Lesersindruk: Iemand wat verdrink en ander verhale, saamgestel deur Fanie Viljoen

  • 0

Iemand wat verdrink en ander verhale
Samesteller: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA 
ISBN: 9780799397116

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hierdie bundel is iets nuut en anders as vorige kortverhaalbundels, veral teenoor die bundels wat tradisioneel vir die skolemark saamgestel word. Viljoen het beslis ’n interessante kombinasie van kortverhale hier saamgevoeg. Dit is alles wat ’n mens nié verwag van ’n kortverhaalbundel nie. Die blink geel en rooi voorblad sê reeds vir die leser: daar skuil iets meer agter die titel.

Daar word ’n verskeidenheid van onderwerpe aangeraak wat spreek tot tieners se belewingswêreld. Daar is telkens ’n element in een verhaal wat spreek tot ’n aspek of tema in ’n ander verhaal. Rooi draad wat deur die goue wolke vleg is die menslikheid van elke verhaal se situasie. Van die seun wat sy ma se kankerdiagnose moet verwerk tot die twee leerders wat op die skool se dak sit om die boelies te vermy.   

Fanie Viljoen is die samesteller en het ’n goeie idee waarvan jong lesers hou. Hy is ’n gerekende kinder- en jeugboekskrywer en het al vele pryse vir sy werk ontvang. Viljoen het ’n gebalanseerde mengsel van skrywers en selfs digters bymekaargebring met hierdie bundel.

Die skrywers kom ook uit ’n verskeidenheid van genres wat sorg vir goeie variasie en verteenwoordiging. Die jong leser moet besef daar is keuses as dit by stories kom. Van die gevestigde jeugverhaalskrywers wat in aanbod kom is Marita van der Vyver, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Nanette van Rooyen en Zelda Bezuidenhout. Daar is ook die opkomende skrywers soos Mercy Kannemeyer, Almero Welgemoed, Corinne Raath en Arleen Stone, wie se kortverhale ook in hierdie unieke bundel pryk.    

Dit het tot gevolg dat hierdie bundel ’n mengelmoes van verhale is. Daar is variasie in die lengtes van die verhale, ook ’n variasie in die karakters en vertellers. Die onderwerpe wat aangeraak word is aktueel en relevant vir tieners en jong lesers van vandag. Dit is nie prekerig en uitgerek nie. Die leser kry met elke kortverhaal ’n blik op die lewe van verskillende karakters en dit help om die bundel saam te bind. Elke hoofkarakter verdrink metafories op hul eie manier. Hier is ’n voorsmakie van wat jy van hierdie bundel kan verwag:

Iemand wat verdrink - Marita van der Vyver  

Zac se ma is terminaal siek en hy kom van ’n skooltoer af – hy hoor die gewone tienergeselsies op die bus. Hy beny die meisies wat voor hom op die bus sit en gesels oor dinge wat vir hom onbenullig voel. Hy word oorweldig deur die stortvloed van emosies wat hy ervaar wanneer sy pa hom by die skool kom haal en die nuus nie goed is nie. Hy verdrink in sy emosies.

Wraak proe soos milkshake - Nelia Engelbrecht

Hierdie verhaal wentel om die eienaardige plan van twee tieners wat vir die boelies ’n les wil leer, deur vir hulle glow-in-the-dark tatoes te reël. Dit is die beste poets wat ek nog gelees het. Die verhaal werk met die tema van boelies, maar op ’n slinkse manier en wat hierdie leser as ’n bietjie van ’n wensvervulling beskou het. Die verteller spreek die leser direk aan en jy word onmiddellik ingetrek by Marnus se stryd teen die boelies, veral wanneer hy sy eie reëls vir veiligheid so mooi verduidelik. Jy sal sommer hardop lag nog voor jy die milkshake aan die einde van die verhaal drink.  

Die Walkures - Sidney Gilroy

Alhoewel hierdie verhaal nogal donker en teneerdrukkend kan wees, is daar baie diepte. Die sleutel tot hierdie verhaal is die verwysing in die titel: Die Walkures – in Engels die Valkyries. Dit is mitologiese vroulike figure uit die Noorse mitologie. Hierdie figure word meestal uitgebeeld as pragtige vroue op perde wat soms deur rawe vergesel word. Hulle word ook soms met valke vergelyk. Die Walkure besluit wie sal sterf tydens ’n oorlog en wie hulle na die hiernamaals sal neem as gevalle helde van die slagveld. Met hierdie metafoor in die agtergrond, ontvou die gebeure van ’n ongeluk. Die skrootwerf ondersoek ’n karwrak en die karakter van Adam vertel die leser van sy dag by die skool. Hy werk ook by dieselfde skrootwerf wat nou besig is om die wrak te weg te sleep. Die leser wonder die heeltyd wat die verteller met die toneel te maak het, totdat die metafoor voltooi word en die Walkures die karwrak wegsleep en besef wat werklik tydens die ongeluk gebeur het, insluitende met die verteller.   

Iemand wat verdink en ander verhale (2019) is ’n versameling kortverhale wat vir die jonger leser stof tot nadenke kan wees, of ’n ontsnapping van sy of haar eie omstandighede. Nie al die verhale is grim en negatief nie. Ek beveel hierdie bundel aan vir dié wat nie noodwendig ’n hele boek op ’n slag wil lees nie of wat dalk ’n af tydjie het om met ’n lekker storie te vul. Viljoen sorg vir ’n goeie balans en hierdie bundel het die potensiaal om goed benut te kan word in die klaskamer. Beslis een vir die boekrak. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top