"Hans het geen begeerte om ná soveel jare sonder sy geliefde Saartjie weer vrou te vat nie. Hy leef heel gemaklik alleen in Huis Madeliefie. Maar alles verander wanneer ’n nuwe inwoner, Liefiediefie, in die tehuis land. Met haar Marilyn Monroe-gesiggie en Jane Fonda-lyfie veroorsaak sy ’n heidense herrie onder die mans en roer sy iets in Hans se gemoed los. Nog ’n aantreklike nuwe inkommer, Janneman Vermaak, en Hans se nuwe buurman, kry egter al Liefiediefie se aandag. Hy het die ander inwoners ook gou onder sy duim met die opwindende talentkompetisies wat hy reël, waar groot prysgeld elke keer gewen kan word. ’n Verdere pen word in Hans se hart gedryf toe hy besef hierdie opperse snoeshaan het sy posisie as leidsman in die tehuis oorgeneem. Hy begin aanvaar dat ’n ou viool nie meer nuwe liedjies kan speel nie. Maar die ou Hans van Kraaienburg ontwaak gou wanneer hy aan sy broek se naat voel daar vind ’n gekonkel by die talentkompetisies plaas ..."
Hans kry troukoors (2023) is deel van ’n reeks van vyf boeke deur Rudie van Rensburg, waarvan die eerste boek, Hans steek die Rubicon oor in 2017 verskyn het. Die reeks is beskikbaar by Queillerie.
Enkele jare gelede sit ek heel kontant op die verhoog tydens ’n boekbespreking van my tweede roman, Smit Motors. Halfpad deur merk ek ’n akteur en sy onderlangse kyke na my. My kontante houding verdwyn soos mis voor die son, want gewis gaan protes aangeteken word teen ’n negatiewe resensie wat ek oor sy film gepen het. Dit gebeur dan ook so. Ek grinnik maar en sê ek staan by wat ek geskryf het. ’n Geleerde gryskop man staan op, iemand met akademiese kwalifikasies, en hy tree in die bresse vir my. Wel, soort van. Hy sê die klong moet ophou huilerig wees. Dit is nie die gepaste geleentheid vir sy grief nie. Plus, ek is per slot van rekening nét ’n rubriekskrywer en nie ’n resensent nie. Die verskil is dat jy kwalifikasies nodig het om die kroon van resensent op jou hoof te plaas.
Ek skrik nie. Een, ek het nog altyd gewag dat iemand my uitvang. Twee, hy is nie verkeerd nie. Die naaste wat ek kom aan enige filmkwalifikasie is die Oscars saam met my ma kyk van ouderdom nege af. Gevolg deur jare saam met haar films of TV kyk en dan daaroor redeneer.
Die moederskip troos en sê ek was wel van geboorte af kunssinnig. Ek het op Sondagoggende almal wakker gemaak deur operaplate te speel. Ouderdom vyf. Gelukkig het ek nie troos nodig nie. Ek is gemakliker met die term rubriekskrywer.
........
Hierdie skrywe is nie ’n resensie nie. Dit is ook nie ’n rubriek nie. Dit is meer ’n nabetragting van ’n soort.
........
Hoekom matig ek my dan aan as boekresensent vandag? Met Crito in die omgang? Met die oorlog wat rondom lesersindrukke woed? Die vet weet, net oor jy boeke skryf, beteken nie jy is ’n goeie leser nie. Hier is die algehele vrywaring dan. Hierdie skrywe is nie ’n resensie nie. Dit is ook nie ’n rubriek nie. Dit is meer ’n nabetragting van ’n soort.
Ek en die moederskip het die eerste boek in die Hans-reeks gate uit geniet. Dit was vars. Ons het lekker gelag vir Hans se manewales. Ons het ons verkneukel in die treffende argaïese Afrikaanse uitdrukkings. Dit was ’n gedeelde plesier tussen twee generasies. Dit op sigself sê baie van die boek.
Ek het ’n diep waardering gehad vir die menslikheid in die boek. Die moederskip is weer geraak oor Van Rensburg onderwerpe belig wat bejaardes raak: oudword, jou kar opgee, uit jou huis uit trek of geliefdes verloor. Hierdie sake word nie sommer oor geskryf, of meer belangrik, met soveel respek en humor uitgelig nie.
Ek skaf dadelik die tweede in die reeks aan en die moederskip lees eerste, want sy het effe meer tyd en sy is die teikengehoor. Haar indrukke? Dit is steeds snaaks, steeds menslik, steeds uitstekende vermaak, maar dit kan nie kers vashou by die debuut se kraakvarsheid nie. Ons vermy dus die daaropvolgende boeke in die reeks.
Soos die lewe nou maar loop, pen ek toe ’n half-ordentlike RUBRIEK van die film, Hans steek die Rubicon oor. Gebaseer daarop, word ek nadergehark om ’n opinie oor #5 in die boekereeks te skryf. Die kopie land voor my deur dieselfde week dat die skrywer die grootste hartseer in die oë staar. Sy geliefde vrou is oorlede aan pankreaskanker. Ons is bloot Facebook-vriende, so ek druk die Care-knoppie, maar los die gevleuelde woorde vir sy vriende en kollegas.
Ek slaan die boek oop, maar die gedagte aan die skrywer se verlies bly by my. Ek beleef Hans se nuutste krisisse. Een, die sabotasie van sy status as Huis Madeliefie se voorste vermaaklikheidster en welverdiende posisie as mondstuk van die onderdruktes. Twee, sy futloosheid weens die lewe.
.......
Ek slaan die boek oop, maar die gedagte aan die skrywer se verlies bly by my. Ek beleef Hans se nuutste krisisse. Een, die sabotasie van sy status as Huis Madeliefie se voorste vermaaklikheidster en welverdiende posisie as mondstuk van die onderdruktes.
.......

Hans kry troukoors deur Rudie van Rensburg (Queillerie, 2023)
Janneman Vermaak wat vir Hans openlik verneder, is ’n grillerige vent. Liefiediefie wat so aan dié windbol se elke woord hang, is ’n opportunis van die voorste waters. Vasie, Maatjie, Liesbet en selfs Carla speel hul gewone rolle. Hans se veggees wat terugkeer, is ’n welkome verandering, ’n terugkeer na die pittige ou korrelkop toe wat hy is. Sonder om te veel weg te gee, dit maak sy bewuswording in die laaste paar bladsye nog meer treffend. Dit is nog ’n faset van oudword wat ons ou mense ontneem.
My indrukke van boek #5 eggo die moederskip se indruk van #2. “Dit is steeds snaaks, steeds menslik, steeds uitstekende vermaak, maar dit kan nie kers vashou by die debuut se kraakvarsheid nie.”
Meer as dit sal ek nie sê nie, want in hierdie moeilike tye, in hierdie harde wêreld van oorlog, aardverwarming en geliefdes wat doodgaan, het Rudie van Rensburg nie nodig om onnodige terugvoer by hierdie snuiter te kry nie.
Ek sluit die nabetragting af met die volgende. In die laat 70’s bevind my pa hom in voorstedelike Pretoria se stofstrate met drie vrouens wat sy aandag verg. My ma, my sussie, ek. En al wat die man wou doen, was aas verkoop by die see. Boonop is my sussie skuins bedonderd al is sy by die huis en ek ’n woelwater. My ma vertel ek het selfs in my slaap geruk.
........
Vir ’n lieflike uur of wat is dit jy, jou geliefdes en dalk Rina Hugo op die radio. Hans kry troukoors het my teruggevat na daai dromerige Sondagmiddae toe.
........
Op Sondagmiddae moes die crescendo te veel geword het, want dan het hy die hele gebroedsel in sy Karmann Ghia gelaai en stadig deur die strate van Snor City gery. Hy hou aan die stuurwiel vas, my ma gluur my en my sussie aan. Iemand het iemand geskop en daai iemand kla nou dikbek. Sodra my ma terugdraai, gaan iemand anders geskop word.
Die protesaksie en wraakplanne het egter vinnig spoed verloor soos die warm winterson jou bak, die klank van die bande op die grondpad die geraas uitdoof en die beweging van die kar jou sus. Vir ’n lieflike uur of wat is dit jy, jou geliefdes en dalk Rina Hugo op die radio. Hans kry troukoors het my teruggevat na daai dromerige Sondagmiddae toe.
Lees ook:
Hans steek die Rubicon oor: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg
Liefde is liefde, dis só eenvoudig: Oktober deur Réney Warrington