Titel: Pleisters vir die dooies
Outeur: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799362510
Koop Pleisters vir die dooies by Kalahari.com
Jeugfiksie in Afrikaans is deur die afgelope dekades heen geken aan die gesensureerde en soms prekerige toon van die narratief wat enige opspraakwekkende of gewaagde tematiek vermy het. Alhoewel skrywers soos Maretha Maartens en Barrie Hough in die laat tagtigs en vroeë negentigs gepoog het om van laasgenoemde tendens weg te breek met hul romans ’n Pot vol winter (1989) en Vlerkdans (1992), waarin onderwerpe soos tienerseks, selfmoord, dwelmmisbruik en MIV/Vigs aangeraak word, was dit op baie subtiele wyse verwoord. Met die aanbreek van ’n veelrassige demokrasie in 1994 het die landskap van die jeugletterkunde drasties verander om sodoende by die nuwe “vrygebore” generasie aanklank te vind.
Fanie Viljoen debuteer in 2004 met Slym. In 2005 verskyn sy bekroonde jeugroman BreinBliksem, wat met die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur sowel as die MER-prys vir jeuglektuur bekroon is. Met BreinBliksem het Viljoen hom aangesluit by skrywers soos François Bloemhof, wat die Afrikaanse leserspubliek behoorlik die harnas ingejaag het met die verskyning van sy jeugroman Slinger-slinger in 1997 waarin onderwerpe soos tienerseks en homoseksualiteit sonder enige voorbehoud getakel word. In 2005 verskyn Bloemhof se roman Nie vir kinders nie, waarin grense selfs verder verskuif word. Laasgenoemde roman word ook met die Goue Sanlam-prys vir jeuglektuur bekroon, wat daarvan getuig dat die dae van onskuldige Trompie- en Saartjiekarakters vir goed verby is. ’n Nuwe generasie skrywers het ontstaan vir wie geen onderwerp taboe is nie.
Met die gebruik van sosiale media soos Facebook en YouTube slaag uitgewers daarin om direk met die tienerleser kontak te maak en is Viljoen se nuutste roman, Pleisters vir die dooies, op geslaagde wyse wyd geadverteer om die publikasie van die roman aan te kondig. Sodoende het die uitgewer daarin geslaag om vooraf afwagting te skep en is lesers “gewaarsku” dat hierdie roman die wenkbroue gaan laat lig.
Reeds met die eerste oogopslag tref Zinelda McDonald se kreatiewe en realistiese omslagontwerp die leser soos ’n vuishou in die gesig. Met ’n titel soos Pleisters vir die dooies word die leser voorberei op die “donker” tematiek wat in die roman voorkom. Die roman sluit tematies sterk aan by Lionel Shriver se hoogs omstrede roman We Need To Talk About Kevin (2003) wat in 2011 ook verfilm is. Viljoen se naamlose eerstepersoonsverteller koester, net soos Shriver se protagonis, Kevin, ’n opgekropte woede en haat jeens die wêreld en beide karakters word daartoe gedwing om deur geweld aan hul frustrasies uiting te gee.
Gedurende die verteller se nagtelike eskapade kom hy in kontak met randfigure soos ’n nar, ‘n prostituut, ‘n dronklap en ’n swanger meisie in ’n begraafplaas. Viljoen draai geen doekies om met die uitbeelding van geweld, seks, alkoholmisbruik, selfmoord en boosheid in die roman nie. Tog slaag Viljoen daarin om die verteller se broosheid uit te beeld wat ’n eindelose stryd teen die donker elemente van sy psige moet voer. Die vraag wat deurgaans by die leser ontstaan, is of die hoofkarakter in staat sal wees om die bose “stem” in sy psige te oorwin.
Viljoen maak op geslaagde wyse gebruik van talle intertekstuele verwysings wat in die narratief geïntegreer word met talle verwysings na JD Salinger se klassieke The Catcher in the Rye (1951), wat kultusstatus bereik het. Die selfdood van die Nirvana-sanger Kurt Cobain kom ook ter sprake. Die verteller vind klaarblyklik aanklank en inspirasie by laasgenoemde sanger en ook die feit dat bekende moordenaars Salinger se klassieke roman op die moordtoneel gelees het, soos in die geval van John Lennon se moordenaar. So dra ook die verteller ’n kopie van Salinger se roman in sy rugsak, wat bewys dat hy, soos Salinger se protagonis, Holden Caulfield, die wêreld vol angs en vervreemding bejeën; maar terselfdertyd is dié roman ook ’n simbool van die verteller se behoefte aan erkenning en sy soeke na respek as ’n buitestanderfiguur.
Hierdie roman is ’n keerpunt in die Afrikaanse jeugletterkunde. Viljoen het die spreekwoordelike rubikon van taboes in jeuglektuur oorgesteek. Alhoewel die roman vir tieners van sewentien jaar en ouer aanbeveel word, sal ook volwassenes die roman boeiend vind. Viljoen handhaaf die spanningselement regdeur die narratief met ’n slot wat menige leser sprakeloos sal laat.
Coenraad Walters (Die Burger, 21 Julie 2014) bevraagteken egter of skole en biblioteke die roman aan tienerlesers beskikbaar sal stel. Maar tieners moet juis die roman lees, omdat die temas wat daarin aangeraak word, hulle daagliks affekteer. In ’n onlangse gesprek met ’n groep tieners aan ’n onafhanklike skool in Grahamstad het dit duidelik na vore gekom dat tieners van mening is dat hul nie fyngevoelig is vir die tipe sensitiewe en opspraakwekkende onderwerpe wat Viljoen in sy roman belig nie. Die dae van sedelesse en gesensureerde jeugletterkunde is vir goed verby en tieners wil oor onderwerpe lees wat tot hul verwysingsraamwerk spreek. Jeugfiksie word op hierdie wyse aanloklik gemaak, aangesien dit deurentyd met tegnologie moet meeding.
Met Pleisters vir die dooies het Viljoen baanbrekerswerk gelewer en sodoende ’n grensverskuiwende oomblik in die Afrikaanse jeuglektuur teweeg gebring. Hierdie roman is Afrikaans se eie Catcher in the Rye wat die tienerpsige tot op die been ontgin ten spyte van die “donker” onderwerpe wat aangeraak word.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
Kommentaar
Dewald, baie dankie vir hierdie berekende en interessante resensie. As iemand wat in besonder deur Izak de Vries se onlangse post hier op Litnet en Walters se resensie geprikkel was om verder ondersoek in te stel en die boek te lees, wil ek na jou respons hier graag vra of jy ook bietjie meer detail oor 'n paar punte kan gee:
Wat was jou reaksie self toe jy die boek gelees het?
Het jy die boek se verwysingsraamwerk enigsens as "stereotiep" ervaar? Anders gestel: is dit nie dalk 'n maklike uitweg om verwysings na Cobain, Salinger, et al, te maak nie, of dink jy juis dit werk goed hier?
As die roman sodoende "grensverskuiwend" is, wat dink jy sal ons volgende te wagte wees? Hoe sou 'n mens te werk gaan om dan ons eie, Suid-Afrikaanse transgressiewe literatuur vir die toekoms te bepeins?
Nie die maklikste vrae nie, ek weet, en dankie weereens dat jou bespreking dit sodoende moontlik maak om hierdie tipe vrae te begin vra.
Izak de vries, wil jy ook dalk inspring?
Groete,
Jono
Ek stem heelhartig met jou resensie saam, Dewald. Jou kontekstualisering binne die groter raamwerk van die Afrikaanse jeugliteratuur is veral handig.
Beste Jono
Beste Dewald