"Jy is nooit groter as die storie wat jy vertel nie" – Christo Davids oor kunstenaarskap en Spoorloos II: Heksejag

  • 0

Foto van Christo Davids: verskaf

Christo Davids het geen bekendstelling nodig nie. Hy het vir die eerste keer in 1995 sy buiging as Dial September in die gewilde reeks Onder Engele gemaak – ’n karakter waarvoor hy vir ’n Artes-toekenning vir beste akteur genomineer is. Daarna het hy in kykers se harte ingekruip as Errol Pieterse in die sepie 7de laan. Dit is vanjaar 25 jaar ná sy eerste verskyning op Suid-Afrikaanse televisie en sedertdien het hy homself as TV-akteur, verhoogkunstenaar, regisseur en skrywer gevestig. Remona Voges het met hom oor sy mees onlangse projek, Spoorloos II: Heksejag, wat vanaf 14 Julie op kykNET uitgesaai word, gesels.

Spoorloos 2: Heksejag handel, soos die vorige seisoen, oor ’n verdwyning. Die tweede seisoen staan egter op sy eie twee bene, hoewel dit tematies by die eerste seisoen aansluit. Adam word wakker uit ’n koma van agtien maande, veroorsaak deur ’n ongeluk op die aand van sy matriekafskeid. Sy metgesel is in die ongeluk dood, maar Adam kan niks daarvan onthou nie. Om die waarheid te sê, sy herinneringe eindig die dag voor sy tiende verjaardag … Daar word veral gefokus op die effek van hierdie gebeure op die gemeenskap. ’n Grootskaalse soektog word van stapel gestuur om die skuldige te vind en die waarheid word telkens op verskillende maniere ontbloot en verskans.  

Christo is van mening dat dié reeks tot ’n wye gehoor gaan spreek: “Ek is seker daar sal nuwe kykers bykom. Hierdie is ’n reeks wat iets vir almal inhou, maar veral vir dié wat daarvan hou om hulle kop oor ’n whodunnit te breek.” Oor die ervaring om as assistent-regisseur saam met die bekende regisseur, Ilse van Hermert te werk, sê Christo: “Dit is ’n groot voorreg en om by haar te leer is van onskatbare waarde. Ek is baie geseënd met hierdie geleentheid. Ek beskou die reeks as ’n persoonlike hoogtepunt en dis ’n ervaring wat my altyd sal bybly.”

Spoorloos 2 is egter nie die eerste produksie waarvan Christo die regie behartig het nie – hy was ook vir 5 jaar een van die regisseurs by 7de laan. In dié periode het hy verskriklik baie geleer onder die uitstekende mentorskap van Henry Mylne. “Henry het my voorberei vir baie dinge wat oor my pad gekom het.” Oor die vraag of hy dit meer geniet om voor of agter die skerms te werk, is hy ambivalent: “Ek geniet dit baie agter die skerms, maar ek is net so lief vir speel. Ek doen wat ook al na my kant toe kom op ’n gegewe tyd. Ek het nie juis ’n voorkeur tussen voor en agter die skerms nie. Dis twee verskillende dissiplines en ek hanteer dit so.”  

As hy eerlik moet wees bly die verhoog egter sy se eerste liefde. Christo beskou die Fiësta-toekenning wat hy en sy oom, Lloyd Davids, vroeër vanjaar vir die beste nuutgeskepte teks, Queenie-hulle ontvang het, as ’n hoogtepunt in sy loopbaan tot op hede. “Maar teater in Suid-Afrika maak dit baie moeilik om dit voltyds aan te pak. Gelukkig is daar geleenthede in ander mediums in die industrie wat darem help om die pot aan die kook te hou.”

Christo se Oupa, Goliath Davids, het destyds die rol van Selling Komoeti in die rolprent Fiela se kind vertolk en dit is hy wat die wêreld van die kunste op ’n jong ouderdom vir Christo oopgemaak het. “Baie keer as ek terugdink aan die jare met my oupa, dan kom ek agter hoe al daai lesse vandag van toepassing is. Veral respek. My oupa het geglo aan respek vir jou werk en vir jou medemens.” Christo beskou sy oupa as een van sy leermeesters by wie hy nog die beste raad gekry het: “Hy het altyd gesê: ‘Jy is nooit groter as die storie wat jy vertel nie.’”

Christo is beskeie oor sy drome vir die toekoms: “Ek hoop om aan te hou werk. Daar is nog so baie stories om te vertel. Ek hoop om ’n goeie pa vir my kinders te wees en ’n goeie man vir my vrou.” Hy en sy vrou, Cindy se tweede baba kom in Augustus. Hoe balanseer hy sy besige werkslewe met familietyd? “Familie is vir my belangrik. My vrou het ook ’n baie besige werkskedule, so ons maak seker dat ons tyd maak vir mekaar en vir onsself.”

Hoekom dink hy is dit belangrik om stories te vertel, veral stories in Afrikaans? “Stories laat ons mekaar beter verstaan. Of dit in Afrikaans of Zulu is, ons kan almal vereenselwig met baie elemente uit ons verskillende agtergronde. Stories dwing mens half om te luister na wat iemand te sê het. Vir my is dit belangrik omdat dit kom met ’n groot verantwoordelikheid. Stories kan maak en stories kan breek. Daai besluit lê in die ink van die skrywer.”

Spoorloos II: Heksejag word op Dinsdae om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top