Betower: Betree ’n moderne sprokie

  • 0

Titel: Betower
Skrywer:
Fanie Viljoen
Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN:
9780799354881

Klik hier om Betower te koop by Kalahari.com.

Soos wat die titel belowe, stap ek toe direk in ’n hedendaagse sprokie in. ’n Sprokie wat jou nie bloot met pienk wange van lekkerkry laat nie, maar een waar jy deur die fantastiese tot binne-in die koue werklikheid in en weer anderkant uitloop.  Kompleet met ’n kasteel van sandsteen en Doringrosie se “stekelrige nes” van klimplante, maar tog ook ’n sprokie waar die kasteel ’n skoolgebou van klip word as verteenwoordigend van die realiteit waar kinders mekaar byna vernietig, seermaak en boelie en waar anders-wees jou soos ’n fytvinger laat uitstaan.

By haar nuwe skool, waar sy die onbekende moet trotseer, ontmoet Nadia vir Poenk, die vreemde seun, by wie sy dadelik aanklank vind.  Hulle dra elkeen swaar aan ’n geheim.  Een wat ten alle koste bewaar moet word. Nadia voel verwerp omdat sy ná ’n traumatiese gebeurtenis in Johannesburg na haar ouma in die Magoebaskloof verban word. Hierdie nagmerrie uit haar verlede sal sy sonder haar ma se ondersteuning, op haar eie, moet gaan verwerk.  Maar dan is Poenk daar vir haar.  Poenk, die alleen woudkind met sy eie vrese en kwota seer.  Saam vind die twee tieners uitkomkans vanuit hulle omstandighede, waar die mooi van die natuur en die bos ’n magiese ontsnappingsroete uit die werklikheid bied.

Fanie Viljoen is ’n bedrewe en veelsydige skrywer.  Binne die genre van die jeugverhaal vermaak hy die leser met ’n repertoire wat wissel van die in-jou-gesig Breinbliksem (2005), die gotiese Miserella (2007) (’n boek wat ek uitermate geniet het) en die sinistere Onderwêreld (2008) tot die sprokieswêreld van Betower. Dit is maar net ’n paar van sy boeke, en elkeen bied sy eie bekoring en ’n leeservaring wat jou bybly. 

Met ’n heerlik, liries-poëtiese aanslag begogel Viljoen die leser in hierdie jeugroman.  Saam met Nadia en Poenk beleef jy die natuur.  Die leser dartel saam deur die “ritselgroen” woud en ruik die “sielbruin” grond en die “oopgebreekte mos en modder”.  Saam met hulle kyk jy na die geitjie op Poenk se hand en bestudeer jy die patroon op die klein reptiel se vel en sy klewerige pote.  Jy voel die druppels wat van die rotsmuur oor jou gesig waaier en jy word verblind deur die “bosse helderoranje vallende sterre”.  Een van die mooiste gedeeltes in die boek is vir my: “Dis asof hy in haar kop kom leef het, sy vlerke daar oopgesprei het en ’n sagte donsnes in haar gedagtes gevleg het” (85).

Die poëtiese in die verhaal word bevestig en versterk deur die benoeming van Poenk se boek, The complete poetry of Edgar Poe, waarvan die naam “Poenk” dan ook ’n direkte afleiding is.  Die parallel tussen Poe (’n Amerikaanse skrywer-digter uit die romantiese era, bekend vir sy verhale van misterie en die makabere) en Poenk word ook beklemtoon in die feit dat beide vroeg in hulle lewens wees/alleen gelaat is.

Betower gee ’n alternatiewe blik op reële, sosiale tienerkwessies sonder dat dit ’n hopelose, wroegboek word.  Hoop en uitkoms spruit uit die liriese, fantastiese aanbieding van ontstellende werklikhede in die alledaagse lewe.  In die sprokiesbos kan jy jou gaan verloor en so die gif uit jou lyf uitkry - met die wete dat jy heel daar sal uitstap, al met die paadjie langs wat Poenk vir jou veiligheid vir jou uitgekoekiekrummel het.

Met Betower bied Fanie Viljoen opnuut aan die leser ’n onvergeetlike leeservaring.  Hierdie keer waar verbeelding en werklikheid in ’n magiese simbiose vervloei en die leser laat uitsien na die skrywer se volgende towertruuk.  Hy bied met hierdie boek ’n alternatief tot die gewelddadige diskoers van moderne populêre jeugfiksie van die The hunger games-soort.  Met ’n poëtiese woordpaljas skep hy ’n milieu waarbinne sy aanhangers, soos ek, nog in sprokies en in drome kan bly glo.

Betower is as naaswenner in die 2011 LAPA Jeugromankompetisie bekroon.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top