Liefde is liefde, dis só eenvoudig: Oktober deur Réney Warrington

  • 0

Titel: Oktober
Skrywer: 
Reney Warrington
Uitgewer: 
Protea Boekhuis
ISBN: 
9781869195472

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek moet bieg dat ek lanklaas Afrikaans gelees het. Ná my honneursjaar in Afrikaans en Nederlands was ek so ’n bietjie teë vir letterkunde.

Oktober kom in die pos by my aan. My ma het die boek geskenk gekry vir ’n resensie wat sy in Vrye Weekblad geskryf het. Jy kan dit solank lees en kyk hoe dit is, sê sy. Ek ken nie die skrywer nie en het nog nooit van die boek gehoor nie. Volgens die agterblad lei ek af dis ’n queer love story met stukkende karakters. Nou gaan ons weer wroeg, dink ek.

Ek was glad nie voorberei op die vinnige, gestroopte verteltrant nie. Die boek laat dink my aan ’n tydkapsule-familievideo met kort tonele wat nie noodwendig gesitueer en gekontekstualiseer word nie, terwyl tydsverloop tussen elke gebeurtenis self afgelei moet word. Indrukke in ’n ander se binnelewe. Daar is min breedvoerige beskrywings van karakters of plekke. Die bondige vertellings van Jo se verwerping deur haar suster en die egskeiding van haar ouers is sonder emosionele bywoorde of byvoeglike naamwoorde, vinnige tonele in ’n gekweste familie se voorkamer. 

Ek is ’n fantasie-leser. Ek hou van gedetailleerde beskrywings van hoe die boekwêreld lyk, elke karakter se voorkoms en hul interaksies en reaksie op gebeurtenisse. En ’n goeie fantasie-skrywer kan dit doen sonder om langdradig te word. Die kenners sê mos altyd “show, don’t tell”. Maar in Oktober word daar egter niks meer beskryf, gewys of vertel as wat nodig is vir die storie nie. Die foto’s wat elke hoofstuk inlei, dra by tot die gevoel van ’n tuisfilm. Nie een van die foto’s het mense in nie. Die stiltes en spasie in elke foto vang die emosionele belewingswêreld van die hoofkarakter op baie subtiele wyse vas en word die byvoeglike naamwoorde wat die intensiteit van emosies en ervaringe aan die leser oordra.

..........
Gestroop. Dis die beste woord wat hierdie eerlike debuut kan beskryf. Gestroop sonder opgesmukte taal en vertellings. En tog so intiem omdat jy voel jy kyk binne-in Jo se kop en seer siel in. 
..........

Jo se verslae seer oor haar suster se kinders wat sy nie meer mag sien nie, voel ek hier links in my bors vassteek en ek verlang sommer na my eie suster se twee kinders en trek ’n tissue nader as ek myself in Jo se skoene indink. Ek lê en huil omtrent in elke hoofstuk want dit voel of ’n goeie vriendin haar hartseer met my deel. Dis nie poëties toegedraai of beskrywend versier nie, dis net die dowwe seer van eensaam wees en verlang en die onsekerheid van hoe leef ’n mens verder met jou kneusplekke en trauma.

Emosionele oomblikke word met diep gevoel oorgedra sonder melodrama of tranerigheid. (Dis nou van die skrywer se kant af – die trane het sy vir my gelos.) Die vry en hofmaak van die twee hoofkarakters is sensueel en sonder versiering. Dis eg, menslik en waar. Die eerlikste uitbeelding van ’n liefdesverhouding wat ek in ’n wyle in ’n storie raaklees. Ek kan myself en ’n paar van my vriende en familie in elke karakter herken omdat elkeen so intens menslik is.

Gestroop. Dis die beste woord wat hierdie eerlike debuut kan beskryf. Gestroop sonder opgesmukte taal en vertellings. En tog so intiem omdat jy voel jy kyk binne-in Jo se kop en seer siel in. 

En dit laat my wonder hoekom ons liefde netjies in pakkies wil vasknoop en name gee. Hoekom wil ons so graag etikette op alles plak? Ek het dit self gedoen toe ek die boek se agterblad gelees het – ’n queer love story, nie net ’n love story nie. En ons wil mekaar verwyt en veroordeel oor hoe en wie ons liefhet. Hoekom sal ’n mens jou eie familie afskryf omdat hulle romantiese liefde so ’n bietjie anders uitgedruk word as jou eie? Ons het tog almal voorkeure, hoekom kan geslag nie een daarvan wees nie? Is liefde op die ou einde nie maar net liefde nie? Jo se liefde vir haar susterskinders, haar liefde vir James en vir Leigh, die oorsprong vir elkeen is eerlik en opreg. 

..........
Dit laat my wonder hoekom ons liefde netjies in pakkies wil vasknoop en name gee. Hoekom wil ons so graag etikette op alles plak? Ek het dit self gedoen toe ek die boek se agterblad gelees het – ’n queer love story, nie net ’n love story nie. En ons wil mekaar verwyt en veroordeel oor hoe en wie ons liefhet.
..........

My blootstelling aan queer-literatuur in Afrikaans is nie so wyd as wat ek sou wou voorgee nie, maar dit wat ek al gelees het, was swaar en moeilik om deur te werk. Queer-verhoudings is natuurlik iets wat nog ver te veel veroordeel word in ons gemeenskappe en daarom verstaan ek dis nodig om hierdie stories te lees en te verstaan watter pyn en veroordeling queer paartjies moet navigeer.

Maar soms wens ek ’n mens kan net die mooi liefdestories ook lees sonder die angst-element wat in baie Westerse queer-films en -literatuur uitgebeeld word. Op die ou einde is dit tog net twee mense wat dieselfde behoeftes, begeertes en onsekerhede het as elke ander paartjie.

In onder andere Japan, Thailand en Suid-Korea is daar ’n film- en manga-genre wat spesifiek op selfdegeslagverhoudinge fokus, genaamd BL (Boys’ Love) of GL (Girls’ Love). Dié genre “ver-alledaags” of normaliseer selfdegeslagverhoudinge. Dit is gewoon liefdestories tussen twee mense soos enige ander rom-com. Twee mense ontwikkel gevoelens vir mekaar, moet ’n paar klippe in die pad mistrap en leer om mekaar se gruwels en gewoontes te leer ken. Soms werk die verhouding uit en soms nie. Die fokus is die verhouding en die karakters se behoefte om gekoester en liefgehê te word, soos elkeen van ons.

In die Japanese film His gaan bly die hoofkarakter met sy dogtertjie by sy ou hoërskoolliefde terwyl hy deur sy egskeiding werk. Ou liefde vlam op en die twee moet hul verhouding onder die radar hou. Woord versprei egter in die klein dorpie en bang om veroordeel te word, probeer hulle dit doodpraat. Die dogtertjie word by die skool gekonfronteer oor die aard van haar pa en sy vriend se verhouding. Sy sê later vir haar pa se lover: “Pappa is lief vir jou en jy vir hom.” Hoekom is dit vreemd? Dis tog nie vreemd nie. Kinders is baie wys en intuïtief voor die wêreld met sy vooroordele ons persepsies beïnvloed.

..........
Ek glo die enigste redding vir ’n stukkende wêreld is liefde.
..........

Ek het merendeels die Woolworths Pride campaign boycott tweets en Facebook-boodskappe vermy, want ek verloor so ’n bietjie moed vir die menigte wat steeds glo dat liefde net vir party mense toeganklik en beskore is. Ek glo die enigste redding vir ’n stukkende wêreld is liefde. Die liefde oorwin alles en verdra alles. Jy hoef nie saam te stem met elke mens se lewenskeuses nie, maar gun elkeen sy liefde en saamwees. Niemand wil alleen wees nie. Alle love stories verdien ’n happily-ever-after, maak nie saak tussen wie nie. Kom ons gun mekaar ten minste dit.

Lees ook:

Ruby & Roach se animasie: geen taalgrense nie

My kordate konyn

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top