“Hierdie epiese grafiese roman is gebaseer op Fanie Viljoen se roman [...] wat deur Ransom Publishing gepubliseer is. Die Swart Kraai het Sam se pa doodgemaak, en nou het hy Sam doodgemaak. Sam is egter nie dood nie. Die dood was die sesde van sy sewe lewens, en nou het hy nog een oorblywende lewe - om terug te kom en Die Swart Kraai dood te maak. Die meesterlik kreatiewe Daniël Hugo het hierdie boek geïllustreer en lesers met ’n voorliefde vir die kuns van grafiese romans en strokiesprente sal weggeblaas word deur die besondere details van die illustrasies op elke bladsy.”[1]
Welkom Fanie en Daniël – ek sien hierdie grafiese roman van julle is gebaseer op die Engelse weergawe van Fanie se novelle The last time I died wat in 2016 verskyn het. Natuurlik is ek baie bly dat dit in Afrikaans vertaal is – hoe het julle by hierdie besluit uitgekom?
Fanie: Ek het destyds die novelle in Afrikaans vertaal, maar ek en die uitgewer het besluit dat dit dalk nie vir die Afrikaanse mark sal werk nie. Jare later, met nuwe uitgewers by LAPA, het ons egter besluit om eerder die novelle as ’n grafiese roman te publiseer.
Daniël: Ek is self bly dat die grafiese roman in Afrikaans vertaal is - ek dink daar is beslis ’n Afrikaanse lesersmark wat belangstel in grafiese storievertelling. Dit was egter heeltemal Fanie en die uitgewer se besluit en ek het eers later betrokke geraak.
Vertel asseblief vir ons hoe verloop die proses om ’n grafiese roman te skep? Wat is eerste, die storie of die prentjies? Ek vra dit omdat ek weet jy, Fanie, skryf en skilder...
Fanie: Die storie was eerste daar - in die vorm van die novelle. Met die herskryf moes ek egter in prentjies begin dink. Dit was uitdagend, maar ook pret.
Daniël: Altyd eers die storie! Die uitgewer het vir my Fanie se teks gestuur en dit was duidelik dat Fanie verstaan hoe ’n comic moet lees (slegs een aksie per raampie en om eerder dinge te wys as om dit te beskryf). Van daar het ek deur die teks gegaan en die raampies op so ’n manier gegroepeer dat daar ’n goeie bladsyritme kon wees en dat sekere onthullings op die volgende bladsy aan die leser openbaar sou word. (Ongelukkig het die ontwerper nie die nota gekry nie en het die storie nie op die regterhandse bladsy begin nie.
Dit het gemaak dat die storie nie so mooi lees soos ek graag sou wou hê nie.) Vandaar het ek begin om die karakters te ontwerp en om verwysingsprente te versamel om te help met die visualisering. Ná almal gelukkig was met die karakterontwerpe het ek begin om die bladsye uit te lê en te potlood voor die finale ink.
Ek kan sien in jou skilderye, Daniël,[2] dat jy lankal besig is met die verkenning en eksperimentering van verskillende style. Hoe het julle twee mekaar ontmoet en besluit om saam te werk?
Fanie: My uitgewer, Nandi Lessing-Venter, het die geleentheid vir samewerking gesien en vir my ’n paar van Daniël se vorige illustrasies gestuur.
Daniël: Ons het nooit ontmoet voor die grafiese roman se produksie nie (en het ongelukkig nog nooit in lewende lywe ontmoet nie). Die uitgewer het my in die hande gekry en vertel van die roman en ek was heel gelukkig om aan so ’n verhaal te werk met die donker, fantastiese elemente in Afrikaans.
Dit lyk vir my die bekendste (vertaalde) strokiesprente en -verhale in Afrikaans is dié van die Kuifie-reeks[3] en die Asterix-reeks.[4] Dan was daar ook die Afrikaanse reeks van Agent Snoet[5] deur François Bloemhof en Alistair Ackermann. Watter invloed het hierdie verhale op julle gehad?
Ek het met (soetsappige) fotoverhale grootgeword en my boeties het comics gelees, maar ons moes dit alles onder ons matrasse weggesteek het, want dit was “uit die bose” in ’n baie godsdienstige ouerhuis. Dit bly steeds vir my duister hoekom dit ’n “verbode” lees-en-kyklekkerte was, maar ons durf nie “hoekom” of verduidelikings vra nie... Dit is soos dit is, en basta!
Met watter strokiesprente het julle elkeen grootgeword - wat was die invloed daarvan op julle ontwikkeling op hierdie terrein?
Fanie: Ek het die Kuifie-boeke verslind, maar op hoërskool het ek die Asterix-boeke ontdek. Dit was so slim geskryf met wonderlike humor en woordspeling. Dit was onweerstaanbaar. My kunsonderwyseres het ons ook destyds na ’n uitstalling van TO Honiball se illustrasies by die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein geneem. Ek het nog twee van die poskaarte wat ek daardie dag gekoop het. Dit het ’n geweldige indruk op my gemaak.
Daniël: Ek was baie gelukkig om in ’n ouerhuis groot te word waar my ouers vir my Superman en ander goedkoop Amerikaanse comics by die plaaslike kafees gekoop het, nog voor ek kon lees. Ek was mal oor die kleure en die prentjies en het vroeg reeds my eie klein storietjies gemaak. Later het ek vir Oom Kaspaas en Adoons-hulle ontdek en ook Kuifie en Asterix. Alhoewel ek van die fotoverhale bewus was, het ek nooit regtig daarmee te make gekry nie. Op hoërskool het ek vir 2000 AD (’n taamlike gewelddadige Britse wetenskapfiksie-versameling strokiesprente) ontdek. Dit het my idees oor hoe comics kon wees heeltemal op sy kop gedraai en my belangstelling in meer volwasse stories geprikkel. Later het ek ook vir Heavy Metal ontdek, en dié staan uit as van die opwindendste kunstenaars en stories, byvoorbeeld Moebius, Enki Bilal, Milo Manara, ens.
As dosent by Zoeloesprekende onderwysstudente in Pietermaritzburg het ek besef watter trefkrag die humor van TO Honiball se Adoons-hulle gehad het met studente in tweedetaal-onderrig se belangstelling in die taal- en kultuur van die Afrikaanssprekende.
Toe ek by die US klas gegee het, het ek met die onderwysstudente Bluster & Tikolo, sowel as Arcadia behandel – wat onderskeidelik in Huisgenoot, Drum en You verskyn het – sodat hulle en hulle leerders se visuele geletterdheid en leesvaardighede kan ontwikkel. Dan was daar ook Die avonture van Pol en Jan van Riebeeck deur Liz de Groote en Helena van Schalkwyk (wat ongelukkig nie meer beskikbaar is nie). Ek en die studente het dit baie geniet. Is julle bewus van ander strokiesprente vir kinders in Afrikaans?
Dink julle dat strokiesprente leerders se leesbelangstelling kan prikkel en ontwikkel?
Fanie: Beslis. Strokiesprente kombineer die visuele en geskrewe wêreld op ’n unieke manier. As bonus is dit vermaaklik. Ek is bewus van Hendrik Leerdam se strokiesprente Seereis na die Kaap en Kaap van Storms wat dalk ook interessant is in hierdie verband.
Daniël: Ek dink beslis so! Dis vir my jammer dat die plaaslike uitgewers nie regtig daarop ingestel is om die plaaslike comic scene te ontwikkel en om meer sulke leesstof te publiseer nie. My gunsteling-aanhaling in verband met comics is: “Comics are a gateway drug to literacy.”
Dit is interessant hoe die sogenaamde manga-tekenstyl[6] (vir my) kenmerkend van julle grafiese roman is. Is ek korrek in hierdie aanname? Indien wel, hoe het julle belangstelling en vaardigheid in hierdie rigting ontwikkel?
Fanie: Daniël sal dalk hier kan antwoord.
Daniël: Ek sou nie regtig die tekenstyl as “manga” beskryf nie. Vir my is manga ’n baie spesifieke styl wat in Japan ontstaan het en waar daar sekere konvensies, soos groot oë en klein neusies en monde is. Nieteenstaande, is daar sekere invloede wat tog deurkom, soos om die karakters so te ontwerp dat hulle maklik vir die leser herkenbaar is. Ek wou dit ook graag op so ’n manier teken dat dit deurlopend konsekwent sou wees.
Ek het nou op Google op verskeie bronne afgekom wat verduidelik hoe om manga-tekeninge te maak, ook op akademiese artikels van Kinko Ito. Dit is duidelik dat die illustreerder die anatomie van die menslike liggaam goed onder die knie moet hê. Op watter manier het julle hierdie manga-vaardighede aangeleer?
Fanie: Daniël se aanslag was vir my verstommend. Ek weet hoe moeilik dit is om soveel beweging, verkorte aansigte en meer in illustrasies te verkry. Daniël is meesterlik!
Daniël: Ek werk meestal as ’n storyboard-kunstenaar vir advertensie- en filmmaatskappye en dus moes ek nog altyd vertroud wees met anatomie en perspektief. Ek het ook iets in my wat my dryf om goed te wees in wat ek doen en teken gereeld modelle in life drawing. Verder is daar sekere comickonvensies wat ’n mens maar optel deur die loop van tyd en deur baie comics te lees.
Ek het onderwysstudente by die US blootgestel aan strokiesprentkonvensies nadat ek op ’n verhandeling van A Badenhorst[7] afgekom, wat handel oor die konvensies en waarin dit toegepas is op ’n Madam & Eve-strokiesprent in Afrikaans.
Ek merk op dat daar baie ooreenkomste is tussen julle werk en die strokieskonvensies wat Badenhorst in sy verhandeling bespreek, maar daar is duidelik ook verskille in die manga-genre – kan julle laasgenoemde genre (soos wat julle dit gebruik) kortliks vir ons lesers in terme van die volgende kenmerke opsom...
Ruimtebeelding – geïnspireer deur die TV-reeks Game of Thrones met ’n gotiese atmosfeer (Fanie). Dis belangrik om die leser ’n idee van waar die toneel afspeel te gee, reg aan die begin. Verder moet jy vertroud wees met perspektief sodat die leser die konteks waarin die aksie gebeur, kan verstaan (Daniël).
Aksiestrepe – dui beweging aan (Fanie).
Siende dat mens met ’n statiese medium werk, is dit belangrik om aksies met lyne aan te dui en die gevoel van spoed en rigting oor te dra (Daniël).
Tempo – die verhaal word teen ’n vinnige pas vertel. Die illustrasies dra hiertoe by (Fanie).
Om tempo aan te dui is bietjie moeiliker, met geen vaste reëls nie en dit gaan meer oor “gevoel” en leesbaarheid. Dit hang ook baie af van die aksie en die spasie wat beskikbaar is (Daniël).
Tyd – Die verhaal speel in ’n verbeelde verlede af (Fanie).
Die verloop van tyd kan visueel gedoen word, byvoorbeeld die son se beweging deur die lug of met captions, byvoorbeeld “Later…” (Daniël).
Praatborrels – Net die nodigste dialoog word gebruik. Soms oorvleuel praatborrels met raampies (Fanie).
Dis belangrik om die praatborrels konsekwent te hou met die stertjies (verbindingstrepe) wat dieselfde dikte is, ens. Voorts moet die raampie op so ’n manier uitgelê word dat die persoon wat eerste praat aan die linkerkant is, en om nooit die stertjies te oorkruis nie (Daniël).
Klanknabootsing – Word gebruik om die klank van ’n aksie uit te beeld (Fanie).
Dit help om aksie aan te dui. Ek gaan gewoonlik vir iets wat taamlik foneties is om klank of geraas aan te dui (Daniël).
Stereotipering van karakters – Daar word eerder van argetipes gebruik gemaak (Fanie).
Dit help vir leesbaarheid en om nie die leser te verwar met die karakters nie (Daniël).
Woordteks – Word spaarsamig en kreatief gebruik (Fanie).
Dit help weereens vir leesbaarheid en om die leser deur die storie te lei, en dit help ook om dinge aan te dui wat miskien moeilik geteken kan word of onduidelik mag wees (Daniël).
Wisseling in grootte van raampies – Bring afwisseling vir die oog, laat die verhaal lewendig word op papier, dra by tot aksie (Fanie).
Dit help om die leser se aandag op belangrike tonele of aksies te fokus. Voorts kan dit help met die storievertelling (Daniël).
Afstandskote – Gee ’n filmiese effek (Fanie).
Dit help om die leser ’n duidelike idee te gee van waar ’n betrokke toneel afspeel en om onnodige detail in opvolgende panele te vermy (Daniël).
Verhaalstruktuur – Die verhaal volg ’n eenvoudige, klassieke struktuur: ’n Karakter wil iets hê, kan dit nie kry nie, hy probeer om dit te kry en uiteindelik slaag hy in sy doel (Fanie).
Dis grootliks afhanklik van die skrywer en daarna die interpretasie daarvan deur die kunstenaar (Daniël).
Ek het ’n ander grafiese roman in Afrikaans ontdek – deur twee dames geskryf en geïllustreer[8] – ’n verhaal tussen tieners van uiteenlopende kulture, met allerlei kinkels en kabels rondom liefdesverhoudings.
Julle roman het ook jong mense, maar met subtiele romanse – daar is ook baie meer beweging, gevaar en aksie. Sou dit wees omdat julle manlik is? Of het ek hier ’n stereotipe beet?
Fanie: Die meisie, Claire, is nogal ’n sterk karakter. Ek wou haar nie te stereotiep maak nie, daarom is sy ’n grafgrawer met ’n bitsige tong. Sy laat nie ouens oor haar loop nie.
Daniël: Mag miskien wees 🙂 Maar ek dink tog dat meisies ook aksie en gevaar geniet.
Dit lyk vir my dat daar selfs in Engels (in Suid-Afrika) nie baie manga-grafiese romans is nie. Is ek verkeerd of hoe dink julle daaroor? Is julle bewus van ander Afrikaanse grafiese romans?
Fanie: My suster Cecilia Steyn se boek ’n Hart is net atome het ook ’n manga-tekenstyl. Dit is blykbaar nou vir ’n internasionale manga-kompetisie ingeskryf. André Trantraal, Nathan Trantraal en Ashley Marais se boek Drome kom altyd andersom uit[9] het ook manga-elemente.
Daniël: Dit is so. Soos vroeër gesê, die plaaslike uitgewers is nie baie gefokus daarop om plaaslike grafiese romans te druk nie. Myns insiens is dit ’n groot fout, aangesien daar soveel Afrikaanse stories is wat verwerk kan word in grafiese romans en beslis kan lei tot meer geletterdheid en ’n belangstelling in storievertelling kan kweek. Die meeste plaaslike comics word onafhanklik geskep en gedruk en omdat daar geen verspreiding is nie, word dit net deur ’n klein groepie entoesiaste gesien en gelees in die groot metro’s. Daar is werklik baie talentvolle skrywers en kunstenaars wat totaal onder die hoofstroomradar werk in Suid-Afrika.
In ’n interessante artikel[10] oor Hemel op aarde wat oor Vincent van Gogh handel (deur T Horn en A Findlay 1997), word daar vermeld dat dit die eerste Afrikaanse grafiese roman is – stem julle saam?
Fanie: Ek ken ongelukkig nie die boek nie. Was Adoons-hulle nie egter vroeër as hierdie boek gepubliseer nie?
Daniël: Ek’s nie doodseker nie. Was ongelukkig nie eers hiervan bewus nie.
Nou wil ek ’n vraag vra oor ’n (vir my) taai toffie – hoe verskil julle grafiese roman van dié van die Bitterkomix-reeks in terme van die volgende...?
Temas – Bitterkomix takel onderwerpe soos rassisme, godsdiens, seks. Laaste lewe se temas is vriendskap, eer, geregtigheid, en meer (Fanie).
Bitterkomix is uitsluitlik gefokus op sosiale kommentaar en sosio-politiese kwessies, spesifiek in die wit Afrikaanse gemeenskap. Dis ook baie meer volwasse in terme van illustrasies en taalgebruik. Ons grafiese roman is vir ontspanning en gefokus op ’n jong lesersmark (Daniël).
Storielyn – Bitterkomix se storielyne is kort en op die man af om by die formaat te pas. Daar is ook meer as een storie in ’n boek. Laaste lewe het net een deurlopende storielyn (Fanie).
Ons boek is een storie wat vertel word oor ’n klomp bladsye en het vele fantasie-elemente. Bitterkomix is verskeie korter stories waar die skeppers met verskillende kwessies worstel en is ook in baie opsigte meer outobiografies van aard (Daniël).
Teikenmark – Laaste lewe se teikenmark is veel jonger – so van 11 en ouer (Fanie).
Bitterkomix is beslis gefokus op ’n volwasse leser wat nie omgee om dinge te bevraagteken en soms selfs met aanstootlike inhoud gekonfronteer te word nie. Ons boek is op tieners gefokus wat hou van fantasie en soek vir ontvlugting en verbeelding (Daniël).
Tekenstyl – Bitterkomix se tekenstyl is soms baie eenvoudig, amper ook grotesk. Laaste lewe se styl is meer natuurlik (Fanie).
Die tekenstyl van Bitterkomix word grootliks deur die ondergrondse comix kunstenaar, R Crumb, geïnspireer en is gevolglik redelik kru. Dit gaan gepaard met die kontroversiële aard van die onderwerpe wat hulle aanvat. Met ons boek word die ouderdom van die leser eerste geag en gaan die kuns meer om die storie so leesbaar moontlik te maak. Daar is ’n meer estetiese aanslag wat die kuns betref (Daniël).
Willem de Vries noem die opskrif van sy gesprek (op LitNet se “Die mond is nie geheim nie”) met die skrywer en illustreerder van Bitterkomix “Die bitter here” – wat sou julle julself wil noem? Watter “menere” is julle twee saam? Watter opskrif sou ek kon gebruik vir hierdie gesprek om die kern van julle twee uit te beeld?
Fanie: Die pen-en-ink avonturiers
Daniël: Gits! Ek het nie ’n idee nie 🙂 Sal daai maar oorlaat aan Fanie se gedagte…
In bogenoemde gesprek van De Vries met Anton Kannemeyer en Conrad Botes meld hulle dat Maus van Art Spiegelman hulle geïnspireer het in die skep van Bitterkomix.
Spiegelman se grafiese roman/memoires/biografie/geskiedenis handel oor sy vader se ervaringe in die Holocaust van die Tweede Wêreldoorlog - dit het postmodernistiese tekentegnieke en diere as karakters.
Watter strokiesprente en -illustreerders het julle geïnspireer?
Fanie: Ek het Maus gelees nadat Laaste lewe verskyn het. Dis fantasties! Laaste lewe is egter meer deur die TV-reeks Game of Thrones geïnspireer.
Daniël: Omtrent alle comics wat ek al gelees het, het my op een of ander manier geïnspireer - vanaf superheldcomics tot meer volwasse comics soos V for Vendetta, Maus, Barefoot Gen, ens. Kunstenaars is legio! My gunstelinge is Moebius, Enki Bilal, Frank Quitely, Simon Bisley, Milo Manara, R Crumb, ensovoorts. Te veel om op te noem!
Dit is nou reeds ’n paar jaar gelede dat julle boek(e) - 2016 (in Engels) en 2020 (in Afrikaans) - gepubliseer is. Hoe lyk dit, kry dit aftrek by jong mense? Hoe lyk die profiel van julle lesers en kopers waarvan julle bewus is?
Fanie: Die jong lesers is mal daaroor. Ek praat dikwels by skole en terwyl kinders vooraf in die saal inloop, wys ek soms vir ’n paar van hulle die boeke. Hulle kan nie glo wat hulle sien nie. Hulle raak sommer daar en dan opgewonde oor die boeke.
Daniël: Ek dink die jong lesers geniet dit, maar ek het nie regtig ’n idee nie. Ek was nog nie in ’n omgewing waar ek met die lesers kon gesels nie.
Wat het die skep en ontwikkeling van hierdie grafiese roman vir julle elkeen beteken?
Fanie: Dis ’n droom wat waar geword het. Ek besef hoeveel ure, bloed en sweet in so ’n grafiese roman ingaan, daarom is ek trots op die eindresultaat. Daniël se illustrasies is wêreldklas.
Daniël: Ek het dit geniet om aan ’n storie te help skep waar ek baie vryheid gehad het wat betref die uitleg en karakter-ontwerp, asook dat ek in ’n meer swart-ink styl moes werk as waaraan ek gewoond is - dus, met baie skaduwees, ensovoorts. Dit was ook lekker dat die storie in Afrikaans is en hopelik lei dit tot nog sulke projekte in die toekoms en ’n groter plaaslike grafiese roman-lesersmark.
Is daar enige nuwe samewerkingsmoontlikhede tussen julle twee in die toekoms?
Fanie: Daar is nie nou iets in die pyplyn nie, maar ek sal beslis nie nee sê vir nog ’n boek nie.
Daniël: Ek is beslis oop vir die idee 🙂
Eindnotas as verwysingsbronne
[1] https://lapa.co.za/laaste-lewe-1
[2] https://za.pinterest.com/pin/68679963056699874/
[3] https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-kuifie-praat-weer-afrikaans/
[4] https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/die-kuns-van-asterix-in-afrikaans/
[5] https://lapa.co.za/agent-snoet-5-in-1-eboek
[6] https://www.adobe.com/africa/creativecloud/illustration/discover/how-to-draw-manga.html
[7] Badenhorst, A. 1997. Die benutting van die strokiesprent in die onderrig van Afrikaanse stelwerk en letterkunde op sekondêre skoolvlak. MEd-verhandeling, Universiteit Stellenbosch
[8] Steyn, C. en D. Albertyn. 2021. ’n Hart is net atome. Midrand: LAPA Uitgewers.
[9] https://blogs.litnet.co.za/izak/2009/02/14/drome-kom-altyd-andersom-uit/
[10] Van Rensburg, J. 1998. Van Gogh was really a punk: The first Afrikaans graphic novel. Alternation, 5(2):301–9. https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA10231757_26
Meer hulpbronne
Daniël Hugo op Escape Gallery.
Gesprek met Daniël Hugo op TechSmart.
Lees ook:
LitNet Akademies-resensie-essay: Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen
Kommentaar
Baie interessant. Tydens my grootwordjare het ek, soos Daniël, baie meer comics as fotoverhale gelees. Honiball het strokies in die VSA in koerante gesien, toe hy in die 1920’s daar gewerk het, en hy het met sy terugkeer Oom Kaspaas geskep om soos daardie strokiesreekse in Die Burger te publiseer. So dit het min in gemeen met grafiese romans, want laasgenoemde is tradisioneel vir 'n ouer mark as die lesers van comics bedoel (Maus I en II is 'n goeie voorbeeld). Tintin en Asterix, wat aanvanklik as opeenvolgende strokies in tydskrifte soos “Pilote” verskyn het, is ook nie regtig grafiese romans of novelles nie, maar van die ouer voorbeelde van grafiese romans is die oorpronklike Prince Valiant-reeks, waarvan ek kopieë besit. Ek dink wel dat die terme vandag meer vloeibaar aangewend word, maar ek sou Bitterkomix nie as grafies eromans/novelles klassifiseer nie, eerder dan grafiese tydskrifte, weens die struktuur daarvan, nie die inhoud nie.