Brand: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

  • 0

.........

Brand het soos ’n klein vonk begin wat in ’n vlam verander het. Die twee hoofkarakters en die storie het dit in ’n groter vuur verander.”

.........

Naomi Meyer gesels met Fanie Viljoen oor Brand.

Foto: verskaf

Fanie, jou boek Brand is ’n boek vir jong volwassenes – en dit handel oor obsessies. Vertel my heel eerste van jou karakter Estie.

By die skool spot ouens vir Estie omdat sy die meisie is wat altyd eenkant sit en miere met haar vinger dooddruk. Sy dra egter aan ’n hartseer waarvan hulle nie weet nie. Omdat sy nie vriende het nie en niemand haar regtig ken nie, maak sy virtuele vriende bymekaar. Dit gaan egter te ver wanneer haar pad met Arian s’n kruis.

Eintlik lewer Brand heelwat kommentaar op die (virtuele) wêreld waarin ons, en natuurlik jonger lesers, ons bevind. Dink jy die sosiale media het dalk ons almal se idee van grense en die persepsie van wat afloerdery is, verander?

Dit kan wees. Soos Estie in die boek sê: “Almal doen dit.” Sosiale media is dalk ook so opgestel om afloerders van mense te maak. Jy soek dalk jou vriende tussen al die mense en beland in ’n doolhof van ander gesigte en foto’s en lewens.

Vertel my van Arian. Het jy ’n Arian geken, of waar kom hy vandaan? Ek kan ook gewoon vra: Hoe betree karakters jou wêreld? Sien jy iemand, ontmoet jy iemand, onthou jy iemand, en hoeveel van die karakter is jy self?

Arian is Estie se sielsmaat. Hy weet dit dalk net nie, want hy worstel met sy eie donker kant. Hy kry ’n obsessie met vure en besluit om ’n ou huis af te brand.

.........

“Die lekkerste is wanneer ’n boek homself begin skryf en die karakters so werklik word dat jy nie na hulle hoef te soek nie.” 

.........

Soms sien ek iemand wat ’n vonk vir ’n karakter kan word. Buitestanders fassineer my geweldig, dalk omdat ek ook maar op skool een was. Wanneer ’n mens skryf, beland daar tog iets van jouself in die karakter. Skrywers steek dit tussen die lyne weg en besef self nie altyd wat hulle skryf nie.

Die beeld van vuur en vlamme en brand – die twee kante van die simbool (of die werklike element!): Kan jy onthou wat vir jou die inspirasie hiervoor was?

Ek het lank met die idee rondgeloop om iets oor ’n piromaniak te skryf. Waaroor die storie sou handel, het egter baie dinkwerk geverg, want dis nie iets wat baie voorkom nie, hoewel ek sien dat daar moontlik jongmense by die treinbrande in die Kaap en in Bloemfontein betrokke is. Dit kan ook ’n storie wees!

Hoe ontwikkel ’n storie vir jou? Beplan jy voor die tyd, of ontwikkel dit organies? Of werk dit verskillend van boek tot boek? Hoe het Brand tot stand gekom?

Elke storie meld homself op sy eie manier aan. Soms kry ek eers die karakters, en ander kere eers die storie. Brand het soos ’n klein vonk begin wat in ’n vlam verander het. Die twee hoofkarakters en die storie het dit in ’n groter vuur verander.

Na my gevoel is hierdie boek geskik vir manlike of vroulike lesers. Het jy ’n ideale leser in gedagte? Vir wie skryf jy, of dink jy nie hieroor na as jy iets skryf nie?

Ek wou iets skryf wat beide ouens en meisies sou lees, daarom die gebruik van wisselende perspektiewe. Dit maak ’n storie ook interessant om dit vanuit twee wêrelde te beleef.

Jy skilder ook. Dink jy in beeld? Of, as jy skilder, dink jy in woorde na oor wat jy doen?

As ek skryf, sien ek die storie soos ’n fliek in my kop afspeel. Dis dalk hoekom jongmense dit graag lees; hulle word groot met videobeelde. Wanneer ek skilder is dit soos meditasie. Soms kry ek oplossings vir skryfprobleme, maar meestal laat dit my net afskakel. Dis ook nodig. Mens word oorweldig deur storiewêrelde en karakters.

Van skilder gepraat: Het hierdie boek vir jou ’n kleur? Anders gestel: As jy die boek sou skilder, hoe sou dit lyk? 

As ek die boek sou skilder, sou dit dalk twee karakters wees wat in die vlamme staan, onaangeraak daardeur. Ek versamel graag foto’s as inspirasie vir ’n boek. Die foto’s in die berig lê in my rekenaarlêer vir Brand en gee ’n kykie agter die woorde.

Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste komponente rondom die skryf van hierdie boek?

Die lekkerste is wanneer ’n boek homself begin skryf en die karakters so werklik word dat jy nie na hulle hoef te soek nie. Die moeilikste is altyd die herskryf en nogmaals herskryf. Ek wil hê my boeke moet maklik lees, daarom werk ek baie aan die ritme van woorde en die vloei van woorde en tonele.

Aan die begin van hierdie nuwe jaar: Kyk jy terug op die twee dekades wat was, en wat bly jou by? Of waarna sien jy uit wat die toekoms betref – ook in die jaar 2020?

Ek is baie dankbaar vir al die lesers wat oor die twee dekades my boeke opgetel het, vir die boeke wat in skole gelees word en vir die karakters wat ek langs die pad in stories kon ontmoet.

In 2020 sal ’n groot boek seker Onderwêreld se opvolg wees.

Donker web is nogal ’n knewel van ’n jeugroman wat in Junie verskyn. Die matrieks wat Onderwêreld behandel wou weet wat verder met die karakters gebeur.

Nie eens ek was gereed vir wat sou kom nie ...

Lees ook 

Brand deur Fanie Viljoen: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top