Bekroonde toneelstuk In Slavenhuis 39 nou by die Kunstekaap te sien

  • 0

Die geselskap van In Slavenhuis 39 (Foto: verskaf)

Die bekroonde toneelstuk In Slavenhuis 39, wat handel oor vier bruin eerstejaarstudente wat ’n woonstel in Stellenbosch deel wat jare gelede slawe gehuisves het, is tans by die Kunstekaap in Kaapstad te sien.

In Slavenhuis 39 het in Maart by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch gedebuteer, waar dit die Woordtrofee vir Beste Opkomende Kunstenaars ontvang het. Die drama is ’n koproduksie tussen die Toyota US Woordfees en die Kunstekaap en word tot 14 September in die Kunstekaap opgevoer.

Philip Rademeyer behartig die regie en Herschelle Benjamin het die teks geskryf.

Herschelle vertel meer oor die teks.

In Slavenhuis 39 speel tans by die Kunstekaap-teater as deel van die Erfenismaand-program. Vertel asseblief meer oor die stuk – waaroor gaan dit? 

In Slavenhuis 39 handel oor vier bruin eerstejaarstudente wat saam in ’n slawehuisie in Stellenbosch woon. Nathan se ouers het in sy matriekjaar ’n groot geheim aan hom vertel en daaruit het ’n rebellie en innerlike konflik uit hom gespruit. Dit was so erg dat dit hulle genoop het om ’n advertensie te plaas op soek na drie ander bruin eerstejaarstudente wat saam met hom in ’n woonstel kan bly. Adam, Chester en Wilden is die ander karakters wat dan instem, en so moet die vier studente nie net hulle eerste jaar probeer slaag nie, maar ook hul hedendaagse kwessies oor manlikheid, geweld, seksualiteit, geloof en kultuur ondersoek.

’n Toneel uit In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

Vertel asseblief meer oor die karakters in die stuk en die akteurs wat die rolle vertolk.

Nathan, gespeel deur Cantona James, is van Bellville en kom studeer aktuariële wetenskap.

Adam, gespeel deur Stephren Saayman, het pas ’n liefdesteleurstelling beleef soos hy sy eerste jaar in rekeningkunde begin.

Chester, gespeel deur Eldon van der Merwe, droom om eendag ’n Springbok te wees en is op ’n rugbybeurs by die universiteit. Hy studeer onderwys.

Wilden, gespeel deur Stefan Erasmus, wil in sy pa se voetspore volg en die Here se naam verkondig. Hy studeer teologie.

In Slavenhuis 39 het by die Woordfees gedebuteer en die Woordtrofee vir Beste Opkomende Kunstenaars gewen. Het julle ooit gedink die stuk gaan so suksesvol wees?

Glad nie. Ek was verskriklik senuweeagtig met die opening by die Woordfees. In so ’n mate dat ek eers die tweede vertoning kon sien agv angs. Maar Philip Rademeyer, regisseur van die stuk, die akteurs, asook die verhoogbestuurder, Savannah Vermaak, het vanaf die begin van die proses hard gewerk. So dit is verdienstelik. En met die prys help dit ook dat die stuk ’n langer lewe kan kry. En dit was belangrik vir my – dat meer mense dit kan sien. 

’n Toneel uit In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

Jy het die stuk self geskryf. Van waar jou inspirasie?

Ja, ek het. Die inspirasie was die slawehuisie in Hertestraat in Stellenbosch, wat my laat dink het aan my herkoms en vryhede wat ek tans het. Maar ook die moeilike dinge wat steeds vandag in mens se pad staan. Ek wou uitvind hoe ek hierdie woonstel en erfenis kan gebruik om ’n stuk te skryf waarin jong bruin seuns in ’n ander lig geplaas word. Hulle sukkel in die dorp waar hulle kom studeer, en hulle sukkel om oor die weg te kom met mekaar. Maar iewers tussenin hulle almal is daar tog iets wat hulle saambring.

’n Toneel uit In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

Wat is sommige van die hoogtepunte van hierdie proses?

Vir my was dit toe Philip ingestem het om die regie te behartig. Ek bewonder sy werk al lank, en om hom as ’n regisseur asook skrywer van sy gehalte te kry was regtig ’n groot eer. Ek het ook so baie by hom geleer. Ander hoogtepunte was die ekstra vertoning by die Woordfees wat geskeduleer was ná aanvraag daarvoor. Dit was regtig ’n riem onder die hart om te hoor en te sien dat die stuk mense raak. Dit was ook baie verblywend om die prys vir Beste Opkomende Kunstenaars te wen. En om nou weer by die Kunstekaap te speel is ook ’n hoogtepunt.

Neem ons deur die proses van ’n toneelstuk skryf. Watter uitdagings is daaraan verbonde?

Wel, jy kry ’n idee en dan moet jy self ondersoek of dit werkbaar sal wees vir die stuk. Daar moet ook baie dinkwerk ingaan oor jou karakters – wie hulle is, wat hulle doen en wat hulle kwel. En daar moet konflik wees – innerlik en ekstern. So dit vat nogals baie tyd en navorsing om dit neer te pen. En dan as jy die eerste weergawe gelees het, begin jy herskryf en herskryf. Dan is daar die regisseur en akteurs wat bykom en so neem die stuk ’n lewe van sy eie aan. So dit vat baie tyd vir die skryfwerk en mens moenie te bang wees om ander se opinies te kry nadat jy al ’n ruk daaraan gewerk het nie.

’n Toneel uit In Slavenhuis 39 (Foto: Vulture Photography)

Jy het al ’n paar pryse en beurse ingepalm vir jou skryfwerk, soos die Kunste Onbeperk Teksmark-beurs en die Jakes Gerwel-stigting se Skryfprojek vir Jong Sterre. Vertel ons meer. Wat beteken hierdie pryse en geleenthede vir jou?

Ja, ek sien baie daarna uit om volgende maand vir drie weke in die Jakes Gerwel-huis in Somerset-Oos te woon saam met vier ander skrywers onder die mentorskap van Amy Jephta. Ons gaan elkeen werk aan ’n nuwe drama wat volgende jaar op die planke gaan wees by die Suidoosterfees. So dit beteken verskriklik baie vir my om sulke geleenthede te kry waar mens kan leer en ontwikkel in jou loopbaan. Dit is baie belangrik vir my om nie net die akademiese agtergrond van ’n universiteit te hê nie, maar ook om self in die praktyk te leer en te groei. Ek is dankbaar dat ek dit tot dusver kan doen.

Beplan julle om die stuk na ander verhoë ook te neem en verder op te voer?

As ons kan, sal ons dit beslis weer wil opvoer. Ons kan nie veel nou al sê nie, maar daar is dalk opwindende nuus op pad oor volgende jaar vir die stuk.

  • Kaartjies vir In Slavenhuis 39 is teen R130 beskikbaar deur Computicket, of skakel die Kunstekaap by 021 421 7695.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top