Donker web
Fanie Viljoen
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624090465
Donker web (2020) sal jou na nuwe dieptes in die kuberruim neem. As jy van Onderwêreld (2008) gehou het en dink die internet is ’n duistere plek - kyk weer!
Sedert 2014 word Onderwêreld vir graad 12 Huistaal landwyd voorgeskryf. Daarom is die saga tussen Greg Owen en die kuberkrakers redelik gewild onder jonger lesers. Hulle soek antwoorde op die vrae wat die skrywer onbeantwoord gelaat het en hy stel beslis nie teleur nie.
Die skrywer
Fanie Viljoen is ’n gerekende kinder- en jeugboekskrywer, asook skilder en illustreerder. Hy is bekroon met die Sanlamprys vir onder andere Breinbliksem (2005), Onderwêreld (2008) en onlangs is Die dag toe die draak kom (2019) met die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke bekroon. Viljoen se nuutste boek op die rakke is die wenner van die 2019 LAPA-jeugromankompetisie, Offers vir die vlieë (2020).
Dieper die onderwêreld in
Donker web tel die drade op met ’n terugflits na ’n sentrale toneel in Onderwêreld. Greg betrap sy pa met ’n rewolwer in die studeerkamer en die volgende oomblik is daar ’n onbekende man in hul huis wat sy pa aanrand. Skielik is die leser terug in die hede waar Greg regmaak om sportwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Hy probeer die laaste jaar se gebeure van sy pa en Dok Pienaar se verhoor en die stories in Huisgenoot te vergeet. Maar dan gebeur daar ’n paar vreemde dinge op Stellenbosch wat Greg laat besluit om die Baker op te spoor. Die einste Baker is verantwoordelik vir Xander se pa se marteldood, die virusentstof-skandaal en die meesterbrein agter Project Nursery Rhyme. Hier begin die opwinding: biohacking wat verkeerd loop, reise na Istanboel en Italië, en ’n raaiselagtige soektog na die Baker. Hulle weet nie eers wie die Baker is nie, maar hy weet wie Greg en Xander is. Meer as dit sal daar nie gesê word nie. Jy weet nooit of die Baker dalk nou vir jou dophou terwyl jy hierdie resensie lees nie.
Wat maak hierdie boek opwindend?
Die kuberruim met al sy wonders en gevare was die laaste paar maande gereeld in die kollig met COVID-19 en die grendeltydperk. Almal moes leer hoe om deur die internet vergaderings te hou, met geliefdes te kommunikeer en kinders wat tuis moes probeer leer. Hier is dus iets vir lesers van enige ouderdom.
Donker web kan as ’n Entwicklungsroman beskou word. Die Entwiklungsroman is die minder bekende broer van die Bildungsroman. Beide hierdie romans volg die verloop van ’n hoofkarakter se lewe en hoe die betrokke karakter as mens groei tot volwassenheid. Ontnugtering is deel van die grootwordproses en dit moes Greg op die harde manier leer in Onderwêreld. ’n Belangrike kenmerk is die oplos van ’n probleem wat verband hou met die hoofkarakter se persoonlike ontwikkeling. Die Baker is natuurlik die raaisel wat ontsyfer moet word. Die gebeure verloop gewoonlik binne ’n kort tydperk en die leser kry dieper insig tot die hoofkarakter se binnewêreld. Of beter gestel, sy onderwêreld.
Donker web kan ook as ’n riller beskryf te word, alhoewel dit nie gewelddadig is soos die tradisionele riller nie. Die karakters se lewens is beslis in gevaar en Greg besef dat hy ’n keuse moet maak. Die Greg wat in Donker web rondloop, is definitief nie die Greg Owen in Onderwêreld nie. Alles wat bekend was, word in twyfel getrek. Teen hoofstuk 44 sal die leser steeds wonder oor daardie karakter wat agtergebly het in Stellenbosch, en of hy of sy nie dalk die Baker is nie.
Kan Greg werklik vir Xander vertrou na alles wat gebeur het? Hierdie agterdog en kompleksiteit weerspieël ook die aard van die donker web - wat net so werklik soos Tafelberg is. Gaan kyk maar na die notas agterin die boek.
Die leser kan behoorlik in Greg se vel inklim. Die html-formaat van die hoofstukke, die opening en slot van die boek asook die motto's voorin, bestuur die leser se fokus soos dit ’n goeie “social engineering” projek sou betaam. En dit voel ook asof die boek op die internet gelees word - al is dit ’n papierboek. Die leser word ’n smakie gegee van hoe dit voel om ’n hacker te wees. ’n Hacker van boeke dalk?
Hierdie boek is ’n hutspot van elemente uit verskillende genres: riller, misdaadfiksie, kuberraaisels, speurverhale en selfs die liefde is betrokke.
Donker web hou beslis die leser aan die raai. Dit is nie nodig om Onderwêreld te gelees het om hierdie boek te geniet nie. Die samevoeging van kenmerke van verskillende genres skep ’n opwindende verhaal waaruit die leser baie stof tot nadenke sal kry om te google. Definitief die lees en spasie op jou boekrak, of geheue (RAM), werd.
Bibliografie:
Viljoen, F. 2008. Onderwêreld. Tafelberg: Kaapstad.
Entwicklungsroman. Literêre Terme en Teorieë Aanlyn. Beskikbaar aanlyn: http://www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/22-o/1064-ontwikkelingsroman [Besoek op 31 July 2020]
Kommentaar
Dit is nie Greg wat sy pa in die studeerkamer met n pistool betrap nie, maar die elfjarige Xander, of te wel Ecardt.
Korrek.