Die Pesalms vi ôse mense: ’n onderhoud met Willa Boezak

  • 0

Willa Boezak vertel vir Naomi Meyer van Die Pesalms vi ôse mense, ’n boek wat onlangs deur die DAK-Netwerk uitgegee is.

Willa, in ’n ander era, voordat die wêreld nog aan die gons was oor COVID-19, het jy die Psalms in die Bybel in Kaaps vertaal. Dalk kan jy eerstens sê: Is vertaal ooit die regte woord? Het jy dit eerder net in jou eie woorde neergeskryf

Hierdie is ’n verwerking van die Psalms. Slegs wanneer met die klassieke tekste, dws Hebreeus, Aramees en Grieks, gewerk word, is dit ’n vertaling. In my geval het ek die 1983-vertaling gebruik omdat die eerste Afrikaanse Bybel van 1933 te veel verouderde woorde en uitdrukkings bevat wat nog minder verstaanbaar is, soos lydsaamheid en verordeninge.

Waarom het jy Die Pesalms: vi ôse mense geskryf?

As teoloog en oudpredikant weet ek waaroor dit eintlik gaan, naamlik die boodskap. Binne die Afrikaanse taalfamilie is Kaaps die grootste variëteit met meer as twee miljoen huistaalsprekers. Dis heeltemal onaanvaarbaar dat soveel mense nie werklik verstaan wanneer hoogdrawende taal vanaf die kansel gebruik word. (En is die dominees nie biezonders lief dáárvoor nie!?)

Is die boek bedoel vir predikers, vir by die huis lees, vir skoolkinders, of wie is jou ideale leser?

Dis in die eerste plek gewoon bedoel vir Christene wat Kaaps praat. Predikante speel egter ’n belangrike rol in terme van aanvaarding en daarom het ek vooraf aan sewe leraars ’n paar pesalms gestuur vir kommentaar, en hulle almal was positief. Hoewel ek meestal die werklikhede van die mense op die Kaapse Vlakte in gedagte gehad het, is dit ’n denkfout dat dit net daar is waar mense dit praat. Met trekke na ander provinsies trek ’n taal saam, sodat mense in PE of Eldorado Park dit ook besig. Wat my verstom is dat Moesliems, omdat hulle die skeppers van Kaaps is, ook in Die Pesalms belangstel. Die teikengroep, wat natuurlik kinders insluit, blyk dus heelwat groter te wees as wat ek aanvanklik gedink het.

In hierdie tyd van die koronavirus is mense dalk baie meer as gewoonlik besig om oor hulle eie godsdienstige oortuigings te besin. Wil jy ’n psalm, soos Psalm 91, met die lesers deel, soos wat dit in Die Pesalms voorkom?

Laat ek eers dit sê: Vanselfsprekend kan ons die grootste deel van die Bybel met verwerkings nie eietyds maak nie omdat die konteks so histories-gebonde is. Daarom het ek die Psalms gekies – dit is veel makliker om op onse situasie van toepassing te maak. Dawid se vyande was die Amalekiete, Jebusiete, ens, maar wat weet die leser tog van hulle? Dit bring ’n afstand tussen leser en Bybelgedeelte. Wat vir die psalmis relevant was, is nie noodwendig vir ons nie. Ons vyande is die gangsters, bendes, korrupte politici en dwelmhandelaars, en ek sou beslis COVID-19 ingebring het as vernietigende vyand.

PESALM 91
Sy wat by’rie Allehoegste skyling soek
’n Pesalm vi Vrouedag.

’n Vrou wat by God skyling soek
wiet lattie Almagtage vi haa sil sôre,
2 sy sê virrie Djirre:
“U is my shelter en my Ve’losse,
My God wie ek kan vetrou.”

3 My siste, dis Hý wat djou red
en djou stêkere maak assie Kaapse Dokte.
4 Hy hou djou onne sy vlêke
en wil djou vi altyt embrace.
Sy gatrouheit maak djou toe van alle kante.
5 Vra die hiemelse Vade
om djou te bewaa tienie gevaa innie nag
of tien attacks innie loep vannie dag;
6 tienie peste wat innie donke wag
of vi kwale wat helle oodag djou kan betrêk,
kôs God is djou wegkrypplek.
7 Al val ’n dysend mense langesan djou
en tiendysene voo djou,
sil djy en djou family niks ookommie.
8 Mit djou eie oë sil djy sien
hoelattie kwajongens ien vi ien gestraf wôd.
9 Maa ommat djy die Djirre
angeniem’et as djou Saligmake,
10 sal gien challenge te groot vi djou wies’ie.
Hou asseblief die plae yt djou hys,
draks kannie langesan’ie Bybel lê nie.
11 God sal even sy engelkies stie
om agte djou en djou kinnes te kô kyk.
12 En hulle sal djou oppie hanne dra
soelat djy nie djou voet tien ien klip stamp’ie.
13 Vra vi God om djou wys te maak, my siste;
hoe om moet elke dag se skuldworries,
stres, riekeninge en pyn te deal.

14 “Ommat sy my liefhet,
sal Ek haa red,” beloewe die Djirre,
“ommat sy My ken,
sal Ek my arms om haa sit.
15 Wannee sy moet My praat,
sal Ek haa smiekgebede ve’hoo;
in haa nood sal Ek dáá wies vi haa,
en Ek sal vi haa dignity gie.
16 ’n Baie lang lie’we wag op so ’n vrou,
en daa’oo kan sy hêppie wies!”

Wat was vir jou die grootste uitdagings rondom die skryf hiervan?

Eerstens dat dit nie my huistaal is nie. Gelukkig het ek in die laat-sestigerjare al ’n groot waardering vir Adam Small se digbundels, soos Kitaar my kruis en Sê sjibbolet, ontwikkel. Die tweede uitdaging was om tussen Kaaps as geloofstaal en die ander variasies van daai taal te onderskei. Willem Botha en Gerda Odendaal van die WAT het aan my ’n lemmalys van omtrent 1 600 woorde en uitdrukkings gestuur waarop aangedui word wat tronk- of gangstertaal is – wat ek toe maklik kon vermy. Sabela hoort glad nie in die Bybel nie – dis immers die Woord van God. Tipiese Kaapse uitdrukkings wat in gebede en getuienisse en deur straat- en treinpredikers gebruik word, ken ek baie goed en ek kon dit maklik invleg. Maar steeds moes ek versigtig wees. “Stêkgavriet” is byvoorbeeld eg Kaaps, maar ek moes dit versag na “stêkgesig”. Willem Fransman Jr was my taalversorger.

Wat was vir jou die grootste vreugde?

Die dag toe ’n blinde dogtertjie van die Athlone Skool vir Blindes my verwerking van Ps 23 vlot in Braille gelees het.

Wen ’n prys met Kaaps!

Jy is seker bewus van LitNet se projek om die Bybel in Kaaps te vertaal met Olivia Coetzee se skryfwerk wat gereeld verskyn. Ook was daar ’n kompetisie om Genesis 1 in Kaaps te vertaal op LitNet. My vraag is: Is alle Kaaps-sprekers se spreektaal dieselfde? Wat is jou gevoel?

Ek het eers bewus geword van Olivia Coetzee se belangrike werk nadat ek in September verlede jaar my weergawe voltooi het. Ek was egter bevoorreg om saam met haar by die onlangse Toyota US Woordfees onse weergawes voor te lees by ’n geleentheid wat deur DAK Netwerk gereël is. Die verskille in benadering is duidelik en dis goed omdat dit twee dinge beklemtoon: eerstens dat Kaaps ’n vrye taal is en ons steeds uitdaag om kreatief te dink, en tweedens dat dit nog te vroeg is om dit te standaardiseer.

Die geboorte van Jesus

Is Kaaps familie van Afrikaans, en, indien wel, op watter manier?

Die taalkundige wat dit die beste verduidelik, is Hein Willemse met sy uitleg van Achmat Davids se bevindinge. Voeg daarby die twee briljante maar eenvoudige werke van Christo van Rensburg oor die ontstaan van Afrikaans en dit word duidelik dat Kaaps die oudste geskrewe vorm van ons moedertaal is. Na die GRA het dit egter ’n verblankingsproses ondergaan wat tot almal se nadeel strek (dink maar aan Soweto in ’76). As gevolg daarvan werk die meeste Afrikaanssprekendes vandag met ’n hiërargiese indeling met Standaardafrikaans heel bo en Kaaps heel onder as “kombuis-” of “skollietaal”. Dat alle variëteite gelykwaardig is, word nie gesnap nie. Dit is dus Olivia se taak, reken ek, om met die bystand van kundiges Kaaps te bevry van daardie onwaardige stereotipe en dit in die mees waardige boek vir Christene as geloofstaal te verewig.

Dink jy dit het ’n ander gevoelswaarde om die Bybel in Kaaps te lees?

Op die oomblik is een predikant, Henry Matthys, besig om by verskillende gemeentes uit Die Pesalms: vi ôse mense te preek. Ek was by een so ’n diens en was dankbaar-bly om die lidmate se meelewing te ervaar. Een ouderling het agterna gesê: “Nóú verstaan ek!” So ja, die tref- en seggingskrag van Kaaps is wonderlik en beslis uniek. As koning Dawid bv “sela” skryf, hoeveel verstaan dat dit ’n rusplek in die lied aandui of “om te beaam” beteken? Maar skryf “ahwê” en ons is by.

Wat is die taal waarin jy bid?

Ek bid en praat in die standaardvariëteit, ma rieken djy rêrag lat dissie ienagtse taal wattie Hiemelse Vade wil hoo?

  • Vir nog inligting oor Die Pesalms vi ôse mense of om die boek te bestel, kyk hier.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top