Uit deur Fanie Viljoen

  • 1

Titel: Uit
Outeur: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799367034

Koop Uit by Kalahari.com

Twee onderwysers, twee menings.

Coenraad Walters en Dewald Koen is albei onderwysers en albei kenners van die letterkunde. Hulle is gevra vir 'n wedersydse gesprek oor Fanie Viljoen se nuutste boek, die jeugroman Uit! Hulle het egter albei versoek om nie vooraf mekaar se menings oor die boek te sien nie. Hulle onderskeie indrukke word hier geplaas soos wat dit tematies by mekaar aansluit.

Coenraad Walters
Dewald Koen

Oor Fanie Viljoen in 2014

Coenraad Walters

2014 het ontwikkel in 'n jubeljaar vir Fanie Viljoen – nie alleen vier hy tien jaar sedert sy eerste boek (Slym, LAPA 2004) nie, maar hy publiseer onder meer twee baanbrekerwerke vir tieners en jong volwassenes: eers Pleisters vir die dooies oor 'n skoolskietery, en nou Uit.

Dewald Koen

Vanjaar blyk ’n besonder produktiewe jaar vir Fanie Viljoen te wees – minder as ’n maand na die verskyning van sy opspraakwekkende roman Pleisters vir die dooies het sy jongste roman pas by LAPA verskyn.

Oor die verhaal Uit

Coenraad Walters

Uit vertel die verhaal van Brent Stander, 'n seun in graad 10 aan 'n skool in Bloemfontein. Hy is 'n talentvolle rugbyspeler (nou nog in die tweede span, maar sy visier is daarop gestel om die eerste span se senter te word). Omdat sy lyf gespierd gebrei word deur die sport, sien meisies hom raak en stel die gewilde Nita sterk in hom belang. Sy beste vriend Kevin is vir hom 'n rolmodel, nie alleen op die sportveld nie, maar ook sosiaal: partytjies, drank, meisies (en Kevin praat nie net groot oor wat hy met meisies aanvang nie – hy dóén werklik). Brent se idee van wat 'n “regte man” is, berus in 'n hoë mate op Kevin se uitlatings. Voorts het Brent 'n gemaklike verhouding met sy ouers en laerskoolsussie Lana.

Dewald Koen

Die verhaal handel oor Brent Stander, ’n sestienjarige tienerseun en bekwame rugbyspeler. Brent se karakter versinnebeeld die deursnee-tienerseun en die algemene kwessies wat tieners se lewens daagliks affekteer. Aanvanklik blyk die roman jou tipiese tienersage oor meisies en rugby te wees. Talle verwysings na seks, drank en partytjies, sowel as suggestiewe opmerkings deur die antagonis, Kevin, wat toevallig ook Brent se beste vriend is, kom in die roman voor. Kevin se beheptheid met die seksuele word oortuigend aangebied en dien funksioneel binne die groter raamwerk van die narratief te wees, aangesien dit juis Kevin se obsessie met seks is wat Brent dwing om sy eie seksuele identiteit te ondersoek. Kevin se karakter verteenwoordig die tipiese chauvinistiese Afrikanerman wat glo dat daar “niks fout daarmee [is] om só met die girls rond te mors nie” (11). Reeds vroeg in die roman word die leser bewus van Kevin se houvas op Brent en dat Brent heel moontlik meer as slegs vriendskaplike gevoelens teenoor Kevin koester.

Oor die tema van die boek

Coenraad Walters

Wat Brent egter uitsonder tussen sy skoolmaats, is die groeiende gewaarwording dat hy anders is as hulle. Hy probeer dit onderdruk en hy let fyn op na hoe om te praat en op te tree sodat hy kan inpas, maar dit word al moeiliker. Uiteindelik ontwikkel sy innerlike konflik, veral weens sy verhouding met Nita en sy kontak met 'n nuwe kennis, Henri, tot 'n punt waar hy nie anders kan as om die waarheid in die oë te kyk en dit met ander te deel nie: Brent is gay. Selfaanvaarding is nie noodwendig maklik nie en hy bereik eers die rand van 'n afgrond. Die reaksie van ander karakters wanneer Brent se seksualiteit aan die lig kom, verteenwoordig 'n breë spektrum: skok, ongeloof, verwerping, fisieke geweld, maar ook aanvaarding en steun.

Viljoen karteer Brent se binnereis baie oortuigend: daar is dikwels oomblikke wat die leser sal herinner aan die stommiteite van jou eie tienerjare. Die karakterbeelding, skryfstyl, dialoog – alles dra by tot 'n besonder meevoerende vertelling. Maar die waarde van die boek lê nie slegs in Viljoen se herhaalde demonstrasie dat hy uitstekend kan vertel nie – dit lê ook in die onderwerp en die vernuwende bydrae wat dit in die Afrikaanse letterkunde vir jonger lesers bring.

Homoseksualiteit as literêre tema is niks nuuts nie; ook in Afrikaans is dit 'n gevestigde onderwerp. Kyk gerus na boeke soos Klaprose teen die wind van Marzanne Leroux-Van der Boon en Eben Venter se Wolf wolf, asook die verhale van Hennie Aucamp en Johann de Lange. In Engelse fiksie vir tieners en jong volwassenes is daar 'n lang lys titels oor hierdie tema beskikbaar: die Amerikaner David Levithan se Boy meets boy, sy samewerking met die populêre John Green, Will Grayson, Will Grayson, en die Nieu-Seelander Graeme Aitkin se 50 ways of saying fabulous dien as enkele voorbeelde.

Dit is hoog tyd dat die onderwerp klinkklaar in Afrikaans aangesny word. Ek kan nie dink aan 'n ander gay karakter in Afrikaanse boeke vir hierdie ouderdomsgroep nie, behalwe die hoofkarakter se beste vriend in Francois Bloemhof se Slinger-slinger (1997). Is die onderwerp werklik só doodgeswyg in Afrikaanse tienertekste? Hopelik sal lesers my onkunde regstel in kommentaar hier onder.

Dewald Koen

Reeds met die ietwat gewaagde omslagontwerp van Zinelda McDonald word die tema van die seksuele, of eerder seksualiteit, in die roman gesuggereer. Die ekstatiese liggaamstaal van die hemplose tienerseun wat in die lug spring, dui op ’n gevoel van bevryding – ’n onderwerp wat telkens in die roman geopper word. Die voorblad is tot ’n mate soortgelyk aan dié van Viljoen se roman Spring wat in 2013 verskyn het. Net soos in die geval van Leon van Nierop se Plesierengel word die voorblad op geslaagde wyse as prikkel vir bemarkingsdoeleindes aangewend. McDonald se ontwerp is heel smaakvol en gepas ter inleiding tot die tema van die roman.

Homoseksualiteit is ’n onderwerp waaroor gereeld op talle platforms gedebatteer word. Selfs in 2014 blyk dit steeds omstrede van aard te wees weens die verskeidenheid opinies wat deur onderskeie sektore van die samelewing oor dié onderwerp uitgespreek word. Dit is juis dié omstrede onderwerp wat Viljoen as tema vir sy jongste roman gekies het – ’n eerste vir Afrikaanse jeugliteratuur.

Die titel sinspeel op die proses waartydens ’n homoseksuele persoon uit die figuurlike kas klim en sy of haar seksuele oriëntasie bekendmaak. Verder dui dit ook op ’n vorm van selfbevryding waartydens die persoon in staat is om sy of haar ware self te wees sonder enige vorm van skuldgevoel of skaamte. Die titel kan gevolglik reeds ’n vermoede by die leser aktiveer dat hierdie roman moontlik oor homoseksualiteit handel.

Die narratief word vanuit die eerstepersoonsperspektief aangebied. Viljoen het waarskynlik dié vertelperspektief gekies juis om ’n meer persoonlike stemming in die roman te skep, sodat die leser die hoofkarakter se gevoelens en ervarings met groter meegevoel kan ervaar.

Viljoen het hier ’n hoogs omstrede onderwerp op geslaagde wyse aangepak deur sport, maar meer spesifiek rugby, as ’n sentrale element te inkorporeer. Rugby word deur die meeste tienerseuns tot ’n mate verafgod en dien dus as ’n geskikte vertrekpunt om die omstrede kwessie van die hoofkarakter se seksuele oriëntasie aan te pak. Dit was heel moontlik ’n taktiese besluit van Viljoen om die omstredenheid van die roman op ’n minder bombastiese en moontlik omstrede wyse aan te bied. Deur rugby as onderwerp te gebruik, het Viljoen ook die stereotipe van gay mans as verwyfd vermy. Brent word uitgebeeld as ’n gewone tienerseun wat rugby speel en tyd saam met sy vriende spandeer.

Met die verloop van die roman word die leser bewus van die feit dat die hoofkarakter met ’n groot geheim rondloop waarmee hy worstel. “Jy lieg vir jouself, sê ’n binnestem. Jy het nog altyd. Dis wat jou deesdae so pla. Dis jou eie leuens” (65). Brent se innerlike stryd met sy seksualiteit word deurgaans deur middel van innerlike monoloog aan die leser ontbloot. Wanneer sy paaie met dié van Henri kruis, word sy stryd egter tot ’n klimaks gevoer.

Viljoen raak ook temas soos tienerselfdood en homofobie in die roman aan. Beide onderwerpe is aktuele kwessies wat gereeld op talle platforms aandag geniet en hier op geslaagde wyse in die narratief geïnkorporeer word. Brent se eerstehandse ervaring van homofobie lei tot die klimaks en ontknoping van dié spannende roman.

Nog gedagtes

Coenraad Walters

Ek hoop natuurlik heimlik dat Uit 'n reeks word. Hoe gaan Brent se pad nou verder loop met sy familie en sy skoolmaats? Want die oplos van innerlike konflik oor jou seksualiteit plaas jou – soos Brent begin beleef – potensieel in konflik met die mense óm jou. Watter rol gaan Henri voortaan speel? Gaan die konstitusionele hof Brent se konserwatiewe skoolhoof (wat die Bybel as vlieëplak inspan) dwing om Brent en 'n manlike dansmaat by die matriekafskeid toe te laat? Gaan Brent ooit trou? Kinders grootmaak? Die moontlikhede is onbeperk.

Met Uit bou Viljoen sy eie indrukwekkende publikasielys en die tienerfiksiegenre in Afrikaans positief uit met nóg 'n verhaal wat ver en wyd gelees moet word. Vele tieners gaan hulle eie stryd hierin weerspieël sien. Duisende meer gaan besef wat hul maats of familielede deurmaak. Families en onderwysers kan insig verkry in die optrede en denkprosesse van seuns en meisies met wie hulle te doen kry.

Natuurlik gaan daar mense wees wat hieroor brom en beswaar maak. Natuurlik gaan skole in die moeilikheid kom as dit op die voorgeskrewe lys of die biblioteekrak staan. Maar dit móét daar staan, want dis nodig. En – selfs belangriker – dis goed.

Dewald Koen

Met Uit het Viljoen ’n omstrede tema as onderwerp vir sy roman gekies – iets wat nog nooit tevore in die Afrikaanse jeugliteratuur gedoen is nie. Die roman is prysenswaardig, aangesien dit homoseksualiteit op ’n objektiewe wyse deur middel van die narratief bespreek. Die nawoord bevat boonop waardevolle inligting vir tieners wat aspekte rondom hul seksuele oriëntasie wil ondersoek.

Ten spyte van die boeiende narratief wat Viljoen aanbied, is daar egter sekere vrae wat geopper moet word. Die feit dat die hoofkarakter seksueel met ’n meisie verkeer wetende dat hy nie seksueel tot haar aangetrokke is nie, is nie noodwendig realisties nie. Viljoen kon moontlik hierdie aspek vermy het, aangesien dit teen daardie tyd in die narratief reeds duidelik is dat die hoofkarakter gay is. (Dit ten spyte van die feit dat hy aan homself wil bewys dat hy nie gay is nie.) Die uitbeelding van die homofobiese skoolhoof wat Brent openlik kritiseer, blyk ook problematies te wees, aangesien dit binne die Suid-Afrikaanse konteks hoogs onwaarskynlik is dat ’n skoolhoof sy/haar werk op die spel sal plaas, gegewe die beskerming wat homoseksuele regte in die Grondwet geniet. Dat homofobie aan die orde van die dag is, word nie bevraagteken nie, maar in die romangegewe dui dit op ’n moontlike stereotipe van sogenaamd konserwatiewe Afrikaanse skoolhoofde. Verder moet die leser hom of haar ook afvra of dit realisties is dat ’n homofobiese individu (in dié geval Kevin) twee dae sal wag om sy gay vriend oor sy seksuele oriëntasie te konfronteer.

Laasgenoemde faktore doen egter nie afbreuk aan die roman as geheel nie. Uit  is baanbrekerswerk sover dit die Afrikaanse jeugliteratuur aangaan. Met hierdie roman slaag Viljoen daarin om homoseksualiteit, ’n kwessie waarmee talle tieners (en volwassenes) worstel, op ’n realistiese wyse uit te beeld. Die roman sal wel by tieners aanklank vind weens die gemaklike taalgebruik en die realistiese uitbeelding van tieners oor die algemeen. Beide Viljoen en LAPA moet geloof word vir die feit dat hul dit gewaag het om ’n jeugroman oor gaywees met ’n gay hoofkarakter te skryf en te publiseer. “Elke mens moet iets doen wat hom bang maak. Al is dit net eenkeer in jou lewe, doen iets wat jou bang maak …” (91) Met laasgenoemde aanhaling bied Uit  hoop aan talle mense wat met hul seksuele oriëntasie worstel. Met dié roman toon Viljoen weer eens dat hy sy vinger stewig op die pols het van aktuele kwessies wat die jeug op ’n daaglikse basis affekteer.

Besoek Uit op Fanie Viljoen se webtuiste

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top