Fanie Viljoen inspireer met Wêreld van wolwe: tweede asem

  • 0

Titel: Wêreld van wolwe: tweede asem
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639608099

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Tweede asem (2021) is die tweede boek in Fanie Viljoen se reeks, Wêreld van wolwe – ’n fantasieroman vir tieners.

Die reeks begin met Eerste bloed, waarin die hoofkarakter, Joshua Reinders, en sy pa na ’n vreemde dorp, Droomhoek, trek. ’n Dorp waar vreemde dinge gebeur; soos ’n bos wat die dorp bietjie-bietjie insluk en waar die mense in die dorp nie noodwendig mense is nie.

In Tweede asem probeer Joshua sy nuwe identiteit as ’n weerwolf vir sy pa wegsteek, terwyl hy met die hulp van sy nuwe vriend, Ash, meer leer oor hoe om sy weerwolfmagte te beheer. Lesers leer ook meer oor die geskiedenis van Droomhoek en oor ’n donker mag, die Wêreld van wolwe, wat weerwolwe as lede vir hul organisasie werf.

Alhoewel ek nie die eerste boek in die reeks gelees het nie, maak Viljoen dit baie maklik vir die leser om die storie in die tweede boek te volg. Dit is byvoorbeeld baie gou duidelik op die eerste bladsye van Tweede asem dat Joshua ’n weerwolf is – ’n transformasie wat hy in Eerste bloed ondergaan het.

Daar is ook regdeur die roman strategiese verwysings na gebeure in Eerste bloed, byvoorbeeld dat Joshua se pa ’n weerwolfjagter is, dat die skool deur die bos ingesluk is en dat ’n medekarakter, Ash, Joshua gehelp het nadat hy vir die eerste keer in ’n weerwolf verander het. Sodoende sal lesers Tweede asem afsonderlik van Eerste bloed kan lees en steeds in staat wees om die storie te volg.

Buiten die spanningsvolle storie wat Fanie Viljoen in Tweede asem optower, is dit prettig hoe Viljoen ou tradisionele taalgebruik saam met meer moderne Afrikaans in sy roman inweef:

“Jy besef hoe amper jy onder die kluite gelê het?” vra Ash ernstig.

“Wat?” Joshua frons.

“Dood,” verduidelik Ash. “Dis hoe my ouma altyd sê. Onder die kluite. Jy was amper morsdood-vrek.” (86)

En:

“Ek kan die splinters optel,” sê Joshua. Hy buk langs ouma Aya.

“Nee, los!” sê sy hard. “Los,” herhaal sy dan sagter asof sy besef sy was te driftig.

“Ek sal dit netnou kom doen. Jy sny perdalks jouself.”

Joshua frons. Hy ken nie daardie woord nie “perdalks nie”. Dit klink soos “dalk”. (106)

Hiermee skep Viljoen ’n realistiese uitbeelding van Afrikaans as spreektaal tussen die verskillende generasies. Dit dra by tot die geloofwaardigheid, maar dien ook as ’n oulike manier om ou taalgebruik in literatuur vas te vang.

Daar is ook sinspeling op kinderstories in die roman:

Die dokter se assistent sit ’n lappie op Joshua se bors. Die stoel sak agteroor en die lig bo sy kop flits aan. “Maak oop, asseblief.”

... sê die wolf vir die eerste varkie in sy strooihuis, dink Joshua. (13)

En:

Af met die gang lei sy hom. Die plek ruik na ou hout en stof. Dit herinner Joshua aan ’n museum. Teen die mure hang portrette van karakters uit kindersprokies. Rooikappie en die wolf, herken Joshua een. Die wolf en die drie varkies is reg by die binnedeur waar ouma Aya gaan staan. Maak vir my die deur oop, onthou hy Nobs se woorde. Ek sal raas en ek sal blaas … (39)

Hierdie sinspeling sluit aan by die tema van wolwe wat nie net deur die titel van die reeks uitgebeeld word nie, maar ook deur die hoofkarakter, wat ’n weerwolf is.

Viljoen maak selfs gebruik van ander verwysings na wolf-idiome wat hierdie tema nog verder beklemtoon;

Wat is ’n wolf in skaapsklere? ’n Skynheilige persoon.

Wat beteken dit om soos ’n wolf te eet? Dis wanneer jy BAIE eet.

Wat beteken dit om saam met ander wolwe in die bos te huil? Hy weet nie, want hy mag nie meer bos toe gaan nie.

VERKEERD! Dit beteken jy skik jouself na omstandighede. (97)

Dus dien Viljoen se roman as ’n veilige hawe waar Afrikaanse uitdrukkings en taalgebruik opgeteken en bewaar word. Dit kan selfs dalk ’n poging wees om dit weer gewild te maak onder die jeug van vandag.

Een grief wat lesers dalk met Viljoen se roman kan ervaar, is dat daar nie veel uitgebrei word oor die res van die dorp en dorpsmense nie. Weet hulle ook van die vreemde dinge wat in die dorp gebeur? Hoe reageer hulle en wat is hulle opinies daaroor?

Dit is moeilik om te glo dat mense in ’n klein dorpie nie hierdie gebeurtenisse sal agterkom nie. Om dit nie in die storie te inkorporeer nie, laat die wêreld waarin Viljoen se roman afspeel, arm voel. Dit keer egter nie dat Tweede asem jou sal vaspen oor dit wat volgende gaan gebeur nie.

Dit was ongelooflik lekker om vir ’n slag ’n fantasieboek in Afrikaans te kon lees wat nie ’n vertaling was van ’n oorspronklike Engelse roman nie. Daar is ’n groot leemte in die fantasiegenre in Afrikaans wat Viljoen met sy reeks vul. Ek sien gretig uit na die laaste boek in die reeks wat einde 2022 sal verskyn.

Mag Viljoen se reeks ’n inspirasie wees vir nog baie meer Afrikaanse fiksie en hopelik nie net vir tieners nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top