Dis waar ek bly
In die ruimte agter ruit en inbreekyster
Hier trek ek die datalyne van die kontinente saam
Soos ’n bossie blomme hou ek dit in my hand
In Bloemfontein
Die middel van my wêreld
Die middel van my land
Die middel van my provinsie
Randfiguur in my stad
Ek zero in op die tragiek van elders
Ek kyk in op rook en bomme
Op geboortes en bande
Op blomme
Op grafte
Ook in bruide se hande
Totdat ’n virus inbreuk maak op my sig
’n Dag lank
Maar my dokumente is gerugsteun op Dropbox
Dis waar ek eendag gaan bly
Veilig in die kuberruimte
Agter ewige nulle en elektroniese ene