Hein Willemse verskaf die teks van sy openingstoespraak by die vyfde Swart Afrikaanse skrywersimposium (Sas), wat op 10 en 11 Oktober by die Universiteit van Wes-Kaapland plaasgevind het.
- Kyk na ’n fotoblad en kort video van die vyfde Sas-simposium deur Ian Landsberg hier.
Swart Afrikaanse letterkunde – ’n tradisie in wording
1
40 jaar gelede op Vrydag en Saterdag 26 en 27 April 1985 is die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium op die UWK-kampus aangebied.i Toe ek Jakes Gerwel destyds gevra het om ’n oorsig van swart Afrikaanse skryfwerk sedert die begin van die 20ste eeu aan te bied, was sy opmerking dat die volle omvang daarvan seker in sy boektas sal pas. Sy lakoniese reaksie het bevestig wat ek vermoed het, naamlik dat rondom 1985 ’n ontwikkeling aan die gang was wat ons as lede van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland moes registreer.
Melvin Whitebooi, die joernalis wat in Die Burger-Ekstra en Ekstra-Rapport vir die vermaaklikheidsblad verantwoordelik was, het deurlopend die werk van jong skrywers en opvoerings van dramagroepe uit veral die noordelike buurte van Kaapstad gepubliseer, sodat ’n aansienlike korpus letterkundige uitset waarneembaar was. Hy het self in Die Burger-Ekstra ’n reeks vervolgverhale geskryf, wat groot aanhang onder lesers gehad het. Manuskripte wat op my en ander kollegas se lessenaars beland het, het getuig van hierdie opbruising van literêre aktiwiteit. Voordat hulle aktiwiteite op Whitebooi se blad verskyn het, het die betrokkenes meestal onafhanklik en sonder voorkennis van mekaar opgetree.
Die eerste Swart Afrikaanse simposium moes hierdie ontwikkeling ernstig opneem. Wat word geskryf en opgevoer? Wie skryf wat en waar word dié skryfsels uitgegee? As letterkundiges wou ons dié nuwe ontwikkeling kategoriseer en klassifiseer: Hoe lyk en klink dit; wat is die vooruitsigte vir die toekoms? Voorts moes ons dit in die konteks van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde plaas, ’n letterkunde wat wesenlik ’n wit etnosentriese onderneming is. Elders het ek meer uitgebreid oor die konteks en oorspronge van die simposium geskryf.

Hein Willemse by die vyfde Swart Afrikaanse skrywersimposium (foto: Ian Landsberg)
Ná afloop van die eerste simposium het ons ons voorgeneem om elke 10 jaar ’n bestekopname te maak van die aard, die plek, die groei van swart Afrikaanse skryfwerk. Die eerste simposiumverslag is kort daarna gepubliseer as Swart Afrikaanse Skrywers (1986), en verdere verslae het gevolg, naamlik Die reis na Paternoster (1997) oor die 1995-simposium en ’n Vlag aan die tong (2015) oor die 2005-simposium. Die verrigtinge van die vierde simposium is verspreid in akademiese en ander tydskrifte gepubliseer en vereis dringend dat dit om literêr-historiese redes gebundel word.
Vandag pas die volle omvang van geskrewe swart Afrikaanse letterkunde nie meer in ’n boektas nie. Dit beloop ’n hele aantal lopende meters (en ons sou dit nie kon moniteer as ons dit nie aanvanklik geklassifiseer het nie). Van die leidende nuwe stemme in die Afrikaanse letterkunde kom uit hierdie geledere. My bydrae bied soos versoek ’n oorsig van die afgelope vier dekades. Slegs gepubliseerde drukpublikasies is in ag geneem. Die groot omvang van produksies in digitale formaat, soos video’s, radiodramas of ander soortgelyke vorme, is nie in aanmerking geneem nie. Ek konsentreer met breë kwasstrepe op slegs ’n aantal van hierdie geselekteerde tendense om onderliggende patrone aan te toon. Ek praat doelbewus van ’n ontluikende tradisie, soos in ’n vergelykbare situasie, byvoorbeeld dié van African-American literature of Chicano literature in Amerikaanse Engelse literatuur. Daar is aantoonbare oorspronge en patrone wat met die nivellering van slegs “Afrikaanse skrywers” totaal verlore gaan.
2
Die belang van kultuur word dikwels verbind met betekenisskepping. Dit is deur verhale, mites en geskiedenisse dat gemeenskappe se kollektiewe stories, morele kodes en wêreldbeskouings oorgedra word. In geletterde gemeenskappe is kreatiewe skryfwerk die middel waarmee daardie stories, kodes en beskouings in ons gemeenskaplike argief bewaar word. Dit is deur letterkunde dat ons ander mense en ander wêrelde kan verbeel, dieper begrip vir menslike diversiteit kan kry en ons sin vir artistieke uitdrukking kan verdiep.
Es’kia Mphahlele het een keer gesê dat letterkunde vir hom “a sense of place” gee. Afrikaanse letterkunde, uiteraard, gee vir ons enersyds “a sense of place” wat dit onderskei van ander literature, plaaslik en elders. Dit gee ook, andersyds, vir ons ’n sin van ons oorhoofse gemeenskaplikheid in hierdie wêrelddeel. Ons geskrifte karteer hierdie landskap en ons gedeelde verlede en hede. In ons konteks van kolonialisme en apartheid is hierdie “sense of place” dikwels ook een van onderdrukking en marginalisering. Ons kultuuruitings en die meeste van ons plaaslike letterkundes staan dikwels in die teken van oorlewing en verset, ook die vroeë geskrewe Afrikaanse letterkunde. Letterkunde word dan ’n draer van ’n kollektiewe geheue teen uitwissing.
Geletterdheid is ’n sleutelfaktor in die vorming van ’n literêre tradisie. Strukturele ongelykheid plaaslik het die produksie van literatuur grondig beïnvloed. Deur ons geskiedenis het ras, klas en geslag toegang tot geletterdheid bepaal. As voorbeeld: Voor uniewording het die wit bevolking in die groot dorpe van die Kaapkolonie sedert die 1870’s toegang tot verpligte onderwys gehad. Dit moet dus geen verrassing wees dat die meerderheid Afrikaanse skrywers van die laat 19de en vroeg 20ste eeu hul opleiding in die Kaapkolonie ontvang het nie. Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika het verpligte onderwys oor die land vir “mense van Europese afkoms” uitgebrei, wat lei tot eksponensiële groei in die algemene geletterdheid van wit mense.
Die skoolopvoeding van inheemse mense, slawe en ná 1910, Suid-Afrikaners wat nie as “mense van Europese afkoms”, gereken is nie, was van meet af aan gebrekkig en gefragmenteerd. Vir meisies was die kanse op onderwys nog altyd skraler. Toegang tot formele onderwys was vir nie-wit mense beperk en hulle moes hulle tot sendinginstellings wend. Slegs ’n relatief klein aantal mense het hul skoolopleiding voltooi. By die lees van swart Suid-Afrikaanse Engelse literatuur is dit opvallend hoe dikwels sendinginstellings soos Lovedale, Healdtown en Adams College in outobiografiese beskrywings voorkom. In die Afrikaanse letterkunde het vroeë skrywers soos SV Petersen, PJ Philander en Adam Small ook hul skoolopvoeding aan kerkskole gekry. (So onlangs as ietsie meer as 60 jaar gelede sou ook ek my eerste jare met ’n griffie en ’n lei aan ’n kerkskool deurgebring.)
Die ironie is dat massa-onderwys vir die breë Suid-Afrikaanse bevolking saamval met die instelling van apartheid as formele beleidsrigting. Hoewel beperkte vorme van verpligte skoolopleiding sedertdien ontwikkel is, sou dit eers ná 1996 wees dat skoolopleiding vir alle kinders op gelyke vlak verpligtend gemaak is.
Die opkoms van swart Afrikaanse skryfwerk hang nou saam met die interseksie van verset teen koloniale en apartheidonderdrukking, toegang tot geletterdheid, die stryd vir en opkoms van demokrasie, die vorming van selfstandige identiteite en ontwikkeling van ’n ontvanklike omgewing vir diverse produksiegeleenthede.
3
In “Black Afrikaans writers: continuities and discontinuities into the early 21st century – a commentary”, wat ek vyf jaar gelede gepubliseer het, bied ek ’n oorsig van die ontwikkeling van swart Afrikaanse skryfwerk. Dit maak sin om ter agtergrond van die hoofpunte hier op te som.
Die opkoms van swart Afrikaanse skrywers in die middel 1980’s spruit voort uit die gespanne politieke klimaat van destyds. Sedert die vroeg 1960’s was daar geen debute vanuit die geledere van nie-wit Afrikaanse skrywers nie. Ná Lionel Sheldon se Weeklag van die wese sou dit 17 jaar duur voordat Julian de Wette in 1977 met Die koningin in die buiteland weer daardie stem registreer. Daarna volg verskeie debute, onder meer dié van Vernon Februarie (O, snotverdriet, 1979), Hein Willemse (Angsland, 1981), Peter Snyders (’n Ordinary mens, 1982), Frank Anthony (Robbeneiland my kruis my huis, 1983), Vincent Oliphant (Bloed vloei in stilte, 1983), Clinton V du Plessis (Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, 1984) en ná afloop van die eerste Swart skrywersimposium, Patrick J Petersen se amandla ngawethu (op 14 September 1985). In die dekade ná 1976 toe Afrikaans in die brandpunt gestaan het, het dié digters met verskillende oriëntasies húl taal opgeëis. ’n Dualiteit was duidelik. Aan die een kant was Afrikaans die taal van mag en onderdrukking en aan die ander kant ’n taal wat sonder skroom in die breër anti-apartheidstryd gebruik is.
Die kwessie van benaming geanker in die Black Consciousness-studentebeweging bly ’n tameletjie. In verskeie van my artikels, onder meer “Black Afrikaans writers”, gee ek ’n oorsig van die geskiedenis van die term en die globale opposisionele intensie daarvan. Sonder om die regverdiging vir die term te herhaal: Die kategorisering “swart Afrikaanse skrywers” word onder meer gebruik om die spanning met die onuitgesproke Afrikaner-etnosentrisme van die Afrikaanse literêre kanon en kanonvorming aan te spreek.
Ek identifiseer drie golwe van letterkundige ontwikkeling in swart Afrikaanse skryfwerk ná 1976. Die eerste golf van skrywers word hoofsaaklik geassosieer met die anti-apartheidstryd; ’n bewustheid van die private belewing in die konteks van politieke aktivisme; geskille om die gebruik van taalvariëteite, veral Kaaps; die opkoms van gemeenskapsteater; en die neiging tot selfpublikasie, alternatiewe tydskrifte en verspreiding. Die meeste van dié skrywers is van plattelandse afkoms of woon in die Afrikaanse noordelike voorstede van Kaapstad. Hul skryfwerk behels hoofsaaklik poësie wat getuig van politieke ontwaking.
Die tweede golf is dié ná 1990 met toenemende toegang tot gevestigde uitgewerye. ’n Groter mate van die geledinge van identiteitsvorming is aanwesig; outobiografie as ’n legitieme uiting kom na vore. Vir die eerste keer is daar geteikende belangstelling vanuit die gevestigde uitgewersbedryf. Dit is veral prosa wat voorrang begin geniet. Ten spyte van groter toegang, gaan skrywers steeds voort om self uit te gee.
Die derde golf behels die huidige generasie skrywers vanaf die vroeë 2000’s. Dit behels die opkoms van vroueskrywers, outobiografiese skryfwerk met die fokus op klein lokale geskiedenisse in verskeie genres. Afrikaans word soos in die middel 1980’s opgeëis, en kry beslag in aktivisme rondom Afrikaanse variëteite. Veral Kaaps word opgeëis as ’n taal van outentisiteit en sosiale verset. Waar skrywers van die eerste post-1976-golf feitlik geen toegang tot gevestigde uitgewers gehad het nie, het die huidige generasie skrywers ’n groter mate van toegang tot hoofstroom- Afrikaanse uitgewers en die breë Afrikaanse mediabedryf.
4
Die studie van letterkunde staan nie los van die samelewing waaruit dit voortspruit en geproduseer word nie. Die ingebedde geskiedenis van enige teks is altyd ’n medespreker.
Apartheid wou hê dat elke individu tot ’n volk behoort en afsonderlik moes voortbestaan en getrou aan sy etniese identiteit moes bly. Verset teen dié verdelende beleidsrigting het onder die oorgrote meerderheid toegeneem. Een segment van die breë bevolking is sedert 1948 grootliks uit armoede opgehef, terwyl die meerderheid aan die agterspeen moes suig. Bestaanskrisis beskryf die algemene toestand van die 1970’s en die 1980’s in Suid-Afrika. Ons ken die tropoi van dié tyd: werkerstakings, skoolopstande, huurboikotte, townshiponrus, bomme, polisie-optrede, derdemag, AK 47’s, halssnoermoorde, noodtoestand ... Die merkers “Soweto”, “Vaaldriehoek” en “die Trojaanse perd” is in ons kollektiewe geheue ingegraveer. Sien in dié opsig Tiny Kraan se bloemlesing, Anti-apartheid anthologie: Afrikaanse gedichten uit de apartheidsperiode (2014).
In Willie Adams se “Die dans van ons comrades” (in Optog, 1990) word dié spanninge gehoor terwyl dit terselfdertyd terugskryf ná die Afrikaanse poësiekanon in Eugène N Marais se “Die dans van die reën”, en natuurlik ook verder terug na ’n inheemse kultuurtradisie:
O, die dans van ons comrades,
aktiviste ruk op na die plek
waar vlae die ruimtes verkleur
en gebalde vuiste die lug skeur.
Wyd sper hulle die monde
en sprei die woorde:
“Viva Cosatu, Viva Cosatu.”
Pamflette nooi almal na die dans
want die stryd is wyd
en die mannekrag verspreid.
Maar die gees is hoog
by die dans van ons comrades.
Apartheid was polities nie volhoubaar nie. Met die vrylating van hoë-profiel- politieke gevangenes wat kulmineer in Nelson Mandela se vrylating op 11 Februarie 1990, stapel Patrick J Petersen in sy “Akte van beskuldiging” in alfabetiese volgorde die wandade onder die apartheidsbedeling op. Elkeen van die selfstandige naamwoorde in die gedig roep ’n netwerk van teenstellende assosiasies op:
[...]
Sluipmoord Skandvlek Slingertelefone Soweto
Spookbendes Stadler Strijdom
Treurnicht Terreur Trojaan Tutu
[..]
Volk Vaderland Verwoerd Veertig jaar vertraag
[...]
Sanksies en boikot was aan die orde van die dag. Op sport-, kultuur- en akademiese gebiede is Suid-Afrikaners se omgang met en toegang tot die res van die wêreld ingeperk. Binnelands het die stryd teen apartheid beslag gekry in ons musiek, teater en literatuur. Kunstenaars het hulself as kultuurwerkers geïdentifiseer wat kultuur as ’n wapen in die stryd gebruik het. Sprekend is die opvoerings van die Cape Flats Players wat hul aanvanklike fokus op die toneelstukke van Adam Small verander na agitprop-stukke, soos Freedom now! en Senzenina! Patrick J Petersen, Willie Adams en Leonard Koza speel deurslaggewende rolle in dié opsig met die publikasie van hul bloemlesings, Aankoms uit die skemer (1988) en Optog (1990). Ook sprekend was I Qabane labantu – poetry in the emergency / Poësie in die noodtoestand (1989), ook in kollektiewe aksie saamgestel. Die titel, eintlik iQabane labantu, kan as Kamerade van die mense vertaal word. Nadat ’n People’s Culture-fees in Kaapstad in Desember 1986 verbied is, is ’n simposium by UWK aangebied met referate, voorlesings, toneel- en musiekopvoerings. Die aanbied van die simposium was in sigself ’n toonbeeld van politieke verset en van kultuuraktivisme waarin die vertrekpunte van die periode, veral aktivistiese nierassigheid, gedemonstreer is.
Te midde van die politieke tumult, is dit veral De Wette, Richard Geldenhuys (Tussenvuur, 1986) en Oliphant wat die gewoon menslike private uiting, soms beskouend, mymerend en in die geval van Du Plessis ironiserend verwoord, maar selfs dan is dit nie moontlik om te ontsnap aan die onmiddellikheid van die maatskaplike toestand nie. In “Die Imam” van De Wette uit Verban verbinne (1980) wat opgedra is aan “Steve Biko, lateres en onlangses”, hoor ons daardie versugting: “Die Imam het die pad geken, maar het hom vasgeloop / teen die tronkwag wat met sy fier hande / deur mieliestronkhare kam”. Victor Wessels (Waarom skryf ek Afrikaans: die gedigte van Victor Wessels / Testimony: the poetry of Victor Wessels, 1929-1979) wie se gedigte onlangs postuum gepubliseer is, sny dieselfde onderwerp in “Suiderkruis” aan.
Die belang van Wessels se digterskap spruit soos dié van Anthony uit die antirassige tradisie wat veral in die Kaap sedert die middel 1940’s in intellektuele kringe voorrang geniet het. In die stryd teen apartheid en sy verdeling van die samelewing in onoorbrugbare etniese kategorieë het hierdie teenapartheid-tradisie ras as ’n kategorie van menslike ordening verwerp. Dus nie net rassisme nie, maar die idee dat “ras” ’n betekenisvolle manier is om mense te orden. Dié ingesteldheid versterk juis Wessels se verset teen die Suid-Afrikaanse politieke sisteem, omdat hy dit ook in internasionalistiese terme as onreg verwoord.
5
Met demokrasie breek ’n ontspanne periode in Suid-Afrika aan. Die sensuurbedeling van die laat-apartheidperiode is grotendeels opgehef. Die hoofstroom- Afrikaanse boek- en media-uitgewers wat eng die apartheidsbedeling verbind en daardeur bevoordeel is, toon groter bereidwilligheid om die onontginde streke van die Afrikaanse leefwêreld te publiseer. Dit is veral prosapublikasies wat met entoesiasme aangekondig word, soos Abraham Phillips se Verdwaalde land – volgens André P Brink “’n ongeslypte diamant” – en AHM Scholtz se Vatmaar (1995), wat Jakes Gerwel aanprys as “’n merkwaardige letterkundige gebeurtenis” en “die eerste werklik literêr-betekenisvolle roman deur iemand anders as ’n wit skrywer in Afrikaans”, terwyl EKM Dido met haar Die storie van Monica Peters (1996) geloof word as die “eerste bruin vroueskrywer”. Frieda Gygenaar wat vroeër by Benedic-uitgewers My liewe klein Jo (1992) gepubliseer het, sou egter op dié onderskeiding aanspraak kon maak.
Ronelda S Kamfer maak in 2013 ’n stelling wat waarskynlik van toepassing is op hierdie ouer skrywers en ’n jonger geslag wat in die huidige tydsgewrig na vore kom: “My stories kom van die huis af, van my mense af, van my plek af. Ek kom uit ’n tradisie van orale vertelling. Die familiestories is van die een generasie na die volgende oorgedra. En ek is die gelukkige een met ’n aanleg vir woorde en ’n talent vir skryf.”
Hierdie tekste staan literêr in ’n oorgangsperiode, dié van ’n lang tradisie van Afrikaanse mondelinge oorlewering, die oorgang na geletterdheid en bewuste optekening. Hierdie skrywers debuteer laat in hulle lewens en nie een van die skrywers is formeel literêr-geskool nie, trouens in die geval van Phillips en Scholtz, is hulle skoolopleiding minimaal. Dié tendense – die gebrek aan formele literêre opleiding en minimale formele skoolopleiding – val meermale in swart Afrikaanse skryfwerk op.
Die agtergrond van swart Afrikaanse skrywers verskil wesenlik van dié van wit Afrikaanse skrywers wat in hoofsaak uit ’n witboordjie-middelklasomgewing kom. Eersgenoemde groep skrywers kom hoofsaaklik uit werkersklas- en laer middelklasomgewings wat bepalend is vir die verhaalinkleding, onderwerpe, temas, wêreld- en taalbeskouings. Dit geld vir skrywers soos Loit Sōls met My straat en anne praat poems (1998), Karel Benjamin met Staan uit die water uit! (1996), Joseph Marble met Ek, Joseph Daniel Marble (1999), asook talle van die huidige geslag skrywers soos Nathan Trantraal met Chokers en survivors (2013) en Chase Rhys met Kinnes (2018).
Uiteraard konsentreer hierdie mondelinge oorlewering op persoonlike ervarings, sodat bewuste outobiografiese, biografiese en gevolglik ook realistiese optekening onderskei kon word. Willie Adams, wat bekend is vir sy politiek-aktivistiese gedigte in die jare sewentig en tagtig, publiseer Toe die reënboog nog die reënboog was (2017), ’n gefiksionaliseerde biografie, oor die vestiging van Bishop Lavis as ’n nuwe subekonomiese buurt in die vroeë 1960’s, sy uitgebreide gesin se stryd om menswaardigheid en sy bewuswording van kulturele en politieke aktivisme. ’n Soortgelyke verhaal, maar dié keer gesitueer in die Oos-Kaap, is dié van die joernalis en liedjieskrywer Malvory Adams wat in sy Als is nie net swart en wit nie (2021) vertel van ’n plattelandse jeug, alkoholverslawing en identiteit- en politieke ontwaking. Jeremy Vearey vertel in sy outobiografie, Jeremy vannie Elsies (2018), van sy jeug in ’n township in die noordelike woonbuurte van Kaapstad, sy betrokkenheid by studenteopstande, die versetbeweging, sy gevangenskap as ’n ondergrondse ANC-vryheidsvegter, die lyfwag van Nelson Mandela en sy betrokkenheid in die transformasie van die Wes-Kaapse polisie ná 1994. Oor sy veelbewoë loopbaan in die polisie vertel hy in Into dark water – a police memoir (2021).
Onder dié kategorie sou ook die gebundelde rubrieke gelys kon word waar in kort formaat die wel en weë van rubriekskrywers se leefwêreld aan die orde gestel word. Hieronder tel Heindrich Wyngaard se Ons (2011), Anastasia de Vries se Baie melk en twie sykers (2010), Nathan Trantraal se Wit issie ’n colour nie – angedrade stories (2018), Chase Rhys se Misfit (2022), Bettina Wyngaard se Wat sê Bettina (2024) en pas Willem Fransman jr se Dit was so hittete (2025). As openbare kommentators in die hoofstroom- Afrikaanse media belig dié skrywers in die algemeen ervarings wat ’n verruimende blik bied op die bestaanswyses en beskouings van individue en groeperings aan die ander kant van die spreekwoordelike spoorlyn.
In Dudley C Brandt se Portret in die gang (2014) en Simon Bruinders se Die sideboard (2014) word biografiese gegewens omwerk tot romanmatige herinneringsgeskrifte, terwyl Bettina Wyngaard se debuutroman Troos vir die gebrokenes (2009) herinner aan die “maatskaplike probleemroman” waar maatskaplike disfunksie in spanning gestel word met die innerlike krag van veral die vroue in die gemeenskap. Die tema van vroue se innerlike krag kom ook voor in haar Grietjie se loutering (2023), en Wyngaard sou ’n oeuvre van ’n sterk vrou opbou in ’n reeks misdaadromans waar Nicci de Wee die voorslagspeurder is.
Valda Jansen omskep in Hy kom met die skoenlappers (2016) verwikkelde persoonlike en familiegeskiedenis, maatskaplike kontekste en liefdeservarings in ’n subtiele, ontroerende vertelling. Die oorskryding van maatskaplike grense en kinderverwerping vertel in outentieke taalvorme vorm die basis van Anzil Kulsen se debuut, die jeugroman Zita (2006). In Kompoun (2021) fiksionaliseer Kamfer in episodiese formaat plattelandse maatskaplike omgewingsgeskiedenisse met ’n eksplisiete opdrag: “Al die vrouens, wat sorry moes sê, / al was hulle nie sorry nie, / en vir my ma, altyd”. Kirby van der Merwe se Eugene (2023) is ’n komplekse roman waar sosiale en persoonlike geskiedenis in narratiewe sofistikasie beslag kry.
Die eksplisiete biografiese val nie net in die genoemde werke op nie, maar word ’n deurlopende stroom van vertelde en verwerkte lewensgeskiedenisse, veral dié van vroue. Die eerste formele outobiografie deur ’n swart Afrikaanssprekende vrou is dié van die sendingwerker, Catherine Willemse: Met ’n diepe verlange (2000, 2007), wat haar jeug op ’n Wesleyaanse sendingstasie en haar roeping as “pelgrim” vertel. Fatima beskryf as Afrikaanssprekende Moslemvrou van Indiërafkoms in Ek’s g’n Slams (2013) die spanning tussen omgewing, godsdienstradisie en individualiteit. Jenna-Leigh February, ’n jong Afrikaanse televisienuusleser, skryf Goedheid en guns – agter my swirlkous (2014) in die motiveringsgenre oor haar christelike oortuigings, haar gewaarwordinge as jongmens en die bowe-aardse determinering van lewenskeuses. Die politiek van hare wat dikwels in na-koloniale beskrywings voorkom, word hier eksplisiet deel van die vertelling. Tot dieselfde biografiese genre sou Farren Cloete se Geroep vir ’n tyd soos hierdie (2024) gereken kon word.
Boeke soos Daan Cloete se Vrede vloei soos ’n rivier (2018), sy en sy medepredikante A Boer en JS van Rooy se Voor ons vergeet (2017) en Johnny Davids se Boytjie (2024) is ook christelik-gebaseerde outobiografieë, terwyl Willa Boezak Griekwaheld, ’n biografie oor die Griekwaleier AAS le Fleur, skryf, ’n aanduiding van ’n groepsbewustheid wat ook in taal manifesteer.
Onlangs is Charmaine Africa se Amma (2024) met die Netwerk24-kykNET-Rapport-prys vir nie-fiksie bekroon vir ’n outobiografie waarin kinderverwaarlosing en -mishandeling, geweld, verslawing en die algehele disfunksie van ’n werkersklasgesin in Bishop Lavis beskryf word. Hierdie eksplisiete biografiese tendens word ook vergestalt in die poësie, onder meer in Diana Ferrus se Ons komvandaan (2005), meesal oor haar vader en gesin; Ronelda S Kamfer se bundels Noudat slapende honde (2008) en Chinatown (2019) oor verwikkelde huislike verbintenisse en in Hammie (2016) spesifiek oor haar moeder; en Lynthia Julius se Kinderlê (2024) oor eksplisiete vroulike seksualiteit, swangerskap en koloniale geweld.
6
Toegang tot publikasie word dikwels onderbeklemtoon, maar dit is soos geletterdheid ’n wesenlike aspek van ’n literêre tradisie en van ’n literatuurgeskiedenis. Wat gepubliseer, versprei, geresenseer en voorgeskryf word, word bepaal deur die magte van publikasie, toegang tot bemarkingskanale, voorskryf- en bekroningskomitees. Hoewel verskeie swart Afrikaanse vrouedigters voorheen in bloemlesings soos Aankoms uit die skemer (1988) en Optog (1990) gepubliseer het, is Diana Ferrus se selfpublikasie Ons komvandaan (2005) die eerste selfstandige bundel, byna 70 jaar na die publikasie van Elisabeth Eybers se Belydenis in die skemering in 1936. Ferrus is vandag wyd as digter bekend, maar haar digterskap vind deur alternatiewe publikasie- en verspreidingskanale plaas. Die bundel volg op die wye internasionale erkenning wat haar gedig “I’ve come to take you home” oor Sara Baartman geniet. Ten spyte van haar reputasie, publiseer en versprei sy steeds self haar bloemlesings en opvolgbundels, soos Slaan vir my ’n masker, Vader (2006), I’ve come to take you home (2010) en Die vrede kom later (2019).
Poësie is uiteraard makliker om uit te gee, gewoon om logistieke redes soos die omvang van ’n teks en die geredelike beskikbaarheid van uitlegsagteware, maar dit het byvoorbeeld nie Joanna Alexander (Skoenlapper vrou, 2023), DC Brandt en Wilma Paulse (Blikkies vol stories, 2023) verhoed om langer tekste op eie stoom uit te gee nie. Die bekende maar nou verdwene uitgewery, Prog, wat Petersen en verskeie digters in 1987 tot stand gebring het, publiseer etlike bundels en bloemlesings. Petersen en digters soos Floris A Brown en Du Plessis het, soos Ferrus, feitlik hul volle oeuvres onafhanklik uitgegee.
Daar is egter aantoonbare slaggate in selfpublikasie. ’n Opmerking wat ek ten opsigte van Prog-uitgewers in die versamelde werk van Petersen, Ons het [...] ver versit (2021), maak, is in die algemeen hier ter sake: “Die uitgewery het nie aangewese redakteurs, keurders of professionele ondersteuning gehad nie, sodat die bundeling, keuring, produksie en verspreiding buite die hoofstroomkanale van verwagtinge, literêre produksie en verspreiding plaasgevind het.” Alternatiewe publikasie het ’n belangrike nadraai, naamlik ’n gebrek aan doeltreffende verspreiding en bemarking.
Sedert die vroeë 1990’s en veral sedert die begin van die 2000’s bevind sommige swart Afrikaanse skrywers hulle in ’n gunstiger verspreidings- en bemarkingsposisie. Talle van hierdie skrywers se reputasies word gebou rondom bewuste bemarkingstrategieë wat byvoorbeeld optredes tydens boekbekendstellings, kunstefeeste, televisie- en radiobesprekings, advertensies, rubrieke en resensies in bepaalde koerante en tydskrifte verseker. Dié bemarkingstrategieë dra gewis daartoe by dat diesulkes geredelikerwys aan die Afrikaanse leserspubliek bekend gestel word.
7
In die verslag van die eerste simposium van 1985 skryf die redakteurs: “Die basiese feit is dat Afrikaans deur Afrikaner-ideoloë met distorsie en verdringing toegeëien is aan die geordende Afrikanerdom.” Dié toe-eiening is ongetwyfeld een van die suksesse van Afrikanernasionalisme, want dit vestig ’n mite wat nie-Afrikaanssprekendes sonder meer aanvaar en direk aanleiding gee tot die slagspreuk: Afrikaans is die taal van die verdrukker. Hierdie assosiasie het selfs nie-wit Afrikaanssprekers van hul moedertaal vervreem. Dié nasionalistiese miteskepping het verreikende gevolge gehad en onmeetbare skade aan die ontwikkeling en ontplooiing van Afrikaans as ’n bowe-etniese en gemeenskaplike taal gedoen.
Teen dié agtergrond was die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium in sigself ’n daad van terugwinning en opeising. Diana Ferrus in haar pro-Afrikaanse gedigte, “Afrikaans, ’n versoeningstaal” en “Kom ons praat weer Afrikaans” uit Ons komvandaan, bied ’n opposisionele perspektief: “Kom ons praat weer Afrikaans / Kom ons gee die tong van ons / ’n kans / om weer te dans”.
Die mees opvallende omwenteling van eietydse swart Afrikaanse skryfwerk is dié oor taal en taalgebruik. Snyders, die digter en dramaturg, is sedert die middel 1970’s die mees konstante voorstander vir die gebruik van Kaaps in die letterkunde. Sy perspektief spruit voort uit ’n ervaring wesenlik anders as dié van Adam Small. Anders as Snyders wat op die Kaapse Vlakte gebore en getoë is, kom Small na die Kaapse Skiereiland as ’n buitestander. Tog word hy ’n vroeë pleitbesorger vir Kaaps wat hy as ’n literêre kunsgreep eerder as ’n identiteitsmerker gebruik.
Small sou ’n hele nuwe geslag skrywers inspireer om Kaaps in hul kreatiewe skryfwerk te gebruik, en dit word meesal ’n visuele merker van identiteit. Ek dink aan Ryan Pedro se pienk ceramic-hondjies (2020), maar dit is veral Nathan Trantraal wat sedert die publikasie van sy debuutbundel Chokers en survivors (2013) die prominentste aktivis vir Kaaps is. Hy vestig hom aanvanklik as ’n ikonoklas met ’n siniese streep wat krities teenoor bestaande konvensies staan.
Die problematiek van verse in nie-standaard ortografieë, ook genoem oogdialekte, is welbekend, omdat dit dikwels as “stemme” buite die norm, as afwykings, beskou word. Kaaps is gebruiklik in die Afrikaanse literatuur beskou as ’n teken van wat Rob Antonissen in 1962 in sy resensie van Kitaar my kruis “die idioom [...] van die agterbuurt-kleurling” genoem het met die kodes van geestigheid, dranksug, gewelddadigheid, hedonisme en intellektuele agterlikheid. Digters in Kaaps in ’n vroeë tydvak, en selfs vandag, ontsnap nie aan die gevaar van stereotiep-bevestiging nie. Daar is egter toenemende bewustheid van stereotiep-verbreking, soos dié van Kamfer in die titelgedig van haar debuutbundel, Noudat slapende honde: “Noudat my ouers van my hou / en ek die Happy Hotnot-mentality / opgebom het / nou’s ek ’n fokken hero”.
Daar is voor- en nadele aan dialekskryf. Dit kan identiteitbevestigend en ’n teken van verset wees, net soos talige moontlikhede verruim kan word met meerstemmige, outentieke voorstellings. In die beste van dié voorstellings word taal aangewend deur ritme, sintaksis en idioom, eerder as net spelwyse. In die negatiewe kolom val die risiko van stereotipering. Die gevaar is om die klem op die eksotiese te laat val, dus enkele eksterne dimensies van optrede eerder as menslike verwikkeldheid. Ortografies moet vrae oor leesbaarheid en toeganklikheid gevra word.
Die spanning rondom Standaardafrikaans en toeganklikheid het ’n bewuste uitbreiding van Kaaps in swart Afrikaanse skryfwerk tot gevolg gehad. In een voet innie kabr (2024) bied Gaireyah Fredericks ’n outentieke blik op ’n bepaalde gemeenskap in wat sy die “Cape Muslim vernacular” noem, ’n voortsetting van Zulfah Otto-Sallies in Diekie vannie Bo-Kaap (1997). Die vreemdheid – en die eksotiese – van die omgangstaal word in beide tekste onderstreep met die toevoeging van verklarende woordelyste. In godsdienstige verband, waag Boezak in sy Die Pesalms vi ôse mense (2019) sy hand aan Kaaps en omdig die Psalms, byvoorbeeld: “Die Djirre is my Leader, / Ek ’et brood oppie tafel. / Hy hou my innie holte van sy hand, / Hy vat my na koel wates / waa vrie’de is”.
Die konsentrasie op taal het nie net tot gevolg dat meer tekste in Kaaps gepubliseer word nie, maar dit skep ook ’n bewustheid van die verskeidenheid van omgangsvariëteite. Skrywers publiseer onder meer in variëteite soos Namakwalandse Afrikaans, Griekwa-Afrikaans, Oos-Kaapse en Overbergse Afrikaans. Tekste soos Lynthia Julius se Uit die kroes (2020) en Kinderlê (2024) toon ’n historiese en taalbewustheid in Namakwalandse Afrikaans, terwyl Elias P Nel sedert Iets goeds uit Verneukpan? (1998) as kontreiskrywer die nasate van die Khoi en San in die streke rondom die pan uitskryf.
8
Hierdie oorsig in breë kwasstrepe bied ’n insig van die opvallendste patrone oor die afgelope 40 jaar. Daar is egter veel meer om te sê oor onder meer jeug- en streeksliteratuur, oor toneelopvoerings waar skrywers soos Amy Jephta, Christo Davids en Herschelle Benjamin belangwekkende werk lewer, asook die diverse invloede van musikante as liedjieskrywers. In ’n ontluikende tradisie is groei en ontwikkeling te bespeur wat in talle opsigte die belangrikste lote van die breë Afrikaanse letterkunde verteenwoordig.
Hein Willemse is ’n afgetrede letterkundeprofessor van die Universiteit van Pretoria. Hy beklee tans as besoekende professor die Jaap Durand-leerstoel vir ’n regverdige, deelnemende en volhoubare samelewing, Universiteit van Wes-Kaapland.
Eindnota
i ’n Aangepaste weergawe van die openingstoespraak by die vyfde Swart Afrikaanse skrywersimposium, gehou op 10–11 Oktober 2025 in die Richard van der Ross Bronnesentrum, Universiteit van Wes-Kaapland. My opregte dank vir die uitnodiging aan Steward van Wyk en sy reëlingskomitee.
Lees en kyk ook:
> Veertig jaar later: die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium (Hein Willemse)
> Video: #SAS4_2015 – Adam Small
> Die Derde Swart Afrikaanse Skrywerssimposium is hier (2005)
> Cliff-hanger: Ek skryf nie om bruin te wees nie – ek skryf vir my karakters
> Waar is die nuwe generasie swart Afrikaanse skrywers?
> S.V. Petersen se tydskrifverhale (Steward van Wyk)
> The science of Kaaps: Reflections on the 3rd Kaaps Symposium
> Ons kom van vêr: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
> Kettinggesprek: Frank Hendricks gesels met Michael le Cordeur oor Ons kom van vêr
> Kettinggesprek: Michael le Cordeur gesels met Charlyn Dyers oor Kaaps in fokus
> Een voet innie kabr: ’n onderhoud met Gaireyah Fredericks
> Cliff-hanger: Kinderlê deur Lynthia Julius, ’n resensie
> Ons het ver [...] versit deur Patrick J Petersen: ’n boekresensie
> Wat sê Bettina? deur Bettina Wyngaard: ’n resensie
> Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie
> Onderhoud: Valda Jansen oor Hy kom met die skoenlappers
> Dis finaal … Saartjie Baartman kom huistoe!!!
> Die Pesalms vi ôse mense: ’n onderhoud met Willa Boezak
> Kristalvlakte deur Amy Jephta: ’n FMR-resensie
> Moet kinders hulself en hul omgewings in kinderboeke herken?
> UJ-pryse 2018: Repliek by die ontvangs van die debuutprys vir radbraak
> Akademiepryse 2023: Eugène Maraisprys vir Prosa – Kirby van der Merwe
> Kompoun: Ronelda Kamfer en Annemarié van Niekerk práát
> Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas: boekbekendstellingsvideo
> Ryan Pedro se toespraak by die ontvangs van die 2021 UJ-debuutprys
> Speurder Sammi: die blou steen – ’n onderhoud met Crystal-Donna Roberts
> Kinnes deur Chase Rhys: ’n resensie
> Moerstaāl: ’n gesprek met Loit Sōls
> Bekroonde toneelstuk In Slavenhuis 39 nou by die Kunstekaap te sien
> Resensie: Innie Shadows deur Olivia Coetzee
> Mens-plant-verbintenisse in Die sideboard (2014) van Simon Bruinders
> Kaaps in fokus! Verslag oor die simposium aan UWK, 19–20 Julie 2012
> Shirmoney Rhode bring hulde aan Adam Small
> EKM Dido gesels oor haar hartseer en hartstog jeens “haar mense” ...
> Onderhoud met Vincent Oliphant
> Hibriditeit, of die baster in ons
> ’n Lewe van menswaardigheid – 'n gesprek oor die bruin identiteitseminaar
> Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK
> Peter Snyders: Uit ’n Ordinary mens
> Commendatio: Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir niefiksie 2025


Kommentaar
Dankie. Dit is baie interessant.