Onderhoud: Pleisters vir die dooies deur Fanie Viljoen

  • 3

Titel: Pleisters vir die dooies
Outeur: Fanie Viljoen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799362510

Koop Pleisters vir die dooies by Kalahari.com

Hy loop rond in ons skole en ons samelewing: 'n jongman met 'n geweer om ons almal uit te wis. Fanie Viljoen vertel vir Naomi Meyer hoe dit is om in daardie jongman se vel rond te loop, die hoofkarakter van sy Pleisters vir die dooies.

Geluk met jou kragtige Pleisters vir die dooies, Fanie. Op die agterflap: “Hierdie is die laaste aand.” Wat het jou die idee vir die boek gegee?

Dankie! Ek loop al jare lank met die idee rond, maar het nie geweet hoe om dit aan te pak nie. Ek het egter geweet dit is iets wat ek moet skryf, want dit voel vir my of ons hierheen op pad is in Suid-Afrika. Ons sien al die voortekens met gevalle soos die Skierlik-skieter, die Griekwastad-moorde en natuurlik die Slipknot-swaardmoordernaar, en meer. Daar is tieners wat met ’n verskriklike donkerte in hulle rondloop. Ek wou dit wys in die karakter se “donkernag van die siel” voordat hy die kinders by die skool gaan doodskiet, en dan homself.

Is dit nie, in hierdie plofbare land, ’n baie gevaarlike onderwerp om te hanteer nie? Het jy dit gekies, of het die onderwerp jou gekies?

Ek is nie seker wie kies vir wie nie. Dis ’n hoender-en-eier-situasie.

Ek is baie daarvan bewus dat die onderwerp gevaarlik is. Dit maak my bang, en dit moet lesers bangmaak. Dis wat boeke doen.

Pleisters vir die dooies is dalk die beste manier om oor ’n skoolskietery te praat voordat dit werklik by ’n skool gebeur. Die boek is ’n waarskuwing dat dit nie net iets is wat in Amerika gaan gebeur nie. In 2013 het ’n skoolkind ’n pistool skool toe geneem om drie boelies dood te skiet. Uiteindelik is ’n onderwyser in die been gewond. ’n Boek soos Pleisters vra die vraag: Sê nou maar dit gaan verder? Lees byvoorbeeld hierdie berig.

Die hoofkarakter word deur sy pa geslaan. Hy is kwaad en hy is flenters. Maar hy werk sag met sy hond. Amper vra ek jou: Ken jy jou hoofkarakter (bestaan daar so ’n mens)? En vertel my van hom, asseblief.

Nee, ek ken nie so ’n mens nie, maar ek kan die woede verstaan wat in so ’n persoon broei, soos die hond in die verhaal ook die donker in die seun sien en tjankend wegdeins.

En vroeg in die boek dink hy al: “Ons hét dieselfde bloed.” Die pa-seun-verhouding word betrek. Is dié verhouding vir almal stormagtig genoeg om komponente van hierdie woede te ervaar?

Die woede gaan nie net oor die pa se mishandeling en alkoholmisbruik nie, maar ook oor die ma se onbetrokkenheid, die karakter wat nie by die samelewing inpas en nie meer waarde heg aan ’n lewe nie. Voeg daarby die bespotting wat hy by die skool verduur en jy het ’n kruitvat.

Jy skryf met begrip vir mense wie se portuurgroep vir hulle alles is. Jou hoofkarakter kies eerder om sy pa te word as om ’n freak te wees wat deur sy pa geslaan word. Hy wil hulle uitwis. Of wat wil hy eintlik hê?

Hy wil gehoor word. Hy wil hê die wêreld moet van sy pyn weet. Hy weet ander tieners ondervind dieselfde goed en hy wil hulle pyn verlos. In die dokumentêre film Bowling for Columbine, wat oor die Columbine-skoolskietery gaan, vra Michael Moore vir die skok-rocker Marilyn Manson wat hy vir die skieters sou sê as hy met hulle kon praat. Manson se antwoord is dat hy nie vir hulle iets sou sê nie. Hy sou eerder luister wat hulle vir hom wou sê.

In Pleisters vir die dooies maak die verteller telkens melding van hoe ouers en kinders vreemdelinge word vir mekaar. Hulle het nie tyd om met mekaar te praat nie. Dink daaraan: Hoeveel tyd spandeer ’n ouer en tiener in die stad saam op ’n gewone weeksdag? ’n Rukkie in die oggend en ’n rukkie in die aand? Met wie praat tieners oor hulle probleme?

Die verteller meld ook hoe ouers wat hulle kinders by skole aflaai, nie aan hulle kinders raak nie. Hulle groet dalk skaars, want hulle dink vandag is net ’n gewone dag. Maar sê maar dit ís nie?

Die vuur en drif in hierdie karakter is onblusbaar. Amper of jy gaan sit en die hele boek onafgebroke geskryf het. Hoe lank het dit jou geneem?

Ek hou daarvan as ’n boek teen ’n geweldige tempo voortstu. Daar moet goed gebeur en hulle moet vinnig gebeur. Pleisters vir die dooies is in 2011/2012 geskryf oor ’n tydperk van twee maande. Agterna was daar ook weergawes van die manuskrip waarin ek die pa-seun- en ma-seun-verhouding probeer uitbou het. Uiteindelik is die tonele geskrap en die boek weer tot op die been gesny om by die essensie uit te kom.

Fanie Viljoen is ook 'n kunstenaar. Sy skets hierbo is geïnspireer deur die boek Pleisters vir die dooies.

Vir wie skryf jy?

Pleisters is vir ouer tieners geskryf (17+). Daar is min Afrikaanse boeke vir hierdie lesers. Hulle gaan lees daarom eerder Engelse boeke. Jong volwassenes en ouers sal beslis ook iets in die boek vind. Dalk sal brawe skole hom gebruik.

Wie is jou ideale leser?

Tieners wat nie inpas nie. Die buitestanders.

Pleisters genees nie. Dooies is klaar dood. Hoe het die titel na jou gekom?

Dit is een van die onverklaarbare dele van skryf. Die titel was eendag net daar. Dit is ’n manier van sê: as ons nie nou meer aandag aan ons jeug gee nie, sal dit mettertyd te laat wees vir trane. Sal ons wil help eers as dit te laat is?

Jy was in jou hoofkarakter se vel, nou al ’n ruk lank. Hoe voel jy, heel persoonlik, as skrywer wanneer jy ’n kragtige boek soos hierdie een klaar geskryf het?

Dis ’n groot verligting om die donker knaap uiteindelik uit my kop te kry. Daar is sewentien weergawes van die manuskrip op my rekenaar. Soms het lang tye tussen sekere weergawes verloop. Dan moes ek die karakter weer gaan opsoek en sy chaos en woede in my kop toelaat. Op ’n stadium het dit gevoel of ek nie van hom ontslae gaan raak nie.

 

  • 3

Kommentaar

  • Ek's bibliotekaresse. Het vanmiddag hierdie boek in een sarsie deurgelees toe ek dit aangewins het. Het my geruk.
    Baie dapper, want ek dink hy's reg, dit moes geskryf word, al hou ek my hart vas.
    Dan besef ek weer hoe groot gemis daar in skole is aan bibliotekaresse wat tieners met deernis en begrip aan hierdie soort boeke kan bekend stel. Hoeveel volwassenes het kennis van jeuglektuur om dit te doen ... as hulle dan nie eers tyd het om met hulle kind te praat nie? Hartseer maar 'n werklikheid.

  • Avatar
    Corrie Walter

    Die boek het my onmiddellik geboei en ek het dit in een sarsie klaar gelees. Ek is 'n onderwyser en wonder of ek die boek vir my leerders kan aanbeveel? Is dit nie dalk te 'donker' nie? Is die seun nie dalk deur 'n donker gees in besit geneem nie? Hfst 18? Hoe sou 'n mens sy geestestoestand verklaar?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top