Lesersindruk: Pleisters vir die dooies deur Fanie Viljoen

  • 0

Titel: Pleisters vir die dooies
Outeur: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799362510

Koop Pleisters vir die dooies by Kalahari.com

Fanie Viljoen se nuwe boek, Pleisters vir die dooies, sluit ten opsigte van gewelddadige tematiek, paranoia en aggressie by sy deurbraakwerk BreinBliksem aan. Hier kry die leser weer te doen met ’n verteller wat in sy eie kop vasgekeer is. Waar ’n mens die gegewens in BreinBliksem aan die einde in heroënskou moet neem wanneer jy besef die verteller is geestelik siek, is hier aan die einde ook ’n soort ommekeer van wat jy pas gelees het.

In hierdie boek neem die karakter die besluit om hom die volgende dag op die wêreld te wreek. Intussen vertrek hy op ’n nagtelike staptog deur die strate, iets om vir oulaas te doen, ’n knipmes en pistool en matelose wrokkigheid in sy arsenaal.

Die boek is meer as gangbaar en sal die aandag trek van tienerlesers wat die wêreld reeds op fel wyse ervaar en verken. Daar is ’n gehate vaderfiguur en mededingers en nemesisse te kus en te keur by die skool. Daar is verwysings na figure uit die gewilde kultuur wat almal om een of ander rede omstrede en selfs gevaarlik en dus fassinerend is: kultusboeke en -rolprente, selfmoordgevalle.

Viljoen verskaf as’t ware ’n uitlaatklep vir opgekropte emosies. Sommige mense mag redeneer hy loop gevaar om selfs rigting te gee aan enkele besonder ongelukkige siele wat nie meer herwaarts of derwaarts weet nie. Vergelyk die feit dat hy pertinent noem dat die boek The catcher in the rye by die aanvallers van John Lennon en Ronald Reagan gevind is. Hy is dus bewus van die mag van narratief en moet oor sy eie werk peins as riskant. Miskien bied hy ’n ingeboudewaarskuwing?

Sowat van ’n spanningslyn kry ’n mens nie oral nie en dit word deurentyd gehandhaaf – dit versnel selfs, hoe dieper ’n mens die donkerte van die verteller se nag op straat ingaan. Die einde is ’n openbaring, ’n verligting en moontlik ’n verlossing (waarop die eerste afdeling se titel, “Verlosser”, reeds sinspeel, hoewel ’n mens vroeg in die boek die woord eerder as wrang en ironies ervaar).

Die idee van ’n boek wat oor ’n nag of dag afspeel, is natuurlik nie nuut nie. Diverse werke bied dieselfde, waarvan die grootste voorbeeld waarvan ek weet, Joyce se Ulysses is. In Afrikaans kry ons Leroux se Die Mugu.

Of Ulysses al verfilm is, weet ek nie, maar daar is ’n ander noemenswaardige fliek wat ook oor een nag afspeel, naamlik Martin Scorsese se After Hours. Daarin beleef ’n kantoorwerker ’n nag vol onheil en opwinding in die stad New York. Hierdie soort stories slaan almal terug op Ulysses, wat eintlik die voedingsbron is – in die relatief onlangse letterkunde, in elk geval. Daar is groter en ouer voorbeelde uit die verhaleskat. Ek dink veral aan Jesus in die tuin van Getsemane, aan die bid dat hierdie beker by hom moet verbygaan, terwyl sy dissipels slaap. Wat ’n nag moes dit nie gewees het nie – verskriklik sowel as dramaties. Ek sê dit nie ligtelik nie. Op skool het dit my vermaak dat daar so maklik na Christusfigure in die Afrikaanse letterkunde verwys word, terwyl hulle in die Engels-klas maar yl gesaai was, maar vandag besef ek daardie meesternarratiewe van lydende verlosser en die donker nag van lyding en voorbereiding op ’n einde (van ’n lewe, of bloot van ’n fase in ’n lewe) is in ons kulturele gene vasgelê.

Die Spanjaard sint Johannes van die Kruis het oor die lang, donker nag van die siel gedig en verwys na die moeisame reis na God, die uiteindelike doel vereniging met Hom. Dis ’n groot tema en moet in gewyde en soms selfs hoogdrawende taal aangepak word. Intense dinge moet gebeur. ’n Mens kom nie op ligsinnige of gemaklike wyse by jou God uit nie.

Viljoen se boek beskryf so ’n reis. God mag dalk nie op Sy naam genoem word nie, maar van die afdelingtitels wys op ’n verlosser en engele. Aan die einde van die boek deel die verteller (en aspirantmassamoordenaar) duifvere uit, wat tog simbolies van ’n Christelike vrede is.

Wat fassinerend is, is dat die einde, met sy verligting en nuutgevonde harmonie met die wêreld, volg op soveel dreigement en geweld. Die duifvere kom uit duifvlerke wat die verteller vroeër met sy knipmes afgesny het. Darem van dooie duiwe, maar dit verlig skaars die grusaamheid van die snydaad en dan die wyse waarop die vlerke saamgedra word. En tog het ons aan die einde die vere as geskenkies. Die geweld is verby. Die bitter bui is oor. Die brutaliteit is afgelê. Vrede het oor die wêreld gekom. Dis weer dag.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top