
Wesley Beyers in aksie, sonder steroïde
Titel: Krag
Skrywer: Fanie Viljoen
ISBN: 9780637001830
Uitgewer: Lapa
Kan ’n persoon ’n resensie begin met ’n aanhef? Dit voel amper of ek ’n brief van apologie wil skryf eerder as ’n resensie. Ek wil begin met “Liewe Fanie”.
Die boek lees maklik en vinnig. Perfek vir ’n Eerste Addisionele Taal-leerder. Dit was die eerste indrukke wat ek gehad het. Later het dit begin kwel. Hoe kan dieselfde skrywer van fenomenale jeugromans ’n opspraakwekkende tema soos hierdie een aanraak in ’n boek wat ek binne ure klaarlees? Bladsy na bladsy voel ek asof daar net nog meer kan wees om te sê.
Ons almal ken iemand wat al deurgeloop het. Die fiksheidskultuur wat deesdae totaal oorgeneem het, verwerf telkens nóg ’n slagoffer. Alles in die naam van “die beste lyf ooit”. Dit is egter bitter moeilik om goed te lyk sonder die hulp wat in pille of spuitnaalde voorkom. ’n Adonis-lyf, op die eerbare gesonde manier, is ’n leefstyl wat jare se opoffering neem. Ek self het nie so ’n lyf of leefstyl nie, maar ek deel wel ’n huis met ’n persoon wat nie skroom om vieruur die oggend, in die winterkoue, sy lyf te martel nie. En ja, hy doen dit sonder die supersappies. Daarom het ek werklik my kop gebreek voor ek hierdie resensie begin skryf het.

Wesley Beyers. En ja, hy doen dit sonder die supersappies.
Aan die een kant het ek gevoel Alden verdien ’n honderd-duisend-woord-roman, maar aan die ander kant het ek gedink Viljoen mors die papier waarop hierdie storie gedruk is, want die sestienjarige gym-junkies wat hul toksiese spiertiervloeke in die gym gooi soos konfetti op ’n troue, sal nie juis hulself verloor in ’n boek of luister na die sinvolle raad oor die gevare nie.
Eindelik, op ’n helder Saterdagmiddag, tref dit my soos ’n dumbbell teen my kop. Ek dink nie Krag is geskryf vir gym-junkies nie; ek dink dit is geskryf vir die pre-gym-junkies.
Viljoen se briljante letterkundige vernuf laat my weer eens stom. Ek bedink weer die boek: Ek kyk hierdie keer nie meer deur die oë van ’n sestienjarige wat sy lewe met groeihormone in gedrang bring nie, maar uit die oog van ’n jong mens in graad sewe of agt wat pas die wonder van die natuur in sy eie puberteit ontdek het.
Dis waar die wortel geplant word.
Dis waar die keuses reeds gemaak word.
Toe val die boek perfek in plek.
Seuns (meisies ook) wat pas hul lywe begin ontdek en begin wonder of hul mooi of groot genoeg gebou is, sal hierdie boek verslind soos ’n spiertier maak met sy proteïenskommel. Dit is presies waar mens die saadjie moet plant oor die gevare van die onverantwoordelike gebruik van middels in gyms.
Ek staan in verwondering. Viljoen het dit reggekry om ’n tema wat min aangeraak word, op ’n boeiende vlak vir jong lesers aan te bied; dit is ’n volwasse tema vir kinders wat kwesbaar is voor die monster van spierbou en perfeksie. Die boek is vir diegene wat gevang kan word nog voor die versoeking voor hul neuse geswaai word.
Hierdie boek is egter nie net vir kinders wat spiere bou nie. Elke liewe persoon (oud en jonk) wat in een of ander sport aktief is en wonder of hul sal drink aan die melk en heuning van testosteroonaanvulling, middels wat prestasie verbeter, of selfs net iets soos groeihormone oorweeg, behoort ag te slaan op hierdie verhaal.

"Hierdie tema hoort in elke skool en sportsentrum of gym sonder skande of skaamte bespreek te word."
Ons almal ken iemand; ek self het ongelukkig al gesien hoe ’n kis oor ’n jong man se gesig sluit as gevolg van steroïdes. Dit is dalk nie ’n slegte idee dat ouers hulself ook inlig oor die tekens en simptome van hierdie middels nie.
As ek iets uit Viljoen se boek mag leen: Dis darem mooi lywe wat in lykshuise gaan lê omdat die beloftes van die spuitnaalde hierdie jong mense in die agterstewe byt. Excuse the pun.
Die boek se omslag, uitleg en illustrasies spreek tot die gym-gemeenskap. Die voorblad lyk kompleet soos ’n CrossFit se voordeur. Dit verdien baie pluspunte vir die uitgewer, Nandi Lessing-Venter. Ek vermoed ’n jong man kan baie cool voel om met hierdie boek in sy hande gesien te word.
Enige uitgewer wat soveel kreatiewe vernuf aan ’n boek gee, is vir seker haar sout werd. Die bemarkingswaarde aan die omslag alleen sal maak dat die boek eerste van die rak gehaal sal word.
Ek moet byvoeg: Viljoen beskryf die ware gym-kultus as baie cool, met ouens en vrouens wat vir jou sal cheer, al is jy ook die laaste een wat die reps voltooi.
Hierdie boek verdien ’n volpunteverslag vir die hantering van sy teikenmark.
’n Gym is gesond en sal jou vir seker beter oor jouself laat voel. Jy sal vriende daar maak wat jou gaan aanspoor en inspireer. Doen dit as jy kan, want ’n gesonder leefstyl spaar jou baie moeite en geld in jou oudag as al die hartkwale wat jou medies uitput.
Daarom my aanvanklike stelling dat hierdie resensie ’n brief van apologie aan Viljoen hoort te wees. Ek is jammer dat ek met die eerste lees die verkeerde teikenmark in die oog gehad het.
Diep binne my hoop ek Viljoen en sy uitgewer besluit tog dat daar ruimte is vir iets soortgelyks met dieselfde slaankrag as van sy ander romans. Ek is sterk van mening dat dit ouer lesers ook diep sal tref.
Hierdie tema hoort in elke skool en sportsentrum of gym sonder skande of skaamte bespreek te word.
- Foto’s van Wesley Beyers is verskaf en word met sy toestemming geplaas.
Lees ook:
It will shock, upset and educate, a review of Guns and needles by Clinton van der Berg
Bokdrolletjies en boeke: 'n Jong leser se indruk van Springboekie deur Fanie Viljoen


Kommentaar
Baie dankie, Hendrik!