LOK-simposium 2017: Onderwêreld-video en -verslag

  • 0

Saterdag 18 Februarie 2017 het die 650 Lokkers na die lokale in die Letterkunde en Wysbegeerte-gebou gestroom om die aanbiedings by te woon.

Een van die gunstelinge was die een van Fanie Viljoen, skrywer van Onderwêreld, die nuwe voorgeskrewe roman vir graad 12. As gevolg van die polemiek rondom die geskiktheid van die boek vir huistaalsprekers, was die onderwysers gretig om die “man” van die “onderwêreld” te ontmoet en eerstehandse menings te vorm.

Fanie het met sy kenmerkende gemaklike styl die onderwysers teruggeneem na die geboorte van Onderwêreld. Die Lokkers het met groot belangstelling geluister hoe die idee ontstaan het en hoe hy die ruimte en karakters gekies het en dit ontwikkel het tot ’n spanningsvolle storielyn. En die ongelooflik baie navorsing wat die skryf voorafgegaan het!

Dié aanbieding by LOK is voorafgegaan deur ’n bekendstellingstoer by al die skole van die Overberg-onderwysdistrik. Een van die seuns het gesê dat die lees van Onderwêreld in die klas ’n aangename en vreemde ervaring was. Vir die eerste keer in jare het die leerders saam omgeblaai wanneer hulle in die klas gelees het!

Myrtle Klaasen, Afrikaansonderwyser van Groenberg Sekondêr in Grabouw, se mening is:

“Wat Fanie betref: die navorsing en hoe die karakters lewe kom kry het, die karakters wat hy ’n gesig kom gee het, foto’s van kuberkrakers se werkpatroon, die realiteit van kuberkrakery – dit het hy so goed aan die leerders oorgedra.”

Fanie som sy besoek aan die Overberg so op: “Oor die kinders kan ek nie uitgepraat raak nie. Toe ek destyds Onderwêreld geskryf het, het ek nie besef soveel leerders sal opgewonde raak oor lees nie. Ek moes by die skole en by die LOK telkens hoor hoe die boek wérk vir die matrieks, dat sommige leerders self die boek by die huis gaan klaar lees. Sommige leerders het vir my kom vertel hulle lees die boek al 'n tweede keer en sien nou die vooruitskouings raak. Hulle vrae oor die boek wys ook dat hulle dit deeglik lees.

“Die grootste oomblik vir my was egter die matriekseun wat by een van die skole vir my kom vra het hoekom die titel Onderwêreld is. Dis 'n seun wat al swaargekry het en wie se oë al duidelik dinge gesien het wat kinders nie moet sien nie. Ek het die verskillende onderwêrelde in die roman verduidelik, en uiteindelik vir hom gevra: "Onder die bendes is daar seker ook so 'n onderwêreld?" Hy het so 'n glimlaggie gekry en daar het 'n lig in sy oë opgegaan toe hy antwoord: ‘Djy weet mos.’ Hoe sou enige een van ons ooit kon raai dat die voorgeskrewe boek op só 'n manier met 'n leerder sou kon praat?”

Fanie oor sy eerste skryfwerk: “My eerste skryfwerk was seker die poppekas-draaiboek wat ek op laerskool geskryf het. Ek het ook die poppe met papier-mâché gemaak. My ma het klere vir die poppe gemaak, en my pa die poppekas. Vir die klank het ek twee bandopnemers gebruik. Een het musiek gespeel. Met die ander een het ek die musiek en dialoog vooraf opgeneem. My plan was om die buurt se kinders die skrik op die lyf te jaag, maar dit het nie baie goed gewerk nie. My grillerige poppe wou nie alles doen wat ek wou doen nie, en die vrolike klaviermusiek wat gespeel het, het ook nie juis bygedra tot die spokerige atmosfeer wat ek probeer skep het nie. Tog het ek baie geleer uit hierdie stukkie werk. Vandag geniet ek dit steeds om die spanning in my boeke op te jaag. Daar is niks so lekker as om mense met ’n goeie storie te vermaak nie.

 “Elke boek is egter ’n onderwêreld van sy eie. Jy weet nooit of jy uiteindelik by die laaste paragraaf, sin en punt gaan kom nie. Soveel aspekte kan ’n manuskrip in die skryfproses laat ontspoor. ’n Skrywer se werk is daarom om in die onderwêreld af te sak en uiteindelik weer ’n pad daaruit te maak.”

Ja. Fanie, het ongetwyfeld ’n (onderwêreldse) aar raakgeboor. Hierdie roman het beslis ’n onverwagte leesreaksie in die skole aan die gang gesit. Daar is matrieks wat sê dat hulle die boek moet wegsteek, want die graad 11’s steel dit. Hulle sien nie kans om te wag tot 2018 om die boek te behandel nie!

Video geplaas met vergunning van Suki Lock.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top