Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen, ’n lesersindruk

  • 0

Offers vir die vlieë
Fanie Viljoen
LAPA
ISBN: 97806396001779

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Is die mens ’n monster wat sal moor om te wees wat hy is?

Fanie Viljoen se roman Offers vir die vlieë (2020) is ’n uitbeelding van wat met ’n samelewing kan gebeur as individualisme, nuuskierigheid, idees en hul menslikheid weggeneem word. ’n Distopiese wêreld ontstaan waar daar net plek is vir vrees, geweld, korrupsie en oorlog.

Die karakters in die roman word in ’n residensie grootgemaak waar hulle van ’n vroeë ouderdom geleer word dat dit nie ’n goeie ding is om vrae te vra nie. Dit is nie nodig vir hulle om die huidige gebeurtenisse of die geskiedenis te verstaan nie, solank hulle dit net aanvaar.

Ek en my makkers ken niks anders as hierdie wêreld, hierdie tyd nie ... dit is moeilik om te verstaan. Maar ons leermeesters en ons ma’s het gesê: “Jy hoef dit nie te verstaan nie. Jy hoef nie te dink hoe dit moontlik kon wees nie. Jy moet net weet: Die wêreld van daardie tyd was ’n bose plek.” (20–1)

Die hoofkarakter, Eliam (uit wie se perspektief ons die verhaal lees), en sy makkers (Cypher, Diesel, Jetro, Victor en Victoria) word gebreinspoel deur die ideologie van Die Mag. Hulle almal vorm deel van ’n eenheid, Die Mag wat teen die bose Anti-Mag moet veg. Daar bestaan nie iets soos eie of individualisme nie.

Op 17-jarige ouderdom word die kinders van die Residensie na die opleidingskamp verplaas as deel van hul voorbereiding om eendag teen die Anti-Mag op die Front te gaan veg. Dit is egter hier waar ons hoofkarakter en lesers Die Mag se ideologie begin bevraagteken. By die opleidingskamp ondergaan en verduur die 30 troepe ’n onmenslike vorm van opleiding. Van die 30 troepe bly net ses oor. Die doel van die opleiding? Om hulle fisiek, geestelik en emosioneel sterk te maak vir wanneer hulle Front toe gestuur word.

Die manier waarop die troepe hanteer word, maak dit duidelik dat daar ’n slang in die gras is. Die troepe word nie net opgelei nie, maar gebreek. Hulle menslikheid en laaste vorm van individualisme word van hulle ontneem:

Iets binne my het doodgegaan toe ek die mes gebruik. Dit is mos wat die Mag wil hê. Om ’n soldaat te wees, moet jy die dood binne-in jou dra. ’n Vreesloosheid vir daardie dood in jou. Jy moet weet dat jy enige bevel kan uitvoer. Dit moet in jou hande en in jou hart wees.

Wat Torsten ons daar in die bos laat doen het, was om ons ou self keelaf te sny. Nie ’n hond nie. Ek gooi die karkas in die vuur en draai weg. (127)

Waarom is dit nodig dat hulle hul individualisme en menslikheid moet afsny? Tydens oorlog is daar nie plek vir individuele mense nie, maar net die twee Magte en hul pionne wat teen mekaar baklei. As jy sou sterf, word dit gesien as die hoogste eer wat ’n troep kan bereik.

Viljoen lewer kommentaar hieroor. Dit is sigbaar in die titel van die boek en in die hoofkarakter se interne konflik:

Swerms brommers en vlieë koek om die dooies, vreet lustig, lê eiers, loop met bebloede pote oor oë en tonge, kruip in by neuse en ore en die plekke wat eens heilig was. Om jou lewe vir die Mag te gee, is die hoogste offer, sê die Boek – waar en rein is die woorde. Om jou lyf vir die brommers en vlieë te gee – is wat? (175)

Dit word ook gesuggereer deur aan wie Viljoen die boek opgedra het:

Vir hulle wat nie van ’n oorlog af teruggekom het nie.

Hierdeur kan die leser tot die gevolgtrekking kom dat oorloë en geweld net tot die vernietiging van ’n omgewing, samelewing en ’n persoon se menslikheid lei. Daar kan niks goeds van kom nie.

Buiten die troepe wat op die Front sterf, word die gevolge van geweld uitgebeeld in die marteling wat hulle van sersant Torsten moet verduur:

Die ander vier-en-twintig? Wie weet wat van hulle geword het. Twee is dood. Daarvan is ons seker, want ons het dit sien gebeur. ’n Derde se rug is gebreek. Hy is verlam. Dit was Torsten se skuld. Maar ons mag nie oor hulle praat nie. Dis hoe die Program werk. (13)

Sersant Torsten kan as die hoofkarakter se antagonis gesien word. Hy is hoofsaaklik verantwoordelik vir die marteling wat aan elke lid van Eliam se span gedoen is. Dit is Torsten se gedrag wat Eliam laat begin twyfel in dit waarvoor die Mag staan. Dit is ook met die geheimsinnige dood van Torsten dat die waarheid oor die oorlog en die Mag aan die leser openbaar word.

Viljoen gebruik Torsten om konflik vir die hoofkarakter te skep, maar ook as die dryfkrag vir gebeurtenisse wat in die roman plaasvind.

Fanie Viljoen skryf en beeld hierdie gebeurtenisse uit deur middel van die karakters se aksies en dialoë. Sy gebruik van die teenwoordige tyd dra by tot die aktiewe verteltrant wat hy hiermee handhaaf. As leser word jou gedagtes deur Eliam se interne konflik en retoriese vrae gelei.

’n Ander tegniek wat Viljoen meesterlik toepas, is die gebruik van terugflitse om ekstra inligting wat ’n betekenisvolle bydrae tot die storie of ’n karakter lewer, aan die leser te verskaf. Hy doen dit deur eers suggestie te skep deur middel van enkele woorde of ’n frase wat die terugflits voorafgaan. Dit dien as ’n inleiding tot die terugflits wat volg:

Die hond. Nou eers sien ek die Dobermann ... Diesel gee ’n tree terug. Cypher se skouers sak. Iets binne my tuimel ook, want om ’n hond, ’n regte hond te sien ... bring ’n spul gedagtes na die oppervlak. Torsten was deel daarvan.

[Terugflits]

... Maar in die barak wag Sersant Torsten vir ons. Ek wil vloek toe ek hom sien. Maar hy is nie alleen nie. Aan elkeen van ons beddens is ’n hondjie vasgemaak. Klein brakkies, seker net ’n paar weke oud.

“Ons kry honde?” sê-vra Diesel. (112–3)

Op hierdie manier bewerkstellig Viljoen ’n gemaklike leesvloei en verseker hy dat die lesers die verband tussen die huidige gebeure en die terugflitse kan identifiseer. 

Fanie Viljoen se jeugroman Offers vir die vlieë lewer kommentaar oor die fisieke, emosionele en psigologiese nagevolge van geweld, oorloë en breinspoeling. Dit lewer egter ook kommentaar oor die menslike wil om menslik te bly. Dit is veral sigbaar in die hoofkarakter se behoefte aan liefde, vryheid en oorlewing.

Offers vir die Vlieë is ’n uitstekende uitbeelding van ’n distopiese wêreld en is uitmuntend geskryf. Wees egter gewaarsku – die tonele word baie visueel beskryf en mag dalk te ontstellend wees vir sensitiewe lesers.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

LAPA-jeugromankompetisie 2019: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

Twee ATKV-Woordveertjies vir Fanie Viljoen: 'n Onderhoud

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top