Cliff-hanger: Kinderlê deur Lynthia Julius, ’n resensie

  • 0

Boekomslag: Kinderlê deur Lynthia Julius (Queillerie, 2024)

  • Cliffordene Norton skryf ’n boekrubriek vir LitNet.

Titel: Kinderlê
Skrywer:
Lynthia Julius
Uitgewer:
Queillerie
ISBN: 9780795802706

Sommige boeke is soos water – jy drink om jou dors te les. Gewoonlik in een of twee sittings – soms drie as jy besig of uitgelees is.

Ander boeke, veral digbundels, kan jy nie in een oomblik absorbeer nie. Dit was so met Lynthia Julius se jongste digbundel, Kinderlê. Die Britse akteur en skrywer Stephen Fry skryf in The ode less travelled:

Poems are not read like novels. There is much pleasure to be had in taking the same fourteen-line sonnet to bed with you and reading it many times over for a week. Savour, taste, enjoy. Poetry is not made to be sucked up like a child’s milkshake, it is much better sipped like a precious malt whisky. Verse is one of our last stands against the instant and the infantile. Even when it is simple and childlike it is to be savoured.

Ek het Kinderlê net na Aardklop gelees. Ek het dit herlees tydens die finale episodes van Agatha all along.

Sou Lynthia tydens die 1692-Salem-heksejaag as ’n heks aangekla gewees het? Ja, het ek besluit, al sien ek haar as ’n Namakwalandse blomnimf. 

Ek het die gedig “Die kont as las” herlees nadat ek uitgevind het dat Trump tot Amerika se 47ste president verkies is:

nooit is ek voorberei vir jou nie
skaam gemaak en stil laat sit.

Hierdie twee reëls het gepas gevoel vir die goijna wat moontlik Amerikaanse vroue vir die volgende vyf jaar in die gesig staar.

Die bundel is in verskillende afdelings verdeel, elk met ’n unieke tema en fokus, soos aangedui deur titels soos “Goijna (Noodlot)”, “||Oa (Soen)”, “Klipkont (Hardkoppig)”, “Goed val breek”, “Oa (Soen)”, “Ghip (Steel)”, “||Gûn (Ouers)”, “Kjeent (Kind)”, en “Kinderlê”. Hierdie afdelings bou op mekaar en vorm ’n mosaïek van ervaring en emosie wat by die leser vassteek.

Van die begin af word die leser gekonfronteer met ’n gevoel van pyn en verlies, soos in die openingsgedig, “1 Gepubliseerdiërs 13”. Hier begin die leser verstaan hoe godsdiens en geloof – soms as troos en ander kere as uitdaging – deel van die reisbundel is.

Klipkont en ek hoor my oumagrootjie

Die afdeling “Klipkont” het my teruggevoer na my kinderdae, na die stem van my oumagrootjie wat soos ’n eggo in Julius se woorde weerklink. Ek praat selde oor taalgebruik, veral in Afrikaans, en veral wanneer die skrywer bruin is. Dit is omdat, al klink dit na ’n kompliment, die bespreking van taal dikwels die verskille in Afrikaans beklemtoon op ’n manier wat ongemaklik voel en uitsluitend voel.

........
Haar beskrywings, soos “’n Checkers-sak vol dassiepis, wildeals, en kankerbos”, dra die gewig van ons kultuur, mense, en herinneringe. Woorde dra krag en stories, en sonder dat ek dit besef het, was ’n deel van my oumagrootjie in “Klipkont” vasgevang.
........

Ek en die digter deel ’n soortgelyke agtergrond – ons is bruin kinders van die Noord-Kaap. Haar beskrywings, soos “’n Checkers-sak vol dassiepis, wildeals, en kankerbos”, dra die gewig van ons kultuur, mense, en herinneringe. Woorde dra krag en stories, en sonder dat ek dit besef het, was ’n deel van my oumagrootjie in “Klipkont” vasgevang.

Met “Klipkont” was ek weer 10 jaar oud, terug in die warm kombuis met die reuk van varsgebakte vetkoeke wat oor die kolestoof hang, en my ouma wat voor die kombuisvenster staan en skottelgoed in ’n groen skottel was. Julius se woorde roep daardie spesifieke nostalgie en warmte op, en laat jou onthou hoe digkuns nie net gelees nie, maar geleef en herleef word.

“Goed val breek”

“Goed val breek” volg die hoofkarakter se tyd in ’n psigiatriese hospitaal en neem die leser op ’n pynlike en intieme reis. Die kronologiese opbou gee die indruk van ’n deurlopende verhaal, amper soos ’n reeks episodes, maar genade – nog nooit het 14 bladsye so eindeloos en swaar gevoel nie.

My enigste beswaar is dat ’n paar gedigte in die afdeling “Kjeent” dieselfde temas van miskraam en verlies aanspreek. Ek dink “Afgee”, “Die dag toe” en “Oggendure” kon een sterker gedig gevorm het as hulle saamgevoeg was.

Die pynlike geskiedenis wat die titel geïnspireer het

Deur hierdie digbundel het ek die eerste keer van ’n tragiese geskiedenis verneem. Lynthia Julius bring hierdie geskiedenis tot lewe in die bundel se kernhoofstuk en laat die leser die pyn voel – nie net as ’n abstrakte herinnering nie, maar as ’n werklikheid wat menselewens geëis het en bly voortleef in die kollektiewe geheue.

Sy gee selfs stem aan die kinders in “Kyk sien aaneen” – stemme wat andersins in die geskiedenis verdrink sou word.

Die Kinderlê-monument by Steinkopf in die Noord-Kaap gedenk die massamoord op Nama-kinders. In die middel van die 19de eeu het ’n ernstige droogte die gebied rondom die sendingstasie by Steinkopf geteister, wat verskeie Nama-gesinne gedwing het om met hul vee na ’n waterbron ongeveer 12 km noordoos van die dorp te trek.

Op ’n noodlottige Sondag in 1867, terwyl die volwassenes ’n kerkdiens op Steinkopf bygewoon het, het ’n groep Khoi die kamp binnegeval en 32 Nama-kinders, hul oppassers, en selfs die honde, met pyl en boog vermoor. Moord van ons mense (bruin op bruin of “ander op ander”) is altyd vir my seerder. “Kinderlê” is ’n herinnering aan seer en verlies van kinders. Lynthia gee hierdie kinders ’n stem en teenwoordigheid in haar gedigte wat die leser laat voel.

Die bundel is nie net ’n versameling van gedigte nie, maar ’n venster na die rou, komplekse realiteite van vrou-, ma- en kindwees.

Bronne

Fry, S. 2006. The ode less travelled. https://www.penguinrandomhouse.ca/books/56859/the-ode-less-travelled-by-stephen-fry/9780099509349/excerpt (8 November 2024 geraadpleeg)

Wikipedia. n.d. Kinderlê. Beskikbaar by: https://af.wikipedia.org/wiki/Kinderl%C3%AA [Geraadpleeg: 9 November 2024].

Lees ook:

"Dis hartseer dat ek nie gedigte ten volle in Nama kan skryf nie"

Die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs 2024: ’n onderhoud met Lynthia Julius

Eietyds en eiesinnig: Lynthia Julius "vry met getroude sinne / en ligtekooi met reëls"

Cliff-hanger: "Afrikaanse boeke is net so goed soos Engelse boeke"

Cliff-hanger: Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top