![]() Foto: Naomi Bruwer |
Sêgoed van Rudie van Rensburg Na aanleiding van Nitesh Patel, hoof van finansiële oplossings vir kliënte van Standard Bank, se uitlating dat ’n mens kan geld spaar deur nie nuwe boeke te koop nie: “So ’n stompsinnige wenk, om boeke as ’n luukse te beskou, vertel net te veel van die ingesteldheid van dié instansie om hom met my spaargeld te vertrou.” (Die Burger, 3 November 2015) “As jy die getuienis en die reg by mekaar uitbring. Wanneer jy die karretjie aanmekaarsit. Dan sien jy hoe pas die hele puzzle in mekaar.” (Die Burger, 17 Januarie 2015) “My skilderwerk het ’n invloed op my skryfwerk. Ek dink altyd in terme van prentjies. My uitdaging is om dit dan in woorde om te skakel.” (Die Burger, 21 Maart 2014) “As ek my lewe kon oorhê, sou ek ’n joernalis gebly het. Dis my passie. Ek sou dalk ook vroeër begin skryf het.” (Die Burger, 21 Augustus 2013) “As ek skryf, skryf ek heeltyd. Ek staan net op om te eet en selfs dan is die storie my hele kop vol. Ek dink aan niks anders nie.” (Die Burger, 21 Augustus 2013) “My storie bepaal gewoonlik die karakters. Ek skep eers die omgewing, dan die karakter.” (LitNet) Jonathan Amid wou weet wat sy doel is met sy romans. “Sir Philip Sidney het gesê: ‘Is it your purpose to inform or to delight?’ Dit gaan vir my beslis eerstens oor die leeservaring. As jy die leser nie geïnteresseerd hou in jou verhaal nie, gaan die ontknoping ook geen impak hê nie. My primêre doel is dus om eerder te ‘delight’ as te ‘inform’.” (LitNet) “Dit was ’n maklike besluit om my hand aan misdaadfiksie te waag. Die bevredigendste deel van die genre is om ’n lekker ingewikkelde plot uit te werk wat die leser gaan verras. Daarmee saam is die skep van geloofwaardige karakters ook ’n baie genotlike element. En natuurlik die navorsing wat jy moet doen om die verskillende storielyne agtergrondvleis te gee.” (Aan LitNet) Naomi Meyer wou weet of hy skryf met die bedoeling om sosiale kommentaar te lewer, of omdat hy iets in die media raakgesien het en ’n storie daarvan wil maak – of suiwer fiksie? “Nee, ek skryf hoegenaamd nie om sosiale kommentaar te lewer nie. Dit is ’n bonus as die storie hom daartoe leen, maar dan moet jy versigtig wees dat die stert nie die hond swaai nie. Die sosiale kommentaar mag nooit die storie versmoor nie. In Judaskus was dit suiwer fiksie, maar in my volgende boek, wat reeds ver gevorder is, pak ek ’n baie netelige en aktuele kwessie aan. Dit pas egter soomloos in by die verhaallyn.” (LitNet) Oor die publikasieproses: “Geen manuskrip is ’n solopoging deur ’n skrywer nie. Enige ou wat dit sê jok. Daar is keurders by die manuskrip betrokke. In my geval het die skrywer Kerneels Breytenbach ook ’n paar voorstelle gemaak. Ek kyk na al die voorstelle en wenke wat vir my gegee word en besluit dan of ek die manuskrip gaan sny of bylas. Ek soek terugvoer, dis belangrik om die beste produk moontlik te kan lewer. As jy nie as skrywer vatbaar is vir voorstelle nie, sal jy nooit voltyds kan skryf nie. Dit sal jou net ongewild maak en veroorsaak dat jy jou kop hard stamp. ’n Proefleser en redigeerder maak die taalgebruik vaartbelyn. Elke boek wat uitgegee word, is uiteindelik ’n spanpoging deur ’n klomp mense. Die oorskryfproses raak minder soos wat ek meer boeke publiseer.” (Vrouekeur) Sy raad aan aspirantskrywers: “Ek sal vir enige aspirantskrywer aanbeveel om ’n goeie leser te wees. Jy leer skryf deur te lees en te kyk na hoe die goeie ouens skryf. Moet nooit skryf uit ’n hoek van: ‘Gaan lesers hiervan hou of nie?’ Ek is die teikenpubliek. Ek skryf vir myself. As ek daarvan hou, hoop ek ander mense gaan ook daarvan hou. As jy heeltyd na buite vir goedkeuring kyk, gaan jy die spoor byster raak. As jy vir jouself sê: ‘Ek wil ’n skrywer wees’ moet jy op die stoel sit en begin. Daar is nie ’n ander manier nie. Daar is nie iets soos ‘inspirasie kry’ of ‘lus voel’ nie. Ek skryf wel aan sekere dele lekkerder, maar die moeiliker dele moet ook geskryf word.” (Vrouekeur) Hoekom is misdaadfiksie so gewild in Suid-Afrika? “Geen feit in ’n boek kan die werklikheid van die Suid-Afrikaanse misdaadsituasie troef nie, maar in boeke word die booswigte gewoonlik gevang en die moorde opgelos. Dit is waarom mense misdaadfiksie verslind.” (Centurion Rekord, 29 Junie 2015) Rudie van Rensburg oor betrokke literatuur: “Goeie misdaadfiksie is betrokke literatuur. Deur die jare word dit ’n verhalelaboratorium van maatskaplike kwessies. Jy skryf oor betrokke aangeleenthede. Die metafoor van die leesproses is dis soos ’n skildery. Jy lees, lees weer. Kyk en kyk weer. Ek het begin belangstel in die donker kant van mense se psige. Dis verskriklik ontstellend om onderwerpe aan te raak wat buite my gemaksone is. Jy is bang jy gaan die grense van fatsoenlikheid oorskry.” (LitNet, 13 Augustus 2019) Oor sy beplanning voor ’n misdaadroman: “Ek soek eerstens na geskikte temas om as agtergrond vir ’n spanningsverhaal te dien, wat gewoonlik baie navorsing verg. Dan skep ek karakters vir hierdie omgewings. Wanneer ek begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verskillende verhaallyne inmekaar gaan skakel, sonder enige formele struktuur waarbinne ek probeer werk. Gewoonlik het ek teen die helfte van ’n manuskrip nog geen idee hoe die verhaal gaan eindig nie, maar ek verkies dit so. Dit is soos om ’n groot avontuur aan te pak. Ek wil die reis nie vir myself bederf deur al te vroeg aan die einde te dink nie. Die storie moet natuurlik soontoe lei.” (LitNet, 30 Mei 2017) Oor sy skryfroetine: “Ek probeer om ’n baie gedissiplineerde skryfroetine te handhaaf en is soggens van sewe-uur af agter my rekenaar en werk gewoonlik tot drie-uur die middag. Soms doen ek in die aande navorsing vir ’n volgende boek. Ek het geen spesifieke rituele nie, behalwe dat ek my oggendkoerant (in papierformaat) móét lees voordat ek begin werk.” (LitNet, 30 Mei 2017) Word skryf vir hom makliker? “Die skryfproses word beslis makliker. Dit help natuurlik ook dat ek ’n joernalistieke agtergrond het. Die basiese skryfboustene is in daardie omgewing gelê. En ek weet darem teen die tyd hoe om die slaggate te vermy waarin ek as debuutskrywer getrap het. Terselfdertyd moet ek ook erkenning gee aan my vaardige redigeerder, Suzette Kotzé-Myburgh, vir haar bydrae.” (LitNet, 14 Februarie 2019) “Vyf dinge wat Rudie verstom: • Dat sekere mense steeds die klimaatkrisis ontken. • Dat Eskom se kragstasies nooit op ’n gegewe tyd almal herstel is nie. • Dat die Cheetahs-rugbyspan soveel afjakke van die Suid-Afrikaanse rugbybase moet verduur. • Dat Nommer Een steeds op vrye voet is. • Dat yskasvervaardigers steeds liggies in hul produkte inbou, wel wetend dat ’n nagetery ongesond is.” (Huisgenoot, 14 Mei 2021) Oor sy navorsing: “Ek geniet dit om navorsing te doen oor ’n onderwerp waarvan ek aanvanklik nie veel weet nie. Ek raadpleeg gewoonlik verskeie bronne in koerante, tydskrifte en op die internet. In sommige gevalle sal ek ook by kenners kers opsteek. My grootste vrees is gewoonlik dat ek feitefoute kan begaan, want daar sal altyd lesers wees wat meer van iets weet as ek. Een les wat ek geleer het, is dat jy nooit jou lesers mag onderskat nie. Daarom probeer ek my navorsing so deeglik moontlik doen.” (LitNet, 19 Desember 2022) Oor humor en oudword in Hans steek die Rubicon oor: “Ek dink nie humor het ’n ouderdomsperk nie. Die eiesoortige en soms ouwêreldse woordeskat van die bejaardes het as die basis vir die humor in die boek gedien. En teen die agtergrond van hulle ouderdomsbeperkings en soms -gebreke is hulle manewales juis snaakser as wat dit met ’n jonger geslag karakters die geval sou wees.” (LitNet, 3 Januarie 2018) |
Gebore en getoë
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein in die Vrystaat gebore. Hy is die oudste van twee seuns – sy broer Carl is deesdae ’n prokureur in Bloemfontein. Sy pa, MC (Basie), en sy ma, Christa, is albei in die Vrystaatse platteland gebore. Sy pa, wat oorlede is toe Rudie 19 jaar oud was, was van beroep in die politiek en was vanaf 33-jarige ouderdom ’n Volksraadslid. Hy het later minister van pos- en telegraafwese geword en was 50 toe hy oorlede is. Sy ma het kinders grootgemaak en was huisvrou. Sy is ten tye van die skryf van hierdie stuk 92 jaar oud.
Rudie was maar twee jaar oud toe sy pa tot die Volksraad verkies is en hy het, totdat hy in standerd 5 (graad 7) op skool was, ses maande in Kaapstad en ses maande in Bloemfontein skoolgegaan. In Kaapstad was hy in die laerskole Akasiapark en Jan van Riebeeck en in Bloemfontein in Willem Postma-laerskool. Hy het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer.
Rudie het in ’n huis met boeke grootgeword en het sy liefde vir boeke en lees by albei sy ouers gekry. Sy pa het ’n baie groot boekversameling gehad, vertel Rudie aan LitNet: “Ek het gereeld as seun saam met hom in veral die destydse string ou boekwinkeltjies in Langstraat, Kaapstad rondgesnuffel. ’n Groot deel van sy boekversameling is aan die destydse Instituut vir Eietydse Geskiedenis van die Vrystaatse Universiteit geskenk.
“My ma was haar lewe lank ’n ywerige leser, wat vandag nog haar oggendkoerant van hoek tot kant deurlees en ‘nie sonder ’n boek bed toe kan gaan nie’. Ek het dus van kleintyd af tussen boeke en lesers grootgeword. My pa het gereeld uit Langenhoven se werke vir my voorgelees, met Brolloks en Bittergal my gunsteling-karakters.
“Soos enige ywerige leser van my tyd het ek my leestande geslyp op Trompie, Jasper, die Uile en Fritz Deelman. Op hoërskool het ek Ian Fleming se Bond-boeke verslind.
“Later op universiteit het ek alles gelees waarop ek my hande kon lê - van Etienne Leroux tot Alistair Maclean. Leroux is steeds my gunsteling-skrywer van alle tye en ek lees minstens elke dekade al sy boeke deur.”
Verdere studie en werk
Ná skool is Rudie na die (destydse) Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal sy BA (HOD) met die vaste voorneme om ’n onderwyser te word. Maar dit was ongeveer die tyd van die Watergate-skandaal in Amerika en nadat hy die rolprent All the president’s men (wat gebaseer was op die skandaal en die joernaliste van die Washington Post wat die skandaal ondersoek het) gesien het, het hy besluit om van loopbaankeuse te verander. Hy het dus, ná hy sy onderwysdiploma behaal het, ’n joernalis by Volksblad geword. Hy het ook sy BA-graad in kommunikasiekunde deeltyds aan die UV behaal en het later sy honneursgraad in dieselfde rigting aan Unisa verwerf. “So, ’n fliek was letterlik die enigste rede waarom ek ’n joernalis geword het – iets waarvoor ek die vervaardigers van All the president’s men ewig dankbaar voor is,” vertel Rudie aan LitNet.
In 1982 is Rudie een van die stigters, asook uitgewer, van die eerste gratis weeklikse koerant in die Vrystaat, Bloemnuus, en later is hy ook redakteur van Die Ekonoom, ’n landwye saketydskrif.
Ná tien jaar in die koerantwese as joernalis verlaat hy die beroep om by die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo te gaan werk. Oor sy tyd in die joernalistiek skryf Rudie aan LitNet: “My tien jaar in die joernalistiek was seker die vervullendste jare van my lewe. Die Volksblad (waar ek amper ses jaar gewerk het) het my skryfliefde laat posvat en my ook ’n sterk skryfdissipline gegee. Destyds was dit ’n middagkoerant – jy het seweuur begin en was teen tweeuur/drieuur klaar met jou dagtaak op kantoor. Vandag is dit as voltydse skrywer steeds my ‘kantoorure’.
“Die band wat ek met my kollegas daar gesluit het, was vir my baie kosbaar. Ons is tans ’n dosynstuks oudjoernaliste van Die Volksblad wat in die Kaap woon en kom minstens kwartaalliks bymekaar om te kuier. My koerantkollegas was nie net skeppende mense nie (onder andere later gepubliseerde skrywers soos Chris Karsten, Deon Meyer, Chris Moolman, Johan van Wyk en Hennie van Deventer), maar ook nuusmanne van formaat (soos onder andere Tom Ferreira, Mike van Rooyen en ’n string ander). Almal het in ’n mindere of meerdere mate ’n invloed op my joernalistieke loopbaan gehad, wat later ook neerslag in my skrywersloopbaan gevind het. Vir die grootste deel van my tyd was ek in die sportredaksie. Sport was maar altyd een van my groot belangstellingsvelde.”
Rudie het aan Marana Brand van Hulsteyn (Die Burger, 21 Augustus 2013) vertel dat hy ’n joernalis sou gebly het as hy sy lewe kon oorhê, “as dit ’n beter betalende beroep was. Geen ander werk kom daarby nie, maar die voordele van die korporatiewe omgewing was net te aanloklik vir my. Iets wat ek nie sou gedoen het as ek my lewe oor kon kry nie. Sou maar as koerantman afgetree het.”
Rudie is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke. Toe hy sy vrou in Bloemfontein ontmoet het, het sy by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum gewerk. Ná hulle troue het sy die rol van ma en huisvrou vervul en het later by ’n speelskool in Welgemoed gaan werk.
In 1987 verhuis Rudie en sy gesin na Kaapstad, waar hy by Sanlam begin werk. In die 20 jaar wat hy daar werk, is hy onder andere senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.
Rudie vertel dat sy tyd by Sanlam, veral by die reklameafdeling, “weer ’n andersoortige skeppende grondslag gelê het waaruit ek later jare ook as skrywer kon put. In my tyd in die finansiëledienstebedryf het ek gereeld onder skuilname rubrieke vir verskeie plaaslike koerante en interne maatskappypublikasies geskryf, wat my darem nog soos ’n ‘semi-joernalis’ laat voel het.”
In 2007 het Rudie ’n reuseskildery wat misdaad in Suid-Afrika uitbeeld, geskilder en het hy beplan om dit aan die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, te skenk. Rudie het aan Marita Meyer (Die Burger, 7 Maart 2007) meer oor die doel van hierdie skildery vertel: “In die apartheidsjare het versetkuns ’n belangrike rol gespeel om die onregte teen die mensdom in die kollig te plaas. Die tyd is nou ryp dat visuele kunstenaars saamstaan en hulle weer verset – dié keer teen misdaad. Hierdie skildery is my beskeie bydrae tot die kreet teen veral geweldsmisdaad.
“Ek wil hê die skildery moet Nqakula gereeld daaraan herinner dat Suid-Afrika onder ’n vlaag van misdaad en geweld deurloop. Dit sal moeilik vir Nqakula wees om die skildery, getiteld Cry of the Rainbow Nation te ignoreer – dit is ’n allemintige 1,7 meter hoog en 3,3 meter wyd. Ondanks die onlangse teenmisdaadplanne wat die regering aangekondig het, is dit duidelik dat die dringendheid nog ontbreek om die vlaag van misdaad hok te slaan. Die onaanvaarbare vlak van geweldsmisdaad in die land regverdig onmiddellike en drastiese optrede van die regering. Dit is onaanvaarbaar om in vrees en bewing in jou eie land te leef.”
Die misdaadskildery is ’n ruk lank by die Bellville-biblioteek se galery uitgestal, maar die Minister se kantoor het toe vir Rudie laat weet dat hy nie die skildery in ontvangs wil neem nie, maar dat hy kennis neem van sy bekommernis oor misdaad.
Rudie tree in 2009 uit die “formele werksomgewing” en het hom aanvanklik voltyds op sy skilderwerk toegespits. Hy skilder al vir byna 30 jaar en het aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika deel gehad. Sy werke is opgeneem in versamelings, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.
Oor sy skilderwerk het Rudie aan Marita Meyer van die Kaapse streekkoerant TygerBurger (7 Julie 2010) vertel dat hy self sy kuns sou beskryf as “’n mengsel van fantasie, pret en eenvoud. Ek druk my uit deur die distorsie van lyn en kleur in my werk. Ek is beslis nie ’n realistiese kunstenaar nie en raak soms aan die kubisme en ekspressionisme. Ek skilder nie van prente of natuurtonele af nie, maar gee die beelde in my kop weer.
“Ek eksperimenteer ook graag met verskillende style, tegnieke en teksture. Kuns is vir my baie meer as die blote duplisering van die werklikheid. Daarvoor kan jy net sowel ’n kamera inspan. Dit moet iets van jou innerlike weergee. Die doel van my kuns is om ’n bepaalde vorm te bereik wat nie noodwendig elegant is nie, maar ’n innerlike impuls bevredig. Mense moet my kuns interessant vind, ook prettig of selfs vreemd, maar net nie alledaags nie.”
Toe begin hy skryf aan sy eerste manuskrip, wat later Slagyster sou word, en vandat die manuskrip aanvaar is, kry hy amper nie meer tyd om te skilder nie.
Hy is ook die afgelope ses jaar Maandae en Dinsdae as Afrikaanse taalversorger by die TygerBurger werksaam.
Rudie se eerste tree op die skrywerspad is in 2008 gegee toe hy ’n toneelstuk, Die begrafnis, onder die skuilnaam Phil Janse geskryf het. Hierdie stuk was redelik suksesvol en is by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse teater met Rudie as die beste dramaturg en die stuk as die beste drama. Dit is in boekvorm by Genugtig! Uitgewers gepubliseer.
Oor hoekom hy nog net die een drama geskryf het, verduidelik Rudie aan LitNet: “Ek beskou myself nie as hierdie wonderlike dramaturg nie – kan nou nog eintlik nie die sukses van Die begrafnis glo nie. Ek het dit so vinnig afgerammel en het geen hoop gehad dat dit ooit op die planke sal kom nie. Dit was sommer ’n op-die-ingewing-van-die-oomblik-ding. Het gewonder hoe ’n mens die lyk van ’n baie gesette ou uit die huis gaan kry as die deure en vensters te klein is, en toe het die toneelstuk spontaan ‘gebeur’ - het presies een naweek daaraan geskryf. Dalk sal ek in die toekoms weer so ’n bevlieging kry.”
Sy tweede tree op die skrywerspad was ’n kinderboek onder die titel Die Doempies van Tafelberg, wat hy self uitgegee het. Hy het vir sy kinders, en ook wanneer daar maatjies kom oorslaap het, slaaptydstories vertel oor die Doempies, klein mensies wat op Tafelberg woon. Dit was sy vrou se voorstel dat hy dit in ’n boekie moet laat verskyn. Hy het toe self die boekie geïllustreer en uitgegee. Dit is onder speel-, kleuter- en laerskole in die Wes-Kaap verkoop, “maar ek voorsien nie dat ek weer my hand aan kinderboeke sal waag nie. My verhaalfonteintjie het opgedroog by die Doempies.”
Rudie vertel aan Jonathan Amid op LitNet dat hy maar eintlik nog altyd ’n “closet-skrywer” was. En selfs toe hy die bydraes vir ander publikasies geskryf het, het hy geweet dat hy nog eendag ’n boek gaan skryf. Omdat hy self baie daarvan hou om misdaadfiksie te lees, was dit amper half logies dat hy sy hand aan daardie genre sou waag.
Hy verduidelik verder aan Amid: “Ek ken ook my beperkings en sou beslis nie probeer het om ’n hoge letterkundige werk te pleeg nie, ondanks die feit dat ek ook nie genoeg kan kry van Etienne Leroux, Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk se boeke nie. Ek bewonder hulle, maar sal hulle beslis nie probeer nadoen nie.”
Rudie het reeds as student in die 1970’s begin om misdaadfiksie te lees. Alistair Maclean was een van die skrywers wie se boeke hy verslind het. Daarna was Frederick Forsyth, Ed McBain, David Morrell, Dick Francis en later Wilbur Smith logiese leeskeuses, maar, sê hy aan Amid, hy dink nie dat enigeen van hierdie skrywers werklik ’n invloed op sy latere skryfwerk gehad het nie: “Die genre as sodanig was my dryfveer.”
En toe tref Slagyster die Afrikaanse misdaadfiksietoneel met Kassie Kasselman as die inspekteur. Die ontvangs van hierdie nuwe skrywer se debuut was baie positief, wat vir Rudie ’n riem onder die hart was. Hy verduidelik aan Amid: “As jy die soveelste keer jou eie skryfsels tydens die manuskripfase lees, begin jy naderhand erg twyfel of die ding goed genoeg is. En as jy die finale proewe afteken, is jy doodseker dit gaan die flop van die jaar wees! Die positiewe terugvoer was dus vir my wonderlik. Ek dink nie lesers besef hoeveel dit vir ’n skrywer beteken om te hoor hulle het sy boek geniet nie. Dit helder jou dag absoluut op. Ek waardeer werklik elke kompliment van elke mens. Al die komplimente was beslis ewe lekker.”
Oor sy skepping Kassie Kasselman wat die hoofkarakter is, vertel Rudie aan Amid dat hy nie, soos in so baie ander speurverhale, ’n machoheld as speurder wou hê nie: “Dit is maar hoe die nerd-agtige Kassie Kasselman gebore is. Ek het groot pret gehad om lyf aan sy karakter te gee. En hy is ’n tipe antiheld wat onderskat word. Juis daarom bied hy vir my ander moontlikhede as wat ’n skrywer met ’n konvensionele held sou hê.”
Vir Slagyster moes Rudie intensiewe navorsing doen, aangesien die verhaal in Afrika (en nie net in Suid-Afrika nie) afspeel. Rudie vertel aan Elmari Rautenbach in Die Burger van 21 Maart 2014 dat hy nooit self die olievelde in Nigerië, waar geweld hoogty vier, besoek het nie, dus moes hy baie navorsing doen. Uiteindelik het net ongeveer 5% van die navorsing in die boek neerslag gevind, “maar die breër agtergrond het my gehelp om geloofwaardig oor die omstandighede te skryf. In die gyselaarsdrama het ek myself net in die skoene van die gyselaar geplaas en hom laat reageer soos ek sou gedoen het. Navorsing help my om ander moontlikhede raak te sien en verskaf soms onverwags ’n saadjie vir ’n nuwe wending in my verhaal.”
Riette Rust skryf in haar resensie (Beeld, 2 September 2013) dat Kassie, die speurder met die rooi windjekker, klere wat ongestryk lyk en hare wat met Brylcreem gekam is, in Slagyster agter die kap van die byl van drie gebeure moet kom: Ryan Deetlefs, ’n ingenieur vir ’n oliemaatskappy, word in die Nigerdelta gevange gehou; Carl Bester, ’n polisiemol, moet van Afrika se mees gewetenlose skurke gaan aandurf as hy sy werk wil behou; en die vennote van die vervoermaatskappy Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Kaapstad, wat reeds skatryk is, verryk hulle verder deur wapentransaksies, waarby hoë amptenare van die SAPD en die Nigeriese sluikhandel betrokke is.
Rust sluit haar bespreking as volg af: “Die roman lewer sosiale kommentaar op die soeke na welvaart en die effek daarvan op verhoudings. Die einde verras, maar is ’n naskrif oor wat van die karakters word, nodig? ’n Opvolgroman sou dié antwoorde kon gee. Van inspekteur Kassie Kasselman wil ek beslis weer hoor!”
Op LitNet skryf Deborah Steinmair dat die “misdaadriller” teen ’n “stywe pas galop”. Tonele wissel mekaar gereeld af, die karakters se persoonlikhede is uiteenlopend, daar is oorgenoeg passie en baie binnegoed en bloed wat spat. “In pas met die eise van die genre spring die taalgebruik nie na vore nie: dis dienlik, oortuigend, onopvallend soos ’n voetganger sonder reflektors. Na my smaak is daar soms net ’n bietjie te veel verduideliking (...). Maar die spanning verkry dodelike momentum en die dikkerige boek word min of meer in een sessie verslind. Hierdie wiewassit word hoog aanbeveel vir onversadigbare misdaadvrate. En hopelik steek die vasbyter-filatelis Kassie Kasselman in nog heelparty opvolgboeke kop uit.”
Slagyster was op die kortlys van drie vir 2013/2014 se Jan Rabie-Rapport-prys vir fiksie, asook een van die drie finaliste vir die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur.
In 2014 verskyn Rudie se volgende misdaadriller, Kopskoot, en verdryf hy die “tweede-boek-spook” totaal, want weer eens is dit ’n “fassinerende, naatlose riller wat geruisloos verskeie stemme, karakters en wêrelde bymekaarbring”, soos Jonathan Amid in ’n onderhoud met Rudie op LitNet dit noem.
Vir Rudie was een van die dinge wat hom met die skryf van Kopskoot groot genot verskaf het, om Kassie weer as sy hoofkarakter te hê. Kassie se base in die SAPD onderskat hierdie keer sy speurvermoëns. Rudie verduidelik aan Amid dat dit vir hom soms voel of “Kassie homself skryf” en dat ook hy dalk vir Kassie onderskat.
Van die verskille by die skryf van Kopskoot teenoor Slagyster was dat dit nie vir hom nodig was om soveel navorsing te doen vir die tweede boek nie, omdat hy die wêrelde waaroor hy in Kopskoot skryf, baie goed ken. “Ek het persoonlike ervaring as vertrekpunt geneem om oor die kunste, die maatskappy-omgewing, joernalistiek en die grens te skryf. Ek het ook navorsing gebruik wat ek deur die jare oor verskeie onderwerpe versamel het vir artikels in publikasies. Ek het besluit om hierdie bekende omgewings en gegewens in ’n sinvolle verhaal te vervleg. My inligting oor onder meer reeksmoordenaars het ek by ’n gewese polisieman gekry wat destyds by die Moord en Roof-eenheid in Johannesburg gewerk het. Die skryfproses was, wat dit betref, dus makliker, hoewel die storielyne net soveel dinkwerk as Slagyster geverg het.”
In Kopskoot is Kassie ook nie so apologeties soos in Slagyster nie. Volgens Rudie het hy vir seker ’n sterker wil van sy eie. “In Kopskoot bevraagteken hy soms ook sy eiesoortige, intuïtiewe benadering tot speurwerk en sy eie oordeel. Hy is ook nie daaraan gewoond dat sy saak oorgegee word aan iemand anders nie – veral omdat hy nie daarmee kan vorder nie. Boonop is sy gesondheidskwellinge ’n groot struikelblok in dié stresvolle tye. Om die Kassie-karakter interessant te hou, sal hy vorentoe met nog vreemde situasies gekonfronteer word, wat weer ander karaktertrekke sal openbaar.”
Kassie se ondersoeke in Kopskoot is heelwat anders as in Slagyster. Hierdie keer loop daar oënskynlik ’n reeksmoordenaar los in Kaapstad wat middeljarige mans voor die voet vermoor en sy “werkswyse” is met elke moord dieselfde. Maar Kassie is nie oortuig dat dit wel die werk van ’n reeksmoordenaar is nie. Dan is daar ook nog ’n vervalsing van ’n skildery, ’n sakeman wat ’n voorliefde het vir prostitute en ’n afpersery.
Toe Kassie se aanvanklike ondersoek nie veel oplewer nie, word majoor Wim Jonker uit Johannesburg “ingevoer” om die sake op te los. Dit geval Kassie glad nie en hy en Jonker se ondersoekmetodes is ook totaal verskillend. Dit alles, tesame met sy nuwe gesondheidsdieet, lei tot konflik tussen die twee speurders.
In Rapport van 11 Mei 2014 skryf Deborah Steinmair: “Daar is heelwat bloed en sweterige seks. Daar is ook ’n ander, veel ouer verhaal wat tussen die bladsye ontvou: Die voorval in die verlede waaroor ’n groepie mans ’n bloedeed van swye gesweer het. (...) ’n Fassinerende newetema is dié van kunsvervalsing. (...)
“Die skrywer vervleg met gemak perspektiewe. Die leser bevind haar soms in die kop van die moordenaar en sien deur sy kil oë hoe die loodpunt die vel tussen die slagoffer se wenkbroue breek en die skedelbeen met ’n dowwe kraakgeluid deurklief, hoe die bloedsproei ’n rooi spikkelpatroon teen die wit muur maak. (...)
“Dit is asof hierdie naelbyt-misdaadriller homself lees, sommer in die loop van ’n enkele nag. Die taalgebruik is soepel en ekonomies, sonder ’n sweem van mooiskrywery, en die pas is flink. Die dialoog oortuig klinkklaar. Van Rensburg het ’n gemaklike greep op humor en ironie. Die leser vlieg veilig, in bekwame hande. (...)
“Netjies, naatloos en onvermydelik ontmoet die storielyne uiteindelik. Daar is ’n verlossende skeppie metafisika: Intuïsie en toeval speel ’n beduidende rol, soos in die regte lewe. Oor die beste ontdekkings struikel ’n mens terloops. Kopskoot is ’n koningsmaal vir misdaadvrate.”
Naomi Meyer van LitNet het met Rudie gesels oor sy derde Kassie Kasselman-boek, Judaskus. Hy vertel aan haar dat hy gewoonlik sy inspirasie kry deur redelik wyd te lees oor ’n verskeidenheid onderwerpe en omgewings. Een van sy gewoontes is om sy daaglikse koerant deur te lees en dan die interessantste berigte en artikels uit te knip en te liasseer. Wat eintlik die impetus agter die skryf van Judaskus was, was die groot groei in georganiseerde misdaad in Suid-Afrika, en wat hom veral opgeval het, is die aktiwiteite van die groot sindikate.
Kassie slaan in Judaskus ’n heel ander pad in as in die eerste twee verhale – hierdie keer raak Kassie, wat glad nie gesien kan word as die tradisionele romantiese held nie, smoorverlief op sy aantreklike nuwe buurvrou. “Dit was ’n splinternuwe kinkel wat ek nie voorsien het toe ek aan die manuskrip begin skryf het nie!” vertel Rudie aan Meyer. “Maar stories het soms mos die gewoonte om soos ’n wilde perd hul eie rigting in te slaan. En dan moet die skrywer maar vasklou en saamgalop.”
In Judaskus probeer Kassie agter ’n reeks moorde kom wat daarop dui dat die Orde, wat ’n tipe Boeremafia is, al vir langer as vyftig jaar oor die hele land heen ’n hand het aan etlike baie goedbeplande misdade, asook aan dwelmsmokkelary.
Daar is ook die baas en intellektuele leier van hierdie Orde wat as Iskariot bekend staan. In sy instruksies aan sy onderdane haal hierdie leier aan uit die werke van intellektuele en denkers soos Adam Small, Langenhoven en François-René de Chateaubriand, asook uit Ruy Lopéz de Segura, ’n Spanjaard wat ’n skaakmeester is: “God duld selfs die swakste speler. Maar nie vir lank nie.”
Die leser is al van redelik vroeg in die boek bewus van die identiteit van hierdie aartsskelm, skryf Schalk Schoombee (Die Burger, 30 Mei 2015), maar “’n groot deel van die leesplesier (behels) juis om die gewetenlose superskurk se strategie te ontrafel.
“Uit die staanspoor word die spanningslyne styf getrek; in elke hoofstuk word verskeie verhaallyne geweef en karakterperspektiewe van die misdadigers (TJ en die hakkelende Snake) en die speurders in snelle sarsies afgewissel. Die roman wil nie ’n whodunit wees nie – daarvoor word die motiewe van die meesterbrein te gou blootgelê. Die tergende vraag vir die leser is eerder: Hoe gaan al die booswigte vasgetrek word? Wie gaan wie uitoorlê? (...)
“Die soen van verraad duik oral op – in Iskariot se giftige afskeidsgroet aan medewerkers en vyande, in Anna se sagte soene wat mans laat smelt, in diepgewortelde haat vir volksverraaiers wat oor generasies strek.
“Die taal is manlik: hardebaard, gestroop, sonder nonsens. In die sappige spreekwyse van sy karakters, van bergies wat deur rommel grawe tot allerlei randfigure, het Van Rensburg ’n vaartbelynde draaiboek geskryf wat smeek om verfilm te word.”
In Rapport (31 Mei 2015) beskryf Deborah Steinmair Judaskus as “grinterig, gelaai en snaarstyf gespan – ’n meesterlik geweefde leeservaring”, terwyl Jaco Fouché (LitNet) praat van Judaskus as ’n boek wat “rondloop”, met die leser wat “herwaarts en derwaarts vervoer” word.
“Nie net tussen plekke soos Bloemfontein, diverse buurte in die Kaapse Skiereiland, Sasolburg en Hermanus nie, maar ook tussen die hedendaagse tydgreep en verskeie invloede uit die verlede wat opklink. Ou moorde kom weer ter sprake, en veel ouer ideologieë wanneer die Ossewa-Brandwag bygehaal word. Voeg daarby ’n verskeidenheid karakters van wie ’n hele paar skurke is wat skurk genoeg is om ’n mens onrustig oor jou medemens te maak, en dis ’n boek wat genot aan liefhebbers van die genre sal verskaf.”
Oor die redelik baie karakters in veral Judaskus verduidelik Rudie aan Naomi Meyer op LitNet dat sy werk in daardie opsig anders as tradisionele speurromans is. Daar is die hoofspeurder gewoonlik dwarsdeur die storie die sentrale karakter, terwyl hy wat Rudie is, van baie karakters in sy romans hou. “Dis vir my byvoorbeeld belangrik om ook in die koppe van die misdadigers te kom en hulle stories te vertel. Dit pla my nie om in (digbevolkte) boeke wat ek lees, terug te blaai om myself weer te vergewis van wie ’n spesifieke karakter nou eintlik is nie. Nie alle lesers voel egter dieselfde daaroor nie. Om ’n goeie balans te handhaaf het ek uiteindelik ’n hele paar randkarakters in die oorspronklike manuskrip (van Judaskus) gesny, wat toe nogal dinkwerk vereis het om die verhaalvloei nie te versteur nie.”
Rudie se roman Pirana is pas (Mei 2016) bekendgestel en weer moet Kassie bontstaan om ’n saak op te los. Die uitgewers skryf as volg oor Pirana: “Wanneer Kassie Kasselman die saak van ’n vermiste oudkollega begin ondersoek, is dit duidelik hier skuil meer as net ’n dwelmverwante verdwyning. Hoe lyk dit dan vir Kassie of dit verband hou met die twee ander sake – ’n ontvoering en ’n moord – op sy lessenaar? Van die Kaapse ganglands tot die Krugerwildtuin met sy renosterstropers; tussen ’n verslonsde Bolandse hoewe met ’n grieselrige visdam en die glans-en-skanswêreld van die diplomasie moet Kassie sy pad voel-voel vind – of Rooi Els se vrou is visvoer.”
Almal stem saam dat Rudie se boeke lekker lees. Op ’n vraag van Naomi Meyer sê hy dat hy nog nooit bedoel het om letterkundige werk te lewer nie, maar net om gewone stories te skryf. “En ek skryf bloot soos ek in my vroeë loopbaan as joernalis leer skryf het, waar die leser darem nie woordeboeke nodig het om te ontsyfer wat ek neerpen nie. Sedert my koerantdae in die laat sewentigs en vroeë tagtigs het ek eintlik nooit ophou skryf nie.”
Jonathan Amid wou van Rudie weet hoe hy op sy “pakkende eenwoord-titels” besluit. Vir Rudie was Slagyster ’n maklike titel om te kies. Kopskoot as titel was ietwat moeiliker. “Die verhaal het eers twee ander titels gehad, maar dit was te na aan titels van bestaande boeke uit die verlede. Ek het letterlik deur ’n Woordelys en spelreëls geworstel om Kopskoot raak te skiet. En met Judaskus was die titel ook al klaar daar voordat die boek heeltemal persklaar was.”
Kamikaze, Rudie se volgende roman, is in 2017 uitgegee. Rudie vertel aan Naomi Meyer op LitNet waaroor dit gaan: “Soos in my ander boeke is daar ook in Kamikaze verskeie verhaallyne wat aanvanklik onafhanklik staan, maar waarvan die grense algaande vervaag en teen die einde by mekaar uitkom. Die boek handel oor spioenasie en wapenhandelkorrupsie, vervalste medikasie en ’n moordenaar met ’n moordloopbaan wat na die apartheidsera terugstrek en Kassie se speurvermoëns tot die uiterste beproef en hom dwing om onkonvensioneel op te tree.”
Die sneller wat aanleiding tot die skryf van Kamikaze gegee het, was tweeledig, verduidelik Rudie aan Meyer: “Die verhaal het veral twee snellers gehad. Eerstens glo ek dat misdaadfiksie betrokke literatuur is wat die werklikheid moet weerspieël van wat in ’n land aangaan. In te veel Suid-Afrikaanse speurromans word die polisie voorgehou as ’n goedgeoliede organisasie, wat allermins die geval is – net die feit dat gemiddeld 50 mense per dag in ons land vermoor word, dui op die SAPD se onvermoë om hul burgers na behore te beskerm. Daarom het ek die kernvraagstukke in die polisiediens bevraagteken deur die oë van Kassie, wat ’n ernstige loopbaankrisis beleef. Die tweede sneller vir een van die verhaallyne was ’n groot toevalligheid. Ek het in ’n boekwinkel se niefiksie-afdeling Roger Bate se Phake – The deadly world of falsified and substandard medicines opgemerk. Terwyl ek deur die lywige boek geblaai het, het my oog ’n paragrafie gevang waarin Bate sy verbasing uitspreek dat geen misdaadfiksieskrywer nog die wêreld van vervalste medisyne as ’n tema vir ’n boek gebruik het nie. Ek het die boek dadelik aangeskaf.”
Maryke Roberts vertel meer oor Kamikaze op LitNet: “Die speurder, kaptein Kassie Kasselman, en sy kollega, Rooi, is weer terug met nog ’n gruwelike moordenaar om te vang. Maar in hierdie boek is Kassie nie sy toegeeflike, gelukkige werknemer-self nie; hy is kriewelrig. Hy is al sy hele lewe lank ’n polisieman, wat ontmoedig voel met alles wat hy in die media oor sy geliefde SAPD lees, hoor en met sy eie oë sien en ervaar in kolonel Daniels se kantoor by die Nuweland-stasie.
“Hy is in die middel van ’n loopbaankrisis toe die oproep met ’n werksaanbod kom, en terwyl hy met al hierdie innerlike woelinge worstel, kom hy teen die grieseligste moordenaar nóg te staan. Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medikasie, wat ook Kassie se aandag verg. Voeg hierby spioenasie, huurmoord, parlementêre wapenhandelkorrupsie, die skemerwêreld van die ontkleeklub en ’n koue, berekenende reeksmoordenaar en jy gaan beslis wil lees tot die skuldiges aan die pen ry. (…)
“Dis duidelik dat die skrywer gemaklik in sy genre is. Hy ken die fyner nuanses van spanning en sy bekwaamheid as boeiende storieverteller, en vermoë om net genoeg te verklap om jou aandag gevange te hou, maak van hom ’n lekkerlees-outeur. Hy is ook geen vreemdeling vir behendige taalvaardigheid nie: met ’n joernalistieke loopbaan, skakelwese en ’n bekroonde toneelstuk op sy kerfstok is dit geen wonder nie. (…)
“Ek het geweldige waardering vir goeie taalgebruik, vir ’n selfvertroue oor goeie sinskonstruksie en woordkeuses, en beslis vir navorsing en feitelik korrekte inligting, selfs in fiksie. Daar skuil geweldig baie navorsing agter hierdie boek, maar baie lesers sal dit nie noodwendig opmerk nie. Die boek se pas is vinnig en opwindend en elke hoofstuk bied meer insigte in die karakters en hoekom hulle op sekere maniere optree en sekere besluite neem. (…)
“Die ontvouing van die huurmoordenaar se tragiese lewensverhaal wil jou amper simpatie met hom laat kry – maar net tot hy sy volgende onskuldige slagoffer vermoor. Van Rensburg het ’n vermoë om die karakters voor jou oë lewe te gee. Jy is jammer as een van hulle uit die storie geskryf word.
“Ek hoop daar is nog ’n lang loopbaan voor vir kaptein Kassie Kasselman. Maar sluit maar jou voordeur en sit die alarm aan voor jy die boek begin lees. Daar is ’n paar oomblikke waar jy al die vensters se knippe wil nagaan en jou hart wild in jou borskas bons.”
Jonathan Amid sluit sy bespreking van Kamikaze (Netwerk24, 5 Junie 2017) só af: “Kamikaze se slotwending beloof om lesers aan die gons te hê. Meer durf ek nie verklap nie. (…)
“Kamikaze is by tye skreeusnaaks, vanweë Van Rensburg se vernuftige omgang met taal en sy karakters se onbeholpenheid. Tog is Van Rensburg g’n roekelose kamikaze nie; sy verhaallyne ontwikkel sorgvuldig en organies. Die oog vir detail en historiese inkleding het my aan Jo Nesbø herinner. Elke deeltjie van die legkaart word in die verhaal ingebed, met die momentum eenvoudig onstuitbaar. My enigste kritiek is dat daar nie genoeg vroulike karakters is wat met veel eer uit die stryd tree nie.
“Wat egter lank ná hierdie roman – ’n fiktiewe skaakspel met die leser se emosies en intellek – sal bybly, is die bereidwilligheid om te vernuwe aan sy resep, om grootskaalse ontnugtering te boekstaaf. Om morele verval op te teken. Om die temperatuur te neem van ’n samelewing waar die spreekwoordelike paddas lankal in die pot oorgekook het.
“Kamikaze, op sy beste, is ’n klinkklaar aanklag teen enigeen wat durf waag opper dat fiksie tweede viool teenoor nuus of niefiksie moet speel.”
En die beoordelaars van die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur vir 2018 het saam met Amid gestem deur die prys aan Kamikaze toe te ken.
Soos Rudie se volgelinge al gewoond geraak het, verskyn sy volgende boek onder die titel Ys in 2018. En weer rol die positiewe kommentaar in op Kassie Kasselman en sy jagtog op die skurke.
Op LitNet is Elzette Steenkamp die resensent en sy skryf as volg oor Ys: “Kaptein Kassie Kasselman en sy kollega Rooi Els is terug in Ys, Van Rensburg se jongste spanningsverhaal. Hierdie keer bevind die paar hulle in die Spesiale Spookeenheid (SGU) – die SAPD se nuwe elite-speureenheid. Ondanks die fênsie naam en die belofte aan hoëprofielsake sonder administratiewe rompslomp, bied die SGU (nooit die SS nie, asseblief) nie veel opwinding vir Kassie en sy regterhandman nie. (…)
“Wanneer ’n vooraanstaande Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit die ideale geleentheid vir die tweemanskap om hulle speurvernuf te bewys. Op die oog af lyk dit soos ’n rooftog wat skeef geloop het, maar daar is dalk meer as een kinkel in hierdie kabel.
“So word Kassie in ’n ingewikkelde komplot gedompel. Hoe steek ’n moord in die Noordpool, ’n politiese gekonkel in Washington, en die geval van ’n voortvlugtige oud-Pollsmoor-gevangene inmekaar? En dan is daar ook nog die geheimsinnige man met Die Drang wat snags deur die Kaap se strate rondsluip. Die intriges loop diep, maar Kaptein Kassie Kasselman laat hom mos nie so maklik afskrik nie.
“Ys bevat al die kenmerke van ’n goeie spanningsverhaal. Soos dit die genre betaam, is dit ’n boeiende, aksie-belaaide roman met genoeg onverwagte draaie in die knoop om die leser se aandag tot die einde te behou.
“Wat van Ys ’n uitstekende speurverhaal maak, is egter Van Rensburg se vermoë om fyn verwikkelde verhaallyne, komplekse karakters en vlymskerp sosiale kommentaar te verweef in ’n roman wat bloot net lekker is om te lees. Ys deins nie terug vir groot vraagstukke nie. Die roman ondersoek die interseksie tussen politiese en omgewingskwessies op ’n manier wat, veral in ’n nuwe, onsekere Trump-era, na genoeg aan die werklikheid voel om die leser onrustig te stem oor die lot van ons wêreld. So ook word die kwessie van huishoudelike geweld met sensitiwiteit en vernuf hanteer.
“Boonop wend Van Rensburg ’n prysenswaardige poging aan om in sy moorddadige antagoniste se psiges rond te delf en hulle motiverings en snellers op ’n geloofwaardige manier uit te beeld – iets wat bitter selde in blitsverkopers te vinde is en dui op diep insig in die kriminele gemoed (of dalk net goeie navorsing).
“Kassie Kasselman is een van die mees innemende hoofkarakters wat ek nog in ’n speurverhaal teëgekom het. Met sy onooglik rooi windjekker, hare wat lyk of dit elke oggend deur ’n koei natgelek word en ongesonde Creme Soda- en Lucky Strike- gewoonte, herinner hy aan Peter Falk se Columbo – oënskynlik onbekwaamd en lomp, maar as’t ware ’n skerpsinnige bobaasspeurder.”
Op Woorde wat weeg sluit Joan Hambidge haar bespreking van Ys op ’n kort en kragtige manier af: “Van Rensburg skryf vlot en onderhoudend. Die roman is pakkend geskryf. Bliksis! Lucky Strike en Creme Soda. ’n Seëlversameling wat ’n kode is vir stiplees.
“En daardie referaat oor ‘Ys’? Rudie van Rensburg se roman klief sneeu oop soos ’n ysbreker. Met ’n wonderlike epiloog.”
Jaco Fouché is die resensent van Ys in Rapport van 22 April 2018: “Dié boek het een van die kortste en treffendste titels wat ek nog gesien het. Dit dui op die Noordpoolsirkel as moontlike bron van olie en aardgas vir ’n energiehonger wêreld. Verskeie internasionale rolspelers stel belang.
“Net op avontuurwaarde is die Noordpool ’n groot spil vir intrige. Dit hou ook ’n ekologiese tema in, aangesien dit volgens ’n karakter in die boek ‘die aarde se yskas’ is. Die verwarming wat daar plaasvind, beïnvloed die res van die planeet. Daar word byvoorbeeld bespiegel die Kaapstadse woonbuurte Tamboerskloof en Oranjezicht kan weens die verhoogde seevlak oor 80 jaar reg teen die kus lê.
“Die ysige titel verwys ook na die ongenaakbaarheid van heelparty van die karakters. Die boek is nie die soort omgewing waar jy kan verwag om vriende te maak nie. Pleks daarvan het jy genote, associates, die soort mense wat jy dalk sal raakdrink, as jy so ingestel is, wat jou dalk saaklik kan help om ’n misdaad op te los of jou kan dwing om daardie misdaad te help pleeg. (…)
“Soos in vele ander Suid-Afrikaanse boeke figureer Kaapstad weer hier. Die stad het die eienskap dat dit nooit soos ’n deurtrapte verhoog lyk nie en eerder soos ’n klankverhoog in ’n Hollywood-ateljee funksioneer. Afhangende van wat die storie verlang, kan dit opgebou, ingekleur en aangepas word om die agtergrond vir enige denkbare situasie te vorm. Dit bly egter ook lekker om die strate en bakens van die Moederstad te herken.
“Hier en daar het ek gewens ’n toneel was langer sodat ’n mens by ’n karakter kon vertoef eerder as om so gou weer die aflosstok te moet oorgee. Om te vergoed is daar ’n paar interessante persoonlike geskiedenisse wat die boek verryk en begrip vir motiewe verskaf. Dis asof jy die karakters se geite sal verduur, selfs wanneer dit gevaarlik blyk te wees, ter wille van die opwindende kennismaking.
“Dit is presies wat Ys vir nuwe Rudie van Rensburg-lesers sal wees: ’n opwindende kennismaking. Maar gesoute aanhangers sal eweneens in die wolke wees – nie net oor die toevoeging tot Van Rensburg se eie werk nie, maar ook vir ’n goeie bydrae tot ’n genre wat buite sy eie grense help bou aan die geloofwaardigheid en heil van Afrikaanse literatuur. Dis genoeg om die mees ambisieuse skurk te beïndruk.”
Ook Jonathan Amid is beïndruk met Rudie van Rensburg se skryfvernuf (Netwerk24, 25 April 2018): “Wat Van Rensburg dalk tans beter as enige ander populêre skrywer plaaslik regkry, is om vir sy lesers ver meer te gee as wat hulle verwag. Vermaaklikheid, intrige en keurige taalgebruik is daar. Maar om male sonder tal ’n magdom nuwe feite en interessanthede te leer sonder dat dit ooit soos leer voel, dít wil gedoen wees.
“Min sal stry dat hierdie skrywer homself met elke pas verskene roman oortref. Die spreekwoordelike see-uitsig word net mooier.”
In 2019 bederf Rudie sy lesers met twee titels wat in een jaar verskyn – Medusa aan die begin van die jaar en Vloek wat in September 2019 die lig gesien het.
Met Medusa beweeg Rudie na die gebied van kindermolestering en in ’n onderhoud met Naomi Meyer op LitNet vertel Rudie aan haar wat hom na hierdie onderwerp gelei het: “Verskeie koerantberigte oor kindermolestering het my op die verhaal laat besluit. Ek het egter nie toe besef waarvoor ek my inlaat nie. Toe ek navorsing oor pedofilie begin doen, het dit my onkant betrap en my omtrent uit my gemaksone geruk. Buiten vir die ontstellende navorsingsgegewens, was ek ook bang dat ek die grense van fatsoenlikheid met so ’n verhaal gaan oorskry. Ek het dit selfs in ’n stadium ernstig oorweeg om nie voort te gaan met hierdie onderwerp as tema nie.
“Maar persoonlike gesprekke met Stella Potgieter, een van die land se voorste kenners op die gebied van pedofilie, en Celeste de Vaal, wat ’n kenner van mensehandel en ‘rape homicides’ (kinderverkragting) is, het my finaal aangespoor om voort te gaan. Uit my gesprekke met hulle het ek ook tot die gevolgtrekking gekom dat die omvang van die misdryf in Suid-Afrika baie onderskat word. So ook die gevare waaraan kinders blootgestel word op die internet (onder meer op Facebook). Met letterlik miljoene mense wat onder vals Facebook-profiele opereer, is kinders sagte teikens vir pedofiele, allerlei soorte molesteerders en mensehandelaars. En ja, ’n groot deel van die storie is gegrond op ware gevallestudies wat ek onder meer in doktor Potgieter se doktorale proefskrif oor pedofilie raakgeloop het en toe gebruik het om ’n sekere karakter in die boek se gedrags- en denkpatrone geloofwaardig te beskryf.”
In Rapport (10 Maart 2019) lei Jonathan Amid sy bespreking as volg in: “Rudie van Rensburg benader sy ambag met ’n duidelike wedstrydplan waar aanskoulikheid nooit bo die basiese pligte gestel word nie. Die klem is allereers op deurdagte struktuur, karakters wat lewensgetrou dog kleurvol geskets word, en ’n behendige ontplooiing van leidrade, inligting en insigte, vernaam deur middel van vlymskerp dialoog en flinke vertelling.
“Verder het Van Rensburg duidelik geen erg aan gemaksones nie, en is hy altyd bereid om in die donkerste put van ellende rond te dolwe. Soos in verlede jaar se kragtoer Ys is Medusa se intrige geskoei op aktuele kwessies wat geeneen onaangeraak sal laat nie: kindermishandeling, pedofilie, mensehandel en aanlyn gevare.
“Ná ’n ysingwekkende proloog, wat uitloop op ’n toneel wat ’n mens laat smag na ’n koue stort, word deel een gewy aan die traumatiese kinderdae van die vrou wat die Medusa van die titel sal word. ’n Pretbederwer wil ek nie wees nie, maar in sowat 30 bladsye slaag die skrywer daarin om ’n antagonis se beweegredes en transformasie met oortuiging en deernis te vertolk.
“Die antagonis se boosheid word onbeskaamd gekarteer, maar die ietwat ongewone besluit om die leser eers bloot te stel aan die karakter se lyding en stelselmatige metamorfose (as’t ware die slang wat vervel om ’n meer gesaghebbende vorm aan te neem) anker die verhaal in ’n tragiese mineurtoon. (…)
“Lelike Lila Liebenberg se hand in die gruwels wat hier opgeteken word, is nooit te betwyfel nie, maar dit is dalk eerder een van haar voetsoldate, die walglike gespuis Festus, wat die grootste weersin by lesers wek. As brutale verkragter en sadis is hy goeie kompetisie vir Hasie Haasbroek, die wreedaardige orgaanslagter van die Tuine wat met menseharte gesmous het.
“Eweneens is dit belangrik om melding te maak van die roman se insluiting van ander, oënskynlik minder groteske deelnemers in hierdie orgie van uitbuiting. Van Rensburg lei ’n mens aan die hand eerder as aan die neus tot in die psigiese binnekamers van die ‘gewone’, welgestelde misdadiger.
“Lesers sal verskeie van die tonele uiters ontstellend vind, maar geen vinger kan na die skrywer gewys word wat betref onfatsoenlike impulse of die uitbuiting van slagoffers se pyn nie. Die vraagstukke van emosionele en fisieke geweld word uiters oordeelkundig benader. (…)
“Van Rensburg skep spanning deur voortdurend te speel met leserverwagtinge, met die vervaging van die skeidslyne tussen goed en kwaad en skyn en illusie, en met die belang van duidelik afgebakende lyne wat die teks as genrefiksie onderskei van letterkunde. Hy maak ’n bespotting van hierdie grense en daag lesers uit met ragfyn taalgebruik en strukturele vernuf. Hoewel die skrywer wegskram van sedelessies en preke in sy fiksie, is daar immer ’n goue draad van ‘verkenning’ wat die leser beter daaraan toe laat rakende ’n spesifieke vraagstuk. (…)
“Medusa lewer ook ’n pleidooi dat ons bewus moet wees van moderne vorms van slawerny oral om ons: die 30 miljoen mense wêreldwyd wat vasgevang is in die kettings van mensehandel, en ons eie, meer subtiele, selfopgelegde oorgawe aan die tirannie van die skerm. Eerder as om spreekwoordelik te versteen en in ons dop te kruip uit vrees, daag Medusa ons uit om meer ingeligte, opbouende omgang met ons eie skadukant en dié van ander te hê.
“Met stadige gif – en geen teken van ’n teenmiddel nie – is Medusa gerat om selfs die mees geharde krimislawe tot oorgawe te dwing.”
Org Potgieter skryf op LitNet dat Kassie en Rooi, sy assistent, harder as gewoonlik moet werk in Medusa: “Die ophopende onopgeloste misdade vreet soos ’n kanker aan hom en hy begin twyfel of hy nog in die regte beroep is. Daar heers ook spanning tussen die vertakkings van sy eenheid. Verskillende maniere van dink en doen en mense wat die wette gehoorsaam of oortree, dra tot sy probleme by.
“In ’n besonder sterk ontknoping met verrassende wendings wen die speurders die stryd teen misdaad en geweld met hul volharding wanneer hulle die deurslaggewende ontdekkings maak en die ontbrekende dele van die legkaart op ’n knap wyse aanmekaar sit.”
Met die publikasie van Vloek keer Rudie van Rensburg terug na ’n karakter wat in sy eerste misdaadroman sy verskyning gemaak het, naamlik Carl Bester. Jonathan Amid (Rapport, 8 September 2019) gaan kyk na Slagyster waar die paaie van Kassie met Carl Bester s’n gekruis het: “Maar Slagyster het in sy geheel die ondersoek van misdadigheid en korrupsie in die polisiediens op ambisieuse wyse met ’n transnasionale fokus versoen: die stryd in Nigerië en die Nigerdelta, gedryf teen die magstryd tussen ’n paar monopolieë om die olievelde te beheer. Hoewel die Nigeriese misdadige kabaal en Kassie Kasselman onderskeidelik die bose en goeie teenpole gevorm het, het die skrywer in Carl Bester ’n karakter geskep wat iewers tussen dié pole nes skop. ’n Gevalle speurder wat sy hand lekker diep in die cookie jar druk. Maar wag ’n bietjie: As daar beslag gelê is op etlike miljoene in ’n reuse-dwelmsaak, en jy het jou lewe op die spel geplaas om die saak op te los, is dit nie dalk meer reg as verkeerd dat jy ook in die vreugdes van die vangs deel nie? Is korrupsie ooit meer geregverdig, ietwat ‘sagter’, minder skreiend?”
Dan keer Amid terug na Vloek en vertel dat Bester vrygeskeld is van vervolging op voorwaarde dat hy deel word van ’n ondersoek van internasionale omvang “waar moord en die stryd om mag onvoorspelbaar en gekompliseerd bly”.
Amid gaan voort: “Min lesers sal met my stry dat jy dikwels in ’n Rudie van Rensburg-roman mooi moet kophou. Met Vloek is dit nie soseer die naatloos verweefde verhaallyne en die veelvlakkige intriges wat jou konsentrasievermoëns uitdaag nie, maar iets veel meer opwindends: Die skrywer onderneem met Vloek om die leser te trakteer op ’n verbysterende vlaag van feite wat netjies in die verhaal ingebed is en wat deurentyd interesseer, prikkel en jou kennis oor ’n sekere onderwerp uitdaag en verdiep.
“Neem twee verhaallyne as voorbeeld: Die een behels die ‘minerale en moord’-verhaallyn, wat inzoem op die myn van kolumbiet-tantaliet (coltan), wat die metaal tantaal bevat. Die Griekse mitologie bevat die mitologiese figuur Tantalus, seun van Zeus, wat as straf in die doderyk gegooi is met takke vol vrugte wat net buite sy bereik hang en water wat hom skraps ontgaan sodra hy wil drink. Die ‘vloek van Afrika’ soos dit verduidelik word in die roman, word treffend met hierdie nimmereindigende, verwoeste soeke op letterlike en metaforiese vlak geskakel en ontgin.
“Die tweede verhaallyn wat ontsaglik deeglike navorsing met ’n trefseker intrige en spanninglyn kombineer, is die ‘Nasionalisme en Neo-Nazi’-gegewe. Namate verregse bewegings anderkant die water én op eie bodem groei en aandag trek en die ‘middel’ wegkwyn, probeer ons almal sin maak van beweegredes vir ekstremiste en politieke partye. Vloek, met die antagonis Guido aan die spits, delf met mening om te verduidelik presies hoe ’n aanhanger van verregse ideologie sou dink en optree om sy ideale wêreld te verwesenlik.
“Hier word ’n na aan volmaakte balans tussen storie en karakter gevind. Sir Philip Sydney se idee dat misdaadfiksie die vermoë het om te ‘instruct’ en ‘delight’ word op bevredigende wyse versoen met die skrywer se onmiskenbare flair en vernuf. Kry solank die vlugsout gereed, want Vloek is ’n krimi wat jou sal laat terugdeins én swets van die lekkerkry.”
Op Netwerk24 (2 September 2019) skryf Francois Bekker ook baie komplimenterend oor Vloek: “As protagonis is Carl Bester iemand van wie die leser maklik hou. Hy probeer sy bes, maak foute en hoop ook op ’n bietjie geluk. Sy oordeel het hom destyds lelik in die steek gelaat toe hy in diens van die SAPD was. ’n Misstap waarvoor hy ’n hoë prys moes betaal. Nou moet hy die beste maak van die tweede kans wat die lewe hom bied. Ondervinding en pure speurinstink kom hom egter goed te staan. En wie weet, dalk is ware liefde hom hierdie keer beskore.
“Die storie oor Guido Müeller is allermins ’n lig-in-die-broek-neweverhaal en bied ’n hoogs insiggewende blik op die mitologiese aspekte wat die wêreld van die verregse onderlê. Die makabere gegewens van ’n verdraaide kultuur laat ’n mens ril.
“Die kwessie van showing en telling blyk ’n uitdaging vir die skrywer by tye te gewees het. Tog slaag hy daarin om die regte balans te handhaaf. Rudie van Rensburg se bydrae tot die genre van krimi-literatuur is indrukwekkend. Sy vermoë om aksietonele oortuigend onder woorde te bring, getuig van virtuose vakmanskap. Met sterk karakterontwikkeling, verrassende kinkels en ’n aktueel gegronde storie is Vloek ’n oeuvre-hoogtepunt.
“Vloek is ’n spanningsverhaal van ambisieuse omvang wat getuig van deeglike navorsing. Een vraag bly oor – hoe vertaal ’n mens ‘page-turner’ in Afrikaans? Gliplees? Want die leser glip moeiteloos deur hierdie vaartbelynde teks met ’n onstuitbare momentum.”
Met Merk wat in 2020 verskyn het, keer Rudie weer terug na Kassie Kasselman, sy bekende en vertroude speurder vir wie die leser al lief geword het. Ná ’n hartaanval aan die einde van Medusa is Kassie in Merk terug na ses maande siekverlof. Vir rus is daar nie veel tyd nie, want hy en Rooi moet die spoor van ’n reeksverkragter vat wat paniek in Kaapstad se noordelike voorstede saai.
Oor die impetus agter die skryf van Merk vertel Rudie op Graffiti aanlynkuier aan Phyllis Green dat hy ’n paar jaar tevore in ’n plaaslike koerant gelees het van ’n jongerige dame wat verkrag is. Dit het hom laat besef dat goeie sekuriteit nie noodwendig ’n waarborg is dat hierdie tipe misdade nie sal gebeur nie. Hy het ook besef hoe die geweld teenoor vroue toegeneem het in so ’n mate dat daar geskat word dat daar in Suid-Afrika elke 17 sekondes ’n vrou verkrag word en dat daar op daardie stadium (ongeveer 2018) 40 000 verkragtingsake elke jaar aangemeld word.
Rudie bring nog ’n kinkel in die kabel in Merk na vore, naamlik ’n kriminele profileerder, kaptein Lulu Wiersinga: “Kassie reken profileerders steun te swaar op stereotipering en teorie. Daarby is Lulu se parfuum oorweldigend en weersinwekkend. Brigadier Fortuin is ook in die pad. Sy draai die skroewe al hoe stywer. Kasselman en Rooi beter die geweldenaar vang. En gou,” skryf Riette Rust op LitNet.
Rust gaan voort: “Merk is ’n riller. Dikwels grieselrig en makaber. As subtema word geweld teen vroue ondersoek, ’n relevante en omstrede kwessie. (…) Die klem val deurgaans op polisieprosedure, goed nagevors. Die onderbou van die roman steun sterk op die sielkunde agter verkragting. Dit sluit nekrofilie (die verkragting van lyke) in. Die menslike psige kan waaragtig stikdonker wees.
“Die intrige is goed uitgewerk en die verrassingselement slaan jou teen die kop; nie ’n maklike uitdaging vir ’n skrywer wat jaarliks iets nuuts vir sy lesers wil skep nie.
“Van Rensburg se karakterisering is sekerlik Merk se grootste pluspunt. Die slegte ouens is sleg verby, tog het die leser empatie met hulle en lees jy nuuskierig voort aan die Jekyll en Hyde van hul persoonlikhede. (…)
“Die dialoog in Merk vloei natuurlik en is lewensgetrou. Elke karakter praat dus soos hy of sy gebek is. Net jammer dat soveel stemme ‘skor’ word. Hierdie byvoeglike naamwoord hoort eerder in ’n romanse tuis. So ook ‘rou snikke’ wat uit kele ‘ontsnap’ en karakters wat ‘hortend’ asemhaal.
“Kassie en Rooi het ’n voltydse taak om die verkragter/moordenaar vas te trek. Die kaptein is een van enkeles in die Spookeenheid wat wonder of die span nie dalk met twéé skurke te make het nie. ’n Afloerdery en ontvoering bemoeilik sake, nes die joernalis wat opdrag kry om al die duisterhede te belig. Die karakters (en lesers) wonder waarvoor die 399 in die brandmerk staan, maar die antwoord kom nie dadelik nie.
“Die spanningslyn trek al stywer. Nes jy dink jy kan eenvoudig nie meer stres hanteer nie, ontlok die titels van Kassie se gunstelingboeremusiektreffers ’n glimlag, of vermaak Lulu jou. Sy is komies-irriterend en ook ’n taal-Nazi.
“Wees gewaarsku: Merk is hardebaardleesstof. Skokkender kry jy nie sommer nie. As dit egter jou ding is, haal ’n pak sjokolade uit, maak jou in die bed tuis en trek die roman nader. Merk is hoogs toeganklike leesstof. Dis trouens een van die boeiendste ervarings wat jy in ’n lang tyd sal hê.”
Wat veral vir Jonathan Amid (Netwerk24, 30 Augustus 2020) getref het van Merk, is “die skets van die ‘empatiese’ dog berekende en slu verkragter met die syfer 399 wat ’n kernbelangrike raaisel aktiveer, en die verhaallyn van ’n moontlike misdadiger – verterend obsessief en onseker oor homself – wat anonieme briefies in posbusse gooi. Hierdie verhaallyne is onvoorspelbaar en slim uitgewerk.
“Tog is daar ondanks al die gruweldade minder van ’n ‘maagdraai-gevoel’ as in Medusa, juis omdat die skrywer dié keer nie die identiteit van die misdadiger(s) bekend maak tot feitlik heel aan die einde nie. En watter siel wat tot onlangs onder die verbod op tabakhandel moes deurloop, sal nie empatie hê met ou Kassie nie, wat so naarstiglik na sy Lucky Strikes verlang ná ses maande op siekteverlof en nou weer terug op sy pos is by die Spookeenheid?
“Merk maak korte mette van enige insinking en is nét die regte doepa teen die laaste ysige stuiptrekkings van die winter.”
Ook op Netwerk24 (17 Augustus 2020) skryf Neil van Heerden: “Rudie van Rensburg kon nog nooit daarvan beskuldig word dat sy booswigte eendimensioneel is óf dat hul boosheid nie deeglik gegrond is nie. Merk is geen uitsondering nie. In hierdie jongste boek betree hy weer vreesloos die donker kerker van ’n versteurde reeksmisdadiger se psige.
“Die intertekstuele verwysing na Stevenson se Dr Jekyll and Mr Hyde op bladsy 123 is nie om dowe neute nie. Reeksmisdadigers en psigopate lei dikwels ’n dubbele lewe: Bedags oënskynlik ’n normale lid van die samelewing, snags swig hy voor die beestelike drange van sy alter ego.
“Juis hierom gee die misdadiger in Merk ’n mens sulke koue rillings, want hy dring die mees private ruimtes van ’n geborge middelklasbestaan binne en versteur die sosiale orde. ’n Mens kan maar net jou hoop vestig op helde soos Kassie en Rooi.
“Tydig is Merk vir seker. Die roman – synde een waarin vroue verbete geteiken word – verskyn immers teen die agtergrond van ’n landwye epidemie van geslagsgegronde geweld. ’n Skeptiese leser sal miskien vra: Ontketen die boek werklik simpatie vir die lot van vroueslagoffers van geweld? Of is hulle grotendeels verhoogstukke in ’n manlike speurdrama?
“Ek is nie seker nie. Maar miskien is dit ’n onredelike eis. Die boek is kennelik nie bedoel as ’n dieptestudie van slagoffers se trauma nie, maar per slot van rekening as ’n boeiende speurriller. En in hierdie opsig tref Merk ongetwyfeld, wel, sy merk.”
Met Hartedief (2021) palm Rudie weer die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur in. Só het die beoordelaars vir hierdie prys in hulle commendatio gesê (LitNet, 19 September 2022): “Van Rensburg is ’n maestro wat die leser van begin tot einde op ’n naelbytreis neem. Hartedief is ’n roman van hoogstaande gehalte waarin ’n sterk spanningslyn deurentyd gehandhaaf word. Die wyse waarop Van Rensburg al die newe-intriges saamtrek en besonder oortuigend orkestreer, verdien vermelding. Hy maak die navorsing wat hy doen, skynbaar moeiteloos deel van die verhaal. Die grootste verdienste van die roman is egter die wyse waarop die vertelperspektief daartoe bydra dat die leser die verhouding tussen Pieter en sy ma aanvanklik heeltemal verkeerd inskat en dus ’n kerndinamika in die roman miskyk. Sodoende is die onthulling aan die einde van dié roman net so groot soos in meer tradisionele krimi’s. ’n Waardige wenner.”
Rudie vertel aan Phyllis Green in Sarie meer oor Hartedief en die moordenaar: “Dié boek gaan amper ’n afsluiting wees van al die wrede ouens wat mens in die wêreld kry. In die toekoms wil ek ’n vars benadering met Kassie volg. Maar nou is daar ’n reeksmoordenaar los in die Kaap wat mense teen ’n tempo vermoor, boonop ’n baie moeilike kalant om vas te trek.
“Hy het nie ’n selfoon nie. Hy werk nie op rekenaars sodat jy hom op dié manier kan opspoor nie. Hy het talle vals identiteitsboeke en hy gebruik verskeie aliasse. Hy is ’n miljoenêr. Heeltemal anders as ’n gewone reeksmoordenaar.
“Die groot probleem is dat Kassie se aandag nie heeltyd op die saak toegespits is nie. Hy is verlief en dit het ’n groot impak op sy werk. Later in die boek ontspoor sy aandag weer wanneer sy bevelvoerder daarvan aangekla word dat sy die ondersoek op ’n manier probeer beduiwel. Terwyl Kassie hom besig hou met ander goed, word vroue vermoor. Gelukkig kom hy terug op die spoor.”
Green wou by Rudie weet hoe hy dit regkry om so goed op hoogte te bly van nuwe forensiese tegnieke: “Ek het ’n kontak wat by die forensiese laboratorium in die Kaap is en ek nader hom as ek wonder of ek op die regte spoor is. Hy help my baie en ek lees ook wyd op. Ek kan uitwei oor reeksmoordenaars as sulks. Ek wou juis ’n reeksmoordenaar (in Hartedief) skep wat nie in die kassies pas waarin hierdie soort moordenaars ingedeel word nie. Die mees basiese kategorieë waarin hulle geplaas word, is georganiseerde en ongeorganiseerde moordenaars. (…)
“Ek het besluit om die reeksmoordenaars in Hartedief nie in een van die twee kassies te plaas nie. Soos Kassie-hulle ook bespiegel, het sommige van die aspekte hom aan ’n georganiseerde moordenaar laat dink, want hy doen tog vooraf beplanning. Hy weet wie hy gaan dood maak. Die ongeorganiseerde deel kom sterk na vore want hy los vingerafdrukke en dis ’n bloederige spul. Dit maak hom ’n baie moeiliker kalant om vas te trek. Ek het regtig probeer om hom uniek te maak.”
Hartedief het ook nie ontstaan uit dieselfde proses wat Rudie met sy ander boeke gebruik het nie. Die eerste twee hoofstukke was voorheen twee kortverhale wat ongeveer drie jaar voor die publikasie van Hartedief in Vrouekeur verskyn het. Van die lesers wat terugvoering oor die kortverhale gegee het, wou weet wat verder met die reeksmoordenaar en Sylvia gebeur het. “Dit het my laat besluit om die twee kortverhale as wegspringplek vir die hele roman te gebruik en om die twee karakters se verhale uit te bou.”
Neil van Heerden het die boek bespreek vir Netwerk24 (14 Junie 2021) en vir hom is Hartedief verseker nie die tradisionele speurverhaal waar die leser raaisels moet oplos nie – in Hartedief weet die leser al betreklik vroeg in die verhaal wie die moordenaar is. “Trouens, van meet af aan word hy as een van die fokalisators geponeer en kry die leser regstreekse insae in sy doen en late. Die kernraaisel is dus nie wie die moord gepleeg het nie, maar waarom hy moor en of hy betyds gevang gaan word.
“Kapteins Kassie Kasselman en Rooi Els is die gesoute speurduo van die SAPD se sogenaamde Spookeenheid wat die enigmatiese hartedief moet vastrek, maar dit is makliker gesê as gedaan. Die aanvallige vent is so slim soos die houtjie van die galg. Boonop sukkel Kassie dié slag met muisneste, want hy het die skoot hoog deur vir ’n medeseëlversamelaar.”
Voeg daarby korrupte polisiemanne, ’n “onverkwiklike en onvergeetlike” bendebaas en ’n nuwe karakter in die persoon van sersant Gehasi April (met sy eiesoortige taalgebruik) en die tafel is gedek vir een van Rudie van Rensburg se lekkerlees krimi’s.
Van Heerden sluit sy bespreking af: “Ek sou huiwer om Hartedief as ’n naelbyter te beskryf, want die ondersoek vorder by tye pynlik stadig. Miskien was dit opsetlik, want die leser internaliseer effektief Kassie en Rooi se frustrasie. Hartedief boei inderdaad, maar die spanning is waarskynlik eerder sielkundig van aard.
“Die moordenaar se terugflitse van hoe hy as kind gekwets is, verteenwoordig ’n emosionele hoogtepunt en het my tot ambivalente patos geroer. Dit is immers die patos van soveel reeksmoordenaars se gebrokenheid: Kan ’n mens tegelyk die volwasse moordenaars oor hul gruweldade veroordeel én empatie hê vir die onskuldige kind wat hulle eens was?”
2022 was weer ’n produktiewe een vir Rudie van Rensburg met twee nuwe titels, naamlik Monster wat weer vir Carl Bester as die hoofkarakter het en Doolhof met Kassie Kasselman as die man wat al die raaisels moet oplos.
Waaroor gaan Monster? “Die laaste voerings van oudpolisiespeurder Carl Bester (lesers onthou hom uit 2019 se Vloek) se lewe torring los toe sy verhouding met Sarah Theron eindig. Dit bring hom by ’n kruispad, en hy sluit aan by die Kaapstad-tak van Mercurius, ’n gesiglose steunpilaar van die CIA.
Intussen word ’n wêreldbekende Saoediese joernalis in ’n konsulaat in Istanbul vermoor, met ’n Suid-Afrikaanse joernalis as onwillige ooggetuie.
“Gevolge van dié joernalis se besluite kring uit na Kaapstad, waar Carl opdrag kry om die saak te hanteer. Sy pad kruis weer met dié van Sarah, ’n bekende word grusaam keelaf gesny, en soortgelyke politieke moorde word uit die verlede opgediep. Saoediese agente en ’n siellose mesmoordenaar is maar twee van die monster se vele tentakels wat Carl een-een moet afkap.
En wie is die geheimsinnige tussenganger, Bahir, wat Saoediese sake in Suid-Afrika onder ’n dekmantel orkestreer …” (Uitgewer se inligtingstuk)
Monster is losweg gebaseer op feite wat ook soos ’n storie lees. Anschen Conradie brei uit (LitNet): “Op 2 Oktober 2018 is Jamal Khashoggi, ’n joernalis, in die Saoediese konsulaat in Istanbul vermoor. Khashoggi se liggaam is aan stukke gekap en gerugte dat hy in opdrag van die kroonprins van Saoedi-Arabië, Mohammed bin Salman, vermoor is weens sy uitgesproke kritiek teen sy land en regeerders, is in November 2018 deur die CIA bevestig. Klankopnames van Khashoggi se moord is openbaar gemaak en daar is wyd in internasionale media berig dat die Saoedi-regering ’n grootskaalse toesmeerveldtog, wat die vernietiging van bewysstukke en die verdwyning van getuies insluit, van stapel gestuur het. Groot wêreldmoondhede, insluitend die VSA, was traag in hul reaksie om die voorval te veroordeel, grootliks as gevolg van die ekonomiese implikasies, en The Times of Israel het selfs op 20 September 2020 ’n stemopname, opgeneem deur die ondersoekende joernalis Bob Woodward, gepubliseer waarin president Donald Trump spog dat hy MBS (soos wat die kroonprins algemeen bekend staan) ‘se bas gered het’.”
Rudie van Rensburg het hierdie feite geneem en fiktiewe karakters en insidente bygesit wat ’n misdaadroman wat ook as ’n politieke riller gelees kon word, tot gevolg gehad het: “In die proloog van Monster bevind Carl Bester hom as ’n gevangene met gedeeltelike geheueverlies in ’n onbekende vertrek. Die toneel verskuif dan na Khashoggi se moord in Istanbul en storm daarna teen ’n verbysterende tempo voort totdat dit die leser op die ou end weer terugneem na die openingstoneel. Bester is in ’n groot mate die stereotipiese aksieheld wat skurke met ’n vel papier kan onthoof terwyl sy een hand agter sy rug vasgebind is. Sy fisieke voorkoms sluit daarby aan – hy is ’n fors, aantreklike man oor wie vrouens swymel. Die swak plek in sy heldemondering is egter, anders as die hedendaagse aksiehelde se voorliefde vir die bottel, die sogenaamde Bester-vloek, naamlik ’n obsessiewe behoefte aan seks. En dis juis hierdie Achilles-hiel wat hom telkens in die pekel laat beland. (…)
“My gunstelingkarakter was ongetwyfeld die mesmoordenaar. Hy is uiteraard ’n skurk, maar ’n genotvolle een. Nie net word hy baie oortuigend as koelbloedig en gewetenloos beskryf nie, sy agtergrondverhaal was op sigself fassinerend en ryk aan ironie. Hy is ’n groot man, met massiewe hande en ’n indrukwekkende versameling Japannese messe wat hy nie slegs in sy werk as blokman by ’n slaghuis gebruik nie, maar hy is terselfdertyd eintlik doodbang vir sy suster, Poppie. Die feit dat hy bekend is vir sy pryswennerboerewors het aan my dieselfde binnepret verskaf as wanneer daar ’n braairestaurant oorkant ’n begrafnisondernemer is. Mens wonder mos maar …
“Bahir se ware identiteit bly vir beide die leser en die karakters ’n tergende geheim tot by die slottonele en dien as addisionele bron van intrige, wat op sy beurt sterk bydra tot die spanningslyn. Die ontmaskering van sy ware identiteit is ’n hoogtepunt in die roman en verteenwoordig ’n verdere kinkel in die kabel, naamlik Suid-Afrikaanse magte wat, soos die destydse Amerikaanse president, ten alle koste nie die Saoedi’s wou affronteer nie, uit vrees vir weerwraak op ekonomiese gebied.
“Monster word, soos die meerderheid van Van Rensburg se vorige publikasies, as misdaadfiksie geklassifiseer. Die aard van die feite waarop die verhaal gebaseer is, regverdig ook die addisionele etiket van ’n politieke riller. Anders as die meerderheid romans in hierdie genre is die dialoog, en oorheersende woordeskat in die algemeen, meestal formeel, bykans objektief. (…) Dit het twee gevolge: Eerstens word andersins grieselrige situasies feitelik en klinies beskryf – daar is geen oordrewe skok-effek nie; en tweedens skep dit figuurlik afstand tussen die leser en die gebeure – die leser is eerder ’n onbetrokke toeskouer as ’n teensinnige deelnemer aan gruwelhede. Dit maak Monster by uitstek geskik vir sensitiewer lesers wat normaalweg sou wegskram van misdaadfiksie en bevestig opnuut dat selfs spanningsfiksie ontspanningsliteratuur kan wees. Die roman is baie meer toeganklik en vereis minder inspanning en konsentrasie van die leser as wat gebruiklik in die genre is. (…)
“Die lys van navorsingsbronne aan die einde van die roman is ontsagwekkend en getuig van deeglike navorsing. Die resultaat is ’n roman wat net sowel ’n niefiksiewerk kon gewees het; skrikwekkend realisties en onrusbarend na aan die werklikheid.”
Op Netwerk24 (30 Mei 2022) sluit Francois Bekker sy bespreking van Monster só af: “Die eintlike monster in hierdie spanningsverhaal is ’n stelsel met geen respek vir lewe nie. Dit steun op ’n verdwaalde politieke ideologie met geen ruimte vir vryheid of menseregte nie. Skrikwekkend is die onbestendige magsewewig in die wêreld wat deur die leiersfigure van twyfelagtige regimes uitgebuit word. Tematies figureer die strewe na die emansipasie van vroue aangrypend sterk in die verhaal.
“Van Rensburg se Monster is ’n ambisieuse spanningsverhaal gelaai met aksie, hoogdrama en ’n heerlike skeut romanse. Met ’n aktuele aanbod word Monster meer as blote ontvlugtingsvermaak. Dit vra vrae oor vryheid en gelykheid wat in baie dele van die wêreld nog ’n onbereikbare ideaal blyk te wees.”
In Doolhof moet Kassie en Rooi baie drade ontrafel om uiteindelik agter die kap van byl te kom: “Omstrede oud-politikus en skatryk sakeman Armand Deysel word vermoor en gou het hulle nie minder nie as ses verdagtes: Die Deysel-eggenoot met die vreemde huweliksverhouding; die vermoorde se minnares met die bedenklike verlede; ’n verregse, onstabiele pa en seun; ’n glibberige kalant in die uitsmyterbedryf; én ’n man wat glo sy broer se selfdood kan voor Deysel se deur gelê word. Kassie dool omtrént tussen dié skare, een en elk met ’n motief vir moord.
“Intussen is ’n Britse ondersoeker op die spoor van die waardevolle Doolhof-halssnoer, en ’n platsakman wat sy selfrespek moet herwin, steier telkens terug van ’n onsimpatieke samelewing se dwarsklappe.
“Kassie en Rooi pak hul moordondersoek sonder veel forensiese rugsteun aan, en al die verdagtes hardloop kringe om hulle. Dis heeltyd net doodloopstrate en syspore, ’n ware doolhof om hom en Rooi.” (Uitgewers se inligtingstuk)
“Ek was verstom oor hoe Rudie die soektog na die halssnoer slim verweef het, maar dit ook vir ’n hoofstuk of twee laat staan,” skryf Maryke Roberts op LitNet. “Net voor jy vergeet die boek moet die halssnoer se geskiedenis verklaar, kom daar weer ’n melding en die intrige duur voort. Hoe dit uiteindelik ontknoop, is iets wat ek glad nie voorsien het nie en ek hou van sulke lekker verrassings wanneer jy dink dat die verhaal se geheime eintlik almal klaar ontrafel is.
“Rudie skryf hom al dieper in hierdie genre in en die ontwikkeling van sy storielyne is diep, vervleg en noukeurig nagevors. Bliksis! Dis geloofwaardig en lekker en ’n mens is spyt as die laaste bladsy onder jou vingers verbygly.
“En natuurlik moet daar weer ’n karakter wees wie se sêgoed jou fassineer en jou laat lag of jou so irriteer (soos vir Rooi), want dit voel asof die man te veel nonsens praat en net waardevolle tyd mors.
“Doolhof is soos sy vorige boeke heerlike leesstof vir Kassie-aanhangers, maar staan lekker op sy eie voete vir nuwelinge wat nog nie voorheen paaie gekruis het met Kassie en Rooi nie. Daar is net genoeg agtergrond oor Kassie se anderster lewe (hy is nie die gebruiklike suiplap-pierewaaier-speurder nie) sonder om aanhangers wat al glo hy is ’n regte persoon, te verveel.
“Ek het een of twee hinderlike klein jakkalsies opgetel, waarvan die eerste een vroeg in die boek plaasvind oor die skraps tydlyn van Armand se vrou en haar vriendin wat gaan uiteet én ’n halwe teatervertoning kyk in ’n onmoontlike kort tydjie. Dit het my effe irriteer en ek was bang dit beïnvloed my houding jeens die geloofwaardigheid van die res van die boek, maar dit het gelukkig nie. Dit was gou vergete en ek was goed vasgenael.”
En in Tydskrif vir Letterkunde skryf Shawna-Leze Meiring: “Die drie storielyne (van Doolhof) maak vir ’n storie wat spannend uitgebou word en ’n goeie pas handhaaf. Die skrywer strooi broodkrummels subtiel in die storie wat ’n mens lei om so half en half die storie bymekaar te sit, maar die boek lewer nie ’n voorspelbare einde nie. Eerder ’n bevredigende, byna gelukkige en vrolike einde. Dit bewys dat dit ’n lekkerleesmisdaadroman is—al is daar ’n moord en ongure karakters betrokke.
“Soms kan dit voel of die leidrade bietjie maklik na vore kom, amper soos ’n episode van die TV-reeks CSI waar ’n lukrake, byna nuttelose brokkie inligting of objek lei na die ontdekking van ’n groter leidraad. Die karakters se probleme word ook meestal netjies opgelos en hulle beleef selfs groot geluk. Dit is miskien ’n bietjie te goed om te glo, maar nietemin doen dit nie afbreuk aan die roman se lekkerleesbaarheid nie en dit is maklik om verdiep te raak in die storie.
“In die misdaadfiksie in Afrikaans is daar heelwat hoofkarakters wat interessant en boeiend is. Die karakters het later hulle eie reekse gekry en dit sorg vir ’n groot aanhang by lesers. Daar is Bennie Griessel, die hardgebakte speurder van Deon Meyer, en onlangs Ami Prinsloo, die vat-g’n-nonsens-nie joernalis van Irma Venter, om maar ’n paar te noem. Kassie Kasselman is nog so ’n bekende karakter. ’n Mens sal die hele reeks waarin hy voorkom moet lees om ’n beter idee van hom as speurder en karakter te kry. Hy het net ’n bietjie te ver van hierdie storie gevoel, asof mens nie heeltemal ’n greep op hom kan kry nie. Dat hy ’n ervare speurder is wat ’n oog en intuïsie soos min van sy kollegas het, maak wel van hom ’n aangename karakter.
“Die storie bevat verwysings na hedendaagse politiek, karakters wat swaarkry in die ekonomiese klimaat ná die pandemie en oomblikke van humor en skerpsinnige sêdinge (meestal van Dan Piedt, die navorser vir die Spookeenheid). Die boek se titel doen die storie se kinkels gestand. Doolhof bied ’n lekkerleeservaring wat lesers vasgenael gaan hou. Nes ’n mens dink alle hoop is verlore, lewer die doolhof ’n opening wat al die drade netjies aanmekaar bind.”
In 2023, soos almal al aan gewoond geraak het, verskyn Rudie se jaarlikse misdaadroman onder die titel Dwelm.
Soos Jonathan Amid in sy resensie van Kamikaze stel Deborah Steinmair in haar artikel in Vrye Weekblad vir Rudie van Rensburg teenoor Jo Nesbø; dus ook vir Kassie Kasselman teenoor Harry Hole, Nesbø se speurder wat vir interessante leesstof sorg.
Sy skryf só oor Dwelm: “In Dwelm word Amalia (Kassie se geliefde) se seun Anrich ’n drug runner vir ’n gang van die Kaapse Vlakte. Hy verkwansel dwelms aan minderjarige kinders in Langstraat, want hy wil gou ryk word en ’n mooi kar en huis koop. Hy dra ’n rewolwer en het ’n kluis in sy kamer in Amalia se woonstel. Sy glo hy het sy lewe reggeruk en is besig om matriek aanlyn te verwerf. Sy is baie trots op hom. Hoe hou Kassie hom uit die kloue van die bendes en die polisie en hoe hou hy Anrich se verval geheim van Amalia?
“Dis maar ’n newestorielyn in Van Rensburg se jongste misdaadriller, Dwelm. Maar soos dit gaan in goeie krimi’s, blyk alles later verwant te wees. Niks is onnodig nie. Broer en suster Dawid en Marinda de Necker bestuur die maatskappy wat hulle pa op die been gebring het, Sand en Sement. Ongelukkig is Dawid ’n opperste skurk wat Markus Jooste soos ’n koorseuntjie laat lyk. Hy peuter al jare met die syfers, was geld en bedryf ook ’n onwettige invoerskema. Hy verskaf dwelms aan die gangs. Hy het polisiemanne in die sak. Hy pers sy suster af en het haar op slinkse wyse gekompromitteer en deel van die skema gemaak.
“Twee oudpolisiemanne word doodgeskiet waar hulle by ’n dam op ’n plaas naby die Paarl visvang. Kassie en Rooi Els word getaak om die saak op te los. Nog ’n oudpolisieman gaan sien ’n terapeut om rus vir sy siel te kry. Hy het monsteragtige vergrype gepleeg as lid van die Brixtonse moord-en-roofeenheid, maar wat hom bloots ry, is iets wat onlangs gebeur het. ’n Bende besluit om Dawid de Necker te ontvoer en sy hele vrag dwelms uit die pakhuis te steel.
“Hoe kom al hierdie storielyne bymekaar? Jy sal self moet lees om uit te vind. Wag maar tot die naweek, want jy gaan dit moeilik neersit.”
Francois Bekker is die resensent van Dwelm vir Tydskrif vir Letterkunde: “In Dwelm ontvou ’n aantal storielyne, oënskynlik onverwant, jukstaposisioneel. Twee legendariese oudspeurders wat baie geliefd was onder hul kollegas, word uit die bloute vermoor. Met absoluut geen leidrade nie, word dit gerade geag om die Spookeenheid se hulp in te roep. Hoe op dees aarde kaptein Kassie Kasselman en sy kollega, sersant Rooi Els, hierdie saak gaan uitpluis, weet nugter. Elders sit Marinda de Necker met ’n hengse dilemma. Haar broer, Dawid, se magsspeletjies is besig om hul familie-onderneming, Steen en Sement of te wel SES, na troebel waters te stuur. Sy jarelange manipulasie dryf haar ook persoonlik tot breekpunt en sy wil alle bande met hom verbreek. Vasgevang in sy web van slenters weet sy egter dit is makliker gesê as gedaan, want Dawid de Necker gee inderdaad nuwe betekenis aan die uitdrukking dark horse.
“Terwyl kaptein Kassie Kasselman eerder meer tyd saam met sy aanstaande, Amalia, deur wil bring, duik daar ’n probleem op wat dreig om hom vir die eerste keer in sy loopbaan van stryk te bring. ’n Voorval waarby dwelms betrokke is skep vir hom ’n dilemma, want dit is nie net nog ’n misdaadstatistiek nie. Dwelms en georganiseerde misdaad gaan hand aan hand. Wat die euwel van dwelms betref behoort wetstoepassing genadeloos te wees. Nou kom Kassie egter voor ’n onmoontlike keuse te staan. Skielik is dinge nie meer wit en swart nie. Hoe en wanneer hy as geregsdienaar gaan toeslaan, sal gevolge hê vir mense vir wie hy lief is. Kassie Kasselman benodig die wysheid van Salomo, en tyd is nie aan sy kant nie.
“As vaardige stilis wissel Rudie van Rensburg die verskillende storielyne op so ’n wyse af dat die roman met ’n raaiselelement die leser van meet af boei. Die tempo is onstuitbaar omdat daar nie vir ’n oomblik getalm word nie. Dinge gebeur vinnig met ’n broeiende onrustigheid wat die leser noop om te wonder of Kassie-hulle ooit hierdie saak sal kan oplos. Die resultaat is ’n blitsblaaier wat die leser nie kan neersit nie. Deurlopend klink die tergende vraag oor wie die sneller getrek het wat die lewe van twee onskuldige pensionarisse geëis het. (…)
“Nie alleen is dit Van Rensburg se verteltegniek wat sorg vir ’n boeiende leeservaring van sy oeuvre nie, karakterisering is ’n ewe belangrike element van ’n suksesvolle spanningsverhaal. Van Rensburg slaag daarin om deurgaans die menslikheid van sy karakters te behou. Dit is immers waarmee die leser in die eerste plek identifiseer. Om Hennie Aucamp by te haal, die karakters moet soos mens ruik. (…)
“Selfs die newe-karakters word nie in hierdie roman afgeskeep nie. Een van die karakters wat die aandag trek is ene Muis. Hierdie ou wat redelik laag op die misdaad-voedselketting funksioneer, bied vanuit ’n idiosinkratiese oogpunt iets wat my as leser veel plesier verskaf het. Met ’n filosofiese blik op die lewe is dit sy sêgoed waaraan ’n mens jou verkneukel. So laat hy hom oor die regstelsel uit as hy en ’n makker verhoorafwagtend is: ‘Where incompetence is prized, it is ever present. The employees of the South African courts give us real competitive advantage’ (275).
“As virtuose storieverteller het Rudie van Rensburg deurgaans in Dwelm ’n stewige greep op die verskillende storielyne. Voeg hierby die werklik slim uitgewerkte kinkels wat selfs die oplettende leser uitoorlê. Uiteindelik slaag van Rensburg meesterlik daarin om ’n trefseker whodunnit te boetseer wat nie alleen voldoen aan die verwagtings van hierdie genre nie, maar ook die leser van begin tot einde vasgenael aan die lees en raai hou.”
In 2020, vertel Rudie aan LitNet, het hy ’n kortverhaal vir die Woordfeesbundel geskryf: “Ek het ’n naweek aan die storie geskryf. Synde ’n misdaadskrywer, het ek iets heel anders probeer. Iets humoristies. Sedert die storie geskryf is, het dit begin smeek vir ’n boek. Toe word dit in 2017 Hans steek die Rubicon oor. Die kortverhaal was die eerste twee hoofstukke daarvan. RSG het die boek as ’n voorlesing begin uitsaai. Tobie Cronjé het dit voorgelees.”
Hans steek die Rubicon oor het nie daar gebly nie. Dit is in 2018 benoem as een van Huisgenoot/Tempo se leesboeke van die jaar en in 2019 en 2020 was dit een van Nielsen se 10 topverkopers van Afrikaanse fiksie. Die filmregte is verkoop en in 2023 is dit aangewys as die beste speelfilm by die jaarlikse Silwerskermfees. In 2023 is ’n toneelverwerking deur Francois Toerien tydens die Woordfees op die planke gebring met Charles Bouguenon wat 16 verskillende rolle vertolk het.
Hierna was daar geen einde aan Hans nie. Tot en met die skryf van hierdie skrywersalbum het nog vier Hans-stories uit Rudie se pen verskyn – Hans gee Herklaas horings (2020), Hans bars die bioborrel (2021), Hans hou sy lyf Sherlock (2021) en Hans kry troukoors (2022).
Enkele resensies van Hans en sy manewales:
- Hans steek die Rubicon oor: Schalk Schoombie (Netwerk24, 27 November 2017) skryf as volg: “In Van Rensburg se lighartige ekskursie word die naderende donker (van die ouderdom) afgeweer, uitgestel. Dié guitige seniors is veels te hiperaktief vir hunkeringe na die goeie ou dae, en van hul pre-aftrede-lewe (met die uitsondering van Hans) word weinig onthul. Plek vir morbiede praatjies oor agteruitgang is daar nie. Niemand skop die emmer nie, trouens die vlam word verlaas hoog en helder geblaas. Een van die vreugdes van dié lekkerleesboek is ’n klein skatkis van vergete idiome wat herwin word, soos PG du Plessis by monde van sy beswaarde Genis in Koöperasiestories vermag het. Elke ‘oumensie’ se wens word ten slotte vervul, volkome in beheer van eie lotgevalle. Jy lag saam en hoop heimlik: Só wil ons almal eendag oud word.”
- Hans gee Herklaas horings: Annelise Erasmus (Netwerk24, 4 Oktober 2020): “Rudie van Rensburg en Hans van Kraaienburg, die hoofkarakter in die Hans-boeke, herinner my aan ’n soort lekker wat my lankal ontgaan het: die lekker van ‘ligsinnige’ leesstof (en ek gebruik dié woord in die positiefste sin moontlik). ’n Storie wat net ’n storie is, met alles – die lees én waarskynlik die skryf daarvan – wat duidelik net op plesier gemik is.
“In die nuwe boek gaan kuier Hans saam met sy vriend Vasie by Vasie se neef Herklaas op Hermanus. Daar is egter ’n probleem in die persoon van Grond Graaffwater wat Herklaas se eiendom wil koop en nie nee vir ’n antwoord neem nie. Dit neem Hans nie lank om die probleem op sy eiesoortige manier op te los nie. (…)
“Hans gee Herklaas horings is presies wat dit wil wees: ’n lekkerleesstorie sonder enige fieterjasies, maar boordens toe vol kaskenades wat oud en jonk sal laat giggel en ontspan. Daarvoor kan ons gerus maar vir Rudie van Rensburg heuning om die mond smeer. Dan het die skrywer veroorsaak dat ek beter Afrikaans wil praat – ek wil soos sy karakters praat. Dis ’n verlore kuns.”
- Hans bars die bioborrel: Francois Bekker (Netwerk24, 4 Oktober 2021): “Anderkant ons vrees vir ’n virus wat die ganse wêreld tot stilstand gedwing het en groot ellende tot gevolg gehad het, en onsekerheid oor presies wanneer ons in die verlede tyd daarna sal kan verwys, is om te lag vir die menslike element van situasies al wat oorbly.
“Asof dit nie erg genoeg is dat die president so pas die land onder ’n vlak 5-inperking geplaas het nie, is daar verwikkelinge by Huis Madeliefie wat Hans en sy maters behoorlik die harnas injaag. Dat ’n hovaardige inkommer, ’n afgetrede akteur met ’n roemryke loopbaan agter die rug wat onlangs sy intrek by Huis Madeliefie geneem het, juis onder hierdie omstandighede die kalklig by Hans moet steel, kan net moeilikheid ten gevolg hê. (…)
“Die burleske humor wat Rudie van Rensburg met sy Hans-boeke pleeg, steun uiteraard op klugtigheid, hiperbole en die onbeskaamde gebruik van karikature. Huis Madeliefie word met Hans bars die bioborrel ’n mikrokosmos van die tipe situasies waarmee mense in die inperking geworstel het. Dink veral hier aan daardie selfaangestelde hoofseuns en -meisies in ons woonbuurte wat oornag hulle die reg toegeëien het om almal om hulle te polisieer. Heerlike ligte leesvermaak.”
- Hans hou sy lyf Sherlock: Annelise Erasmus (7 Augustus 2022): “In Hans hou sy lyf Sherlock voldoen Van Rensburg aan die lesersverwagtinge van reekse. Al die kenmerke wat vorige boeke gewild gemaak het, is weer daar: humor vir elke humorsin, prentjietaal vol idiome, beeldspraak en wonderlike kwinkslae, kreatiewe kinkels in ’n eenvoudige storielyn wat nie te veel van lesers eis nie, en die bekende en geliefde karakters.
“Hierdie slag word Hans en sy vriende vir ’n eendvoël aangesien deur ’n swendelaar wat met hul spaargeld verkas, maar soos getroue lesers weet, sal Hans nie dié situasie onaangeraak laat nie – dáárvoor is daar eenvoudig te veel korrels op sy kop. Hy en sy getroue makkers vat dan die spoor Weskus toe met baie vermaaklike gevolge. (…) Hans hou sy lyf Sherlock is soos jou gunsteling-sitplek voor die TV – bekend, gemaklik, vertroostend en ’n plesier.”
- Hans kry troukoors: In die vyfde Hans-boek ontmoet die leser twee nuwe intrekkers in Huis Madeliefie – Liefiediefie en Janneman Vermaak. Emile Joubert skryf (Netwerk24, 3 Desember 2023): “Liefiediefie had ’n ‘Marilyn Monroe-gesiggie’ en ‘Jane Fonda-lyf’ wat, tesame met haar smeulende geaardheid die tehuis se mansinwoners na hul koorspenne laat gryp en wonder of daar nie ’n ander soort werkende pen in die omtrek is nie. (…) Inkommer nr 2 is Janneman Vermaak, nogal Hans se nuwe buurman en ’n luidrugtige, arrogante vent wat met sy uitgaande persoonlikheid en ongehawende fisieke toestand hom onmiddellik deur ’n klomp bewonderaars laat omring.
“Die twee nuwe karakters versteur nie net die saai ritme van die Huis Madeliefie-omgewing nie, maar pyl direk op Hans af om nuwe uitdagings aan hom te rig. Janneman onttroon Hans as die bok vir sports, lewensaar van Madeliefie se tydelike partytjie. En Liefiediefie maak warm, kloppende gevoelens in Hans wakker waarvan hy lankal vergeet het – hy is veral gaande oor die dame se ‘spataarvrye bene’ en magie sonder rimpels. (…)
“Die verloop van Hans se jongste verhaal is so naatloos soos ’n gordyn in ’n hospitaal-waaksaal. Die karakterisering is heerlik, en soos in die styl van die ander boeke, bars daar heeltyd oudmodiese, volksomarmende Afrikaans deur die spelers se lippe.
“Situasie-skepping is van die klassieke-klug tipe, met net genoeg maltrap-lawwigheid om die hele aura van bejaardheid ’n innemende pittigheid te gee. (…) Benewens die pikante situasies word die twee malvasagte misteries met vernuf en deeglikheid ontknoop danksy Hans se doelgerigtheid en oog vir detail, asook sy onblusbare drang om die hoofkonyn van Huis Madeliefie in sy borriegeel safaripak te bly. Watwou 90, lank mag hy lewe!”
Op LitNet vra Naomi Meyer aan Rudie van Rensburg: “En kom die idees so vinnig by jou op? Maak jy gedurig aantekeninge oor nuwe stories al is jy nog besig met die een verhaal? Skryf jy sommer die volgende dag al, nadat die manuskrip weggestuur is, aan ’n nuwe verhaal?”
Rudie is reg met sy antwoord: “Ek dink stories kom vinnig by my op omdat ek heeltyd op die uitkyk daarvoor is. As ek dit nie in koerante of niefiksie-boeke kry nie, delf ek maar diep in my eie kop vir idees. Laasgenoemde gebeur gewoonlik as ek saans in die bed klim. Ek maak nie regtig aantekeninge nie. Wanneer ek aan ’n manuskrip begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verhaal gaan verloop. Buiten vir die navorsing wat klaar gedoen is, is my voorafbeplanning gering.
“Ek vermy fyn beplande raamwerke, want ek glo dit beperk my denkproses. Gedurende die skryfproses loop elke storielyn maar sy eie verrassende draaie, wat ’n mens in die beginstadium nooit voorsien het nie. As ek halfpad met ’n manuskrip is, het ek gewoonlik nie ’n idee hoe die verhaal gaan eindig nie. Vir my is dit juis die lekkerste deel van skryf om na daardie eindpunt toe te werk. Wanneer ek klaar is met ’n manuskrip, is dit vir my baie moeilik om stil te sit. Teen daardie tyd het ek al ’n groot deel van die navorsing vir ’n volgende boek afgehandel, wat ek saans doen om nie met my oggendskryfwerk in te meng nie. Ek vat gewoonlik ’n breek van ’n week of twee voordat ek ’n nuwe manuskrip aanpak, maar in Desembermaande gun ek myself ’n effe langer rustyd.”
Publikasies
Publikasie |
Die begrafnis (onder die skuilnaam Phil Janse) |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780980275438 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Genugtig! Uitgewers |
Literêre vorm |
Drama |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Sanlamprys vir Afrikaanse teater (beste dramaturg) |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Doempies van Tafelberg |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
Geen |
Uitgewer |
Kaapstad: Rudie van Rensburg |
Literêre vorm |
Kleuterboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Slagyster |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780795800627 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Misdaadroman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Nederlands onder die titel Klem; vertaal deur Jente Rheberghen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Kopskoot |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780795800771 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Misdaadroman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Judaskus |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
9780795800924 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Misdaadroman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Pirana |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780795801099 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Misdaadroman |
Pryse toegeken |
2017 kortlys vir kykNET-Rapport-boekprys (film) |
Vertalings |
2020 Engels |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Kamikaze |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780795801303 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Medusa |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780795801839 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
2024 Engels |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Merk |
Publikasiedatum |
2020 |
ISBN |
9780795802140 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
2019 Nielsen toptienverkopers |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Monster |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
9780795802485 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Dwelm |
Publikasiedatum |
2023 |
ISBN |
9780795802607 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Rudie van Rensburg se Hans-boeke:
Publikasie |
Hans gee Herklaas horings |
Publikasiedatum |
2020 |
ISBN |
9780795802324 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Hans bars die bioborrel |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9780795802430 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
2022 kortlys SA Book Awards een van topverkopers volwasse fiksie |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Hans hou sy lyf Sherlock |
Publikasiedatum |
2022 |
ISBN |
978079580254 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Hans kry troukoors |
Publikasiedatum |
2023 |
ISBN |
9780795802621 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Rudie van Rensburg as samesteller:
- Amid, Jonathan: Spanning, intrige, konflik uit 14 skerp penne. Rapport, 11 Junie 2017
- Kotzé-Myburgh, Suzette: Op die spoor van, saamgestel deur Rudie van Rensburg: ’n resensie. LitNet, 20 Junie 2017
- Myburgh, Jacques: Speurverhale ’n dossier van hoop met unieke stemme. Netwerk24, 12 Junie 2017
- Op die spoor van…: ’n versameling speurverhale deur topskrywers. Kaapstad: Tafelberg, 2017 [ISBN 9780624082583 (sb)]
Artikels oor Rudie van Rensburg
- 12 vrae aan die skrywer Rudie van Rensburg. Vrouekeur, 24 Julie 2017
- AmandaCL: In gesprek met Rudie van Rensburg … Penpunt, 9 Mei 2022
- Amid, Jonathan: Kopskoot: onderhoud met Rudie van Rensburg. LitNet, 24 Junie 2014
- Barnard, Yolanda: Judaskus vol bloed en rollende koppe. Pretoria Rekord, 29 Junie 2015
- Britz, Elretha: Rudie van Rensburg slaan nou ook na kassie met renosterstorie wat reeks word. Netwerk24, 21 September 2023
- Coetzee, Gert: Rudie van Rensburg en sy ma (99) ’n gedugte kieriebrigade. Netwerk24, 20 Julie 2023
- Green, Phyllis: Graffiti aanlynkuier met Rudie van Rensburg
- Meyer, Marita
- Fantasie, eenvoud en pret is deel van sy kuns. Die Burger, 7 Julie 2010
- “Misdaadskildery” aan Nqakula gegee. Die Burger, 7 Maart 2007
- Rautenbach, Elmari: Dié speurder is geen macho-held. Die Burger, 21 Maart 2014
- Retief, Hanlie
- Rudie van Rensburg
- Rudie van Rensburg
- Van der Merwe, Elna: Skrywer Rudie van Rensburg gesels oor sy 2 nuwe boeke. Huisgenoot, 19 November 2021
Artikels deur Rudie van Rensburg
- Benut die wysheid van die grysheid, wees gaaf met oues. Rapport, 26 Junie 2005
- Die “dice” het verkeerd vir Spottie geval. Die Burger, 6 April 2016
- Dié Trompet weet hoe om beuel te blaas. TygerBurger, 16 Maart 2016
- Dis stunning as die mense hul taal bly praat. Potchefstroom Herald, 22 April 2016
- Gebod 1: “Wag tot jy die wit van die vyand se oë sien voordat jy vuur.” Die Burger, 21 Januarie 2012
- Irma Stern: Waardevol? Ja. Uniek? Gmf. Oorspronklik? Nooit! Die Burger, 11 Desember 2010
- Rudie van Rensburg gesels met Jaco Wolmarans oor Skag
- “Swem sal ek”. Volksblad, 15 November 2013
- Taalbloed aan mure [brief aan Piet Croucamp]. Beeld, 21 April 2016
- Tata Afrikaans. Rapport, 31 Maart 2010
- Ware helde is onsigbaar. Volksblad, 24 Januarie 2015
Rudie van Rensburg se ATKV-skrywersalbum is op 2016-05-27 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Geluk hiermee, Rudie. Verdiende erkenning. Was uiters in my skik toe ek - tot my oorrompelende verrassing - ook 'n beurt gekry het.