Innie shadows
Olivia Coetzee
Uitgewer: Modjaji
ISBN:9781928215929
Misdaad! Misdaad! Misdaad! Wat van misdaad weet Suid-Afrikaners nog nie? Wat van misdaad het Suid-Afrikaners nie alreeds beleef of van gehoor nie? Wat van misdaad is nie al reeds oopgeskryf deur bekende Suid-Afrikaanse krimiskrywers soos Rudie van Rensburg, Bettina Wyngaard, Chris Karsten, Karin Brynard, Martin Steyn en Deon Meyer nie? Ek sal jou sê: Die Kaapse Vlakte oftewel Die Shadows was nog nooit só oopgeskryf in haar moedertaal, Kaaps, deur ’n krimiskrywer nie! En met Innie Shadows maak Olivia M Coetzee haar verdienstelike buiging as ’n opwindende jong krimiskrywer wat óók wil, en beslis kán.
Uit die staanspoor draai Coetzee geen doekies om nie. Sy skryf oor die lewe en die mense wat op die fletse bly. Sy kyk nie deur ’n vergrootglas van buite binnetoe nie, maar vind eerder as skrywer haar stem gemaklik in die middel tussen al die geweld, verslawing, armoede en hopeloosheid. En omdat sy haarself in daardie posisie vestig, voel die karakters se vlees soos jou eie en hul besluite dwing jou tot jou eie introspeksie. Of dit nou is oor hoekom ons onsself gedesensiteer het oor stories van dié wat op die buitewyke van die samelewing leef, of omdat daar wêrelde daar buite bestaan waar mense doen wat hulle moet ter oorlewing.
Maar hokaai. Innie Shadows vra nie jou simpatie nie, altans dis nie wat ek daaruit gekry het nie. Haar karakters is nie op soek na ’n wonderwerk nie en hulle leef nie ’n lewe waar vergelding en selfviktimisering aan die orde van die dag is nie. Haar woorde is nie volgens die Standaard “Beskaafde” Afrikaans se woordelys en reëls gekoppel nie, en haar trant is anders as ’n gewone speurverhaal. En “haar”, ja, en liefs nie “sy” nie, want Coetzee toets hoe wyd jy kan gaan met geslagsrolle en identiteite wat in die begin van hierdie nuwe dekade beslis aan die voorpunt van die sosiale verandering in ons samelewings is.
Ons ontmoet Veronique Plaatjies, of kô ôs sê ma’ Nique; ôs ontmoet ha’ in ha’ eie kame’ besig om koue koffie te drink. Sy verkies dit so. Sy loer deu’ die vensters en staar uit na die Shadows. Sy hou va’ ha’ entjie nes sy va’ ha’ pen en papier hou. En later ga’ sy afstap na Balla se smokkelhuis toe, wan hy worrie nie dat sy nog ’n tollie het’ie. Haar Tafelberg is Hoerikwaggo en ha’ lewe is vol draaie en gai’ maak, ma’ sy verkies dit so.
Hiermee word ons onmiddellik verplaas in ons tydvak en die hoofkarakter wat onbeskaamd deel van die Afrikaanse kanon word. So sê ek, want so skryf Coetzee haar in met geen verkeerde lyn van haar eie omtrekke as skrywer en in haar karakters wat gebonde is aan die genre. Nique besin in haar kamer oor waar haar vriend Carl is. Alhoewel hy vanaf hy begin tik het, sommer so vir dae op dae wegraak, voel hierdie keer vir haar anders. Ewenwel, sy sal wag tot hy opdaag om te kom vra vir ’n bietjie kos of geld. Vir haar is Carl meer as die demon binne hom. Vir haar is hy ’n mens ongeag sy keuses en so sal sy probeer om soveel as moontlik dieselfde medemenslikheid te betoon as vir enige ander mens.
Met Innie Shadows moet mens twee keer dink oor wat jou reg en verkeerd sou wees van elke karakter se kant af. In die gewaarwording van die ergste aan die einde van die boek is daar die onvermydelike vraag: Wie was reg en wie was verkeerd? En hoekom so? Is daar ooit ’n (maklike) antwoord?
En hierdie ontnugtering voel soos ’n swaard deur jou nek, want alhoewel Coetzee fiktief ’n wêreld oop skryf en herverbeeld vir ’n inloerleser soos ek wat nie van die Kaapse Vlakte kom nie, is die besinning rondom die gevolge van moraliteit in die lewe en godsdienspraktyke met sy getroue en soms blinde aanbidders.
Is die kerkmense dan goeie mense as hul met hul Groot Boek so links en regs besluit wie behoort aan die swepe van godsdienstige geregtigheid?
En dit moet gevra word, want met Innie Shadows is dit nie net ’n boek wat in sy genre kan val oor dramatiese trant en boeiendheid nie, maar daar is dapperheid in tematiek wat Coetzee op spoor stel vir die lesers om te vind en ondersoek binne hul eie lewenswêrelde.
Innie Shadows is kenbaar. Dit is geografies nie verbind tot net waar die bevooroordeeldheid mens laat gaan nie. Dit is nie net ’n fisiese plek soseer nie, maar iefs ’n ontketening van Nique, Carl, Gershwin en Sara se lewens binne die huidige bestaan van ’n lot waartoe hul versteen word. En daarmee is die menslikheid ook nie agter skans nie, maar by die voorhekkie van enige antie se yard.
Ek wil byvoeg dat in die tradisie van Adam Small, en meer onlangs Chase Rhys, is Coetzee nog ’n skrywer wat Kaaps skryf soos dit op die tong van haar sprekers lê. Maar dit gaan soveel verder – haar Kaaps is in klein versteekte (en tog ook nie) dele soveel anders as beide. Haar klemme val skerp en sag waar die dramatiese trant van die spanning opbou en stagneer (met opset, natuurlik). Die manier hoe Coetzee haar afkappingsteken aanwend tot mindere mate, bied ’n soort “geen apologie vir die standaardvorm” nie. En die direkte vertaling van ’n Engels-gebruikte woord van die karakters wat dan in sy vertaalde Kaaps-weergawe net so deel vorm van die sin, maak my oorweldig opgewonde oor die eindelose moontlikheid wat taal bied as dit nie aan ’n orde van reg en verkeerd geplaas word nie. Dis nie dat Kaaps en Afrikaans tot nou toe nie ’n lewe van sy eie gehad het nie, maar nou lewer haar skrywers bewyse van hoe elkeen dit op hulle eie manier hoor, sien, praat, en belangrik: skryf. Sela.
Ek lees met Innie Shadows ’n skrywer raak wat debuteer nie om te vra vir ’n plek aan die tafel nie, maar liefs aan ’n ander tafel kan sit waarin sy haar mense tot die literatuur verbeeld en skryf wat hul sal herken. Daarvoor het ek die grootste respek en waardering.
Die boek is ook nie tot so ’n lengte waar mens soms voel die skrywer kon dit maar korter gehou het nie. Innie Shadows kon ek binne enkele dae klaar lees en neersit om te tob oor die onbeskaamde gruwelikheid dog eerlikheid waarmee Coetzee jou los aan die einde. Dis asof jy net nie kan glo dat ’n mens, en selfs ’n ma, dit kan doen nie. Veral in ons huidige tydvak, waar mans uiteindelik aandadig gehou word vir hul aandeel tot die krisis van geslagsgeweld in ons land, bring Coetzee ’n ander blik ook na die gesprek. Dit vat nie weg van die hoofuitgangspunt van mans se rolle in die krisis om geslagsgeweld nie, maar dit maak die gesprek breër en hou ons almal verantwoordelik.
En van seksualiteit durf ons nie onsself en ons onmiddellike verwysingsraamwerke ontsê nie, want dis steeds ’n teer punt in soveel huise, dorpe en lande vandag. In bruin gemeenskappe moet ons ook mekaar begin tug oor hoe die woorde “moffie”, “tranny”, “meideman” ens steeds binne die mure van ons huise versteek lê. Ons kerke kan nie meer net ’n gay paartjie se dankoffers aanvaar, maar hul nie laat trou voor die kansel nie. Daar is gesprekke wat begin moet word en in Coetzee se debuut open sy soveel van hierdie gesprekke. Daarin bewys sy dat Innie Shadows ’n spesiale boekrakplek verdien.
En tog is daar ’n sensitiwiteit aan boord met die verpakking van soveel kwessies wat nie nuut is nie. Dis nie dat die aanhoudelike herskrywing van hierdie kwessies nie meer drakrag het nie, maar júis omdat ons voel ons kan aanbeweeg, al is dit nie opgelos nie, het gemaak dat ons in sirkels wentel. In die breë konteks van die Suid-Afrika uit my skril stem en grootoog jongenskap is hierdie gevolgtrekking ook gepas. Ons wil nie meer oor dieselfde goed praat nie, maar tog is die roes van dit onvermydelik.
Dalk noop ek jou net om Innie Shadows ’n kans te gee, of dalk sou jy hierdie soort boek wil ontvlug, maar hoor my knalkreet: Daar is net leer en verleer wat jou perspektiewe tot jou eie lewens en andere sal verbreed.
In die toekoms sien ek uit na meer van Coetzee in haar eie stem, haar voorouertaal en oor ons eie dinamiese mense met hul ontnugterende wêrelde.
Lees ook: