Titel: Foto’s & fairy lights
Skrywer: An-Mari do Carmo
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184458
Wat ’n boek.
Dit is my eerste reaksie op An-Mari do Carmo se tweede boek, Foto’s & fairy lights. ’n Boek wat die kompleksiteit van gesinsdinamika, loopbaankeuses en selfaanvaarding verken.
Die vraag wat dit alles begin het:
“Gaan jy my nou vertel wat aangaan, of moet ek dit uit jou uit martel?” (bl 1)
Nee, dis nie die vraag waarna hoofstuk een verwys nie, maar die openingsvraag wat die hoofkarakter, Elzandri, se niggie haar vra. Elzandri moet haar niggie besig hou terwyl die res van die Kleynhansers help om die niggie se verlowing te beplan. Elzandri is gevra omdat sy “nie ’n geheim kan hou nie”.
Die sin stel baie mooi die familiedinamika van die Kleynhansers voor, maar hierdie grappie is die eerste teken van hoe Elzandri voel haar familie vertrou haar nie. Sy is ’n 16-jarige tuisonderrigstudent en haar pa vertrou haar nie om haar eie loopbaan te kies nie – met rede: Sy maak baie selde projekte klaar.
Haar niggie se troue gee haar die geleentheid om te bewys dat sy ’n bestaan kan maak met haar passie en onoffisiële werk as “familiefotograaf”.
Kom ons begin met die storiedele waarvan ek nie gehou het nie.
Elzandri se ouers was moeilik om te verduur. Hulle is nie slegte mense nie – net ouers wat glo hulle weet die beste en hul kinders se pad volgens hul geloof en waardes uitlê. Een sin het egter gemaak dat ek in die boek wil klim en Elzandri se pa aan die keel wil gryp:
“As ons vyftig jaar terug gelewe het, sou ek eerder vir jou ’n goeie man gesoek het en só vir jou gesorg het ...” (12)
Daardie sin het gemaak dat ek diep asemhaal, die boek neersit en met my honde gaan stap. Ek kon eers drie dae later die boek weer optel – en het dit in twee sittings klaar gelees.
Die grumpy-sunshine troop
Die boek word bemark as ’n “grumpy-sunshine”-romanse, ’n troop waarvan ek gewoonlik hou. In Foto’s & fairy lights voel hierdie troop egter veral geforseerd, want die seun langsaan wat Elzandri se oog vang, is nie ’n “knorgat” nie. Hy is iemand wat deur ’n moeilike ervaring gaan en sy gemoed weerspieël dit.
Marnu bly oor naweke en vakansies by Elzandri-hulle in, want sy ouers is na Amerika in ’n poging om hul familieplaas te red. Hy reageer vir my met die korrekte en realistiese reaksies: verwerping en bitterheid. Elzandri noem hom egter ’n knorgat – ’n benaming wat sy seer en swaarkry afskryf. Om in jou finale skooljaar deur jou ouers verlaat te word is nie ’n maklike ervaring nie – veral nie wanneer jy omring word deur ’n groot en close-knit familie soos die Kleynhansers nie.
Dit het vir my gevoel asof die bemarking en karakterisering van die boek ’n geleentheid verbeur het.
Formatering
Die boek se formatering het by tye die vloei versteur. Toneelonderbrekings, wat dikwels gebruik word om tydveranderings aan te dui, het soms sonder enige merkbare tydsverloop plaasgevind, wat my uit die storie getrek het.
’n Paar dae nadat ek die boek gelees het, het ek gewonder of die formatering ’n poging was om Elzandri se ADHD te weerspieël, maar vir my was dit moeilik om die emosionele tonele ten volle te ervaar.
Kom ons gesels oor die res 😊
1. Egte sibbeverhoudings: Ek het die opregte voorstelling van sibbeverhoudings waardeer. Elzandri se broer en suster het haar op betekenisvolle maniere ondersteun sonder om die plot te oorheers.
2. Gesinsdinamika: “Ek het groot geword in ’n groot familie – waar jy nie seker is watter kind behoort aan wie nie,” het die skrywer tydens haar boekbekendstelling by Shack & Sanctuary op 3 Augustus gesê. Hierdie dinamika het in die boek neerslag gevind. Dit was baie lekker, maar ook soms oorweldigend. Met soveel familielede was dit uitdagend om die individuele karakters te onthou, behalwe een of twee.
3. Die romanse: Die emosies tussen Elzandri en Marnu was lekker om te lees. Die emosionele diepte en impak van die opkomende romanse is pragtig uitgebeeld, wat gelei het tot verskeie ontroerende oomblikke wat my laat huil het.
Temas en Christelike-fiksie-elemente
Foto’s & fairy lights is ligter as Do Carmo se debuutroman, Toe als groen was, maar dra steeds emosionele gewig. Anders as in die eerste boek, waar die hoofkarakter toevlug soek by haar familie, is Elzandri se stryd meer intern, vererger deur haar familie se invloed. Dit maak die storie meer aangrypend as wat ek verwag het.
Die boek word ook bemark as Christelike fiksie. Hoewel Christelikheid meer subtiel geïntegreer is in vergelyking met die skrywer se eerste boek, het dit soms geforseerd of misplaas gevoel.
Ten spyte hiervan is Foto’s & fairy lights ’n boeiende leeservaring. Dit balanseer toeganklikheid met diepte en bied ’n opregte storie.
Een karakter op wie ek absoluut verlief geraak het, is die hoofkarakter se suster, Kara. Indien Foto’s & fairy lights die eerste in ’n reeks is, hoop ek Kara se verhaal is volgende. Kara se storie in Foto’s & fairy lights stel interessante vrae oor die druk wat op die “verantwoordelike kind” geplaas word en die koste daarvan.
Ek sal beslis Foto’s & fairy lights aanbeveel. Dit lees lekker, maar dit sal jou laat huil en bybly lank na die laaste bladsy.
Ek kon met An-Mari do Carmo oor haar sonskynboek gesels.
An-Mari, baie geluk met Foto’s & fairy lights. Jy het beslis jou belofte nagekom – ek het drie keer gehuil tydens die lees van hierdie storie.
By jou boekbekendstelling by Shack & Sanctuary op 3 Augustus het jy genoem dat baie van jou familietradisies in Foto’s & fairy lights vervleg is. Hoe en wanneer het Elzandri by jou opgedaag? Verskyn die karakters, of die storie, eerste vir jou?
Baie dankie! En sorry-not-sorry oor die huil.
Die karakters verskyn gewoonlik eerste, met die storie kort op hulle hakke. Hierdie boek het vir my by ’n toneel begin wat al vir jare lank in my kop afspeel: ’n meisie wat perdry op ’n plaaspad, met die knorrige buurseun wat verby haar jaag en die perd laat skrik – en dan is daar sparks. Van daar af het ek die prentjie verder begin inkleur, en Elzandri se groot, chaotiese familie het opgedaag (en baie soos my eie gelyk!).
Hoeveel van jou familie se kenmerke kan hulle in die boek raaklees?
Daar is ‘n klomp verskillende dele van verskillende mense in. My neef wat die woord “gangkoekies” gecoin het. Die tradisies, soos Disney movies kyk (al is die helfte van ons al in ons 20’s) en Red King of ander kaartspeletjies speel. Herinneringe soos kleilat by die dam en perdry en my broer se donkiekar. Die klomp verskillende tipes kerke waarin die verskillende gesinne is. En, natuurlik, die plaas wat almal saambind.
Wat was jou grootste uitdaging om Foto’s & fairy lights te skryf?
........
Ek moes uitfigure wat presies die hoofstorie is, en uitkerf wat nie daarby pas nie. En later, met die redigeringsfase, moes ek byna 20 000 woorde sny om by my uitgewer se woordlimiet te kan bly ... Dit het gevoel asof ek ledemate moet afsaag!
........
Net soos Elzandri en haar familie chaoties is, het my storie ook aanvanklik baie chaoties gevoel. Ek het min of meer geweet waarnatoe ek dit wil vat, en ek het ’n outline gehad, maar die storie het naderhand soveel ander rigtings ingeslaan dat dit dikwels moeilik was om alles te moet terugkatrol na die punt toe.
Ek moes uitfigure wat presies die hoofstorie is, en uitkerf wat nie daarby pas nie. En later, met die redigeringsfase, moes ek byna 20 000 woorde sny om by my uitgewer se woordlimiet te kan bly ... Dit het gevoel asof ek ledemate moet afsaag! (Maar die storie het op die ou einde baie daarby gebaat, so ek mag nie te veel kla nie!)
Ek mag dalk te veel in Elzandri se foto’s inlees, maar vir my het dit gevoel asof sy foto’s waardeer nie net vir die oomblik wat dit vasvang nie, maar omdat sy dit as iets onverwoesbaar beskou. Stem jy saam hiermee of nie?
Ek dink dis ’n baie mooi manier om dit te sien, ja. Dis juis ’n oomblik in tyd wat vasgevang word as iets konkreet wat nooit deur tyd vernietig kan word nie, al verander die mense en verhoudinge wat in die foto is dalk later.
Jy spreek ADHD aanvanklik subtiel en later meer direk in die boek aan. Was dit ’n doelbewuste plotkeuse of het dit organies ontwikkel?
Dit het baie organies ontwikkel. In die eerste draft het ek self nie eers geweet Elzandri het ADHD nie! Sy was maar net ’n bietjie van ’n loskop wat nie geweet het wat sy met haar lewe wil doen nie. Maar tydens die herskryfproses het ek self meer begin leer oor ADHD, en toe kon ek soort van my eie karakter diagnoseer, haha!
Daar was eintlik baie min wat ek moes verander om haar simptome op ’n outentieke manier te wys – net klein dingetjies en beskrywings hier en daar. Dit het so natuurlik gebeur en net sin gemaak.
Hoe het jou benadering tot skryf verander vanaf jou eerste boek tot jou mees onlangse werk? Watter lesse het jy geleer?
Selfdissipline en hoe om tyd te maak vir skryf terwyl ek voltyds werk was van die belangrikste aanpassings wat ek moes maak. My eerste boek was ’n een-maal-in-’n-leeftyd-ervaring, dink ek; dis asof iets my gedryf het om te skryf en die woorde het net gevloei.
Nou verg skryf baie meer doelbewuste beplanning (in die lewe en vir die storielyn) en dissipline. Daar is nog steeds tye waar die woorde maklik vloei en ek elke oomblik van die dag net wil sit en skryf, maar wanneer jy moeg is na ’n lang week of jou kreatiewe energie reeds deur werk getap is, is dit baie moeiliker om voor jou rekenaar te gaan sit in plaas daarvan om voor die TV te lê.
Is daar temas of genres wat jy nog nie verken het nie, maar graag wil aanpak? Hoe sien jy jou toekomstige werk ontwikkel in vergelyking met wat jy tot dusver geskryf het?
........
Ek het lang lysies van stories en karakters en temas wat ek nog wil aanpak. Ek het meer idees as wat ek tyd het om te skryf, en daar is so baie kwessies waarmee hedendaagse jongmense te doen het wat ek dink meer verteenwoordiging kort in boeke.
........
So baie! Ek het lang lysies van stories en karakters en temas wat ek nog wil aanpak. Ek het meer idees as wat ek tyd het om te skryf, en daar is so baie kwessies waarmee hedendaagse jongmense te doen het wat ek dink meer verteenwoordiging kort in boeke.
Neurodiversiteit, om net een te noem, is een van my groot passies, omdat ek self neurodivers (AuDHD) is en nooit as tiener boeke gelees het oor mense soos ek nie. Behalwe dit, sal ek dalk ook graag eendag ’n volwasseneboek wil aandurf – maar op hierdie stadium van my lewe voel dit asof ek nog meer kan relate met tienerwees as om ’n volwassene te wees, haha.
Kom ons gesels oor die beroepskant van skryfwerk. Jy het in ’n redelik kort tyd (of so lyk dit) uitsonderlike mylpale in jou skryfwerk bereik. Dit is opwindend, maar kan ook onnodige druk meebring. Hoe hanteer jy die lief en leed van skryf? Kom ons “vriend” twyfel ooit by jou op? (Ek vra natuurlik vir ’n vriend.)
Sjoe, baie dankie! En ja, ek is goed vertroud met daardie vriend en die druk wat dit meebring. Dit voel dikwels asof ek my “belangrikste” boek eerste geskryf het, dus het tweedeboeksindroom my hard getref en het ek gewonder of enigiets wat ek voortaan skryf ooit weer so ’n impak op mense sou maak as wat Toe als groen was gemaak het.
Dis darem lekker om nou, meer as ’n maand na Foto’s en fairy lights se publikasie, te kan sê dat ek genoeg boodskappe en resensies gelees het om darem te voel “I still got it!”, haha!
Wat my wel help, is om myself in die stories in te leef: Wanneer ek so meegesleur word deur my karakters, help dit my om nie te veel oor die res bekommerd te wees nie.
Laaste vraag: Wanneer kan ons Elzandri se suster, Kara, se boek verwag?
Dit hang van my uitgewers se publikasieskedule en Foto’s en fairy lights se verkope af (skimp, skimp), maar wat ek wel kan sê, is dat ek hard besig is om daaraan te skryf! Ek droom tans in pers ...
Lees ook:
Toe als groen was deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud
Cliff-hanger: Indrukke van die FILVEN-boekefees 2024 in Venezuela