- Cliffordene Norton skryf ’n boekrubriek vir LitNet.
“Afrikaanse boeke is net so goed, indien nie beter nie, as Engelse boeke.” – Hannes Barnard
“Aan ouers: Vertrou die proses.” – Nadine Petrick
Hierdie was my twee grootste lesse van die jeugboekbespreking getitel Wolk, borrelgom, foto’s en geheime, wat ek tydens die Aardklop-fees op 27 September by The Roots in Potchefstroom bygewoon het. Die titel is geïnspireer deur die betrokke vier jeugboekskrywers se jongste boeke:
- Wolk deur Hannes Barnard (Wolk was die eerste boek in ’n trilogie, gevolg deur Roet en Vuur wat onlangs verskyn het.)
- Borrelgom deur Jana du Plessis
- Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo
- Geheim in die riete deur Constant Van Graan.

Die jeugboekbespreking by vanjaar se Aardklop met, van links, Nadine Petrick, Hannes Barnard, Jana du Plessis, An-Mari do Carmo en Constant Van Graan. (Foto: verskaf)
Dit was ’n ongelooflik interessante gesprek gelei deur Nadine Petrick, ’n kinder- en jeugboekbemarker by LAPA en Penguin Random House. Sy het die gesprek só gelei dat dit ’n goeie plot naboots – een punt het by die ander aangesluit.
Elke dan en wan het Nadine ’n vraag soos ’n goeie vuurmaker uitgegooi om elke skrywer te betrek. Onderwerpe wat bespreek is, sluit onder andere skrywersreise, die besliste “ja” of “nee” vir die skryf van jeugfiksie, die uitdagings wat nuwe skrywers in die gesig staar, die skryf van trilogieë, en die kontroversiële gesprek wat oor boksies-tiek in jeugromans gaan.
Waarom ek boekbesprekings bywoon
Wanneer ek boekbesprekings bywoon, veral in die genre waarvoor ek skryf, is my primêre motivering altyd om die skrywers te ondersteun. Ek ken daardie hartverskeurende vrees wanneer daar ’n boekbespreking is en niemand kom nie. Dit is ’n vrees wat ek as beide ’n skrywer en ’n uitgewer verstaan.
Maar daar is altyd ’n bietjie twyfel wanneer ek boekbesprekings bywoon: Is daar iets nuuts om te sê? In my ervaring kan ek eerlik sê dat skrywers – veral Afrikaanse skrywers – my nog altyd laat voel het dat boekbesprekings die moeite werd is. Vir my as leser én as skrywer.
Dit is ’n leersame ervaring, ’n kans om medeboekliefhebbers te ontdek en kreatief gevul te word. Hierdie bespreking was geen uitsondering nie. Die nuwe skrywers wat ek ontmoet het, het my beïndruk, maar tydens die gesprek is daar ook idees bespreek wat my uitgedaag het.

’n Briljante gesprek deur vier ongelooflike skrywers. (Foto: Zelda Bezuidenhout)
Die verrassing van Hannes Barnard
Ek is mal oor An-Mari do Carmo. Dit is duidelik uit hoe ek haar boeke resenseer. Ek ken haar persoonlik – wel, ten minste professioneel – en ek hou van wie sy is en wat sy op sosiale media deel. Sy wys dat krag nie altyd met wapenrusting gepaard gaan nie.
’n Ware verrassing was egter Hannes Barnard. Dit was die eerste keer dat ek hom persoonlik ontmoet en luister hoe hy gesels. Ek het sy humor, opinies en insigte waardeer. Ek het Halley se komeet gekoop en beplan om sy Wolk-trilogie te koop (wanneer my begroting dit toelaat).
Ek was verras deur hoe Hannes se kop werk. Iets moois van skryf is dat dit jou ’n binneblik gee op die wêreld deur ’n skrywer se oë. Wanneer jy ’n boekbespreking bywoon, word daardie blik net verder uitgebrei. Karakters kry ’n ekstra laag, en dit maak dat ek uitsien na Halley se komeet.
Constant van Graan en magiese realisme
Ek en Constant van Graan werk op dieselfde kampus by Noordwes-Universiteit en het al aan ’n projek saamgewerk. Ek het onlangs begin om sy boeke te verken, wat ’n element van magiese realisme het – ’n genre waarvan ek baie hou.
Ek beplan om sy boeke te koop en is gelukkig genoeg om hom maklik te kan vra om dit te teken! Dit was indrukwekkend om hom te hoor praat. Constant beskryf sy skryfwerk as “absolute ontsnapping” [van die swaar van sy loopbaan as forensiese rekenmeester]. Constant het pas sy PhD klaargemaak en sien daarna uit om ’n boek te skryf terwyl hy “nie weghardloop van iets [soos sy studies] nie”.
Hy het ook ’n interessante punt aangeraak oor die debat oor jeugfiksie wat ongeveer twee jaar gelede gebeur het.

Die Aardklop Boekeoase by The Roots in Potchefstroom (Foto: Zelda Bezuidenhout)
Die kontroversie van “boksies-tik”
As jy nog nie daarvan gehoor het nie, of dalk vergeet het: Twee jaar gelede het die prominente professor en literêre figuur Hennie van Coller in ’n artikel, “‘Gewone mense’ word al hoe meer randfigure”, opgemerk dat dit lyk asof hedendaagse jeugboeke “boksies” afmerk om “woke” of polities korrek te wees.
Die skrywer SJ Naudé het hierop gereageer en dit het groot en nodige debat veroorsaak. Constant het ’n interessante vraag gevra toe Nadine hom vra oor sy mening oor hierdie kwessie: “Het iemand ooit met professor Hennie direk gepraat?”
Dit is iets waaroor ek ook die afgelope twee jaar gewonder het.
Wanneer ek oor die boekeverbod in Amerika lees, dink ek altyd terug aan dié debat, asook die gesprek wat ek met Zelda Bezuidenhout, André Trantraal en Joha van Dyk by Woordfees gehad het.

Ek en antie Zee, aka Zelda Bezuidenhout – my niggie se gunstelingskrywer. (Foto: Zelda Bezuidenhout)
As iemand wat histories as ’n “randfiguur” beskou is, was ek aanvanklik woedend. Ek wou die professor se kop op ’n skinkbord hê. Maar na ons gesprek by Woordfrees, en met tyd vir nadenke, vind ek dat ek graag ’n eerlike, reguit gesprek met die professor sou wou hê – nie om hom te “kanselleer” nie, maar om sy siening beter te verstaan en ook uit te daag.
Verteenwoordiging maak saak, en vir dié van ons wat nog altyd “randfigure” in literatuur was, het professor Hennie se uitsprake ’n groot impak gemaak.
Ek het myself en my gemeenskap vir die eerste keer in Zulfah Otto-Sallies se Diekie vannie Bo-Kaap gevind, en die impak daarvan het my lewe verander. Wanneer ek skryf, probeer ek nie boksies aftik nie – ek is te lief vir my karakters daarvoor – maar ek hoop ’n leser vind in my boeke wat ek in Diekie vannie Bo-Kaap gevind het.
Ek wonder gereeld hoe lank dit sal neem voordat ek ten volle gemaklik is in Afrikaans. Soms laat die debat oor my moedertaal my ongemaklik voel, en ek wil daarvan wegvlug.
’n Wyse vriendin het onlangs vir my gesê: “Skryf in die taal waarin jy bid”, en daardie sentiment spoor my aan om in Afrikaans te bly skryf.

Ek en antie Zee het gaan koek eet na die gesprek – want die lewe verdien om gevier te word (Foto: Zelda Bezuidenhout)
Die krag van boekbesprekings
Hierdie boekbespreking het presies gedoen wat dit moes: Dit het my laat dink, laat vrae vra, laat glo, en bowenal, dit het my lus gemaak om te lees. Uiteindelik is dit al wat saak maak.
Lees ook:
Cliff-hanger: Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud