Die blinkertjies in Pa se baard en ander skitterende stories en Die skool vir ramspoedige talente en ander gelukkige stories, ’n resensie

  • 0

Titel: Blinkertjies in Pa se baard en ander skitterende stories
Samesteller: Marieta Nel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776354337

Titel: Die skool vir rampspoedige talente en ander gelukkige stories
Samesteller: Marieta Nel
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776354351

Hoe kry jy ’n kind aan die lees? Dit is seker een van die moeilikste vrae in die wêreld om te beantwoord. Hierdie twee boeke is moontlik die sleutel waarna jy soek.

Blinkertjies in Pa se baard en ander skitterende stories

Hoe cool is ’n boek met blinkers op die voorblad? Hierdie versameling is net so cool as wat die “glitter” dit laat lyk.

Dit is die ideale bron vir enige onderwyser, ouer, tutor of selfs leerontwerper. Ja, jy het reg gehoor, leerontwerper (learning designer), mense wat leermateriaal vir skole en aanlyn leerplatforms ontwerp. Die stories is net die regte lengte vir ’n begripstoets of luistertoets. Dit is nuttig vir ’n luistertoets juis omdat ’n seleksie van die verhale as klankgrepe beskikbaar is. Dit word deur skrywers en jong lesers voorgelees.

Die lekker verse in die poësie-afdeling en die kortverhale is perfek vir ’n letterkundeprojek, of sommer net om te lees. Dis net reg om daardie niksseggende stiltes te vul voor die klok lui, of na ’n toets of eksamen wanneer almal net die tyd sit en dophou. Met verse soos “Ek soek nooit moeilikheid nie”, “Ons hond”, “Wiskunde”, “As ék eendag groot is” en nog baie meer kan daar net glimlagte in die vooruitsig wees.

’n Lekker leesaktiwiteit aan die einde van die dag, of in die laaste 10 minute van die periode, is om net ’n gedeelte of sommer ’n hele storie vir die klas voor te lees. Maak dit deel van ’n klasroetine en kyk net hoe vinnig raak kinders geïnteresseerd in ’n boek. Dit werk en jy sal verbaas wees hoe selfs uitgegroeide seuns hierby sal aanklank vind … en daarna in ander boeke, en daarna self begin lees. Daar byt die gogga selfs die hardnekkigste antileser! Dit beteken nie almal sal hou van lees nie, maar dat almal weens die bietjie wat hulle wel lees, al is dit via ’n klankgreepvoorlesing, die konneksie sal maak dat lees lekker is.

Die skool vir ramspoedige talente en ander gelukkige stories

Hierdie is ’n interessante versameling stories, veral die seleksie volksliteratuur wat opgeneem is (ook in die bundel wat ek hier bo bespreek het). Sommige is ’n bietjie verwerk en kreatief mee omgegaan, maar dit is steeds ’n vorm van kanonisering. Terselfdertyd word ou stories bewaar deur ’n ouer teks in ’n nuwe teks in te bed. So leef daardie ouer teks voort en natuurlik word dit weer oorgedra na ’n nuwe generasie. Dink net aan die Odyssee en die verhale van Esopus – al die wonderlike fabels.

Die mitologie is ’n ryk bron vir skrywers en wat ook al vir eeue al oorleef het deur die herskrywing en oordra van verhale deur dieselfde proses – Thor byvoorbeeld. Almal ken die hunk van ’n Thor (Chris Hemsworth) uit die Marvel-films. In een van die kortverhale vind ons uit hoe Thor sy hamer gekry het – ’n oorspringverhaal oor dié ikoniese held en sy alombekende hamer. “Die hamer kan nie breek nie. En ook nie mis nie. Die beste van die hamer is, maak nie saak waarheen jy die hamer gooi nie, dit sal altyd terugkom na jou hand toe” (Steyn 2020:148). Thor is maar een voorbeeld van die karakters waarmee kinders sal kan vereenselwig in hierdie bundel vol stories.

Kinders word deesdae oorrompel met keuses van tegnologie en verskeie ander opsies, eerder as boeke vir vermaak. Dit lei weer tot ’n ander bekommernis: dat kinders nie lees nie.

In Suid-Afrika het ons ’n groot probleem waar kinders nie kan lees nie of sukkel om te lees. Tog word daar dikwels weggeskram van ’n redelik maklike oplossing: Wys vir kinders hoe lekker dit is om te lees.

Maritha Snyman het ’n studie gepubliseer oor die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders (2006) waar daar die volgende belangrike bevindings gemaak is:

  • In verband met die boekopsies wat deur feitlik al die respondente spontaan genoem is, was die omslae die faktor wat hulle besluit kon swaai en of hulle die boek sal aanbeveel aan ander. Dit is ’n duidelike onderskrywing van die studie se bevindings wat aandui dat die omslag die een enkele eksterne motiveerder is waarom respondente ’n boek sal kies (Snyman 2006:81–2). Die pragtige omslae van beide bundels sal enige kind nuuskierig maak.
  • Volgens die studie is dit duidelik dat die kinders wat deelgeneem het, multidimensionele karakters waardeer omdat hulle met die karakters kan identifiseer (Snyman 2006:81–2). Daar is hope verhaalopsies om van te kies, met karakters wat enige oomblik uit die boek kan ontsnap.
  • ’n Interessante bevinding, wat ’n algemene wanopvatting weerlê, is dat meisies nie meer lees as seuns nie (Snyman 2006:81–2.)

In ’n ander studie deur Lessing-Venter en Snyman (2017), is daar ondersoek ingestel na kinders tussen 6 en 12 jaar se leesmotivering. Daar is verskeie vrae gevra oor watter boeke en hoeveel kinders in hierdie ouderdomsgroep lees. Een van die grootste faktore uit die terugvoer was:

  • Meer lesers as antilesers het gesê dat hulle lees omdat lees ’n vaardigheid is wat hulle leer hoe ander mense leef en voel. Lees help hulle om die wêreld beter te verstaan; dit is pret; dit help hulle om inligting te vind; dit gee hulle ’n wegbreek van die alledaagse; en dit help hulle om hulself beter te verstaan (2017:885).
  • Reeksboeke, selfs by die ouer kinders, was die gewildste genre, met 45,9% van die groep wat aangedui het dat hulle van reeksboeke hou.

Lessing-Venter en Snyman het vasgestel dat genot, die plesier wat lees as ’n aktiwiteit verskaf, dikwels ontbreek en veral in geletterdheidsontwikkeling. Lees word beskou as huiswerk en nie iets wat jy kan doen omdat dit vir jou lekker is nie.

’n Tweede faktor wat ’n groot invloed op kinders se persepsie van lees getoon het, was of daar tuis gelees word. Dit wil sê, word lees by die huis beskou as ’n plesieraktiwiteit, en lees ouers self?

Die derde faktor wat genoem word, is die beskikbaarheid, toeganklikheid (biblioteke) en bekostigbaarheid van boeke. Tegnologie kan hiermee help, omdat baie van die land se biblioteke wel toepassings en e-boeke uitleen, virtueel. Tog is dit die armer gemeenskappe waar hierdie oplossing nie werklik help nie, maar waar boeke in ’n klaskamer dus wel ’n groot verskil kan maak.

Sonder om te akademies of verdiep te raak in die statistieke, is die slotsom die volgende: Hierdie twee bundels met kortverhale, gedigte, dramas en volksverhale is die perfekte “toerusting” om ’n jong leser aan die lees te kry. Dit is die tipe boeke wat in kort tydgrepies, bietjie-bietjie op ’n slag gelees kan word. Dit sal ’n kind aanmoedig om lees ’n gewoonte te maak, en het die potensiaal om ’n liefde vir lees by kinders te kweek. Dit is beslis ’n groot aanwins vir enige klaskamer, maar net so ’n lekker boek om tuis saam met ouers te lees of dalk iewers in ’n kombersfort met ’n flitslig as beurtkrag jou tref.

Die Engelse maats hoef nie bekommerd te wees nie, want The Vegan Vampire and other fantastic fiction (2022) beloof om dieselfde leesgenot in Engels te verskaf.

Verwysings

Lessing-Venter, N en M Snyman. 2017. Aspekte wat kinders se leermotivering beïnvloed. LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/12/LitNet_Akademies_14-3_LessingVenter-Snyman_866-895.pdf  (29 Junie 2022).

Snyman, M. 2006. Die leesvoorkeure en leesgedrag van Afrikaanse kinders. [Studie.] Universiteit van Pretoria.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top