Red ons honde, of red hulle ons?

  • 0
.....
Ek sal nooit weet hoe Gus se lewe voor sy tyd by ons gelyk het nie, dus probeer ek vashou aan die beeld van ’n wolkie met beentjies, wollerige oortjies en ’n snoet.
.....

Gus het eers op sy oudag by ons kom bly.

Op ’n goeie dag dink ek aan hoe oulik Gus waarskynlik was toe hy nog ’n babahondjie was – ’n spierwit watteballetjie of, soos my een vriendin gesê het, ’n wolkie. Ek dink aan hoe sag hy moes gewees het en wonder hoe sy boeties en sussies gelyk het. Ek hoop iemand het hom vasgehou en sy oortjies gekrap. Ek hoop hy was gelukkig.

Op ’n slegte dag roep ek in my verbeelding allerhande beelde op van hoe sy lewe op straat moes gewees het. Ek wonder of hy op ’n stadium ’n huis en ouers gehad het en hoe dit gebeur het dat hy verwaarloos in Stellenbosch rondgedwaal het voordat die Animal Welfare Society Stellenbosch (AWSS) hom gevind het. Ek wonder waar hy kos gekry het en waar hy geslaap het. Die gedagte aan hom wat by vullisdromme rondsnuffel vir iets om te eet is byna te veel vir my hart om te hanteer.

Gus, kort nadat hy deur AWSS ingeneem is (foto met toestemming gebruik)

Ek sal nooit weet hoe Gus se lewe voor sy tyd by ons gelyk het nie, dus probeer ek vashou aan die beeld van ’n wolkie met beentjies, wollerige oortjies en ’n snoet.

Kort nadat ek die eerste keer foto’s van Gus op Facebook gesien het, is hy aangeneem, maar die paartjie het hom na ’n dag of twee teruggevat na die skuiling toe; hy het glo nie met hulle katte oor die weg gekom nie. Soos ek nou vir Gus ken, kan ek met sekerheid sê die vyandigheid het van die katte se kant af gekom. Ek is dankbaar teenoor hulle, want hulle slegte houding teenoor ’n vreemdeling in hulle midde het Gus by ons laat beland.

Een van die eerste foto’s van Gus wat ek op Facebook gesien het (foto met toestemming gebruik)

Baie mense is skepties daaroor om ’n hond aan te neem. Hulle wil meestal weet waar die hond vandaan kom, en hulle wil ook gewoonlik ’n jong diertjie aanneem om van jongs af op te lei. Om ’n hond aan te neem is baie onvoorspelbaar, veral as hy of sy al ouerig is. Jy weet min van hulle gene, temperament (veral as hulle met sekere mense of ander diere gekonfronteer sou word) en gesondheid. Jy vat ’n kans en hoop op die beste.

.....
Gus geniet die afgetrede lewe. Hy slaap voltyds, 9 tot 5. In sy vrye tyd lê hy graag en gras eet. Hy is altyd honger. Sy gunstelingkos is alle kos en sy gunstelingdrankie is water wat ek nou net in die bak gegooi het.
.....

Ons het eers na ’n paar weke en ’n besoek aan die veearts besef Gus is omtrent dubbeld so oud as wat daar vir ons gesê is, wat sou beteken dat hy ongeveer 10 jaar oud was toe ons hom gekry het. Die ander verrassing – en dit was ’n grote – was dat hy doof is. Ons het aanvanklik gedink hy reageer nie omdat hy nie sy naam herken nie – hy het natuurlik ’n ander naam gehad voordat een van die werkers by die skuiling hom Gus gedoop het. Na vele eksperimente kon ons vasstel dat hy absoluut niks hoor nie en grotendeels op vibrasies reageer.

Die doofheid is eintlik nie so ’n groot struikelblok as wat ’n mens sou dink nie. Dit help natuurlik dat hy ’n lêerige hond is en nie ’n behoefte het om van jou af weg te hardloop sodat jy nodig het om hom te roep nie. Hy ken nou die handseine vir “kom”, “gaan”, “sit” en “wag”, en dis eintlik genoeg. Sy blaf laat my dink hy is verlangs familie van die hadida, maar dis moeilik om daaraan te werk as jy self nie kan hoor hoe jou stem klink nie.

Dis ook gerieflik dat hy nooit ontsteld raak oor enige geluide nie; al wat hom ooit pla, is ons ander hond, Aria, se pogings om met hom te speel. Sy is ’n baie energieke een-en-’n-half-jarige kruis tussen ’n Belgiese en Switserse herdershond wat bitter graag met hom wil speel, maar ek dink nie hy het ooit geleer hoe nie. ’n Bal of enige ander speelding is vir hom ook net soveel werd soos ’n klip.

Ma, wat is ek veronderstel om hiermee te maak?

Gus en Aria

Gus geniet die afgetrede lewe. Hy slaap voltyds, 9 tot 5. In sy vrye tyd lê hy graag en gras eet. Hy is altyd honger. Sy gunstelingkos is alle kos en sy gunstelingdrankie is water wat ek nou net in die bak gegooi het. Higiëne is vir hom belangrik en hy was sy pote na elke besoek aan die tuin.

Gus het sy bed geniet voordat Aria dit ’n paar maande later verskeur het.

Ek het tot dusver so baie by Gus geleer. Die grootste les is seker dié van dankbaarheid. Hy geniet elke maaltyd asof dit sy laaste is. Selfs nadat ons sy linkeroog weens ’n aaklige ooginfeksie wat reeds blindheid veroorsaak het, moes laat verwyder, het hy nooit ’n drama daarvan gemaak nie en eenvoudig aangegaan met sy lewe asof niks fout is nie. Hy leer my ook om omstandighede te aanvaar vir wat dit is en die beste daarvan te maak. Bowenal laat hy my altyd voel asof ek ’n goeie ma vir hom is, al twyfel ek dikwels of ek genoeg doen. Sy onvoorwaardelike liefde kring uit na die res van my lewe.

Ten spyte van alles wat kan skeefloop en die uitdagings van aanneming, sou ek enigiemand aanraai om ’n hond aan te neem eerder as om een by ’n teler te koop. Daar is soveel (veral ouer) honde sonder tuistes, en al wat hulle wil hê, is ’n kombers, skoon water, genoeg kos en ’n veilige, liefdevolle huis. Hulle het so baie om te bied; jy moet net aanvanklik die moed hê om aanneming te kies. Ek weet Gus is al oud en ek wens dikwels hy het vroeër al by ons kom bly, maar ek beskou elke dag wat hy nog hier is as ’n voorreg. 

Ek hoop Gus het meer jare voor hom as wat ons dink en dat sy aftrede die beste jare van sy lewe sal wees.

Lees ook:

Katte, ’n hupstoot vir jou gesondheid

25 Augustus: die afsterwe van ’n bejaarde steekhaarbrakkie (en twee bulhonde)

Die regte van diere in deeltitelskemas (en die verskil tussen katte en honde)

Die skaap op Clifton en die olifant in die vertrek

Dierepraters: ’n onderhoud met Daniah de Villiers en Hettie Richter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top