Verhaal oor hackers en hul onderwêreld beloof om tieners vasgenael te hou

  • 0

Titel: Onderwêreld
Skrywer: Fanie Viljoen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624046691
Bladsye: 202
Prys: R89,95

Klik hier en bestel Onderwêreld nou van Kalahari.net!

Verbeel jou vir een oomblik jy is vasgevang in die kuberruimte van internasionale rekenaarnetwerke. Jy is ’n kuberkraker (hacker) en jou rekenaar en kennis is jou enigste verweer teen die roofdiere van dié elektroniese oerwoud. Die adrenalien pomp deur jou are en sweet drup by jou voorkop af, want jy weet: al wat tussen jou en die binnekant van ’n tronksel staan, berus op jou hacking-vermoë en hoe goed jy weer jou spore dood vee. En dan is daar deurentyd die vraag wat in jou agterkop bly vassteek: “Wat as hulle my vang?”

Dít is die komplekse onderwêreld van die hacker-bedryf wat Fanie Viljoen in sy gelyknamige jeugriller breedvoerig uitbeeld. Dié boek handel oor die lewe van Greg Owen, ’n spogleerling aan ’n bekende privaatseunskool, Lawson Kollege, in die hartjie van die Drakensberge. Greg het hom reeds sy matriekjaar in sy verbeelding voorgestel as ’n uiters suksesvolle jaar wat hy met nege onderskeidings en as hoofseun en eerstespanrugbyspeler aan die sy van sy blonde meisie, Nicole, gaan afsluit. En aanvanklik lyk dit of alles wel volgens plan verloop.

Dit is natuurlik totdat ’n nuwe leerling, Eckardt Wilson, sy verskyning maak.

Daar is byna onmiddellik wrywing tussen Greg en Eckardt. Laasgenoemde is ’n alleenloper wat hom heeltemal van die skool en sy bedrywighede distansieer, terwyl die populêre Greg dit nie kan kleinkry waarom hierdie loser hom so interesseer nie. Kan dit dalk wees omdat Eckardt hom so baie aan sy oorlede broer, John, herinner? Of is dit weens die feit dat hy nie bevele van ander gehoorsaam nie, maar eerder sy eie ding doen?

As die twee mekaar dan teen alle verwagtinge in bevriend, verander Greg se lewe onomkeerbaar. In die paar maande wat hulle in mekaar se geselskap spandeer, leer Eckardt, ’n ervare kuberkraker, vir Greg hoe om van ’n newbie (beginner-hacker) tot ’n point en click script kiddie (gevorderde hacker) te vorder. Hy maak hom touwys in hacker tools soos SSH, RAT, LCP en password hashes wat gebruteforce moet word. Saam-saam verken die vriende onder hul skuilname, Ekk-o en G-4ce, so die onderwêreld van die white hats en black hats en dit lyk aanvanklik na onskadelike kattekwaad, totdat Eckardt een oggend spoorloos verdwyn …

Greg vermoed onmiddellik onraad en begin stadig maar seker uitpluis wat werklik gebeur het. Die feit dat Eckardt geen besittings saam met hom geneem het nie, asook die vreemde foto teen sy aansteekbord, lei Greg tot die gevolgtrekking dat sy vriend dalk hierdie keer net te ver gegaan het. En die vrae begin by Greg opkom: Wie se sisteem het hy ge-hack en is hulle dalk ook nou op sy spoor?

Die manier waarop die skool die verdwyning hanteer, laat Greg besluit om by die skoolhoof, Dok Pienaar, se powere pogings om sy vriend op te spoor, in te meng. Dit neem Greg dan ook nie lank nie om vas te stel dat wie ook al sy vriend ontvoer het, vir hom leidrade gelos het. Hy sal egter al die vaardighede wat Eckardt hom geleer het, nodig kry om dié raaisel der raaisels te ontsyfer.

Stuk vir stuk begin hy dan die hacker-uitdagings aandurf. Elke taak bring hom 'n tree nader daaraan om sy vriend op te spoor, maar Greg het geen idee dat hy slegs die punt van die ysberg ontdek het nie.

Hy ontdek later dokumente en e-posse wat die skoolhoof verbind met ’n hoogs vertroulike Project Nursery Rhyme en eienaardige sakevennote in die farmaseutiese maatskappy PlusUltraMed, wat onder die skuilname die butcher, die baker en die candle-stick maker saamsweer om die wêreld op hulle knieë te dwing deur middel van ’n hoogs aansteeklike vorm van die H5NI-voëlgriepvirus.

Asof alles nie reeds moeilik genoeg is vir Greg by die skool nie, begin inspekteur Cele en sersant Botha van die SAPD met die ondersoek inmeng. Dit neem hulle nie lank om hul visier op Greg te stel as ’n hoofverdagte nie. Só bevind Greg hom dan in die middel van sy matriekjaar sonder vriende wat hy kan vertrou, besig met kriminele bedrywighede. En dit alles terwyl die polisie, sy pa en die skoolhoof die wêreld vir hom baie moeilik maak.

Greg het die onderwêreld van die hacker-bedryf gecrack en nou moet hy om oorlewing veg.

Wat die storielyn betref is die wending aan die einde van die verhaal briljant, veral vanweë die feit dat dit die leser onverwags oorrompel. Ander positiewe punte van kritiek sluit in ’n goeie ontwikkeling van die hoofkarakter deur die loop van die boek tot ’n sterk volronde figuur wat sy mening uitspreek en sake in sy eie hande neem, ongeag wat ander dalk van hom mag dink.

Viljoen het ook vir diegene wat na afloop van die verhaal daaraan dink om hulle hand aan ’n keyboard te slaan as newbie hackers, ’n vriendelike waarskuwing aangeheg in die vorm van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies aan die einde van die boek. Op hierdie manier vermaak die boek nie net nie, maar lig dit tieners ook in omtrent relevante sake in vandag se samelewing.

Ten slotte kan daar gesê word dat Fanie Viljoen, wat bekend is daarvoor dat hy tieners op die punte van hulle stoele hou met sy naelbyt-rillers soos Spoke en ander gruwelike goed (2005), Breinbliksem (2005) en Miserella (2007), weer eens slaag met hierdie publikasie. Dit verdien ongetwyfeld Sanlam se Silwertoekenning vir jeuglektuur.

Onderwêreld is nie net nog ’n verhaal van rekenaar-geeks wat probeer cool wees nie, maar bly deurentyd boeiend en aksiebelaai terwyl die storielyn gemaklik van hoofstuk na hoofstuk vloei. Hierdie boek dra ook by tot ’n broodnodige nuwe tegnologie-genre in die Afrikaanse literatuur en beloof om enige Afrikaanse tiener hierdie vakansie voor die bladsye vasgenael te hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top