Burns.

Fanie verduidelik aan Suzanne Venter dat daar nie ’n spesifieke boodskap in BreinBliksem is nie. Hy brei uit: “Skrywers het dikwels hul eie agendas wat hulle aan lesers wil opdwing, maar ek het gevoel dat tienerprobleme baie kompleks is en dat daar nie altyd ’n antwoord is nie. Ek wou nie vir die lesers preek, of valse hoop gee nie. Jongmense soek nie netjies verpakte boodskappe nie. As jy vir hulle skryf, moet jy meeding met Playstations en DVD’s. Daar is ook ’n gróót tekort aan tienerboeke – ek wou net graag vir hulle ’n goeie storie gee om te lees.”

Ná die publikasie en die daaropvolgende sukses gaan Fanie voort om die een boek na die ander te skryf en te publiseer. Stories soos Geraamte in die klas, Slym en die gogga-sirkus, Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood, Nova, Klou, Grilbrigade, Spring, Plons, Lulu, Onderwêreld, Bravo en Oepse daisy het almal weggeloop met die ATKV-kinderboektoekennings in hulle onderskeie kategorieë tydens die Woordveertjie-prysuitdelings. Twee van Fanie se boeke, Leeus met letsels en Uit, het ook op die IBBY-ererol vir onderskeidelik 2014 en 2015 verskyn.

Enkele uittreksels uit resensies van Fanie se boeke:

  • Klits Kronkel-reeks: “Fanie Viljoen en Diek Grobler (illustreerder van Klits Kronkel) is ’n wenboekfabriek.” (Rachelle Greeff, Rapport, 7 Desember 2008)
  • Nova-wetenskapfiksiereeks (2012-2014): “Hoewel die Nova-reeks gewilde leesstof is, sal dit ’n fout wees om dit te onderskat. Naas lekker inhoud bied Fanie Viljoen se werk emosionele diepte, taalkundige en tegniese vernuf en relevansie deur aan te sluit by diskoerse oor wetenskapfiksie, wetenskap van die buitenste ruim, asook ruimtewesens en verwante samesweringsteorieë.” (Mia Oosthuizen, Rapport, 19 Oktober 2014)
  • Klou, ’n superheld met kolle (2011): “Met sy mooi kleurryke illustrasies is hierdie ’n oulike avontuurstorie vir selflees en voorlees.” (Adéle Dempers, Volksblad, 2 Julie 2011)
  • Grilbrigade (2011): “Fanie Viljoen begryp ook iets van hierdie kompleksiteit (tegnologie wat skrywers uitdaag om iets te skep wat jong lesers sal boei) met sy verhaal Grilbrigade, pragtig uitgegee deur Human & Rousseau en met skitterende illustrasies deur Luan Serfontein. ’n Uitstekende kinderverhaalskrywer en ’n uitmuntende illustreerder kom hier bymekaar in ’n boek wat lekker lees.” (Joan Hambidge, Volksblad, 11 Februarie 2012)
  • Jou Romeo (2016): “Jou Romeo is ’n liefdesverhaal vir tieners, met alles wat daarmee saamgaan: drama, humor, jaloesie en die kenmerkende hartstog van die jeug. (...) Die spanning is deurgaans snaarstyf. Die dialoog oortuigend, pittig en soms giftig. Die karakterbeelding is perfek. As jy die fliek misgeloop het, sal dié boek ruimskoots vergoed. As jy wel die fliek gesien het, lees die boek en beleef die lekker van voor af.” (JB Roux, Die Burger, 30 Januarie 2017)

In 2008 het Fanie se vervolgverhaal vir kinders, Kaptein Hamerkophaai in Die Burger se kinderblad KleinB oor elf weke verskyn. Dit is in 2009 in boekvorm uitgegee. Fanie het vertel dat kinders in skole dikwels versigtig is om dom vrae te vra: “In hierdie verhaal word Devon gedwing om ’n dom vraag te vra: ‘Moet seerowers ook skool toe gaan?’ Net nadat die vraag gevra is, maak Kaptein Hamerkophaai sy verskyning in die klas.”

In 2015 was Fanie en sy boek Onderwêreld in die nuus toe dit bekend gemaak is dat hierdie boek die enigste is wat voorgeskryf is vir die matrieks van 2016, terwyl daar vroeër altyd ’n lys van werke was waaruit skole kon kies. Ook het sommiges gemeen dat Onderwêreld nie voldoen aan matriekstandaard nie aangesien dit alreeds op graad 8-vlak met leerlinge bespreek is en dit vir graad 10 in Afrikaans as eerste addisionele taal deur die IEB voorgeskryf is.

Hieroor het Fanie aan Ruan Bruwer (Volksblad, 15 Julie 2015) gesê dat hy veral omgekrap was oor Sonja Loots se kommentaar in Rapport dat die moeilikste woord in die boek “netwerkkabel” is. “Sy het duidelik nie die boek gelees nie, want dis nié die moeilikste woord nie. Onderwysers is wel met rede omgekrap omdat daar nie ’n keuse aan skole gelaat is nie.”

Oor die dikte van die boek het Fanie aan Bruwer genoem dat die skooluitgawe uit 300 bladsye bestaan wat ’n kort studiegids insluit. “Dit beslaan 60 000 woorde. Dit lyk dun omdat die font klein is. Ek het gehoor matrieks sê hulle kry nie tyd om deur ’n hele boek te lees nie. Dis te dik, te kompleks en verveel hulle. Onderwêreld is geskryf met verskillende lae, as jy in die boek se derms gaan krap, sal jy op ander temas afkom.”

Fanie het op daardie tydstip beplan om ’n video te maak wat onderwysers in die klas kan speel sodat leerders self kan hoor waar die storie sy oorsprong gehad het, aangesien hy baie navorsing met die skryf van die boek gedoen het.

Fanie het by ’n bekendstelling van Onderwêreld meer vertel oor die ontstaan van die storie. “Die tema vir die 2007 Sanlam-prys vir jeuglektuur was tegnologie – ’n moeilike een vir my, want ek wou my doelpale skuif na BreinBliksem se publikasie in 2005. Ek het begin rondkyk vir interessante temas in die wêreld van tegnologie. Ek is glad nie ’n deskundige met rekenaars nie, maar kan myself darem help met dit wat ek gedoen wil kry – net genoeg om my uit die moeilikheid te hou. Toe kom ek af op die tema van hackers – of dan kuberkrakers.

“Ek het dadelik geweet dit is die onderwerp van my volgende boek. Ek het die idee laat broei in my agterkop en meer en meer op die Internet gesoek na inligting. Gou het ek besef dit is ’n ongelooflike fassinerende veld. Nog navorsing het gevolg en hoe meer ek oor die kuberkrakers uitgevind het, hoe meer het ek agtergekom dat ek eintlik baie min weet van rekenaars. Kuberkrakers toor nie met rekenaars nie, hulle mors met hulle – en hulle kan hulle selfs heeltemal opmors. Die navorsing het vir my gewys dat ek my storie sal moet ken as ek ’n boek wil skryf oor die skimme wat in die onderwêreld van die kuberruim rondbeweeg.

“Toe kom ek met ’n gelukskoot af op ’n artikel oor kuberkrakers, geskryf deur Justin Stanford, ’n Suid-Afrikaanse rekenaarspesialis. Ek het hom via e-pos in die hande gekry en hy was bereid om my te help met inligting. Deur Justin ontmoet ek vir Lance Micalson. Hy was betrokke by die opstel van die wet teen kuberkraking in Suid-Afrika. Hy was baie opgewonde oor die idee van die boek en gee my die besonderhede van twee regte kuberkrakers. Of dan ouens wat eens op ’n tyd kuberkrakers was. So tuimel ek dieper die onderwêreld in. Ek stuur e-posse aan die kuberkrakers en vertel wat ek met die storie beoog. Hulle lewer kommentaar, maak verbeterings en gee voorstelle.

“Nooit het ek die hele manuskrip vir een van hulle gestuur nie. Die paranoia het begin posvat. Die ouens was kuberkrakers ... sê nou net hulle kom op my rekenaar, gryp die dokument en sit dit op die Internet. Ek sit sleutelwoorde op my rekenaar en op die dokument self. Ek verander die sleutelwoorde op my Internetbank en sorg dat die virusprogram op datum is. Party dae wonder ek of ek skoon simpel is, want elke klein dingetjie wat op my rekenaar haak, laat my wonder ...

“In my navorsing gaan ek na webborde van Suid-Afrikaanse hackers. Ek skrik my koud as ek sien wat hulle doen. Hierdie is die plek waar hulle spog met hul prestasies. Een ou vertel hoe hulle war driving doen naby die Tygervallei-sentrum in die Kaap. Dit is wanneer krakers rondry met skootrekenaars en oop netwerke soek. Hulle vertel hoe hul ’n man dopgehou het terwyl hy sy e-pos aflaai. Toe is hy op die Internet. Hulle kon presies sien wat hy doen, waarna hy kyk ...

“Ek begin agterkom hoe hierdie ouens dink en stadig maar seker begin die kuberkrakers wat uiteindelik in my storie hul buiging moet maak, vorm kry. Ek gaan na webblaaie wat jou op ’n veilige manier leer hoe om sleutelwoorde te kraak. In die werklike lewe begin ek goed raaksien wat krakers hul lippe sal laat aflek – sleutelwoorde geskryf in mense se dagboeke, sleutelwoorde geplak langs die rekenaarmonitor by ’n bank se inligtingstoonbank. Ek vra mense wat ek teëkom of hulle rekenaars se sleutelwoorde in woordeboeke verskyn. Baie mense s’n is daar. Dit kan slegte gevolge hê. Ek besef die kuberkrakers is reg: jou maatskappy se rekenaars kan die beste sekuriteit hê, die beste virusprogrammatuur, die beste rekenaarkundiges, maar die swak plek in die skakel bly die mense wat die rekenaars moet gebruik. Elke rekenaar kan ’n teiken word. Almal is kwesbaar.”

Onderwêreld vertel die verhaal van Greg Owen, hoofseun van ’n privaatskool, en sy vriendskap met Eckardt, wat in hulle matriekjaar by die skool aankom. Eckardt is ’n ingelyfde hacker en maak Greg touwys in die wêreld van rekenaar-hacking. Toe verdwyn Eckardt en Greg besef dat hy self sal moet ondersoek instel om uit te vind wie hom gevat het.

In Kaapse Bibliotekaris (September/Oktober 2008) skryf die resensent dat dit ’n uitstekende nagevorste boek is oor ’n onderwerp wat baie jongmense ken en verstaan. “Die verhaal word knap verbeeld met ’n boeiende storielyn en verrassings in die ontknoping. Dit is fyn gekonstrueer met ’n opbouende spanningslyn en knap taalgebruik, wat die leser elke detail van die seuns se hacking met opgehoue asems laat volg en jou meesleur met elke draai van die intrige.”

Op LitNet laat Herman Wiid hom soos volg uit oor Onderwêreld: “Wat die storielyn betref is die wending aan die einde van die verhaal briljant, veral vanweë die feit dat dit die leser onverwags oorrompel. Ander positiewe punte van kritiek sluit in ’n goeie ontwikkeling van die hoofkarakter deur die loop van die boek tot ’n sterk volronde figuur wat sy mening uitspreek en sake in sy eie hande neem, ongeag wat ander dalk van hom mag dink.

“Viljoen het ook vir diegene wat na afloop van die verhaal daaraan dink om hulle hand aan ’n keyboard te slaan as newbie hackers, ’n vriendelike waarskuwing aangeheg in die vorm van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies aan die einde van die boek. Op hierdie manier vermaak die boek nie net nie, maar lig dit tieners ook in omtrent relevante sake in vandag se samelewing.

“Ten slotte kan daar gesê word dat Fanie Viljoen, wat bekend is daarvoor dat hy tieners op die punte van hulle stoele hou met sy naelbyt-rillers soos Spoke en ander gruwelike goed (2005), Breinbliksem (2005) en Miserella (2007), weer eens slaag met hierdie publikasie. Dit verdien ongetwyfeld Sanlam se Silwertoekenning vir jeuglektuur. Onderwêreld is nie net nog ’n verhaal van rekenaar-geeks wat probeer cool wees nie, maar bly deurentyd boeiend en aksiebelaai terwyl die storielyn gemaklik van hoofstuk na hoofstuk vloei. Hierdie boek dra ook by tot ’n broodnodige nuwe tegnologie-genre in die Afrikaanse literatuur en beloof om enige Afrikaanse tiener hierdie vakansie voor die bladsye vasgenael te hou.”

Jong lesers en ’n onderwyseres het soos volg oor Onderwêreld geskryf:

  • Hanneke Strydom van Hoërskool Overberg, Caledon: “Dit is die eerste voorgeskrewe boek waar my leerders regop sit, saam lees en saam met my omblaai. Ek het hulle mooi gevra om nie vooruit te lees nie. Vandag het twee seuns vir my kom sê dis die beste boek ooit en hulle kon dit nie help nie, hulle het vooruit gelees!”
  • Roman Hendricks: “Ek wil net sê meneer se boek het my regtig ’n passie gegee om te lees. Ek het Onderwêreld al twee keer deurgelees, en ek is besig om dit vir die derde keer weer deur te lees.”
  • Gabriël Esau: “Dit is vir my ’n plesier om u boek te lees. My ouers het nie baie geld nie. Anders sou ek al u ander boeke gekoop het. Ek hoop u sal nog baie jare skryf. Wanneer ek eendag werk, sal ek beslis u boeke koop.” (Huisgenoot, 9 April 2021)

Die Noordwes-universiteit het “Oor die einders van die bladsy”-projek begin en professor Franci Greyling van die vakgroep Skryfkuns aan die NWU het Fanie gevra om in te val by die projek. Die doel daarvan is om lesers se begrip van wat ’n boek is met “kunsboeke” te verbreed.

Elke deelnemer aan hierdie projek kon self besluit hoe hy die boek gaan aanpak en wat die tema gaan wees. Fanie het vroeër ’n kortverhaal met die titel “Pynstiller” geskryf en hy het besluit om dit in ’n grafiese verhaal te verwerk, vertel hy aan Clarissa Grobler (Volksblad, 17 Augustus 2009). Die verhaal wat handel oor selfskending en spesifiek tieners wat hulself sny, is daarna bladsy vir bladsy op Facebook geplaas en mense kon daarop reageer soos die verhaal gevorder het. Fanie was self verantwoordelik vir die grafika wat lyntekeninge is wat hy skandeer het en dan op Photoshop verder gemanipuleer het.

In 2014 verskyn Pleisters vir die dooies waarin Fanie kyk na ’n skoolskietery in Suid-Afrika en waarin hy weer eens ’n onderwerp aanpak wat selde in Afrikaans aangepak is. Dit sluit aan by sy boeke soos BreinBliksem waarin daar na psigotiese versteuring gekyk word, Onderwêreld (kuberkrakery) en die Nova-reeks (wetenskapfiksie).

Die verhaal van Pleisters word in die eerste persoon vertel en hy bly deurentyd naamloos. Al wat die leser van hom weet is dat hy in die hoërskool is en nie ’n baie lekker lewe het nie. Sy pa is geestelik geknak deur die Suid-Afrikaanse Grensoorlog en rand die verteller en sy broer aan. Sy ma is ook nie daar om hulle te help nie. By die skool staan hy bekend as ’n freak. Hy besluit dus om ’n einde aan alles te maak.

Die verhaal beeld dan sy “aand vir laastes” uit wanneer hy deur die stad beweeg en allerhande vreemde karakters teenkom, soos ’n nar, ’n prostituut, ’n dronklap en ’n swanger meisie. Dit wat hy saam met hulle ervaar, maak hom net nog meer vasberade om voort te gaan met sy plan by die skool.

Die boek word aanbeveel vir lesers ouer as 17 en volgens Coenraad Walters (Die Burger, 21 Julie 2014) moet dit ernstig opgeneem word: “Nie net weens die gebeure en die kras, outentieke taalgebruik nie, maar veral weens die uitbeelding van ’n donker, moeilike en dikwels lelike lewe. Die verhaal kan egter nie eenvoudig as ‘skokkend’ afgemaak word nie: dit gee stem aan ’n bepaalde groep jongmense wat hulle druk en moeilike omstandighede nie suksesvol kan hanteer nie en hulle tot geweld kan wend om te ontlaai.

“Hierdie verhaal moet wyd gelees word: ouers behoort dit met hulle kinders te deel. Of onderwysers en bibliotekarisse toegelaat sal word om dié boek by skole beskikbaar te stel, sal ons nog moet sien. Pleisters vir die dooies is ’n belangrike nuwe boek in die Afrikaanse jeuglektuur wat die leser tot die laaste bladsy vasgenael hou.”

Fanie vertel aan Vicus Bürger (Volksblad, 5 Julie 2014) dat hy Pleisters sonder ’n plan begin skryf het. “Ek het soos met BreinBliksem net daarin gedonder. Ek het die boek begin skryf sonder om te weet hoe dit gaan eindig en het myself deur die hoofkarakter laat lei.

“In Suid-Afrika, waar sommige kinders fisiek en emosioneel verwaarloos word, waar party ouers dink die onderwysers wat hul kinders moet grootmaak en waar tieners vir tieners ‘opvoed’ weens onbetrokke ouers, hier waar kinders by skole geboelie word en kinders toegang tot vuurwapens in hul ouerhuise het, stuur ons af op ’n skoolskietery. Daar is egter steeds wonderlike tieners wat nie so iets sal doen nie ondanks hul omstandighede.”

Op LitNet wou Naomi Meyer by Fanie weet waar die idee vir Pleisters vandaan gekom het. Sy antwoord was dat hy al baie lank met die idee in sy kop rondgeloop het, maar nie geweet het hoe om dit te benader nie. “Ek het egter geweet dit is iets wat ek moet skryf, want dit voel vir my of ons hierheen op pad is in Suid-Afrika. Ons sien al die voortekens met gevalle soos die Skierlik-skieter, die Griekwastad-moorde en natuurlik die Slipknot-swaardmoordenaar, en meer. Daar is tieners wat met ’n verskriklike donkerte in hulle rondloop. Ek wou dit wys in die karakter se ‘donkernag van die siel’ voordat hy die kinders by die skool gaan doodskiet, en dan homself.”

Meyer se volgende vraag aan Fanie was of dit nie ’n gevaarlike onderwerp kan wees nie, gesien die situasie in Suid-Afrika en of hy die onderwerp gekies het of die onderwerp vir hom gekies het. “Ek is nie seker wie kies vir wie nie. Dis ’n hoender-en-eier-situasie. Ek is baie daarvan bewus dat die onderwerp gevaarlik is. Dit maak my bang, en dit moet lesers bangmaak. Dis wat boeke doen.
Pleisters vir die dooies is dalk die beste manier om oor ’n skoolskietery te praat voordat dit werklik by ’n skool gebeur. Die boek is ’n waarskuwing dat dit nie net iets is wat in Amerika gaan gebeur nie. In 2013 het ’n skoolkind ’n pistool skool toe geneem om drie boelies dood te skiet. Uiteindelik is ’n onderwyser in die been gewond. ’n Boek soos Pleisters vra die vraag: Sê nou maar dit gaan verder?”

Fanie verduidelik aan Naomi Meyer dat hy dit verkies dat ’n boek teen ’n “geweldige tempo voortstu. Daar moet goed gebeur en hulle moet vinnig gebeur. Pleisters vir die dooies is in 2011/12 geskryf oor ’n tydperk van twee maande. Agterna was daar ook weergawes van die manuskrip waarin ek die pa-seun- en ma-seun-verhouding probeer uitbou het. Uiteindelik is die tonele geskrap en die boek weer tot op die been gesny om by die essensie uit te kom.

“Dit was ’n groot verligting om die donker knaap uiteindelik uit my kop te kry. Daar is sewentien weergawes van die manuskrip op my rekenaar. Soms het lang tye tussen sekere weergawes verloop. Dan moes ek die karakter weer gaan opsoek en sy chaos en woede in my kop toelaat. Op ’n stadium het dit gevoel of ek nie van hom ontslae gaan raak nie.”

Pleisters is vir ouer tieners geskryf (17+), sê Fanie. “Daar is min Afrikaanse boeke vir hierdie lesers. Hulle gaan lees daarom eerder Engelse boeke. Jong volwassenes en ouers sal beslis ook iets in die boek vind. Dalk sal brawe skole hom gebruik. Die ideale leser van ’n boek soos Pleisters is tieners wat nie inpas nie, wat ’n buitestander is.”

Naomi Meyer stel dit aan Fanie dat pleisters nie genees nie en dat dooies klaar dood is. Hoe het die titel na hom gekom? “Dit is een van die onverklaarbare dele van skryf. Die titel was eendag net daar. Dit is ’n manier van sê: as ons nie nou meer aandag aan ons jeug gee nie, sal dit mettertyd te laat wees vir trane. Sal ons wil help eers as dit te laat is?”

Op LitNet skryf Jaco Fouché dat die boek meer as gangbaar is en dat tieners wat die wêreld in baie van sy fasette reeds verken en ervaar het, aangetrokke tot die boek sal wees. “Viljoen verskaf as’t ware ’n uitlaatklep vir opgekropte emosies. Sommige mense mag redeneer hy loop gevaar om selfs rigting te gee aan enkele besonder ongelukkige siele wat nie meer herwaarts of derwaarts weet nie. (...)

“Sowat van ’n spanningslyn kry ’n mens nie oral nie en dit word deurentyd gehandhaaf – dit versnel selfs, hoe dieper ’n mens die donkerte van die verteller se nag op straat ingaan. Die einde is ’n openbaring, ’n verligting en moontlik ’n verlossing (waarop die eerste afdeling se titel, ‘Verlosser’, reeds sinspeel, hoewel ’n mens vroeg in die boek die woord eerder as wrang en ironies ervaar).”

In 2016 is ’n plekspesifieke produksie van Pleisters vir die dooies op die skoolterrein van die Oranje Hoër Meisieskool opgevoer as deel van die Vrystaatse Kunstefees. ’n Kernspan van agt akteurs (onder andere Wilhelm van der Walt, Nelien Smith en JP de Plessis) het saam met 30 leerders die verwerking opgevoer. Nico Scheepers was die regisseur en Hennie van Greunen die vervaardiger. Van Greunen was ook die persoon wat Fanie se boek in ’n toneelstuk verwerk het.

Van Greunen het ouers voor die tyd gewaarsku dat as hulle ’n probleem met die boek gehad het, hulle kinders liefs nie moet deel wees van hierdie grensverskuiwende projek nie.

Anton Smith het soos volg oor die stuk geskryf: “’n Eietydse nuutgeskrewe drama wat teatergeskiedenis maak. Dit is essensiële teater vir ons tyd. Die drama lewer kragtige eietydse kommentaar oor ’n generasie wat uit ’n gebroke en onbeholpe generasie ontspring het. Die verrassende einde bring hoop en ’n geestelike deurbraak, nie net in die seun nie, maar ook in die lewens van soveel jongmense vandag.” (Die Burger, 16 Julie 2016)

2014 was ’n goeie jaar vir Fanie. ’n Maand ná die publikasie van Pleisters verskyn sy volgende jeugroman met die titel Uit. En weer pak Fanie ’n omstrede kwessie aan met hierdie boek.

In Uit leer die leser vir Brent ken, ’n graad 10-seun en ’n talentvolle rugbyspeler. Sy beste vriend en rolmodel is Kevin wat nie net ’n goeie sportman is nie, maar ook voor in die koor is as dit by meisies, drank en partytjies kom.

Brent raak al hoe meer bewus daarvan dat hy nie soos meeste van sy maats is nie. Hy probeer die gevoelens onderdruk, maar uiteindelik loop sy innerlike konflik uit tot by die punt waar hy nie anders kan as om te erken dat hy gay is nie.

Fanie vertel op LitNet dat hy Uit geskryf het om aan tieners wat met hulle seksualiteit worstel, ’n eie stem te gee en te wys dat daar ander is wat met dieselfde probleme sit. “In ’n sekere opsig is daar deesdae ’n groter aanvaarding vir gay mense, maar daar is steeds mense wat geweldig teen die leefwyse te velde trek. Talle jongmense het daarom ’n ontsaglike vrees om uit te kom en hul ware self te wees.”

Uit is in 2015 deur die Suid-Afrikaanse been van die International Board on Young Books for Young People (IBBY) gekies en as ereboek in die kategorie vir Afrikaanse jeugliteratuur aangewys. Uit sal dus deel uitmaak van die internasionale erelyskatalogus wat tweejaarliks deur IBBY saamgestel word. Vir Fanie was hierdie benoeming van IBBY vir hom ’n groot eer. “Ek is trots daarop dat Uit ons land kan verteenwoordig by kinderboekfeeste regoor die wêreld. Dit alleen wys Suid-Afrika het al ’n lang pad gestap om die skaamte van gaywees af te skud. Ek wil dan ook my uitgewers, LAPA, bedank dat hulle die boek gepubliseer het. Dit verg ’n uitgewer met moed om so ’n risiko te neem.”

Op LitNet skryf Coenraad Walters dat die skrywer Brent se binnereis goed en oortuigend uitbeeld: “Daar is dikwels oomblikke wat die leser sal herinner aan die stommiteit van jou eie tienerjare. Die karakterbeelding, skryfstyl, dialoog – alles dra by tot ’n meevoerende vertelling. Maar die waarde van die boek lê nie slegs in Viljoen se herhaalde demonstrasie dat hy uitstekend kan vertel nie – dit lê ook in die onderwerp en die vernuwende bydrae wat dit in die Afrikaanse letterkunde vir jonger lesers bring. (...)

“Met Uit bou Viljoen sy eie indrukwekkende publikasielys en die tienerfiksiegenre in Afrikaans positief uit met nóg ’n verhaal wat ver en wyd gelees moet word. Vele tieners gaan hulle eie stryd hierin weerspieël sien. Duisende meer gaan besef wat hul maats of familielede deurmaak.”

Ook op LitNet skryf Dewald Koen oor Uit. “Met Uit het Viljoen ’n omstrede tema as onderwerp vir sy roman gekies – iets wat nog nooit tevore in die Afrikaanse jeugliteratuur gedoen is nie. Die roman is prysenswaardig, aangesien dit homoseksualiteit op ’n objektiewe wyse deur middel van die narratief bespreek. Die nawoord bevat waardevolle inligting vir tieners wat aspekte rondom hul seksuele oriëntasie wil ondersoek.

“Ten spyte van die boeiende narratief wat Viljoen aanbied, is daar egter sekere vrae wat geopper moet word. (Dan wei Koen uit oor Brent se verhouding met ’n meisie en die skoolhoof se homofobie wat volgens hom bevraagteken kan word.)

“Laasgenoemde faktore doen egter nie afbreuk aan die roman as geheel nie. Uit is baanbrekerswerk sover dit die Afrikaanse jeugliteratuur aangaan. Met hierdie roman slaag Viljoen daarin om homoseksualiteit, ’n kwessie waarmee talle tieners (en volwassenes) worstel, op ’n realistiese wyse uit te beeld. Die roman sal wel aanklank vind weens die gemaklike taalgebruik en die realistiese uitbeelding van tieners oor die algemeen. Beide Viljoen en LAPA moet geloof word vir die feit dat hul dit gewaag het om ’n jeugroman oor gaywees met ’n gay hoofkarakter te skryf en te publiseer. ‘Elke mens moet iets doen wat hom bang maak. Al is dit net een keer in jou lewe, doen iets wat jou bang maak...’ (91) Met laasgenoemde aanhaling bied Uit hoop aan talle mense wat met hulle seksuele oriëntasie worstel. Met dié roman toon Viljoen weer eens dat hy sy vinger stewig op die pols het van aktuele kwessies wat die jeug op ’n daaglikse basis affekteer.”

En toe in 2015 verskyn Fanie se eerste roman vir volwassenes getiteld Prooi. Hy vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat toe hy die storie begin skryf het, dit eers bedoel was as ’n verhaal vir ouer tieners, maar toe het hy besef dat die finale tonele waarop die roman afstuur, eintlik bedoel is vir ouer lesers. “Ek het daarom op advies van my jeugverhaaluitgewer die boek verander vir die volwassene-mark. Die karakters is ook ouer gemaak en die storielyn sterker. In kort is daar die klassieke driehoekverhouding: Cody Young is die rokjagter wat op soek is na sin in sy lewe; Owen Jooste is die hokvegter wat wil wegbreek van sy verlede en sy toekomsdrome wil najaag; en tussen hulle is die sensuele Lauren Cooper, wat op ’n pad van selfvernietiging beland. Die bestaan, al dan nie, van ’n Boheemse nagklub, Black Valentine, dryf die spanning tot ’n klimaks.”

Jonathan Amid (Die Burger, 6 Junie 2015) was baie positief oor Fanie se eerste roman vir volwassenes. “Wat die verhaal tot op die breekpunt dryf, is die verwikkelde, fanatiese spel tussen jagter en prooi, en die voortreflike wyse waarop die grense tussen jagter en prooi deurgaans verduister word.

“Viljoen slaag uitstekend daarin om geloofwaardigheid, dimensie en tekstuur aan sy eg menslike hoofkarakters te gee.

“Deur die najaag van by tye bloedstollende spanning uitstekend af te wissel met gelaaide vertellings wat genoegsaam op elke hoofkarakter fokus, oortuigende, byderwetse dialoog, ’n aanvoeling vir die Kaapse milieu en subtiele deernis vir individuele gebrokenheid, is dié vaardige skrywer ook in staat om snydende maatskaplike kommentaar te lewer op die uiterstes van vervlakking en vervreemding (wat veral duidelik is tussen jong volwassenes wat op die voorpunt van moderne tegnologie hul – digitale – bestaan voer).”

Op LitNet skryf Henriëtte Loubser dat Prooi beskou kan word as ’n goeie voorbeeld van New Adult Fiction (NAF) of Nuwe-volwassene-fiksie (NVF) in Afrikaans. Dit is leesstof waar die karakters tussen 18 en ongeveer 25 jaar is.

Sy gaan voort: “Drie jong protagoniste, elk met hulle kwellings en kwessies, word in Prooi aan die leser bekendgestel. Daar is onverwerkte familiesake, slegte gesinsverhoudings, die smet van verfoeilike ouers, die druk om te gaan studeer, probleme by die werk, die vrees vir verwerping, die verlies van ’n geliefde, jaloesie, verkeerde keuses en lyflike swakhede.

“Van die lyflike gepraat: die seksfaktor in Prooi is prominent. Afgesien van die boeiende storielyn en die snelle pas van die verhaal is daar eksplisiete seksuele inhoud. Benewens die sekskapades van Cody is daar die intense fisieke sy van die verhouding tussen Owen en Lauren. Daar is rou begeerte ook by newekarakters soos Aga en midde-in hierdie spel met die lyflike staan Black Valentine en sy madame Diana. Die nagklub word vir die leser ’n karakter op sy eie, een wat dreigend die spanning aanvuur tot die klimaks teen die einde van die verhaal.

“In die woorde van Chanette Paul, ’n keurder vir LAPA, is ‘die seksuele jagter nog nie voorheen só in Afrikaans omskryf nie. Die teks sal die leser van die begin af versmoor in die komende verdoemenis wat eenvoudig móét opdaag ...’ Hierdie spanningslyn hou Viljoen immer stygend en deurgaans tasbaar. Sy karakters is geloofwaardig, soms bejammerenswaardig en goed ontwikkel, soos in al sy werk.

“Die taalgebruik in Prooi is gepas binne die NVF-genre. Dis loslit en jeugdig, soos dit hoort, maar tog ook met ’n aangrypende diepte waar nodig: ‘Hy kyk hoe die laaste sonlig oor sy ma se fyn hare en hartseer mond val. Dis moeilik om te dink dat sy eens so gelukkig was.’

“Fanie Viljoen is ’n uiters produktiewe skrywer. Boeke rol eenvoudig uit sy pen voort. Prooi het pas verskyn en daar is blykbaar reeds weer etlike boeke in wording. Alhoewel hierdie sy eerste boek vir die volwassenemark is (daar het reeds radiodramas, gedigte en kortverhale vir die ouer leser verskyn), sal Prooi hopelik dan ook nie die laaste wees nie.

“Vir die connoisseur van die psigologiese riller mag Viljoen met Prooi dalk nog nie die formaat van ’n Chris Karsten ewenaar nie, maar as ’n debuut in hierdie genre stel Prooi sy skrywer se aanhangers allermins teleur.

Prooi sal waarskynlik uiteenlopende reaksie ontlok. Dit ontsien immers geen sensitiewe siel nie. Daar sal lesers wees wat hier vergeefs na Viljoen se jeugverhale gaan soek. Daar sal dié wees vir wie die blatante erotiese aard van Prooi en die ontbloting van die donker siel van die mens onaanvaarbaar sal wees, veral gesien in die lig van die ouderdom van die hoofkarakters. Maar dan sal daar diegene wees vir wie die felheid, die intensiteit van die emosies vreeslik (maar tog so mooi) sal wees – diesulkes wat daardie dramatiese, angst-gevulde en stomende tydperk tussen adolessensie en volwassenheid sal herken en so ’n ontstellende, onvergeetlike leeservaring sal geniet. Prooi het ’n treffende voorblad wat deur lesers self uitgekies is.”

In 2010 het Tafelberg Uitgewers Fanie genader met ’n versoek om Jan Payne, ’n skrywer wat in Frankryk woon, se The World’s Best Book in Afrikaans te vertaal, asook om interessante Suid-Afrikaanse feite by te werk. Fanie het hierdie projek baie geniet. “Ek het op soveel vreemde feite afgekom. Soos dat die kortste vrou in die land hier in Bloemfontein woon. Dit was ook ’n uitdagende projek. Dit is die heel eerste keer dat ek iemand anders se boek moes vertaal. Maar dit was opwindend juis omdat daar soveel interessanthede voorgekom het,” vertel hy aan Karen Ebersohn (Volksblad, 26 September 2011).

Met Dromers wat in 2017 by LAPA uitgegee is, delf Fanie weer in die kop van tieners wat groot drome droom. Dit vertel die verhaal van Byron Carelse wat ’n passie het om te dans – op enige plek waar hy kom, dans hy vir ander mense. Maar hy dra ook ’n geheim met hom saam – sy ma het ’n aftakelende siekte en hy is die een wat na haar moet omsien. Louise Viljoen vertel verder op Maroela Media: “Dan gebeur ’n wonderwerk. ’n Talentsoeker sien hom en sy vriendin, Tasha, raak en nooi hulle om deel van ’n geselskap te wees wat tydens die kunstefees by die Sand du Plessis-teater gaan optree. Dit kos egter geld en die kinders moet self betaal.”

Dan gebeur daar iets vreesliks wat die kinders se planne gedaan maak. Louise Viljoen skryf verder: “Byron besluit egter om nie langer ’n slagoffer van sy omstandighede te wees nie en hy vra hulp vir sy ma. Wanneer hy en die Dromers wel die kans gegun word om hulle drome op die verhoog uit te lewe, wéét hulle dat dit hul oomblik in die kollig is. (...) Dromers is geskik vir lesers 11 jaar en ouer. Die boek is in maklik verstaanbare taal geskryf – perfek vir trae lesers of diegene wie se moedertaal nie Afrikaans is nie. Viljoen se meesleurende skryfstyl en die treffende wyse waarop hy die leefwêreld van ’n tiener wat in moeilike omstandighede probeer oorleef, verwoord, het my beïndruk.”

Dromers is ook in Engels uitgegee onder die titel Dreamers.

Met Fanie se volgende tienerboek, Veldiep (2018), delf hy in die liefdeslewens van tieners. En, skryf JB Roux op Netwerk24, Fanie Viljoen kan ’n menéér van ’n liefdesverhaal skryf.

“Dis ’n kalwerliefde-storie wat aansluit by onlangse Afrikaanse flieks soos Jou Romeo en by albei geslagte sal aanklank vind,” skryf Roux verder. “Tim se hart is gebreek toe sy meisie, Jessica, hom afsê vir ‘iemand anders’. Amber se lewe is stukkend nadat sy deur haar eie toedoen uit baie oorde moet hoor hoe lelik sy is. So lelik soos ’n slang, Facebook iemand. Ouch.

“Tim en Amber leer mekaar deur geselsies in die donker ken ... nie ’n ‘metaforiese’ donker nie en heel onskuldig. Dis, terloops, verfrissend dat die held en heldin nie uit disfunksionele gesinne kom nie. Hierdie boek is nie bedoel om jou wind uit te slaan met die spreekwoordelike seks met die duiwel nie ...

“Die geselsies pas Amber omdat Tim nie kan sien dat sy nie so mooi is soos tienerseuns van hul meisies hou nie. En dit ráák jou dat ’n tienerseun in ’n meisie belangstel sonder om te weet hoe sy lyk. Daar is ’n Jesebel in die prentjie. En die skoorsoekerige lummel wat Jessica by Tim afgevry het. (...)

“Die sedeprekie spreek vanself: skoonheid is veldiep, maar dit voel nie of die prekie aan lesers opgedwing word nie en dié waarheid is goed van toepassing op ’n spookasemgenerasie. Die karakters is totaal geloofwaardig en nogtans, of dalk daarom, interessant. Dit is nie ’n stroopsoet boek vir 11-jariges hierdie nie, eerder vir ‘jong volwassenes’ van 12 tot 18 jaar: die eenvoud en liefdestema beteken nie dat lesers se intelligensie onderskat word nie.”

Ook in 2019 word Die dag toe die draak kom gepubliseer en oes Fanie drie pryse daarmee in – die 2019-Woord-trofee, die MER-prys vir geïllustreerde kinderliteratuur vir 2020, asook die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur vir 2021. Met hierdie verhaal pak Fanie die netelige saak van kindermolestering aan en om te beklemtoon dat nie net meisies nie, maar ook seuns misbruik kan word, het Human & Rousseau twee weergawes uitgegee met die subtitels: ’n boek vir meisies en ’n boek vir seuns. En albei boeke is ook in Engels uitgegee om dit aan meer lesers toeganklik te maak.

Op Maroela Media praat Fanie met Esté Meyer Jansen oor Die dag toe die draak kom en hoe dit ontstaan het: “Ek het ’n paar jaar terug die rolprent Spotlight gesien wat handel oor joernaliste wat seksuele misdrywe ondersoek het en Suid-Afrika het ook op die lys verskyn waar van hierdie misdrywe gepleeg is. Later het ek ook bewus geword van mense in my eie vriendekring wat in hulle kinderjare seksueel misbruik is. Dit het my laat besluit om iets daaraan te doen en ’n boek daaroor te skryf.”

Dit was nie vir Fanie maklik om die boek te skryf nie, maar hy het nog nooit gehuiwer om netelige onderwerpe in sy skryfwerk opsy te skuif nie: “Ek het die boek soos ’n speurverhaal geskryf sodat kinders self die tekens kan sien van wanneer iemand hulle begin gereedmaak (groom) vir seksuele misbruik. Hierdie boek is uit en uit geskryf vir ’n pa of ’n ma om dit saam met jou kind te lees sodat hulle vrae kan beantwoord en hulle deur die storie kan help. (...)

“Ek hoop my boek maak kinders, ouers en onderwysers se hande net sterker. Ek glo dit is makliker om met kinders oor hierdie onderwerp te gesels as jy ’n storie as wegspringplek het en kinders hulself in daardie storie kan sien.

“Ek het probeer om dit verskriklik sensitief te skryf want ek besef hierdie is ’n verskriklike moeilike tema, maar ek glo hierdie boek gaan ouers, onderwyser, oumas en oupas en enigiemand wat iewers met ’n kind moet werk vir wie hulle baie lief is, help om te keer dat die kind een word van daardie een derde kinders wat misbruik word in ons land.”

Fanie gesels op LitNet ook met Naomi Meyer oor die onderwerp van kindermisbruik. En vertel aan haar van sy navorsing wat hy gedoen het vir Die dag toe die draak kom: “Ek het baie gaan oplees oor die onderwerp en het via ’n pediater kennisgemaak met dokter Marianne Kotzé. Sy het my verskriklik baie gehelp en het jare se kennis oor die onderwerp. Sy ondersoek onder andere kinders wat seksueel misbruik is en getuig later in die hofsake. Edith Kriel van Jelly Beanz Inc het ook via Skype en e-pos gehelp, en die manuskrip voor publikasie gelees.”

“Die hoofkarakters, Kyla en Kevin, word deur ’n ooglopend ouer sussie, Abby, gewaarsku teen ’n draak in die huis,” skryf Magdel Vorster op Netwerk24 (3 Maart 2019). “Viljoen gebruik die draakmetafoor slim: In hul onderskeie fantasiewêrelde is Kyla ’n prinses en Kevin ’n ridder wat albei deur ’n draak bedreig word. Al twee hou hulle oë oop om uit te vind wie die draak is wat volgens Abby soms soos ’n mens lyk.

“Wanneer die draak dan wel gemoedelike en gemaklike grense oortree, lei ’n voorligtingsles van juffrou Arendse uiteindelik tot die ontmaskering van die draak in die huis. (...)

“Die skrywer het duidelik omvattende navorsing gedoen. Waaroor dit uiteindelik gaan, is dat daar met kinders oor seks gepraat moet word en dat ’n mens geen suggestie of vermoede van misbruik mag ignoreer nie. Met hierdie toeganklike verhaal, sjarmant geïllustreer deur Tumi K Steyn, spreek Viljoen ’n netelige onderwerp sensitief, maar dapper aan en sonder om doekies om te draai.

Die dag toe die draak kom móés geskryf word, en net so moet dit wyd gelees word en oor geskryf en gepraat word.”

In ’n onderhoud op LitNet gesels Fanie met Naomi Meyer en vertel haar meer oor sy volgende jeugroman Brand wat in 2019 gepubliseer is. Sy wou meer by hom weet oor hoe ’n storie vir hom ontwikkel. Hy antwoord: “Elke storie meld homself op sy eie manier aan. Soms kry ek eers die karakters, en ander kere eers die storie. Brand het soos ’n klein vonk begin wat in ’n vlam verander het. Die twee hoofkarakters en die storie het dit in ’n groter vuur verander.”

En hy wou ’n verhaal skryf wat deur ouens én meisies gelees en geniet sou word. Om dit reg te kry, het hy van wisselende perspektiewe gebruik gemaak, sê hy: “Dit maak ’n storie interessant om dit vanuit twee wêreld te beleef.”

Omdat Fanie ook skilder, sien hy die storie in sy kop afspeel terwyl hy skryf: “Dis dalk hoekom jongmense dit graag lees; hulle word groot met videobeelde. Wanneer ek skilder, is dit soos meditasie. Soms kry ek oplossings vir skryfprobleme, maar meestal laat dit my net afskakel. Dis ook nodig. Mens word oorweldig deur storiewêrelde en karakters.”

En as hy Brand sou skilder, hoe sou hy dit doen? “As ek die boek sou skilder, sou dit dalk twee karakters wees wat in die vlamme staan, onaangeraak daardeur. Ek versamel graag foto’s as inspirasie vir ’n boek. Die foto’s in die berig lê in my rekenaarlêer vir Brand en gee ’n kykie agter die woorde.”

Anke Theron skryf soos volg oor Brand op LitNet: “Hierdie boek is beslis vir enige leser wat die somervakansie aan die brand wil lees. Die eenwoord-titel is beslis ’n vooruitwysing vir die verhaalgebeure, maar glad nie wat die leser verwag nie. Die storielyn sal enige tiener se aandag trek en behou tot die heel einde.

“Daar is twee storielyne wat uiteindelik met mekaar verbind word, alhoewel die leser dit nie sal sien kom nie. Vir die leser wat dink die skrywer het iewers dalk die ‘plot’ verloor, lees net verder – die goeie goed kom nog. Die hoofkarakter, Arian, probeer op sy manier uitpluis waar hy in die wêreld hoort, want hy is nie ’n swemjock soos sy broer nie en ook nie ’n akademiese uitblinker soos sy sussie nie. Estie het iemand ná aan haar verloor en ontwikkel ’n bietjie van ’n obsessie met Arian. (...)

“In hierdie geval het Viljoen die leefwêreld van die karakters baie goed uitgebeeld en praat die karakters uit die monde van werklike mense. Arian se fassinasie met ’n verlate ou huis is oortuigend en nie sommer vir die ‘show’ nie.

“Die leser kan iets dieper oor die karakters leer, sou daar na plekke, objekte en figure as simbole gekyk word, veral omdat daar groot verandering in Arian se lewe plaasvind.

“Viljoen kry dit reg om in sy karakters se koppe te klim, sonder om vir hulle te dink. Die karakterisering is uitstekend gedoen, soveel so dat ek as leser met tye my vervies het vir heel party karakters se gedrag en uitlatings. Die gebruik van ’n derdepersoonsverteller skep die regte hoeveelheid afstand, maar terselfdertyd ook betrokkenheid, want die leser weet wat in albei karakters se lewens aangaan. Dit help om Estie en Arian se storielyne met mekaar te verbind. Dit is narratologies goed geskryf, maar ook nie oordoen sodat die verteller sy leser verveel of probeer preek nie.

“Dit is goed om te sien daar word akkurate verwysings in jeugfiksie gemaak. Dis iets wat lankal algemeen in volwasse tekste voorkom, maar word minder gereeld in jongvolwasse- of tienerverhale gebruik.

“Ten slotte is hier ’n hele string verskuilde lewenslesse om te leer. Viljoen kry dit reg om opregte tienerkarakters te skep wat ’n ongewone verhaal tot gevolg het. Daar is selfs elemente van jongvolwasseliteratuur te bespeur en lei tot ’n teks wat dit moeilik maak om net as jeugfiksie of jeugliteratuur te klassifiseer. Beslis ’n boek om op enige leser se vakansieleeslys te plaas.”

In 2020 ontvang Fanie twee ATKV-Woordveertjies in die Selfleeskategorie: graad 4–5 vir Aksieheld Austus: Onheil op Skedelbaai– een vir die teks en een vir die illustrasies (hy het die illustrasies self gedoen). Hy het ook albei Woordveertjies ontvang vir Slym en die gogga-sirkus (2008) en Slym en die beker van geluk (2010).

Offers vir die vlieë word in 2020 uitgegee en vir Izak de Vries is die boek “donker en gewelddadig”, asook ontstellend. De Vries skryf dit toe aan die feit dat hy self in die weermag was. Offers is ook in 2020 aangewys as die wenner van LAPA se jeugromanwedstryd. Fanie palm ook die 2022-Scheepersprys vir Jeuglektuur en ’n ATKV-Woordveertjie (2021) vir graad 8–10 met Offers vir die vlieë in. Die Engelse vertaling, Sacrifice to the flies, het in 2022 ook by LAPA verskyn. Hierdie Engelse vertaling het Offers vir die Albanese uitgewery Ombra GVG toeganklik gemaak en hulle het aansoek gedoen by die PEN Afrikaans Vertaalfonds om Offers in Albanees te vertaal. Elisa Ivanaj is die vertaler en Theror per Mizat is in 2023 gepubliseer.

Jonathan Amid is die resensent van Offers vir die vlieë op Netwerk24 (15 November 2020): “Alfa Opleidingskamp is waar die walglike sersant Torsten 30 jong mense meedoënloos dril vir ’n jaar totdat daar slegs ses van hulle oor is. Eliam is een van die ses wat oorbly – uit die 30 is twee dood en een verlam, met geen sekerheid oor wat van die ander geword het nie. Sy verhouding met Torsten is een van die roman se eerste, belangrike fondamente.

“Die haatlike Torsten word een aand deur een van die ses soldate doodgesteek, moontlik deur Eliam self. Die verhaal is tegelyk ’n spannende ondersoek na dié moord, ’n verhandeling oor die verwoestende impak van oorlog en indoktrinasie op die psige van jong soldate, en ’n vlugvoetige aksieverhaal danksy Viljoen se minder-is-meer-benadering. Kort, kragtige hoofstukke met paragrawe wat elkeen ’n volgende prik van die naald verskaf, lei uiteindelik tot ’n soort woorde-tatoeëermerk wat geskep word.

“Jy hou elke oomblik van die karakters se waansin, pyn, onsekerheid en vrees dop en sien teen die einde presies hoe strategies die skrywer te werk gegaan het. Hy skep ’n volkome oortuigende distopie gestroop van oortollige vet en oordaad.

“Daar is ’n baie goeie rede waarom tieners so gaande is oor Suzanne Collins se Hunger games en Fanie Viljoen se boeke. Die distopiese wêreld wat dié skrywer skep waarin die jong helde ’n verskeidenheid uitdagings moet trotseer en die oorgang na volwassenheid maak, oorvleuel sterk met die onsekerheid en verskeie konflikte van die tienerwêreld. (...)

“Wat Viljoen met Offers vir die vlieë doen is om ’n oorlogsverhaal te pen vir ’n nuwe geslag wat nié op die grens gaan veg het nie. ’n Geslag met ouers en grootouers wat oorlog beleef het en so dikwels nog die letsels van daardie geveg binne en buite dra.

“Dit is ’n roman oor kindersoldate, indoktrinasie, magsvergrype, magsug, hebsug, die versugting om sterker en slimmer en meer vaardig as die vyand te wees. Die begeerte om ten alle koste weer en weer terug te baklei. Die tragiek van drome wat oorleef word, en dromers wat hopeloos te jonk sterf. Uitsiglose bestaan en naakte vrees teenoor weerloosheid en barmhartigheid. Die opofferings wat dit verg om ’n stelsel op te bou en aan die gang te hou.”

In November 2020 verskyn die eerste deel van Fanie Viljoen se nuwe fantasiereeks Wêreld van die wolwe: Eerste bloed. Die reeks is gemik op jong tieners en die hoofkarakter is Joshua Reinders. Hy en sy pa moet na ’n klein dorpie in die berge vlug. Op Droomhoek wag die weerwolwe.

Fanie vertel aan Alita Steenkamp (Afrikaans.com) dat die idee vir die reeks heelwat vroeër by hom posgevat het. Sy broer het by ’n videowinkel gewerk en hulle kon gratis die video’s uitneem en só het hy op An American werewolf in London afgekom: “Die storie van die jong man wie se paaie kruis met weerwolwe is hierdeur geïnspireer,” vertel Fanie.

In die tweede boek van die reeks, Tweede asem, probeer Joshua sy nuwe identiteit as weerwolf vir sy pa geheim hou. Sy nuwe vriend, Ash, help hom om sy nuwe magte as weerwolf te beheer, skryf Irene Schoonwinkel op LitNet.

Schoonwinkel gaan voort: “Buiten die spanningsvolle storie wat Fanie Viljoen in Tweede asem optower, is dit prettig hoe Viljoen ou tradisionele taalgebruik saam met meer moderne Afrikaans in sy roman inweef, asook sinspeling op tradisionele kinderstories en verwysings na wolf-idiome.

“Dit was ongelooflik lekker om vir ’n slag ’n fantasieboek in Afrikaans te kon lees wat nie ’n vertaling was van ’n oorspronklike Engelse roman nie. Daar is ’n groot leemte in die fantasiegenre in Afrikaans wat Viljoen met sy reeks vul. Ek sien gretig uit na die laaste boek in die reeks wat einde 2022 sal verskyn. Mag Viljoen se reeks ’n inspirasie wees vir nog baie meer Afrikaanse fiksie en hopelik nie net vir tieners nie!”

In die derde boek in die reeks, Die derde mag, word die spanning nog verder verhoog toe die leier van die Wêreld van die Wolwe, Wolfgang Lyacon, in Droomhoek opdaag. Hy is vas oortuig Joshua behoort aan hom en as hy nie vir Joshua kan kry nie, gaan hy sterf.

So tussen al sy ander skrywery deur moet Fanie ook nog onthou om die reekse wat hy skryf, by te hou. Ná die sukses van die eerste twee Aksieheld Austin-boeke – Operasie sabotasie (2014) en Nag van grille (2018), volg Onheil op Skedelbaai in 2019 en in 2021 Doodskreet van die Dino’s. En in hierdie boek kan die leser verder lees oor Ewald, die ster van die gewilde Aksieheld Austin-rolprente, en sy avonture.

In 2016 is ’n kortfilm waarvan Fanie die draaiboek geskryf het op kykNET & Kie uitgesaai en in 2020 het Fanie die draaiboek verwerk tot ’n dramateks en is dit gepubliseer onder die titel Môre as ons groot is. ’n Vorige drama van Fanie, Betower die drama, is by FET-skole voorgeskryf.

Môre as ons groot is beskryf die tyd net na die matriekafskeid en die after-party: “Dis matriekafskeid – die wonderlikste aand in elke tiener se lewe. Maar wat gebeur wanneer dit verby is? Wanneer selfs die after-party end kry? Vier jongmense staan op die grens van hulle grootmenslewe. Vanaand neem hulle afskeid van hulle skool – hulle vriende – hulle kindwees ... en dalk hulle drome. Hierdie dramateks is geskik vir hoërskoolleerders (15+).” (Luister gerus op LitNet na die Zoom-onderhoud wat Anke Theron met Fanie gevoer het oor Môre as ons groot is.)

2020 was (soos elke jaar) ’n baie besige en produktiewe een vir Fanie Viljoen. Hy het in 2016 ’n novelle The last time I diedgeskryf en hy het dit toe in Afrikaans vertaal, maar die uitgewer was van mening dat dit nie in Afrikaans sou werk nie. Jare later, toe daar nuwe uitgewers by LAPA is, het hulle egter besluit om die novelle eerder as ’n grafiese roman in Afrikaans te publiseer onder die titel Laaste lewe, vertel Fanie in ’n onderhoud met Estelle Kruger op LitNet.

Die illustrasies vir Laaste lewe is deur Daniel Hugo gedoen en Kruger wou by Fanie en Daniel weet hoe die proses verloop het om ’n grafiese roman te skep. Hierop antwoord Fanie: “Die storie was eerste daar. In die vorm van ’n novelle. Met die herskryf moes ek egter in prentjies begin dink. Dit was uitdagend, maar ook pret.”

Daniel se reaksie volg: “Altyd eers die storie. Die uitgewer het vir my Fanie se teks gestuur en dit was duidelik dat Fanie verstaan hoe ’n comic moet lees (slegs een aksie per raampie en om eerder dinge te wys as om dit te beskryf). Van daar het ek deur die teks gegaan en die raampies op so ’n manier gegroepeer dat daar ’n goeie bladsyritme kon wees en dat sekere onthullings op die volgende bladsy aan die leser openbaar sou word. (Ongelukkig het die ontwerper nie die nota gekry nie en het die storie nie op die regterhandse bladsy begin nie. Dit het gemaak dat die storie nie so mooi lees soos ek graag sou wou hê nie.) Vandaar het ek begin om die karakters te ontwerp en om verwysingsprente te versamel om te help met die visualisering. Ná almal gelukkig was met die karakterontwerpe het ek begin om die bladsye uit te lê en te potlood voor die finale ink.”

Kruger wou by die twee manne weet wat die skep en ontwikkeling van Laaste lewe vir hulle elkeen beteken het: Fanie: “Dis ’n droom wat waar geword het. Ek besef hoeveel ure, bloed en sweet in so ’n grafiese roman ingaan, daarom is ek trots op die eindresultaat. Daniel se illustrasies is wêreldklas.” Daniel: “Ek het dit geniet om aan ’n storie te help skep waar ek baie vryheid gehad het wat betref die uitleg en karakter-ontwerp, asook dat ek in ’n meer swart-ink styl moes werk as waaraan ek gewoond is – dus, met baie skaduwees, ensovoorts. Dit was ook lekker dat die storie in Afrikaans is en hopelik lei dit tot nog sulke projekte in die toekoms en ’n groter plaaslike grafiese roman-lesersmark.” (LitNet, 2 Augustus 2022)

Cari Cloete skryf soos volg oor Laaste lewe op Storiewerf: “Laaste lewe (2020), Fanie Viljoen se eerste grafiese roman (uitstekend geïllustreer deur Daniel Hugo), handel oor ’n jong seun met die naam Sam wat sy pa se dood wil wreek. Die illustrasies op die voorblad beeld Sam en sy grafgrawer-vriendin, Claire, uit – dié gewapen met ’n graaf. Vanaf die nagblou hemelruim gluur die booswig en man waarop Sam wil wraak neem hulle aan, die formidabele Swart Kraai.

Laaste lewe is gebaseer op Fanie Viljoen se novelle The last time I died wat in 2016 deur Ransom Publishing uitgegee is. Die verhaal speel af in ’n tipiese Middeleeuse fantasieruimte waar enorme kastele, rowers wat in die woud wegkruip, magiese ingrypings en heldhaftige swaardgevegte volop voorkom. Daniel Hugo maak ook gebruik van Gotiese elemente – begraafplase, grafskending, geraamtes, vloeke, donker kelders, verlate gange, en mense wat lewendig begrawe word – wat bydra tot die verhaal se somber atmosfeer. Hugo se gedetailleerde achromatiese illustrasies gekombineer met Viljoen se spaarsamige, maar effektiewe woordgebruik, skep volgehoue spanning in die roman wat waarborg dat die leser die boek nie sommer gaan neersit nie.

“Lees kan ’n uitstekende tydverdryf wees. Ongelukkig het die meeste mense bedrywige lewens en stywe skedules wat geen tyd aan ’n vyfhonderdbladsy roman kan afstaan nie. Grafiese romans en strokiesprente is wonderlike leesstof vir diegene wat nie kans sien om elke aand deur ’n hele hoofstuk te sloof nie. In Laaste lewe gebruik Viljoen natuurlike dialoog en kort, vloeiende sinne wat maklik lees. Ek beveel hierdie epiese werk aan vir tieners en volwassenes wat ’n voorliefde vir fantasie en grafiese romans deel.”

In 2021 publiseer LAPA die eerste Ouma Mollie-storie, Ouma Mollie en die mensvreter, en in 2023 volg Ouma Mollie gaan terug skool toe. Dewald Koen skryf op LitNet dat hierdie boeke ideaal is om die trae leser aan boeke voor te stel én hulle vasgenael te hou. ’n Leesgids vir albei titels is ook beskikbaar.

“Nina het ook ’n ouma. Ouma Mollie. Sy het ’n baie lang en vreemde naam: Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Dit is omtrent ’n mondvol. Maar Nina se ouma is sommer vrekstout. Sy lyk soos ’n ouma met haar grys hare en ’n bril, maar sy tree definitief nie soos ’n gewone ouma op nie. Ouma Mollie is slim en nuuskierig. Soos die meeste oumas hou sy daarvan om te bak. Maar o wee! Die konkoksies waarmee sy vorendag kom, is soms net te vreemd. Fudge met seewier daarin. Sies! Soos elke kind, moet Nina smiddae huiswerk doen. Maar Ouma Mollie is weer nuuskierig en loer oor haar skouer. Toe wil sy skielik weet wat ‘priem-torre’ (priemgetalle) is. Genade, dit was die begin van ’n nagmerrie! (...)

“Fanie Viljoen se Ouma Mollie gaan terug skool toe is ’n verhaal vol humor, interessante gebeure en allerlei diverse karakters wat vele jong (en selfs ouer) lesers sal vermaak. Die teks is op kreatiewe wyse uiteengesit met illustrasies, verskillende lettertipes en helder kleure wat jong lesers deurgaans kognitief sal stimuleer. Hierdie reeks is geskik vir beide seuns en meisies in die intermediêre fase en onderwysers kan dit met vrug in die klaskamer gebruik. Daar is ook leesgidse vir beide titels beskikbaar wat die onderwyser se werk veel ligter sal maak.

“Hierdie stoute ouma is pret! Sy maak dalk nie die lekkerste fudge nie en sy verstaan nie priemgetalle nie, maar ’n dag saam met haar sal geen kind ooit vergeet nie,” sluit Koen sy resensie af.

Die vervolg op Onderwêreld word in 2022 uitgegee onder die titel Donker web. Ná die sukses en gewildheid van Onderwêreld(wat ook vir skole voorgeskryf is) het baie van die leerders aan Fanie geskryf om te hoor wat verder van die hoofkarakter Eckardt geword het.

Fanie vertel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 9 April 2021): “Ek moes toe lank gaan nadink en weer die drade van die storie optel en uitbrei vir die vervolg. Ek moes ook geweldig baie navorsing doen.

“Aanvanklik het ek bloot interessante artikels oor tegnologie, kuberkrakers, skelmstreke en meer in ’n lêer op my rekenaar gebêre, maar later het ek intensief op bepaalde onderwerpe gefokus. Twee van die kuberkrakers wat my met Onderwêreld gehelp het, het goedgunstiglik ook weer my vreemde vrae beantwoord en raad gegee. Op my webblad is ’n volledige bibliografie van die navorsing. Dis so 15 bladsye lank.”

Op Storiewerf brei Fanie verder uit oor Donker web: “Die verhaal begin ’n jaar en ’n half na die vorige een. Greg is weg by Lawson Kollege. Hy is nou ’n student by Maties. Die verlede spook steeds by Greg. Oral waar hy kom, herken mense hom omdat sy foto oral verskyn het. Hy was immers die ou wat sy pa vir die wolwe gegooi het en hul familienaam deur die modder gesleep het.

“In Donker web wil hy dit regstel. Hy besluit om sy familienaam in ere te herstel, maar daarvoor moet hy die geheimsinnige Baker vind en hy sal ook weer Eckardt se hulp moet inroep. Greg is eintlik klaar met kuberkraking – of is hy...

“Sy soektog is vol angswekkende oomblikke en vervleg tegnologie, die onsekerhede van studentwees, en boetedoening in ’n naelbyt roman. Natuurlik vat die boek die leser ook verder as die wêreld van kuberkrakers na die donker web.”

JB Roux bespreek Donker web op Netwerk24 (22 Junie 2020): “Die rits onthullings en mistastings en die karakters se wantroue in mekaar veroorsaak amper ondraaglike spanning. Meer kan nie oor die boek gesê word sonder om die leesavontuur – en dit is ’n avontuur – te bederf nie. Daar is ’n amperse filmiese kwaliteit aan Donker web en ’n amperse onwerklikheid. Op bladsy 289 word daar tereg opgemerk: ‘Niks is werklik nie.’

“Viljoen bou sy storie soos ’n legkaart en ‘speel’ met sy lesers soos wat die karakters soms met mekaar speel en die een teen die ander afspeel. Die skrywer het die vermoë om ’n storie te spin waarby hedendaagse tieners kan aanklank wind, maar lesers moet nogtans ‘oopkop’ en paraat genoeg wees om die drade bymekaar te hou. Selfs al word te min gesê oor die hoofkarakter se verlede, versit Donker web nogmaals die grense van die Afrikaanse jeuglektuur.”

Met sy tienerroman Krag wat in 2023 uitgegee word, pak Fanie weer ’n kontensieuse onderwerp, naamlik die gebruik van steroïde in liggaamsbou. En soos Jonathan Amid skryf op Netwerk24 (9 Oktober 2023) kan Fanie in tieners se koppe klim en verstaan hy hul leefwêreld en manier van dink: “Hy vind die nommerpas-wyse om treffende, gereeld onthutsende verhale te verpak. Die regte storie, die regte baadjie.

Krag is inderdaad kort en kragtig, kordaat en vol wip. Viljoen het nog altyd baie visueel geskryf. Deesdae is dit geen verrassing om sy grafiese romans met die verwagte trefkrag en visuele impak te geniet nie.”

In Krag is Fanie se hoofkarakter Alden Valentyn. Hy is nog op skool en sy oupa het hom “Smartie” gedoop omdat hy nogal intelligent is. Maar hy wil ook graag iemand wees – “main character energy hê; die mooiste en gewildste meisies soos Kaylen Julies se oog vang.”

Amid skryf verder: “Sy suster Varnia en vriend Waldo weet hy’s allesbehalwe ’n spiertier. Die res van die skool neem nie juis notisie nie. Dan maak Alden die fout om sy hemp uit te trek vir foto’s wat hy op Instagram plaas. Die vernedering is bitter groot: sal ’n ongure karakter soos die juicehead Bul hom kan help om ’n nuwe liggaam en identiteit in die gym te bou en dan daarbuite uit te leef? En hoe ver sal Alden gaan om sy geheime te hou?

“Blitsige brokkies, fyn afgewerk en met heelwat subteks, dien as hoofstukke en is elk genommer. Die teks word aangevul en versterk deur ’n verskeidenheid indrukwekkende sketse, teks wat in swart uitgesonder word en uitstaan en Alden se deurlopende gedagtestroom wat alles so onmiddellik en ‘rou’ moontlik laat voel.

Krag is by uitstek ’n wekroep oor die gevare van obsessie in welke vorm, veral met die gebruik van steroïde in liggaamsbou, maar Viljoen maak nie die proteïenskommel te dik aan nie. Hierdie prosa-naald prik behoorlik.”

Oor sy keuse van steroïde as tema van Krag vertel Fanie aan Elna van der Merwe van Huisgenoot dat hy by sy gim een middag ’n gebruikte inspuiting in die asblik gesien het: “Dit was my vonk vir hierdie jeugverhaal. Die sosiale media plaas soveel druk op tieners om die perfekte lewe en die perfekte lyf te hê. Wat hulle nie altyd besef nie, is hoe ongelukkig en ongesond baie van daardie mense op die mooi foto’s is, en hoeveel hulle opoffer om so te lyk.”

Van der Merwe wou ook by Fanie weet watter karakter in Krag het hom verras, en wie het hom teleurgestel: “Alden het my verras dat hy eindelik bereid was om sy monster in die oë te kyk. Sy suster doen ’n teleurstellende ding wanneer sy bereid is om stil te bly oor die steroïde toe Alden haar omkoop.”

Met Die lewe se vuil houe (2023) haal Fanie die kortlys van LAPA se jeugromankompetisie in 2021 en takel hy weer ’n ongewone verskynsel of probleem. Die hoofkarakter is ’n seun in graad 10, Dewie Koster, en sy opgaarder-ma.

Tuine in Kaapstad is die agtergrond waarteen die verhaal afspeel. Dewie is ’n leerling aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en is ’n baie goeie rugbyspeler vir sy skool. Met die probleem wat sy opgaarder-ma vir hom is, het hy ook al die kuns vervolmaak om enige netelige situasie met sy onderwysers met humor op te los.

Dan leer Dewie vir Jadey ken wie se ouers ’n interessante boekwinkel het en wat altyd aan die boeklees is en “wie se oë of van ’n ander wêreld” na Dewie kyk.

Magdel Vorster skryf in Rapport (2 April 2023) dat Dewie probeer om sy ma se opgaarlus te verstaan – “waarom sy aanhou koop en opgaar – enigiets wat dalk eendag nuttig te pas kan kom, stukkend of heel, maar te kosbaar om weg te gooi. Hy is nog meer verward wanneer hy oor haar verlede uitvind en die verlore stukkies van sy gesinslegkaart bymekaar probeer sit. In treffende, kort sinne grawe Viljoen nooit te diep nie, maar dis duidelik dat sy hoofkarakter al ’n hele paar klappe van die lewe weg het, en dat iets moet en gaan gebeur.

Die lewe se vuil houe is ’n grootwordverhaal met ’n spul onvoorspelbare kinkels wat ewe veel deur seuns en meisies geniet sal word. Of jy met die neersit ’n vloekwoord of ’n knop in die keel gaan sluk, dié storie gaan jy nie maklik vergeet nie. In die verteerproses gaan lesers hopelik meelewing met ander se moontlike omstandighede oorweeg eerder as om outomaties vir die makliker swart-en-wit-veroordeling te gaan.”

Op Netwerk24 sluit Jonathan Amid sy resensie van Die lewe se vuil houe af: “Die boek is ’n bloudruk vir deursettingsvermoë, deernis en durf, ’n roman wat jou vele van die sleutels vir ’n meer empatiese menswees in die hand stop.”

Ook in 2023 verskyn Jani Jonker gloei in die donker, wat bedoel is vir die effe jonger lesers. Jani is in graad 7 en sy het ’n boetie Martin. Hulle twee kyk wie die meeste vuurvliegies in ’n bottel kan vang. Per ongeluk stamp Martin haar en sy kom op ’n swerm vuurvliegies af, maar toe byt een haar aan haar vinger. En, skryf Ilza Roggeband(Netwerk24), kry Jani soos ’n “wafferse Spider-Man skielik ’n splinternuwe krag: Sy gloei in die donker.

“Sy probeer, en kry dit reg, om dit vir haar ouers, broer en vriende geheim te hou, maar dis ook net so lank dat jy jou liggie kan probeer wegsteek voordat iemand snuf in die wind kry. (...)

“Fanie Viljoen het geen bekendstelling as jeugboekskrywer nodig nie. Van sy werk, soos Onderwêreld, Breinbliksem en Prooi, delf dieper en is soms donkerder, maar met ’n boek soos Jani Jonker gloei in die donker kan jy jou amper voorstel hoe die skrywer met ’n glimlag sit en skryf.

“Daar is heerlike humor in Jani Jonker se gloeiende reis en die feit dat sy ’n stewige skeut ipekonders weg het, maak dit nóg snaakser. Die hoofstukke het elkeen hul eie opskrifte en daar is ’n hele paar – met ‘Jani skrik haar souskluitjies koud’ ’n gunsteling – wat die leeservaring nog lekkerder maak.

“Ons leef in ’n tyd waar graad 7-leerlinge meer sien en beleef as gevolg van tegnologie en sosiale media. Hulle is dalk ouer en wyser as ’n generasie of drie voor hulle en daarom is ’n boek soos dié een ’n briesie nie net omdat dit heerlik lees nie, maar omdat dit die boodskap – aanvaarding van dit wat anders is – nie met ’n hamer probeer inslaan nie.”

Fanie se jongste roman vir tieners, Ons laaste legendariese somer, is op die publikasielys van LAPA vir September 2024 en het weggestap as wenner van LAPA-uitgewers se jeugromanwedstryd vir 2023. Hy het die prys tesame met prysgeld van R30 000 ontvang.

Die manuskripte is anoniem beoordeel en Theresa van Baalen, een van die beoordelaars, het só geskryf oor Fanie se boek: “Die verhaal is oorspronklik en sal vir seuns en meisies voorgeskryf kan word. Ek meen dis ’n storie wat lesers sal WIL lees, al word hulle aanvanklik gedwing om die boek op te tel (in die klaskamer, byvoorbeeld). Buiten vir die humor, lê die trefkrag in die uitbeelding van ’n besonderse vakansie waaroor meeste hedendaagse tieners maar net kan droom. Die storie lees soos ’n lekker fliek – amper te goed om waar te wees, maar realisties genoeg dat jy wens jy is in die hoofkarakter se skoene.” (Netwerk24, 13 Maart 2024)

Fanie het aan Karen van den Berg (OFM, 14 Maart 2024) gesê dat hy baie verras was oor die prys: “Ek het skoon hoendervleis gekry, selfs in die Bloemfonteinse hitte. Die prys is ’n geweldige motivering vir al die ure wat ek so alleen voor die rekenaar sit. Elke prys is besonders en spesiaal. Dit spoor my net aan om aan te hou skryf en my verbeelding te gebruik en te droom.”

Die verhaal gaan oor drie leerders in graad 11 wat skielik besef dat hulle komende somervakansie hulle laaste ordentlike skoolvakansie gaan wees, vertel Fanie. “So hulle besluit om hulle laaste somervakansie te geniet. Hulle gaan af na Vleesbaai en maak drie reëls: Hulle mag nie baklei nie, hulle doen alles saam en daar mag geen meisies wees nie. Dan raak die dinge interessant.”

Riglyne vir die skryf van opstelle en stories:

  • Om te kan skryf moet jy lees. Lees veral die soort stories wat jy wil skryf.
  • Beplan eers jou hele opstel. Maak ’n raamwerk en skuif goed rond totdat die storie werk.
  • Jou eerste skryfpoging is nie noodwendig die beste een nie. Skryf die opstel oor en oor. Lees dit krities.
  • Jy hoef nie noodwendig oor jouself te skryf nie.
  • Jy hoef nie oor iets te skryf wat regtig met jou gebeur het nie.
  • Gebruik jou verbeelding.
  • Kry ’n knalslot wat jou onderwyser sal verras. (Maroela Media)

Fanie vertel verder aan Christa Steyn-Bezuidenhout dat hy eers ná skool besef het dat skryf vir hom lekker is, maar dat hy toe nog geensins daaraan gedink het om sy geld met skryfwerk te verdien nie. Maar dit bly nog altyd ’n “moeisame proses wat sorgvuldige beplanning verg”.

“Vir elke storie wat ek skryf, volg ek dieselfde raamwerk. Hoewel ek meestal op my skrywersintuïsie staatmaak, hou ek deurentyd my skryfraamwerk in gedagte. Wanneer ek dan iets skryf wat nie werk nie, raadpleeg ek die raamwerk. Op dié manier is dit maklik om foute of gapings in ’n storie te identifiseer. Ek het self op skool gesukkel om opstelle te skryf. Ek dink dis omdat ek probeer mooi skryf het, eerder as om net ’n doodgewone storie te skryf.”

Fanie luister graag musiek, gaan gym of stap in die veld. Hy sê dat dit help om ’n mens se kop skoon te maak.

Publikasies

Publikasie

Slym: (die wêreld se eerste wurm in ’n paddakonsert)

Publikasiedatum

2004

ISBN

0799332909 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Spoke en ander gruwelike goed

Publikasiedatum

  • 2005
  • 2015

ISBN

  • 0798145668 (sb)
  • 9780798172189 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Geen

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

BreinBliksem

Publikasiedatum

2005

ISBN

062404307 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2007 goue Sanlam-prys vir jeuglektuur
  • 2007 MER-prys vir jeuglektuur

Vertalings

  • 2010 Engels Mindf**k vertaal deur outeur en Hennie Conradie
  • Franse vertaling

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Geraamte in die klas

Publikasiedatum

  • 2006
  • 2021

ISBN

  • 0798146168 (sb)
  • 9780798181778 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2007 ATKV-Woordveertjie, graad 6–7
  • 2007 MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Klits Kronkel en die vlammende swaard

Publikasiedatum

2007

ISBN

0624042464 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Miserella

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148955 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Slym en die gogga-sirkus

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799338928 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2008 ATKV-Woordveertjie vir teks en illustrasies, graad 1–3

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Klits Kronkel en die vloek van die Swart Jakkals

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046547 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood

Publikasiedatum

  • 2008
  • 2015
  • 2016

ISBN

  • 9780798150132 (sb)
  • 97807993740032 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Human & Rousseau
  • Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2009 ATKV-Kinderboek-prys, graad 4–5

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Onderwêreld (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780624046691 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2007 silwer Sanlam-prys vir jeuglektuur
  • 2009 ATKV-Kinderboek-prys, graad 8–10

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Lekker lees en leer: leesboek 5, vlak 4. Saam met Marita van Aswegen

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781770022126 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Best Books

Literêre vorm

Skoolleesboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Slym en die beker van geluk

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2011

ISBN

9780799345025 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2010 ATKV-kinderboektoekenning vir teks en illustrasies

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Kaptein Hamerkophaai

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780624045441 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Pynstiller

Publikasiedatum

2010

ISBN

(sb)

Uitgewer

Bloemfontein: F Viljoen

Literêre vorm

Grafiese verhaal

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Nova: die begin

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2011

ISBN

  • 9780799346756 (sb)
  • 9780799349801 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Wetenskapfiksie vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2011 ATKV-Kinderboekprys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

13 spookstories. Saam met Jaco Jacobs en François Bloemhof

Publikasiedatum

  • 2010
  • 2011

ISBN

9780799346572 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Klou: ’n superheld met kolle

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799349849 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2012 ATKV-Kinderboektoekenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Grilbrigade

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156240 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2012 ATKV-Kinderboektoekenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Nova: vuurdoop

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799349740 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Wetenskapfiksie vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Betower

Publikasiedatum

2012

ISBN

9780799354881 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2011 naaswenner LAPA se jeugromanwedstryd

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Scarred lions

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2013

ISBN

  • 9780798157001 (sb)
  • 9780798159586 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2014 IBBY-ererol Afrikaanse uitgawe

Vertalings

2012 en 2013 Afrikaans, Leeus met letsels

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Nog 13 spookstories. Saam met Jaco Jacobs en François Bloemhof

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2013

ISBN

9780799355109 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Nova: bloedbroers

Publikasiedatum

  • 2012
  • 2013

ISBN

9780799354904 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Wetenskapfiksie vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Nova: sterreloper

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799354904 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Wetenskapfiksie vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Koue rillings. Saam met François Bloemhof en Jaco Jacobs

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799362107 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spookstories

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Lulu-reeks

Publikasiedatum

2013–2021

ISBN

97807993+

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2016 ATKV-toekenning vir kinderliteratuur (Bravo, Lulu)
  • 2017 ATKV-toekenning vir kinderliteratuur (Oepse daisy)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Slym en die towertapyt

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799362626 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Spring

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799360004 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

ATKV-Kinderboekprys, graad 6–7

Vertalings

2015 Engels Jump

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Pleisters vir die dooies

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799362510 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2024 Engels onder Bandaids for the dead

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Hoezit-reeks. Deel 1–12. Saam met Jaco Jacobs

Publikasiedatum

2014–2017

ISBN

97807993

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Prenteboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Aksieheld Austin: Operasie sabotasie I (Aksieheld Austin-reeks + leesgids)

Publikasiedatum

  • 2014
  • 2017

ISBN

9780799366327 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Nova: eindspel

Publikasiedatum

  • 2014
  • 2016

ISBN

9780799366617 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Wetenskapfiksie vir die jeug

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Uit

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799367034 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2015 IBBY-ererol

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Plons

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780799367171 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

ATKV-Kinderboektoekenning, graad 2–3

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Prooi

Publikasiedatum

2015

ISBN

9780799375169 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Volwasse sielkundige riller

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kaptein Verdwyn (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799379044 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Afkop (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799372885 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2015 naaswenner LAPA-jeugromankompetisie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Monsterrugby (Vreesveld-reeks)

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799377255 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Jou Romeo

Publikasiedatum

2016

ISBN

97780624081210 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

The last time I died

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781785911392 (sb)

Uitgewer

London: Ransom Publishing

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Krappie en die kroon

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780798175432 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Dromers (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2017

ISBN

9780799383621 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Penguin Random House

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2022 Engels onder Dreamers

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Aksieheld Austin: Nag van grille (Aksieheld Austin-reeks)

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799380804 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die groot boek van spoke en grille

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799389364 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Slym se stories 4 in 1

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799384222 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Veldiep (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780624085379 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jonger tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2019 ATKV-kinderboektoekenning

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Brand

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780624084044 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Pieksel (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799394108 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2020 Engels onder Pixel

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die dag toe die draak kom: ’n boek vir seuns

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798178686 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • MER-prys vir geïllustreerde kinderliteratuur
  • 2019 Woord-trofee

Vertalings

2019 Engels The day the dragon came

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die dag toe die draak kom: ’n boek vir meisies

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780798178679 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2019 Woord-trofee
  • 2020 MER-prys vir geïllustreerde kinderliteratuur
  • 2021 Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur

Vertalings

2019 Engels The day the dragon came

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Aksieheld Austin: onheil op Skedelbaai (Aksieheld Austin-reeks)

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799380804 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2020 ATKV-Kinderboekprys, graad 4–5 (vir teks)
  • 2020 ATKV-kinderboektoekenning vir illustrasies

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Doendinge vir elke dag van die jaar

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639600642 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Aktiwiteitsboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Laaste lewe

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780799398083 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Grafiese roman vir tieners

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2021 Engels onder The last time I died

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Môre as ons groot is [drama]

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780799397147 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Wêreld van Wolwe: Eerste bloed

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780639604039 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jonger tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Offers vir die vlieë (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2020

ISBN

97806396001779 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jonger tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

  • 2019 wenner LAPA se Jeugromankompetisie
  • 2021 ATKV-Kinderboektoekenning, graad 8–10
  • 2022 Scheepersprys vir Jeuglektuur

Vertalings

  • 2023 Albanees
  • 2023 Engels onder Sacrifice to the flies

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Donker web (vervolg op Onderwêreld)

Publikasiedatum

  • 2020
  • 2022 (skooluitgawe)

ISBN

  • 9780624090465 (sb)
  • 9780624093275 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Aksieheld Austin: doodskreet van die Dino’s (Aksieheld Austin-reeks)

Publikasiedatum

2021

ISBN

9781776350278 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Vampierhokkie (Vreesveld-reeks)

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639602202 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Wêreld van Wolwe: Tweede asem

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639608099 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jonger tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Ouma Mollie en die mensvreter + leesgids

Publikasiedatum

2021

ISBN

9780639602271 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die klein boek van-reeks

Publikasiedatum

2022

ISBN

978177635 + (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Aktiwiteitsboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Wêreld van Wolwe: Derde mag

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781776354399 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jonger tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sneeuman swem (Vreesveld-reeks)

Publikasiedatum

2022

ISBN

9781776354658 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die lewe se vuil houe (studiegids beskikbaar)

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780637001397 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2021 kortlys vir LAPA se Jeugromankompetisie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Ouma Mollie gaan terug skool toe

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780637002059 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Krag

Publikasiedatum

2023

ISBN

9780637001830 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jonger tienerfiksie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Springboekie

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780637004527 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2024 Engels onder Springbookaroo

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Jani Jonker gloei in die donker

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780637005586 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Frikkadel, die spookhond

Publikasiedatum

2024

ISBN

9780637000345 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Kinderboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

2024 Engels vertaal deur Johann Strauss onder Meatball the ghost dog

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Ons laaste legendariese somer

Publikasiedatum

2024

ISBN

(word in September 2024 gepubliseer)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Jeugroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2023 wenner LAPA-Jeugromankompetisie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Fanie Viljoen as samesteller:

Vertalings deur Fanie Viljoen:

  • Payne, Jan: Die wêreld se beste boek. Kaapstad: Tafelberg, 2011 [ISBN 9780624052951 (sb)]

Artikels oor Fanie Viljoen

Artikels deur Fanie Viljoen

Fanie Viljoen se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2018-03-01 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 2

Kommentaar

  • Hi, Oom. Die boek is amazing. Dankie vir 'Donker web', maar sal oom dalk asb ook 'n opvolg skryf oor Eckardt? Ek is mal oor hom.

  • Marta dewet delange

    Ek hou baie van die storie "Die losprys" en ek vbind dit baie snaaks. Ek wil 'n ander boek van jou lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top