Cliff-hanger: Indrukke van die FILVEN-boekefees 2024 in Venezuela

  • 1

Van links: Die skrywers Takalani Mutshinyani, Shubnum Khan, Sofia Moniz (ons tolk) en Fiona Snyckers gesels oor hul vroulike karakters. (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

  • Cliffordene Norton skryf voortaan ’n nuwe boekrubriek vir LitNet. Hier onder is die eerste aflewering.

Die mag van boeke

Kan boeke herhaaldelik jou lewe verander? Die kort antwoord is: Ja. Dit het met my gebeur.

Die eerste keer toe boeke my lewe verander het, was ek 15 jaar oud en kwaad vir die lewe. Ek het pas my kleinsussie verloor, en alhoewel almal in my gesin die verlies ervaar het, het ek nog nooit so alleen gevoel nie. In boeke het ek die troos gevind waarna ek gesoek het.

Die tweede keer was toe ek Dieke vannie Bo-Kaap deur Zulfah Otto-Sallies gelees het. Vir die eerste keer het ek my gemeenskap, my mense, in die wêreld van boeke gevind.

Die derde keer was toe my eerste boek, Om jou te ken, gepubliseer is.

Meer onlangs was dit toe ek Suid-Afrika by die grootste boekefees in die Suidelike Halfrond verteenwoordig het.

Hierdie is hoogtepunte, maar goeie boeke verander jou elke keer wat jy hulle lees.

Venezuela se boekefees

Nou terug na my onlangse besoek aan Venezuela. Suid-Afrika was vanjaar die eregas by die Feria Internacional del Libro de Venezuela (FILVEN), of die Venezuela Internasionale Boekeskou – ’n jaarlikse hoogtepunt vir lesers en die gemeenskap. Hierdie fees, wat vanjaar 20 jaar oud is, is deur president Hugo Chávez geskep en reis gedurende die jaar na die land se 12 distrikte.

Venezuela se geletterdheidsyfer is 97,6%, want die Venezolaanse regering het verskeie strategiese en besliste stappe gedoen, ingestel deur Chávez, om literatuur en ’n boekleeskultuur te bevorder. ’n Les wat ons kan leer.

Vanjaar vier Suid-Afrika ook 30 jaar van demokrasie. Hierdie samekoms van herdenkings was dus ’n belangrike tyd om in Julie, die maand van Mandela se geboorte, te vier. Verskeie skrywers, uitgewers en boekverkopers is deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur versoek om die 20ste FILVEN by te woon en die land te verteenwoordig.

Wat is die rol van die uitgewer? Van links: Carlos Ortíz (Venezuela), ek, Sofia Moniz (ons tolk) en Siphiwo Mahala (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

Die uitnodiging

Agtien van ons land se skrywers is uitgenooi om die fees by te woon – en ek was een van hulle. Op 13 Junie 2024 – ja, nou die dag – was ek besig met ’n aanlyn vergadering. In ’n stil oomblik het ek besluit om vinnig deur my persoonlike e-posse te gaan. Daar was baie e-posse – meestal smousboodskappe van Temu en Takealot – en daar was dit! Ek kon my oë nie glo nie. Ek maak die e-pos oop en lees die uitnodiging. Ek is een van die gekose Suid-Afrikaanse skrywers om die land by FILVEN 2024 te verteenwoordig.

Groot fout om daardie e-pos oop te maak!

Ek kon vir die res van die vergadering nie meer fokus nie. Ek het onmiddellik my planne agtermekaar gekry en op 12 Julie het ek, as deel van die tweede groep skrywers, Suid-Afrika vir die eerste keer verlaat.

Die reis

Die drie dae lange reis van Johannesburg na Istanboel, en van Istanboel na Caracas in Venezuela, was vol avonture, soos bagasie wat vermis geraak het, humor, en skrywers wat familie geword het.

Die fees

Dag 1 by #FILVEN2024 – ek is so opgewonde! (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

Op 16 Julie het ons, die tweede groep skrywers, met ons gesprekke begin. Ter voorbereiding het Cathrine Lekgoletsi Mokoena, organiseerder van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur, die gekose skrywers gevra vir gesprekke wat hulle wil voer onder die vaandel van Suid-Afrika se 30 jaar van demokrasie. Elke skrywer het vyf gesprekstemas ingestuur.

’n Wye verskeidenheid temas, soos “solidariteit van gees”, “waarom diversiteit steeds nodig is”, “bemagtigingstemas in jeugfiksie”, “die rol van ’n uitgewer”, en “bewaring van inheemse kennis (IK) deur literêre werke” is gekies.

Van my medeskrywers het wonderlike lesings aangebied, soos “Stories in die Suid-Afrikaanse konteks” deur Fiona Snyckers, “Die noodsaaklikheid om winste op Madiba se nalatingskap te stop” deur Siphiwo Mahala, en “Dekolonisering van die Gotiek” deur Shubnum Khan. Shubnum het een van my gunstelingwyshede tydens hierdie lesing kwytgeraak: “Wat is spoke anders as die seer wat ons nie kan laat gaan nie?”

Die gesprekke het nie net op die verhoog plaasgevind nie, maar ook oor etes of oggendkoffie. Daar in die buiteland het ’n groep skrywers moeilike en opregte gesprekke met respek en hoop benader.

Op Mandela-dag het ons twee sessies op die hoofverhoog gehad. Jy kan nie die senuwees op my gesig sien nie. (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

Internasionale deelnemers

Ek het al baie Suid-Afrikaanse boekfeeste bygewoon, maar FILVEN was iets anders. Dit was groter en meer divers as wat ek verwag het. Daar was skrywers en verteenwoordigers van Indië, China, Argentinië, Honduras en Egipte. Daagliks was daar honderde mense – van ryk tot arm, oud, jonk, kinders. Almal het boekgesprekke bygewoon, deelgeneem, boeke gekoop, of hul kinders na verskeie uitstallings geneem.

Die mense van Venezuela

Caracas in Venezuela – waar ek ’n tweede tuiste gevind het. (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

“Wat het jy die meeste geniet?” is ’n vraag wat ek al ’n paar keer gevra is. My antwoord bly dieselfde: “Die mense!” Ek het verlief geraak op die mense van Venezuela – hulle was opreg, warm en vriendelik. Hulle is absoluut lieflik en het ons met ope arms verwelkom.

Een van ons toergidse is tans besig om letterkunde te studeer en het my ’n kort oorsig oor letterkunde in Venezuela gegee. Geskiedenis, kinderboeke, en geskiedkundige helde is baie gewild, maar fantasie is skaars. Ons het ook geleer van professor Benito Irady – ’n skrywer en kunstenaar wat inheemse kennis bewaar.

Gereed vir die gesprek oor “bemagtigingstemas in jeugfiksie”. (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

’n Hoogtepunt

Op 18 Julie is ons vir aandete deur die Venezolaanse minister van kultuur, Ernesto Villegos, na die vorige presidentshuis genooi. Dit was ’n ongelooflike Spaanse huis wat oor die berge uitkyk en nou oor naweke vir die gemeenskap oop is.

Tydens hierdie besoek het ons Luis Britto García, ’n Venezolaanse skrywer en dramaturg, ontmoet. Sy fiksie is twee keer met die Casa de Las Américas-prys bekroon, en in 2002 was hy die wenner van Venezuela se nasionale prys vir letterkunde, wat as ’n lewenslange-prestasie-toekenning toegeken is. Hy en die Kaapse skrywer en argitek Vernon RL Head het lekker oor ’n liefde vir voëls gesels.

Ooreenkomste en lesse

Groep twee se skrywers – wat vriende en familie geword het. Van links: Gilbert Motsaathebe, Vernon RL Head, Siphiwo Mahala, Terry-Ann Adams, Shubnum Khan, Fiona Snyckers, Takalani Mutshinyani, ek, Bernice Ngcobo en Belinda van Heerden. Voor: Monicca Thulisile Bhuda (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

Daar is sterk ooreenkomste tussen Venezuela en Suid-Afrika – van ons uitgeeprosesse tot ons begeerte om ons tale te bewaar. Een aspek wat my beïndruk het en wat ek hoop Suid-Afrikaanse uitgewershuise sal aanleer, is dat Venezuela hulle kinderboeke tweetalig uitgee: Spaans en ’n inheemse taal soos Barí. Ek dink hierdie tweetaligheid kan meertaligheid bevorder en die belangrikheid van beide betrokke tale onder die loep bring.

Lesse wat ek geleer het

  • Venezuela en Suid-Afrika het ’n gedeelde hart: Ons mense is warm, vriendelik en opreg.
  • Suid-Afrikaanse skrywers ervaar soortgelyke uitdagings, ongeag in watter taal ons uitgee of watter reis ons stap.
  • Suid-Afrika het wêreldgehalte-skrywers.

Wat hierdie reis vir my as skrywer beteken het

Vanjaar kon ek nie baie skryf nie. Dit was ’n besige tyd by die werk, met my familie en met my gesondheid. Ek het ook twee bederfde honde wat baie tyd en liefde vereis – en ek gee dit met graagte. Hierdie reis het my toestemming gegee om my drome op die verhoog te plaas.

Ek is ’n skrywer, ongeag of ek publiseer of nie. Dit is wie ek in my wese is, en ek hoef dit nie in die kanthoeke van my lewe te probeer inpas nie. Dit was ’n lewensveranderende ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. Ek kan nie wag om al die kreatiewe werke van hierdie reis in my hande te hou nie. Ons het baie kontakte gemaak wat vriende en selfs familie geword het. Ek sal hierdie tyd en ervaring altyd bewaar.

Venezuela was vol kuns, maar die graffiti het my aandag getrek! (Foto's: Department van Sport, Kuns en Kultuur)

Naskrif

Dit was moeiliker om op hierdie vars en onlangse herinneringe terug te kyk met wat tans in Venezuela aan die gebeur is. Venezuela het op 28 Julie hul verkiesing gehad en die uitkoms het gewelddadige proteste ontlok. Dis moeilik om te volg – ek voel magteloos en kan net bid vir die veiligheid van die wonderlike mense wat ek leer ken het.

  • Foto’s verskaf
Lees ook:

The hidden by Fiona Snyckers: an inter-review

Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton: ’n onderhoud

Author’s corner episode 3: Ntabeni and Head

Revisiting Bloke Modisane, from Sophiatown to Gaza: #2 On violence, on history

Wat beteken Wêreldboekedag vir boekemense?

SA Kinderliteratuurfees 2022: ’n onderhoud met Cliffordene Norton

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top