
Foto: Izak de Vries
Fanie Viljoen het verlede week beide ATKV-Woordveertjies gewen in die Selfleeskategorie: Graad 4–5. Daar word jaarliks twee Veertjies toegeken in hierdie kategorie: een vir die beste storie en een vir die beste illustrasies. Die twee pryse hoef nie aan dieselfde boek te gaan nie. Viljoen het egter hierdie jaar albei gewen met die kinderboek Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai, wat hy self geïllustreer het. Sy roman Offers vir die vlieë vir veel ouer lesers het ook baie onlangs verskyn en kry uitstekende resensies. Beide boeke is deur LAPA uitgegee. Izak de Vries het met hom gesels oor die breë register van oeuvre.
Die Aksieheld Austin-reeks speel op ’n metavlak met die storielyne. Austin is ’n filmheld, maar in die werklike lewe is hy nie so dapper as op die skerm nie. Dan gebeur daar iets wat verwant is aan die film se storielyn waar hy darem homself wel kan bewys ... Ek weet jy skryf nooit om “boodskappe” vir kinders te gee nie, maar in die reeks kan ’n leser sekerlik iets leer oor dapper wees en vriendskap?
Ja, dis seker ’n verskuilde boodskap as jy wel na een soek. Ewald, wat die rol van Aksieheld Austin speel, en Cardo moet hul eie vrese oorkom en elke avontuur maak hul vriendskap hegter. Op daardie ouderdom is ’n hegte vriendskap iets om na te streef en die karakters in die boek word natuurlik ook die leser se vriende.
Die Woordveertjies vir kinderboeke word toegeken deur kinders van die portuurgroep waarop die boek gemik is. Dit is seker lekker om te weet jy het die kol getref met jou teikengehoor?
Beslis, ja. ’n Mens kan sien hulle lees agter die aksie, spanning en avontuur aan. Tussendeur is daar ook ’n lekker skoot humor.
Dit is boonop dubbeld so lekker dat jy albei pryse gekry het – vir die storie en vir illustrasie. Dis nogal seldsaam, nie waar nie?
Dit is waar, daar is min skrywer-illustreerders in die Afrikaanse kinderboekwêreld, maar hierdie boek is my derde een wat só bekroon is. In 2008 het Slym en die gogga-sirkus beide pryse verower en in 2010 was dit Slym en die beker van geluk se beurt.
Ek het jou al sien optree voor gehore en ook al dopgehou wanneer jy met kinders gesels. Dit lyk altyd asof jy intens belangstel wanneer die jongklomp praat. Hoe ervaar jy optredes in skoolsale vol jong lesers?
Die ervarings wissel van skool tot skool, maar dis oor die algemeen ’n fantastiese ervaring om te sien hoe kinders lief word vir lees en hoe entoesiasties hulle oor boeke kan word. Ek het vanjaar, net voor die inperking, weer met duisende leerders en hul onderwysers gepraat tydens ’n uitgebreide toer in Namibië en die Wes-Kaap. Ongelukkig is ander beplande toere afgestel, maar ek sien die jong lesers hopelik weer volgende jaar. Daar is baie stories om te vertel!
Jy het ’n baie breë register. Aksieheld Austin is baie anders as die Lulu-reeks, wat ook al bekroon is. Dan skryf jy ook boeke soos BreinBliksem, Donker Web en Offers vir die vlieë wat vir veel ouer kinders bedoel is. Hoe besluit jy wanneer om wat te skryf?
Ek probeer om minstens een tienerboek per jaar te skryf. Dis ’n intense ervaring wat ek graag afwissel met iets ligter soos ’n kinderboek waarin ek die kindwees in my kan herbesoek.
Daar was onlangs ’n baie goeie akademiese resensie van Offers vir die vlieë hier op LitNet. Dié boek is donker en gewelddadig. Ek het dit ontstellend gevind, deels omdat ek self in die weermag was. Daardie stortepisode is iets wat ek aanskou het – ons het ook ’n Diesel in ons bataljon gehad. Nou skryf jy iets wat mense soos ek en jy beleef het – die hel van diensplig – en jy bied dit aan hoërskoolkinders aan. Waarom?
Ek wou vir tieners vertel van oorlog, maar hulle stel meestal nie belang in die bosoorlog van hul pa’s en oupas nie. Daarom moes ek ’n ander manier kry om die wreedheid en ontmensliking oor te dra deur middel van ’n distopiese weermagverhaal. Dit sal hopelik help dat hulle en hulle kinders nie eendag so iets hoef te beleef nie.
En ja, daar was ook ’n Diesel in my peloton; ek het ook die stortepisode gesien en beleef hoe iemand een aand ’n hele toilet uit ’n muur ruk. Soortgelyke ervarings is vervleg in Offers vir die vlieë.
LAPA waarsku lesers dat Offers vir die vlieë ’n boek vir jong volwassenes is, nie vir kleintjies nie. Ek sou ook dink dat volwasse mense, ook ouer mense, dié boek gewoon moet lees. Stem jy saam?
Beslis, lees dit asseblief. Ek kry alreeds goeie terugvoer van volwassenes. Mense wat in die destydse SAW en die bosoorlog was, sal sekere dinge in die boek raaksien wat strook met hulle ervarings. Baie van my jeugverhale wat op ouer tieners gerig is, het ’n ernstiger toon met ’n sielkundige en filosofiese onderbou, sonder om leesgenot in te boet. Ek vertel graag ’n goeie storie wat jou uiteindelik ook aan die dink sit.
Offers vir die vlieë roep natuurlik dadelik die interteks van Lord of the flies op. Waar William Golding se boek konsentreer daarop dat kinders outomaties gewelddadig kan wees, wys jy ’n vinger na volwassenes en na stelsels wat jongmense oplei om gewelddadig te wees. Altans, dis hoe ek dit sien. Stem jy saam?
Ek het Lord of the flies die eerste keer op skool gelees, en ’n paar keer daarna. Dit is steeds een van my gunstelingboeke. Die temas daarin is tydloos. Ek hoop dit sal ook die geval met Offers vir die vlieë wees, omdat dit inderdaad die vinger wys na geweld in die samelewing en die breinspoeling van generasies van mense.
Offers vir die vlieë sluit nóú aan by ’n groot aantal tekste wat onlangs verskyn rondom die groeiende fundamentalisme wat te bespeur is onder mense soos Donald Trump, ook die regses in Europa, en selfs hier in Suid-Afrika. Dié polarisasie en onverdraagsaamheid word weer ’n spieël vir dit wat die sogenaamde linkse groepe, soos #FeesMustFall, doen en sê. Uiteindelik sterf menseregte. Offers vir die vlieë, Toekomsmens van Isa Konrad, Stof deur Alettie van den Heever en ook Margaret Atwood se nuutste romans speel met hierdie gegewens. Die ander interteks sou Deon Meyer se Koors wees, veral as ’n mens die jongmense se weermagopleiding in ag neem. Hoe voel jy oor hierdie stelling?
Ons leef in onsekere tye. Mense probeer op die een of ander manier ankers teen die storms kry. Regerings, politieke partye en fundamentalistiese organisasies buit dit uit en bied dikwels oorvereenvoudigde oplossings vir komplekse probleme aan. Hulle meng dit met “fiksionele mites”, of anders gestel, suiwere leuens. Hieroor skryf Yuval Noah Harari: “In practice, the power of human cooperation networks depends on a delicate balance between truth and fiction. If you distort fiction too much, it will weaken you, and you will not be able to compete against more clear-sighted rivals. On the other hand, you cannot organise masses of people effectively without relying on some fictional myths. So, if you stick to unalloyed reality, without mixing any fiction with it, few people will follow you” (Homo Deus, ble 198–9).
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen