KKNK 2022: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

  • 0

Fanie Viljoen beantwoord Yolanda Wessels se vrae oor die KKNK 2022.

Fanie, jy is ’n bekende en geliefde skrywer met verskeie boeke waarvoor jy al toekennings ontvang het. Jy skryf vir volwassenes, tieners en kinders. Wat is jou gunstelingteikengroep/-genre om voor te skryf?

Ek geniet die skryf van kinderboeke die meeste. Mens besoek so weer jou innerlike kind. Wat kan nou lekkerder wees? 

.........
Ek geniet die skryf van kinderboeke die meeste. Mens besoek so weer jou innerlike kind. Wat kan nou lekkerder wees? 
...........

Waar kry jy jou inspirasie vandaan om so kleurvol te skryf en lesers oor verskeie ouderdomsgroepe te boei?  

Stories is oral om ’n mens. Jy moet net jou oë en ore oophou. Stories kom meld aan in winkelsentrums, as jy in die motor ry of gaan stap – enige plek is storieplek.

Jy skryf ook boeke vir skole. Hoe belangrik is dit om ’n liefde vir boeke van kleintyd af te kweek?

Boeke is ’n veilige manier vir ’n kind om die wêreld te ontdek. Hulle leer ook meer van hulself wanneer hulle karakters raaklees wat soos hulle dink en optree. Natuurlik ook wanneer hulle karakters raaklees wat nié soos hulle dink en optree nie! Dit is daarom uiters belangrik om boeke vir jou kinders voor te lees en hulle later self te laat lees.

Watter wenke het jy om kinders aan te moedig om te lees en voel jy jou stories is ’n goeie trekpleister om ’n liefde vir lees aan te wakker?

Laat jou kinders toe om self hulle boeke in ’n boekwinkel of biblioteek te kies. Dit maak hulle sommer ook selfstandig. Hulle weet die beste waarvan hulle hou en nie hou nie. Leer ook vir jou kind dat hy ’n boek mag neersit indien dit nie met hom “praat” nie, en moedig hom dan aan om eerder ’n ander boek te lees. Nie elke boek is vir elke leser geskryf nie. Ek hoop my boeke sal hierdie liefde vir lees by kinders en tieners aanmoedig.  

Alles het begin met opstelle op skool, ’n kortverhaal in De Kat, en daarna het jy omtrént gewoeker. Dis seker veilig om aan te neem as kind was jy self lief vir lees – dalk danksy jou ouers?

Ja, my ouers het ons elke tweede week biblioteek toe geneem. Dit was altyd ’n hoogtepunt. Ek het sommer in die kar op pad huis toe al die nuwe boeke begin lees, en ek het natuurlik in die skoolbiblioteek geboer. 

Jy het verskeie toekennings ontvang. Spoor dit jou aan om verder lesers te vermaak of is dit bloot ’n pluimpie?

Dis altyd ’n heerlike verrassing en beide ’n aansporing en ’n pluimpie, veral daardie toekennings wat jong lesers self maak.

’n Stappie verder: Een van jou tekste is in ’n kortfliek omskep en jy is besig om draaiboekskryf te leer. Hopelik sien ons jou stories binnekort in ’n ander dimensie ook?

Dit sal wonderlik wees. Daardie droom is egter ’n enorme uitdaging. Draaiboekskryf is ’n interessante dissipline en leer mens om met ander oë na ’n storie te kyk.

Ná ’n feesdroogte agv Covid-regulasies breek die 26ste KKNK eersdaags aan. Dit moet ’n eer wees om deel van Boekstories te wees met “Laat kinders lees”?

Beslis! Ek sien baie uit na die KKNK. My laaste optrede by ’n fees was die Woordfees van 2020. Kort daarna het die inperking begin. Ons skrywers en kunstenaars gaan soos hase wees wat uit hul gate losgelaat is!

Ek neem aan dit bou voort op jou betrokkenheid by skole en om ’n liefde te kweek vir lees. Wat kan feesgangers te wagte wees?

.........
Ek gaan op 1 April vir kinders uit Ouma Mollie en die Mensvreter lees. Ek hoop die lawwe ouma kielie hulle lagspiere. Op 2 April gesels ek en Hannes Barnard oor ons kinder- en jeugboeke. Almal is welkom!  
...........

Ek gaan op 1 April vir kinders uit Ouma Mollie en die Mensvreter lees. Ek hoop die lawwe ouma kielie hulle lagspiere. Op 2 April gesels ek en Hannes Barnard oor ons kinder- en jeugboeke. Almal is welkom!  

Het die pandemie jou enigsins beïnvloed as skrywer – ervaar jy ’n droogte in materiaal en idees, veral met die wêreldwye spanning ook oor die oorlog?

Ek skryf nog volstoom. Die inperking het my destyds die geleentheid gegee om ongesteurd finale afrondingswerk aan Donker web en Offers vir die vlieë aan te bring. Intussen is ’n hele paar nuwe manuskripte ook geskryf, soos die derde en laaste boek in die Wêreld van Wolwe-reeks wat later vanjaar by LAPA verskyn. Daar is ook ’n tweede Ouma Mollie-boek en ’n nuwe sportgriller op pad.

Hier is die KKNK 2022 se volledige program.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top