Wenner Fanie Viljoen praat met Naomi Meyer oor Fanie se boek by LAPA se jeugromankompetisie van 2019.
Fanie, vertel my asseblief van jou manuskrip wat vanjaar op LAPA se kortlys vir jeugromans is. Wat was die inspirasie vir jou verhaal?
Ek wou al lankal ’n weermagverhaal skryf, aangesien ek destyds nog Nasionale Diensplig gedoen het (1988–1990), en daardie beelde en gebeure nog in my kop spook. Die groot vraag was net: Hoe skryf jy vir vandag se jong Afrikaanse ouens en meisies oor ’n oorlog? Daar verskyn weer deesdae ’n klomp nuwe weermagromans, maar die tieners van vandag stel nie belang in die Grensoorlog van hul pa’s en oupas nie, daarom moes ek dit nuut verpak in ’n distopiese weermagverhaal. Offers vir die vlieë is verder ook ’n kopknik na van my gunstelingboeke soos 1984, Lord of the flies en The handmaid’s tale.
Die verhaal in kort: ’n Groep ouens en meisies word van kleins af gebreinspoel deur ’n onderdrukkende distopiese regime, bekend as die Mag. In hul tienerjare ontvang hulle intensiewe weermagopleiding waartydens een na die ander uitval of sterf totdat daar net ses oorbly: vyf ouens en een meisie. Hulle word uiteindelik na die Front ontplooi, maar op pad soontoe vermoor iemand hul wreedaardige seksieleier, sersant Torsten. Een van die ses het dit gedoen. Maar niemand wil praat nie. Of sal hulle?
Het jy vooraf reeds geweet hoe die verhaal gaan eindig of waarheen dit op pad is? Of het die verhaal organies ontwikkel?
Ek het die einde ten dele geweet, maar is ook verras deur die groter angel in die stert. Soms kom die einde van ’n boek soos ’n geskenk na die skrywer.
Hoe maak jy seker dat jou verhaal tot vandag se jong lesers spreek? Of het jy 'n spesifieke leser in gedagte wanneer jy skryf?
Ek waag weer ’n kans met hierdie jeugverhaal. Dit toets nogal die grense, daarom sien ek daarna uit om te hoor of dit tot vandag se ouer tieners spreek. Ek glo nie daar is al op hierdie manier oor oorlog geskryf vir Afrikaanse tieners nie. Buiten die jeugmark hoop ek Offers vir die vlieë sal ook tot volwassenes spreek vanweë die tema. Jy moet egter ’n sterk maag hê – dis nie ’n feëverhaal nie. Dis donker, plek-plek ontstellend en volgepomp met testosteroon.
Hoe voel jy oor onlangse nuus dat Penguin LAPA oorgekoop het?
Ek sien baie uit na die nuwe geleenthede vir LAPA en Penguin. Ek weet al geruime tyd van die transaksie. LAPA het gereeld daaroor gekommunikeer, dus voel ek baie gemaklik met die skuif. Dalk maak dit deure oop en kan Offers vir die vlieë en ander LAPA-boeke ook internasionaal versprei word in Engels.