Eeufeesviering van Departement Afrikaans en Nederlands, US: Kanselier Edwin Cameron se toespraak

  • 0

Die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch het op Donderdag 24 November 2022 ’n eeufeesdinee aangebied. Die verwelkomings was deur Harold Lesch gedoen, ’n oorsig van die Departement is deur Rufus Gouws gelewer en Ilse Feinauer het ook ’n spreekbeurt gekry.

Oudregter Edwin Cameron, Kanselier van die US, het ’n toespraak tydens die geleentheid gelewer. Hy deel sy volledige toespraak by dié geleentheid met LitNet.


Foto van Edwin Cameron: Wikipedia (https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/f/f9/Edwin_Cameron_in_robes.jpg - CC BY-SA 3.0)

Dit is vir my ’n eer en ’n voorreg om vanaand ’n paar woorde te kan sê. Vir Marius Swart wat my genooi het, het ek belowe dat dit wel net “’n paar woorde” sal wees. En daardie woorde spreek ek in drie hoedanighede: as Afrikaanssprekende; as regspersoon; en as aktivis.

As Afrikaanssprekende sê ek dat Afrikaans in my binneste is. Afrikaans is, letterlik, beide my eerste taal en my moedertaal. Die taal se toekoms is dus vir my van hartensbelang. En dit spyt my – nee, dit grief my, nogal – as ek moet worstel met my middelklasmoedertaal-Afrikaanssprekende, vriende en professionele genote wat verkies om Engels as voertaal en omgangstaal te gebruik. (Dieselfde gebeur ook met my middelklasvriende en professionele genote wat Zulu- of Sotho-sprekend is – die einste fenomeen wat aan die begin van die laaste eeu ook die Ierse oertaal getref het.)

..............
Die taal se toekoms is dus vir my van hartensbelang. En dit spyt my – nee, dit grief my, nogal – as ek moet worstel met my middelklas moedertaal-Afrikaanssprekende, vriende en professionele genote wat verkies om Engels as voertaal en omgangstaal te gebruik. (Dieselfde gebeur ook met my middelklas vriende en professionele genote wat Zulu- of Sotho-sprekend is – die einste fenomeen wat aan die begin van die laaste eeu ook die Ierse oertaal getref het.)
................

As regsmens moet ek erken ek bekyk die wedervaringe van Afrikaans in ons howe met ’n effens benarde blik. Dit het goed begin. In 1996 bevind die nuut-gestigte grondwetlike hof dat Afrikaans is: 1) “one of the cultural treasures of South African national life”; en 2) “the most creole or ‘rainbow’ of all South African tongues”. Daarna raak dit rowwer. In 2016, in Afriforum v UFS, verwys hoofregter Mogoeng na Afrikaans as: “The language of the oppressor; a language associated with dominion or power.” Hy sê dis “an instrument of control, exploitation and systematic humiliation”; “a virtual synonym to racism and racially based practice”; en “an instrument of control, exploitation and systematic humiliation”.

Hierdie stellings word vurig aangeveg – en deur Hein Willemse en ander – as onjuis aangetoon. Dan kom daar ’n kentering. In Gelyke Kanse v Universiteit Stellenbosch bedink hoofregter Mogoeng hom. Hy sê nou Afrikaans is “an African language”; “our historic pride to be treasured”; met “original African DNA”.

Maar die mees liriese bevestiging van Afrikaans vind verlede jaar in September plaas, in UNISA v Afriforum. Daar lewer regter Majiedt namens die grondwetlike hof ’n eenparige uitspraak in Afrikaans. Hy haal aan uit Menán van Heerden se US-meestersverhandeling,[1] asook uit Hein Willemse:[2]

Hierdie Hof se beslissings in Gelyke Kanse en University of the Free State is glad nie aanduidend van ’n aanvaarding dat Afrikaans onafwendbaar afgeskaal moet word as ’n taal van onderrig en leer in ons land se hoër onderwysinstellings nie.

Buiten die beginsel dat elke saak op sy eie feite beoordeel moet word, kan Afrikaans se rol in ons instellings en gemeenskapslewe nie bloot verminder word tot ’n vereenvoudigde weergawe van oorheersing en agteruitgang nie. 

Ons moet waak teen sulke vereenvoudigde weergawes, baie waarvan ontaard uit valse mites aangaande die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse taal (paragraaf 4).

..............
Die geskiedenis van Afrikaans is veelvuldig in sy fasette. Die vestiging en bestaan van die taal kan nie bloot toegeskryf word aan een enkele rassegroep nie. Afrikaanssprekendes was afkomstig vanaf verskillende rasse, nasionaliteite en sosiale stande. Hierdie swart geskiedenis dui aan dat Afrikaans meer is as bloot die taal van “rassiste, onderdrukkers en ongekorrigeerde nasionaliste”, maar eerder die “indruk dra van ’n vurige tradisie van anti-imperialisme, anti-kolonialisme, van ’n alles omvattende menswees en anti-apartheid aktivisme (paragraaf 11).
.................

Die geskiedenis van Afrikaans is veelvuldig in sy fasette. Die vestiging en bestaan van die taal kan nie bloot toegeskryf word aan een enkele rassegroep nie. Afrikaanssprekendes was afkomstig vanaf verskillende rasse, nasionaliteite en sosiale stande. Hierdie swart geskiedenis dui aan dat Afrikaans meer is as bloot die taal van “rassiste, onderdrukkers en ongekorrigeerde nasionaliste”, maar eerder die “indruk dra van ’n vurige tradisie van anti-imperialisme, anti-kolonialisme, van ’n alles omvattende menswees en anti-apartheid aktivisme (paragraaf 11).

Hieruit is dit duidelik dat die howe, klinkend in regter Majiedt se onlangse uitspraak, die deur vir Afrikaans as onderrigtaal wawyd oophou.

Derdens, en ten slotte, spreek ek u as aktivis toe. Ek is my lewe aan aktivisme te danke. Vandeesmaand is dit presies 25 jaar sedert antiretrovirale behandeling my lewe gered het. Sonder die stryd om toegang tot ARV-behandeling vir almal te verkry, sou ek omstreeks op 22 of 23 jaar reeds dood gewees het.

As aktivis het iets my besonderlik getref uit voormalige rektor professor Chris Brink se “Nabetragting oor die taaldebat oor Stellenbosch” (Junie 2022). Professor Brink sê:

Na my mening was die taalstryd op Stellenbosch, soos dit gevoer is, altyd eerder ’n stryd teen iets (die taalbeleid van die Universiteit) as ’n stryd om iets (die bevordering van Afrikaans). Die taalstryd was dus inherent negatief. Nie een enkele keer gedurende my rektoraat het daar ’n afvaardiging van taalstryders na die Universiteit gekom met ’n voorstel oor iets wat hulle tot stand wou bring ter wille van die bevordering van Afrikaans nie. Niemand het ooit kom sê: “Ons wil ’n ondersteuningsnetwerk vir behoeftige Afrikaanse studente stig”, of “Ons wil ’n prys vir Afrikaanse letterkunde uitloof” of “Ons wil ’n Instituut vir Afrikaans stig”, en “Ons wil hê die Universiteit moet daarmee help …” nie. Die teenoorgestelde het eerder gebeur.

Ek is nie begaan oor of professor Brink se bewerings oor die taalstryd geskiedkundig getrou is nie. My punt lê elders. Dit gaan om die noodsaaklikheid van aktivisme om die vertroeteling, die verering en die benutting van Afrikaans as onderrigmedium te verskans.

Daardie aktivisme sal vindingryk, strategies-gerig, slim en dapper moet wees. Suid-Afrika is in ’n uiters vloeibare oorgangstydperk. Daar is niks wat vindingryke, vasberade, kundige aktivisme nie kan bereik nie. Ook hier op Stellenbosch. Moet nie die stryd as ongewonne, onoorwinbaar oorgee nie. Dit lê nog voor, maar die stryders moet oordeelkundig te werk gaan.

Afrikaans staan nie alleen nie. Hy deel met Fins, Nederlands, Baskies en Noord-Amerikaanse Frans ’n stryd. In verlede jaar se Ope Brief aan die rektor[3] beweer hierdie Departement: “Ons Departement bestaan nie uit taalaktiviste of taalstryders nie.” Maar hoekom nie? Hoe is taal-aktivisme met die akademie onversoenbaar?

Ten slotte: daar is werk om te doen en veld om in te haal. En dit lê in u hande.

[1] Afrikaaps: A celebratory protest against the racialised hegemony of “pure” Afrikaans (Universiteit Stellenbosch, 2016).

[2] The Hidden Histories of Afrikaans (2018).

[3] Departement Afrikaans en Nederlands, 2021.

 

Lees ook:

Race and Transformation in Higher Education Conference raises crucial themes in pursuit of Stellenbosch University’s transformation journey

We cannot go back: my reactions to the Race and Transformation in Higher Education Conference at Stellenbosch University

The ambiguity of the name Luckhoff: my thoughts at the Race and Transformation in Higher Education Conference at Stellenbosch University

Universiteitseminaar: Yale onttrek van ’n ranglys

Hoop in die donker: ’n onderhoud met André van der Merwe

Pandemic tales: Making an educational life in a Stellenbosch University residence during the COVID-19 pandemic

Internasionale konferensie: Slow intimacy (Langsame intimiteit)

Some notes from the workshop on "slow violence"

Universiteitseminaar: Die US, rassisme en die toekoms

Universiteitseminaar: Jan Heunis SC beskou die Khampepe-verslag

Aan wie behoort die woorde?

Reclaiming Multilingualism

Monolingualism, not Afrikaans, must fall

Om te twyfel

Gelyke Kanse: Afrikaans, die sondebok

Konstitusionele Hof, Gelyke Kanse en Universiteit Stellenbosch

Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor

US-taaldebat 2021: Kinkel in die kabel

US-taaldebat 2021: Afrikaans is sterkgesig

US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps

US-taaldebat 2021: Hou op om in Afrikaans te droom

US-taaldebat 2021: Die oortjies van die seekoei

Wat verdedig ons? Die Afrikaanse kampus as fabriek

Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC

Is Afrikaans aan die US ’n spyker ryker in haar doodskis?

DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education

Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

US-konvokasietoespraak: Die koei in die bos

US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief

US-konvokasie 2016: Courage, Compassion and Complexity - Reflections on the new Matieland and South Africa

Baqonde-meertaligheidsprojek: "Laat hulle verstaan" (en laat die tegnologie help)

BAQONDE and multilingual education in South Africa: An interview with Lorna Carson

A response to Marlene van Niekerk’s contribution to the Stellenbosch University language debate

Persverklaring: Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid

Persverklaring: StudentePlein oorweeg appèlopsies ná hofuitspraak in US-taalsaak

Kan die akademie uitnemendheid oorleef?

Reaksie op Andrew Nash: "Kan die Akademie uitnemendheid oorleef?"

BAQONDE, boosting the use of African language in education: an interview with Bassey Antia

Justice: A Personal Account by Edwin Cameron

Afrikaans: the language of dissent

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top