My kordate konyn

  • 2
  • Foto’s en teks: Réney Warrington

Sagrys is gebore in die skadu van ’n ou lukwartboom. Knus binne ’n warm komposhoop, diep weggesteek in ’n doolhof van tonnels.

Sy ma is ’n weggooikonyn. Soos hulle pa, is sy “vrygelaat” op die lowergroen Parkview Gholfbaan. Seker so ’n paar maande ná Paasfees wanneer sy sou begin “moeilik raak”, of net voor die Desembervakansie wanneer haar mense tog ’n bietjie see toe wil gaan.

Haar lewe het bestaan uit honde wat hap, mense wat gif gooi, latte wat teikenskiet en karbande wat lyfies op die teer platdruk. Sy het meer vir haar kroos gesoek en ons woonsteltuin is ’n paradys van rollende groen grasperke, roosbome en ’n komposhoop met ’n lukwartboom. My wakende oog was ’n gelukskoot.

Sagrys, sy boetie Kerneels en sy twee sussies, Stoffel en Katryn, maak ’n paar dae voor die grendelstaat hul verskyning. Nogal tussen die buurman se raar Clivias. Die wolbolletjies dra veral die vroue in die gebou deur hierdie vreemde ingrendeling.

Dit is Stoffel wat my eerstens oorrompel. Sy het my gewis op en af gekyk en gedink, gits, dié een hou nie eens van diere nie. Ons moet haar sag maak. Kom ons wys haar wie ons is.

Stoffel, die nugter, wyse matriarg wat tussen die boeties gaan sit, of hulle uitmekaar uit jaag as hulle aanmekaarspring.

Katryn, die onafhanklike agent wat bloot afsak in die naaste bedding as die boeties aanmekaarspring.

Kerneels, die hofnar, die emosionele eter wat lawwe Charlie Chaplin-skoppies doen vir ’n stukkie boerekool.

Dan: ou-siel-Sagrys, kordaat, suspisieus. Hy is effe laer op die grond, hy beloer jou én die wêreld van diep onder sy wenkbroue af. Ek vind later van sy ruggraat uit.

Wanneer ’n muskeljaatkat langs die spruit afkom, of die moordenaarsgemmerkat uit sy woonstel ontsnap, gaan staan die seuns tussen die meisies en die gevaar en stamp boonop hul voete. Waaksame Sagrys heel voor, koddige Kerneels ’n ent agtertoe. Dié is nie ’n soldaat nie. Hy is deel van die linie, maar sy aandag is by heerlike droë blare eet. Ek het hom al gevang met ’n enkele beskuitjie. Kerneels sal nie twee dae in die veld hou nie. Wel, hulle is makgemaakte Europese konyne. Nie een van hulle kan meer “op hul voete dink nie”.

...........
Sagrys loop wel een keer weg. Swembad toe. Weens grendelstaatreëls moet die kompleks se swembad gesluit wees. Sagrys weet hy kan deurglip en net buite my bereik bly. Ek smeek, dreig en speel op die ou einde vuil. Pietersielie.
.............

Sagrys loop wel een keer weg. Swembad toe. Weens grendelstaatreëls moet die kompleks se swembad gesluit wees. Sagrys weet hy kan deurglip en net buite my bereik bly. Ek smeek, dreig en speel op die ou einde vuil. Pietersielie.

Tog aanvaar hy hulp toe iets in sy oog vassit. Vryf is alreeds te veel gevra, so optel is toetentaal oorbodig. Konyne weet boonop as jy vir hulle jok. “Sagrys, ek wil net kyk,” fnuik hom nie. Hy stop, ek stap nader, hy hop vyf meter. Herhaal. Vir ’n halfuur. Einde ten laaste hou die mannetjie op hop, wag tot ek bo-oor hom toring en draai sy seer ogie na my toe dat ek tog help.

.............
November 2020 van hul eerste jaar spring Kerneels en Sagrys toe aanmekaar. Nie eens Stoffel se inmenging kelder hul woede nie. In die natuur sou een noord en die ander een suid kon vlug en hul eie kolonies begin. Nou is hulle vasgekeer in ’n Parkwood-tuin en die hare waai.
.............

November 2020 van hul eerste jaar spring Kerneels en Sagrys toe aanmekaar. Nie eens Stoffel se inmenging kelder hul woede nie. In die natuur sou een noord en die ander een suid kon vlug en hul eie kolonies begin. Nou is hulle vasgekeer in ’n Parkwood-tuin en die hare waai. Ná ’n hele aand se baklei is dit maklik om die eens hardegat lyfies op te skep en te versorg. Hulle is pootuit, seer, vol krap- en bytmerke. Meeste vriende en familie wed teen my, maar ek druk deur want daar is nie ’n ander uitweg vir hulle nie. Daar is nie huise nie. Konyne word gesien as minder waardevol as katte en honde.

Dit kos vyf weke, baie geduld, baie rooiwyn en verskillende tegnieke om die broederlike twis te oorkom. Dit werk en ek kan hulle een somersoggend vrylaat. Sagrys patrolleer dadelik die gronde. Hy pie op soveel plantjies dat ek dehidrasie voorspel. Hy vryf sy kennetjie (en die reukklier wat daar sit) oor elke grashalmpie. Kerneels? Hy hardloop in sirkels en skop sy Charlie Chaplin-skoppies met agterbeentjies in die lug.

November 2022 van hul tweede jaar voer ek hulle vroeg die Vrydagoggend. Ek word koud toe ek Sagrys sien hop. Hy is laer as gewoonlik. Sy agterbene kan glad nie sy lyfie van die grond af kry nie.

Twee veeartse, twee stelle x-strale later, verstaan ek waarom Sagrys my “low profile”-konyn is. Erge artritis in sy onderste werwels van geboorte af, met ’n groot kans op totale verlamming in sy toekoms.

Dit maak nie vir my sin nie. Hy het nog nooit simptome gewys nie. Hy was die vinnigste, het die hoogste gespring. Wat van die kneusmerk op sy regteroog en regteroor? Wat van die bewerasie? Ek laat dit gaan. Ongeag die oorsaak, die skade is enorm en sy toekoms in gedrang.

My waaksame, parate ou-siel-Sagrys lê en bewe onder ’n liggrys beerpatroonkombersie, omring deur elke warmwaterbottel tot my beskikking. Wanneer hy regop kom, sit hy met sy koppie na die plafon gedraai. Sy blasie werk nie. Hy eet nie.

Ek het ’n nie-wetenskaplike teorie oor hoekom konyne so maklik doodgaan. Wanneer die pyn of vrees te erg word, skakel hulle af. Jy wil tog nie by wees as die roofdier jou uitmekaar uit skeur nie.

.............
Ek het ’n nie-wetenskaplike teorie oor hoekom konyne so maklik doodgaan. Wanneer die pyn of vrees te erg word, skakel hulle af. Jy wil tog nie by wees as die roofdier jou uitmekaar uit skeur nie.
.............

Ek besluit ek doen als in my vermoë om hom gemaklik te maak. Hy moet self besluit of hy die skakelaar wil afsit. Ek voel glad nie gekwalifiseer om daardie besluit te maak nie.

Die Saterdagaand kry ek nie geslaap nie, want ek staan elke drie ure op om Sagrys om te draai, sy groen piesanggeurmengeldrankie met ’n inspuiting te gee en sy blasie leeg te maak. Hy maak skaars sy oë oop. Die mengeldrankie loop by sy ken af.

Sondagaand kry ek ook nie geslaap nie. Ek vlieg middernag op oor die herrie wat in Sagrys se hok uitbreek. Hy is kwaad vir die einste beerpatroonkombersie. Sagrys 1, grys bersie 0. Ek benut dié nuwe energie en hou die inspuiting by sy mond. Hy kan nie genoeg kry van sy groen piesanggeurmengeldrankie nie. Yes, die mannetjie het besluit hy wil lewe, bewerasies, lam boudjies en al.

Hy trek permanent by ons in. Ek bou sponstrappies langs ons bed, sit ook hoër pote aan die bed sodat hy onder die bed kan inkruip en koop ekstra matte vir sy hakkies.

Hy kies waar hy wil slaap, waar hy sy hooiboks wil hê. Hy leer vinnig hoe dinge in ons huis werk. Sesuur die oggend en vyfuur die middag staan hy, soos die ander konyne, op aandag vir sy groente. Hy gooi ook sy bord wanneer die kos klaar is. Hy verkoop ook sy siel vir appel.

Hy weet as ek fluister, deel ek bederfies uit. Hy weet as ek my stem verhef, is hy in die moeilikheid. Hy weet maar hy gee nie om nie. Hy “gooi” sy ore, wat gelykstaande is aan ’n middelvinger.

Ten spyte van sy lam boudjies regeer hy die huis. Hy terroriseer my twee baie groter en ten volle funksionele konyne. Niks maak hom bang nie.

Vroeg-Desember kom ek agter die mannetjie volg my nie met sy oë nie, maar met sy ore. Ek hoor van die Johannesburg Diere Oogkliniek. Die oulike dokter ondersoek hom met eindelose geduld en respek. Die laaste toets is om stukkies watte rondom hom te laat val. Hy sal dit nie kan hoor of ruik nie, maar wel sien. Hy sien dit nie. Hy kom skuil teen my waar ek op my hurke sit. Ek is sy veiligheid.

Die dokter bevestig wat ek vermoed. Een, my sagte Sagrys is heeltemal blind. Twee, die artritis was ’n red herring. Die mannetjie is op die kop geslaan. Hy was iemand se aandete of in die pad van ’n sokkerbal. Dit verduidelik die kneusmerke, die bewerasies, die blindheid en die gedeeltelike verlamming van sy agterlyf en kakebeen. Breinskade.

Die dokter sê nogal: hou hom. Hy is dan so oulik. Asof ek hom sou opgee. My hart is wel aan flarde.

Ek huil al die pad huis toe. Ek kan skaars sien maar tik “quality of life for a blind rabbit” in Google. Ek leer konyne kom heel goed oor die weg sonder hul oë. Deels oor hul gehoor en reuksintuig ewe belangrik vir hulle is. Meubels moet net nie rondgeskuif word nie. Ek lig al die betrokke partye in – my vrou, my ma en ons huishulp.

Steeds vryf hy nie sy kennetjie oor enige iets in ons huis nie. Dit is nie sy huis nie. Hy dink hy gaan terug tuin toe, terug na sy tweeling, Stoffel, toe. Dié pas aan sonder hom, maar is vir lang tye eenkant, weggesteek onder ’n struik.

Vroeg in die nuwe jaar voer ek die mannetjie appel. Hy lek my regterhand blink en draai ewe linkerhand toe. Daar is niks in my linkerhand nie. Niks wat hy sal kan ruik of hoor nie. Ek beweeg my hand op en af. Sy koppie beweeg op en af.

Natuurlik het ons nie watte in die huis nie. Ek storm met ’n haastige verduideliking by my ma in. Sy torring ’n kussing oop en ruk van die binnekant uit. Ek skeur klein stukkies af en laat dit van hoog bo af rondom Sagrys val. Die mannetjie volg dit! Hy kan sien! Die enigste verduideliking is dat die swelling op die brein gesak het. Ek laat weet die oogdokter. Almal is in trane.

Sagrys gaan goed aan. Hy het nou en dan ’n slegte dag en dan bedien ek sy kos onder die bed. Die meeste dae is hy kaatjie van die baan. Ek raak diep lief vir die liefielyfie wat so hard baklei, met soveel mening sy bord gooi en nog sy ore vir my flikker as ek raas.

So ’n paar weke gelede breek Stoffel, Sagrys se sussie, haar toon en moet sy ook binne aansterk. (Ons het hulle geteel vir hul vleis, hare en ore, nie vir sterk beendere nie.) Sy eet sleg, sy hou nie van binne wees nie. Ek vat ’n kans en sit hulle bymekaar. Konyne wat so lank apart was, kan baklei.

Sagrys kan homself nie beteuel nie. Al bewend en gat oor kop hardloop en dans hy agter haar, om haar. Dan byt hy haar liggies. Dit is konyn se manier van sê, hoesit? Is ons vriende of vyande? Hy wil duidelik vriende wees. Hy onthou sy sussie. Maar onthou sy hom? En meer belangrik, sal sy die nuwe, bewende, lam boudjies weergawe van hom aanvaar? ’n Konyn se instink is om ’n swakker lid uit te skakel.

Stoffel bly vir twee dae bloot buite sy bereik. Sy is uiteraard vinniger en ratser as hy. Die mannetjie kalmeer, sy vertroue groei. Hulle kan al langs mekaar sit sonder dat hy uithaak. Aan die einde van dag twee sit Stoffel rustig haar voet en was en beweeg sonder ’n aankondiging, of veel drama, oor na Sagrys se kop toe en begin was. Dit is dit. Stoffel trek in. Sagrys se slegte dae droog op. Hy begin sy kennetjie oor die meubels vryf.

............
Ek weet sy rug mag wel agteruitgaan. Ek weet ek gaan voor ’n keuse staan. Ek weet ek en Stoffel gaan sukkel. Dit maak nie nou saak nie. Vir nou het ons hom lief.
............

Ek weet sy rug mag wel agteruitgaan. Ek weet ek gaan voor ’n keuse staan. Ek weet ek en Stoffel gaan sukkel. Dit maak nie nou saak nie. Vir nou het ons hom lief.

As jy nog van Sagrys se avonture wil beleef, besoek www.instagram.com/stoffelandcompany

Lees ook:

Katte, ’n hupstoot vir jou gesondheid

Red ons honde, of red hulle ons?

  • 2

Kommentaar

  • Marietjie Warrington

    Dagse Reney - mooier as mooi en met soveel liefde, deernis en respek geskryf! Dis 'n knop-in-die-keel-relaas en ek glo vir iemand met soveel liefde vir diere daar 'n spesiale plekkie in die hemel bespreek is. Baie dankie hiervoor en hou ons asseblief op hoogte met Sagrys en kie se vordering - sal ook die skakel volg. Moet ook nooit ophou om te skryf nie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top