
Prent: Pixabay
Wat beteken Wêreldboekedag vir boekemense?
Naomi Meyer het ’n paar skrywers gevra: Dis Wêreldboekedag op 23 April. Wat beteken dit vir jou as skrywer, as leser en as mens?

Vlnr: Cliffordene Norton, Jaco Jacobs, De Wet Hugo, Sidney Gilroy, Rudie van Rensburg (Foto’s: verskaf)
Cliffordene Norton, wie se Ek sal vir jou veg pas by Pan Macmillan verskyn het:

Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton (Pan Macmillan)
Wêreldboekedag is ’n inisiatief om mense aan te moedig om die plesier van lees te ontdek, want daar is niks so lekker soos lees nie. Soms lees jy vir fantasie, ander kere vir kennis, en soms ontdek jy dele van jouself in boeke.
Ek het al belewenisse ervaar wat ek nooit sou kon beleef het sonder boeke soos Pride and prejudice, Toe als groen was en Heimwee nie. Onlangs was ek deel van die ervarings van 47 verskillende tieners as beoordelaar van ’n skryfkompetisie, en ek het die skoonheid van die liefde gesien in elke romanse deur Didi Potgieter, Elsa Winckler, Joss Wood en Jo Watson.
Ek het na wêrelde gereis wat nooit bestaan het nie in Fourth Wing en Children in blood and bone. Boeke maak die wêreld en die lewe soveel ryker. Hulle gee woorde aan gevoelens wat jy soms nie kan uitdruk nie. Dit is iets wat ek vir elke persoon toewens. Begin op 24 April en geniet dit vir die res van jou lewe.
Gryp die geleentheid aan!

Bloedsomer deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
Sidney Gilroy, wie se Bloedsomer onlangs by NB-Uitgewers verskyn het:
Die kulture en omstandighede wat ek deur boeke kon ervaar vanuit die gemak van my leunstoel, het wie ek ís verander. Boeke is die tydmasjiene wat ons komvandaan bewaar en ook die rigtingwysers om wat dalk mag kom, te navigeer. Boeke is vir my die stiksel wat samelewings heg. Elke dag moet Wêreldboekedag wees.
Jaco Jacobs, skrywer van meer as 260 kinderboeke:
Die afgelope tyd het ek opnuut besef hoe min kinders deesdae werklik lesers is, en watter negatiewe impak dit op hul skoolwerk het. Kinders sukkel al hoe meer om met begrip te lees. ’n Inisiatief soos Wêreldboekedag is daarom vir my waardevol, omdat dit ’n geleentheid is om die kollig op boeke en lees te laat skyn. Om kinders behoorlik te leer lees én hulle lief te maak vir boeke behoort die heel belangrikste doelwit van enige laerskool te wees.
En nie net omdat ’n kind se leesvermoë en akademiese prestasie hand aan hand loop nie, maar ook omdat boeke ’n kind se binnewêreld eindeloos verruim. Ek hoop daarom dat Wêreldboekedag vanjaar wyd gevier sal word; dat ouers en onderwysers dit as ’n geleentheid sal aangryp om kinders aan die wonder en pret en betowering van boeke bloot te stel.
De Wet Hugo, wat onlangs in die NB-Uitgewers-kinderboekkompetisie vir Die doodgelukkige bure bekroon is:
Vir my as skrywer, leser, onderwyser én Suid-Afrikaner wat al vir langer as 14 jaar in die buiteland woon, hou Wêreldboekedag ’n baie spesiale betekenis op verskeie vlakke in.
Vir my as skrywer van kinderboeke is dit die perfekte geleentheid om die kuns en kreatiwiteit van storievertelling te vier, terwyl daar ook erkenning gegee word aan die impak wat literatuur op die vorming van ons kinders se gedagtes en kulture het.
As ’n liefhebber en leser van jeuglektuur is dit ’n tyd om die uiteenlopende verskeidenheid stemme en idees wat in boeke vir jongmense voorkom, te waardeer, en so empatie en begrip te bevorder.
En as onderwyser by ’n internasionale skool, én as mens, word ek weer eens herinner aan die transformerende krag van letterkunde om ons oor grense en generasies heen te inspireer, op te voed en te verbind.
Rudie van Rensburg, skrywer van spanningsromans en komiese verhale uit die aftreeoord, waar sy Hans-karakter woon:
Dat ’n dag wêreldwyd vir boeke afgesonder word, is hartverblydend. In ’n tydvak van die internet, sosiale media en nou ook kunsmatige intelligensie, is dit merkwaardig dat die wonder van boeke nog gevier word. Sonder stories sou die samelewing gereduseer word tot ’n koue, kliniese en feitelike milieu, gestroop van fantasie en verbeeldingskrag. In só ’n wêreld sonder sielskos wil ek nie leef nie. Wat my as skrywer inspireer, is lesers se wonderlike terugvoering. Dit gee my elke keer die besef dat boeke nog baie relevant en ver van ’n vervaldatum is. Dit is inderdaad ’n dag om met oorgawe te vier!
Lees ook:
World book day: Four young-adult (YA) authors chat about their work
Wêreldboekedag 2024: Trek aan soos ’n Suid-Afrikaanse kinderboekkarakter!
Swerkaters, belhamels, rebelle, moordenaars en werfetters in Gilroy se werk
Internasionale Kinderboekdag 2023: Jaco Jacobs se "Wat is ’n goeie boek?"