Die klein boek van-reeks deur Fanie Viljoen: ’n resensie

  • 0

...
Dit kan beslis aanbeveel word om hierdie tipe boeke te gebruik as ’n ‘skelm werktuig’ om ’n brug te bou vanaf ’n kind wat lees as huiswerk en vervelig sien, na iets waarvan ’n kind sal hou om te doen.
...

Die Klein boek van skouspelagtige sport
ISBN: 9781776354009

Die Klein boek van mal modes
ISBN: 9781776354023

Die Klein boek van skitterende speelgoed
ISBN: 9781776353989

Die Klein boek van hipercool hondetoertjies
ISBN: 9781776353873

Skrywer: Fanie Viljoen

Uitgewer: LAPA

Fanie Viljoen se Die klein boek van-reeks is net die regte ding vir hope vakansieplesier. Hierdie boeke bevat al die idees wat jy nodig het om die hele gesin vir ’n week of meer besig te hou. Die nuutste vier titels belowe om selfs nóg meer pret te verskaf.

Die skrywer en kunstenaar Fanie Viljoen het waarskynlik geen bekendstelling nodig nie, maar net ingeval jy nog nie weet nie – sy boeke is so cool soos yslollies op ’n lentedag. Viljoen het al verskeie gesogte kinder- en jeugliteratuurpryse gewen. Daar is ’n hele paar ATKV-kinderboektoekennings op sy kerfstok, asook die Tienie Holloway-medalje en die MER-prys vir geïllustreerde kinderboeke vir Die dag toe die draak kom (2019). Meer onlangs Offers vir die vlieë (2020), wat die 2019 Lapa-Jeugromankompetisie gewen het en pas in Engels vertaal is as Sacrifice to the flies (2022). Baie van sy boeke, soos Onderwêreld (2008), Dromers (2017), Veldiep (2018), Pieksel (2019), Môre as ons groot is (2020), asook Afkop (2020) word ook in skole gebruik en voorgeskryf.

Hierdie reeks boeke bevat interessante feite en projekte wat baie handig is vir die klaskamer en kan dalk net die bron wees vir ’n mondeling.

’n Paar idees vir dié wat sukkel om hulle leerders aan die lees te kry, is te vinde in hierdie reeks. Gebruik die kort brokkies inligting uit Die klein boek van-reeks om begripstoetse en luistertoetse op te stel. Dit is natuurlik verstaanbaar dat daar in ’n departementele vraestel nie juis van hierdie tipe tekste gebruik gemaak sal word nie. Alhoewel hierdie leser voel hulle behoort, maar gebruik dit in klasopdragte en ander nie-departementele aspekte van die leeskurrikulum. Gebruik dit om speletjies in die klas aan te moedig, of lees daaruit in daardie 10 minute voor die klok lui aan die einde van die periode. Selfs met daardie letterkundeprojek wat gewoonlik in die derde kwartaal sy kop uitsteek, sal leerders kan baat vind by hierdie bron. Daar is iets van alles, van interessante feite oor Monopoly en waar die oulike Troll-poppies vandaan kom, tot skreeusnaakse Lego-grappe.

Dit kan beslis aanbeveel word om hierdie tipe boeke te gebruik as ’n “skelm werktuig” om ’n brug te bou vanaf ’n kind wat lees as huiswerk en vervelig sien, na iets waarvan ’n kind sal hou om te doen.

In die nuutste vier titels bespreek Viljoen ’n hele paar interessante onderwerpe. In Skitterende speelgoed (2022) is daar hope interessante feite oor bekende speelgoed van Barbie tot Lego, en in Hipercool hondetoertjies (2022) is daar hope wenke oor hoe om vir Wagter te leer. In Mal modes (2022) word alles wat mal is van modes bespreek of dit nou modern of uit die 18de eeu dateer met ’n grappie of twee tussenin. In Skouspelagtige sport (2022) word alles omtrent sport bespreek – van hoe vinnig ’n sierskaatser kan draai tot waar skaak vandaan kom en hoekom ons die woord “skaakmat” gebruik. Daar is beslis iets vir elke smaak en boonop leer jy sommer ’n klomp nuwe feite.

Onlangs is hierdie reeks boekies by ’n studenteuitruilorganisasie ingespan om ’n groep vreemdetaalstudente te help leer om Afrikaans te lees en praat. Dit help geweldig baie dat daar in hierdie boekies onderwerpe bespreek word wat in ’n wye verskeidenheid mense se belangstellingsveld kan val. Een student het juis Die klein boek van skouspelagtige sport uitgesoek, omdat hy baie van sokker hou. ’n Ander student het weer Die klein boek van mal modes geniet, omdat sy dit interessant gevind het om te leer oor modes uit die verlede. Dit was vir haar lekker om Afrikaans op hierdie manier te leer deur ’n teks wat interessante inligting op ’n eenvoudige manier oordra.

Die kombinasie van interessante feite, wenke en instruksies (soos om jou hond stap vir stap toertjies te leer) saam met mooi maar funksionele illustrasies maak dit die ideale teks vir taalvaardighede aanleer. Hierdie boekies is daarom ook geskik vir addisioneletaalleerders wat dit prettig sal vind om te lees. Die sleutel tot ’n leeskultuur onder jong lesers lê juis daarin dat hulle dit lekker moet vind om te lees.

Een van die vrae wat seker die meeste gevra word deur ouers, onderwysers en enige iemand wat ’n liefde vir lees wil kweek, is: “Hoe kry ek ’n kind om te lees?” Wel, die antwoord is eintlik baie maklik – maak dit lekker! Die belangrikste ding is om vir kinders te wys hoe lekker dit kán wees. Hierdie reeks boeke is dus effektief om ’n kind aan die lees te kry. Hipercool hondetoertjies gaan vir jou en jou beste vriend (Wagter of Flappie) leer hoe om lekker toertjies te doen waarmee jy jou vriende ná die skoolvakansie kan verras. Daar is wenke vir hondehappies en hoe jy jou viervoetige vriend kan oortuig om na jou te luister.

Dit is ook hierdie tipe boeke wat die potensiaal het om op ’n speletjiesaand te kan red. Elk van die vier boekies het tonne interessante, en soms grillerige feite. As jy die tipe persoon is wat hou van algemenekennisvasra-aande, of die meer bekende pub quiz, en ’n paar lekker pryse soos ’n sjokolade of selfs ’n R50-noot is op die spel, motiveer niks mense so maklik soos ’n prys nie.

Ander titels in die reeks is: Fantastiese feite (2020), Gruwelike geheime (2020), Katastrofiese kattekwaad (2020), Reuserekords (2020), Toweragtige toertjies (2021), Grappige gewoontes (2021) en Skrikwekkende spoke (2021).

Dit is duidelik dat daar soveel interessante feite, wenke en snaakse grappe in hierdie reeks is, dat dit die jongspan vir ure sal besig hou. Die reeks is veelsydig en die moontlike toepassings in die klaskamer tot vir vreemdetaalsprekers wat Afrikaans wil aanleer, is oneindig.

Verwysings

Hutchison, M. 2019. What the Happiest Kids in the World are reading. Beskikbaar aanlyn:  https://wordswithoutborders.org/read/article/2019-01/what-the-happiest-kids-in-the-world-are-reading-michele-hutchison/.  Besoek op 7 September 2022.

Viljoen, F. 2022. Fanie Viljoen webtuiste. Beskikbaar aanlyn: http://www.fanieviljoen.co.za/. Besoek op 13 September 2022.

 Lees ook:

Die blinkertjies in Pa se baard en ander skitterende stories en Die skool vir ramspoedige talente en ander gelukkige stories, ’n resensie

Fanie Viljoen (1970–)

Brand deur Fanie Viljoen: ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen 

Donker web deur Fanie Viljoen: ’n resensie

Uit deur Fanie Viljoen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top