Ouma Mollie gaan terug skool toe
Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637002059
Elke kind in die wêreld wat bevoorreg is om ’n oupa en ouma te hê, sal weet dat ’n oupa of ouma sy of haar gunstelingpersoon in die hele wêreld is. Oumas en oupas is amper net soos kinders: Hulle is partykeer bietjie stout! Hulle gee vir kinders lekkergoed wanneer mamma of pappa “nee!” gesê het of druk jou styf vas met hulle arms vol sonvlekkies wanneer pappa met jou raas. En wat is nou lekkerder as die reuk van oupa se pyptabak of ’n ouma wat na vanielje of kaneel ruik wanneer sy gebak en gebrou het? Wanneer die pappas en mammas van dié wêreld die lewe te ernstig begin opneem, dan is oupa of ouma daar om saam te staan teen die tirannie van ma se streng eetgewoontes of pa wat sê jy moet vroeg gaan slaap.
Nina het ook ’n ouma. Ouma Mollie. Sy het ’n baie lang en vreemde naam: Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Dit is omtrent ’n mondvol. Maar Nina se ouma is sommer vrekstout. Sy lyk soos ’n ouma met haar grys hare en ’n bril, maar sy tree definitief nie soos ’n gewone ouma op nie. Ouma Mollie is slim en nuuskierig. Soos die meeste oumas hou sy daarvan om te bak. Maar o wee! Die konkoksies waarmee sy vorendag kom, is soms net te vreemd. Fudge met seewier daarin. Sies! Soos elke kind, moet Nina smiddae huiswerk doen. Maar Ouma Mollie is weer nuuskierig en loer oor haar skouer. Toe wil sy skielik weet wat “priem-torre” is. Genade, dit was die begin van ’n nagmerrie!
* * *
Met die skoolvakansie om die draai, sidder talle ouers of voogde aan die gedagte van vervelige kinders wat daagliks vir weke aaneen vermaak moet word. Indien die selfoon of televisie nie meer voldoende vermaak bied nie, word daar in ma of pa se ore geneul. Dit is die ideale geleentheid om jou kind aan Ouma Mollie, Nina en Blapsie bekend te stel.
Die onlangse PIRLS-uitslae (Progress in International Reading Literacy Study) het bevind dat Suid-Afrikaanse graad 4-leerders van die swakste leesbegripvaardighede in die wêreld het. Swak leesbegripvaardighede beïnvloed nie net leerders se vermoë om akademiese vordering te maak nie, maar dra by tot frustrasie onder swak presteerders wat deur elke skooldag wroeg. Dit is dus belangrik dat daar vanaf ’n jong ouderdom ’n liefde vir lees by kinders gekweek word. Dit begin reeds as baba en blootstelling aan boeke waarin prente, woorde en klanke te voorskyn kom, stimuleer kinders se verbeelding en kweek ’n liefde vir lees. In dié opsig moet ouers of voogde ook die voorbeeld stel deur self te lees en kinders aan te moedig om te lees.
Fanie Viljoen se Ouma Mollie-reeks is die ideale boek om daardie huiwerige leser in te katrol. Die reeks bestaan tans uit twee titels naamlik Ouma Mollie en die mensvreter (2021) en Ouma Mollie gaan terug skool toe wat onlangs verskyn het. Die verhaal is boeiend en propvol prettige en snaakse gebeure. Johann Strauss se illustrasies komplementeer beide tekste en skep ’n verbeelde wêreld waarin die leser hom- of haarself kan inleef.
Ouma Mollie gaan terug skool toe handel oor Nina wie se ouma besluit dat sy weer skool toe wil gaan omdat sy nie weet wat “priem-torre” (oftewel priemgetalle) is nie. Nina is met afgryse gevul en selfs Ouma Mollie se hond, Blapsie, is geskok oor Ouma Mollie se besluit. In die klas veroorsaak Ouma Mollie groot moleste en Nina krimp kleiner in haar skoolbank van skaamte. Die dag neem egter ’n onvoorspelbare wending en Ouma Mollie veroorsaak groot marakkas. Gaan Nina die skool belet word? Sal Laerskool Seeperdjiebaai ooit weer dieselfde wees nadat kinders onsigbaar begin word? En sal Juffrou Steenkamp ooit weer beheer oor haar graad 1-Pikkewynklas kry ná Ouma Mollie se dag terug op die skoolbanke? Arme Blapsie kan maar net sy kop en ore laat hang. Ouma Mollie laat haar nie sommer voorsê nie! Oor daardie “priem-torre” bly ek liewer tjoepstil.
Fanie Viljoen se Ouma Mollie gaan terug skool toe is ’n verhaal vol humor, interessante gebeure en allerlei diverse karakters wat vele jong (en selfs ouer) lesers sal vermaak. Die teks is op kreatiewe wyse uiteengesit met illustrasies, verskillende lettertipes en helder kleure wat jong lesers deurgaans kognitief sal stimuleer. Hierdie reeks is geskik vir beide seuns en meisies in die intermediêre fase en onderwysers kan dit met vrug in die klaskamer gebruik. Daar is ook leesgidse vir beide titels beskikbaar wat die onderwyser se werk veel ligter sal maak.
Hierdie stoute ouma is pret! Sy maak dalk nie die lekkerste fudge nie en sy verstaan nie priemgetalle nie, maar ’n dag saam met haar sal geen kind ooit vergeet nie.
- Sien ook: Leesgids: Ouma Mollie gaan terug skool toe.