Die mens is nie die enigste wese met ’n persoonlikheid, denke, emosies en regte nie. Ons tree wel soms so op wanneer ons oor die ander spesies “heers”, skryf Elsabé Brits.
Die vurige debatte wat die onlangse slag van ’n skaap op Clifton se strand ontketen het, wys weer hoe verskillend mense ander spesies bejeën. Ons wens onsself geluk met die prestasies van ons spesie, of eien ons die reg van tradisie toe sonder om aan die regte van enige ander spesie op aarde te dink.
Drie punte op sosiale media was opmerklik: “Ons gee meer om vir diere as vir mense”; “Dit is mense se reg om ’n skaap te slag hoe en waar hulle wil, dit gebeur dan elke dag”; en “Jou braaivleis het erger gesterf by die slagpale.”
Is dit? Is die skaap op Clifton nie wreed behandel om bloot ’n politieke standpunt te maak nie? Tot watter mate was die slag van die skaap kultuur of protes, en was dit ’n etiese manier om ’n dier te behandel? Kan ’n mens sulke vergelykings tref?
Dit is wat op die strand gebeur het, volgens al die beskikbare video’s van nuuskanale wat ek herhaaldelik gekyk het: Die manier waarop die skaap op Clifton se strand gedra is, sou minstens een van die bene gebreek, of uit die potjie geruk het. Sy word aan haar ore getrek. Sy sukkel om te loop, en struikel. Plakkate word bo-op die skaap geplaas. Een lui: “Run Racist Run!” en “#Reclaim Clifton Beach”. Sy lê bewend op die sand. Sy lewe nog. Die musiek speel hard. Mense staan in ’n kring. Die skaap se agterpote is vasgebind.
“Ons gaan die skaap losmaak en hom loop na die see om die water van Nxele te drink!” het Chumani Maxwele, een van die leiers van die Black People’s National Crisis Committee, kort voor dié slagtery geskree. Hy was ook een van die leiers tydens die Rhodes Must Fall-protesoprede. Nxele was ’n Xhosa-krygsman wat dood is in ’n geveg teen die Britte in 1819 in Grahamstad.
Mense trek haar verder aan haar ore. Sy sukkel om te loop. Iemand tel haar aan die voorbene op – op so ’n manier dat dit na bo buig; nog iemand dra haar aan die oor. Die skaap se kop word in die see gedruk. Dan word herhaaldelik geskree: “ Viva black people viva! Away racist away!”
Haar keel word deur Maxwele afgesny. Bloed drup op die sand. Daar is baie selfone te sien. Min tradisionele seremonie, buiten een man wat bossies brand. Hoe ver die skaap gereis het, en onder watter omstandighede, is onbekend.
’n Dieregte-aktivis skree dan: “Die enigste ding wat jy weet om te doen is om dood te maak!” En iemand slaan haar op die bors met ’n sandaal.
Dit raas en daar is kameras en selfone orals. Kliek-kliek. Talle diereregte-aktiviste het probeer keer. “Hey fuck you, fuck you” word herhaaldelik op ’n vrou geskree. “Why are you so violent?”; “This is not your land!”; en “What do you know?” met nog vloekwoorde tussenin word oor en weer geskreeu.
’n Mens sien nie ’n polisielid in uniform op enige van die video’s nie.
Die Kaap van Goeie Hoop se Dierebeskermingsvereniging (DBV) wou teenwoordig gewees het, maar die polisie en metropolisie het hulle gevra om nie daar te wees nie, want hulle sal die situasie hanteer. Hieroor is die DBV met nabetragting woedend, omdat die polisie nie opgetree het om die wreedhede te voorkom nie.
’n Joernalis vra: “Was dit nodig om ’n dier op so manier uit te buit? Julle kon seker julle standpunt op ’n ander manier oorgebring het?” “Ons doen dit van toeka se dae af; wat gee jou die vermetelheid om te sê ons buit die dier uit ... Ons wil ons voorsate oproep op die manier wat ons altyd gedoen het. Miskien is dit net ’n bietjie arrogant ...”
In ’n onderhoud met die SABC vertel ’n sangoma, Zuko Mhukwu, dat die regte tradisionele manier om so ’n ritueel te doen nie gevolg is nie. Hy het onder meer gesê die korrekte spreuke is nie voor en ná die tyd gespreek nie. Volgens hom is die voorvadergeeste wat opgeroep is, en dié van mense wat dalk daar sou verdrink het, nie weer ter ruste gelê nie. Die manier waarop die bossies (imphepho) gebrand is, was verkeerd gedoen, ook die manier waarop daar “Viva!” ná die tyd geskree is. Hy meen dit was nie ’n ritueel nie, maar was versigtig met sy kritiek.
Die wetgewing is baie duidelik in die Dierebeskermingswet nr 71 van 1962. Die skaap is mishandel (https://www.animallaw.info/sites/default/files/AnimalsProtectionAct71-62.pdf). Hoewel die wetgewing redelik omvattend is, is dit uiters verouderd en die strawwe bly lig. Dit behoort aangepas te word en daar is in 2017 ’n wetsontwerp voorgestel, onder meer om die boete tot ’n maksimum van R40 000 en/of ’n maksimum van tien jaar tronkstraf te verhoog om met die res van die wêreld tred te hou.
Dit is ook ’n oortreding van ’n munisipale verordening om ’n dier op ’n openbare plek te slag.
Wat van die bewering dat diere elke dag oral só geslag word? Volgens artikel 4 van die Wet op Abattoirhigiëne van 1992 mag diere net 12 uur lank gehou word voordat hulle geslag word. Die dier mag nie onder stres wees op enige tyd nie, en moet op ’n menslike manier hanteer word. Dit moet geslag word in ’n area waar ander mense dit nie kan sien nie, ook nie die naburige besighede nie, of enige lid van die publiek nie. Die vleis moet op ’n higiëniese manier hanteer word, en dit mag nie verkoop word indien dit ’n rituele slagting was nie.
Wat is die welstand van diere tydens rituele slagtings in Suid-Afrika? Nie goed nie. Die Universiteit van Pretoria se Skole vir Landbou en Veeartsenykunde het dit gaan ondersoek. Net 2% van mense in die studie het gesê die keel word een keer vinnig afgesny – die kele word afgesaag. Die diere word meestal sonder kos en water vasgebind en in motors vervoer en doen vele beserings op, en dit was duidelik uit die studie dat die mense nie weet wanneer die diere dood is nie.
Dit was duidelik uit dié studie dat die diere ly – op vele maniere. Die kenners was ook teenwoordig van by die slagtings en het dit bevind.
So ook is daar ’n opvatting dat die diere wat kosjer en halaal geslag word, “beter sterf”. Dit is nie waar nie, omdat hulle nie vooraf geskok word nie. Om die dier te skok (“stun”) word goedgekeur deur die diereregte-organisasies omdat dit die brein se funksie versteur en die dier nie pyn voel voor die dood nie.
Wat doen ons aan ander spesies?
Jane Goodall, die wêreldbekende primatoloog wat vanjaar 85 jaar oud word, was nog altyd my rigtingwyser met opmerkings soos: “Ons gee meer om vir diere as vir mense.” Dit is bloot onwaar. Haar antwoord daarop is: “Deur vir diere om te gee, vir die natuur, gee jy vir mense ook om.” Jy kan nie medelye en empatie leer as jy nie omgee vir diere wat kwesbaar en “ondergeskik” aan jou is nie. So leer jy respek vir jouself en vir ander.
“Enigeen wat die lewe van diere probeer verbeter, ontvang gereeld kritiek van dié wat glo sulke pogings is misplaas in ’n wêreld waarin mense ly,” skryf sy.
Thomas Aquinas (1225–1274) se uitkyk was ook dat wreedhede teenoor diere verkeerd is omdat dit mense aanspoor om ook wreed teenoor mense te wees. Indien jy jou ontferm oor diere, sal jy jou ook ontferm oor mense. Hy is deur Aristoteles (384–322 vC) beïnvloed, maar mense is steeds boaan die piramide geplaas.
Diere het net soveel reg om nie mishandel te word nie as mense. Mense is deel van die diereryk, nie apart daarvan nie. Tog leer die meeste gelowe dat die aarde geskep is tot voordeel van die mens, en diere het nie ’n siel nie.
Die tradisionele Christelike beskouing is dat diere nie wreed behandel mag word nie. So ook volgens Islam (wat honde as vuil beskou). Maar diere is in die verlede en word nou nog steeds nie oor die algemeen as heilig beskou nie, en hulle het nie ’n noemenswaardige reg op lewe nie, omdat daar aangevoer word hulle het nie ’n verstand nie. Hulle mag maar gebruik word.
Ons vergrype in die manier waarop ons ander spesies behandel, het begin met die aanvang van veeboerdery. Ons het bokke, perde, skape, beeste, varke en pluimvee op die mees brutale maniere misbruik, onnodige eksperimente gedoen, hulle geslag en in hokke aangehou. Deur die eeue heen is hulle gebruik om te ploeg, vir vermaak gebruik, oorlog mee te voer, gekastreer, van hulle ma weggehou en beheer. En het uiteindelik op plase beland waar hulle in rye en rye hokke staan.
René Descartes (1569–1650), die filosoof, het ons vertel daar is ’n groot gaping tussen die mens en die dier, want die liggaam is net ’n masjien. En mense is spesiaal, want hulle alleen kan praat, redeneer en pyn voel. Die antroposentriese beskouing van die wêreld waarin die mens sentraal is, is eeue lank al stewig in die stoel.
Selfs in die era van verligting kon die beste natuurkundiges en filosowe nie besef ander spesies kan ook pyn voel nie. Viviseksie was tot nie lank gelede nie gewild.
Die welsyn van diere het die afgelope 200 jaar flink agteruitgegaan, met die modernisering van landboupraktyke. Die afgryslike wreedhede jeens plaasdiere soos skape, varke, beeste en hoenders om hulle eiers, melk en vleis te bekom word deur Yuval Noah Harari in sy boek Sapiens beskryf.
Die maniere waarop varke in China aangehou, vervoer en geslag word – dit is die hoofbron van vleis – is afgryslik. En moenie dink diere word nie in Indië en Bangladesj geslag nie – dit is nie ’n mooi gesig nie. Of dat dierewelsyn hoog op die agenda is in Indië net omdat die koeie heilig is nie.
Ons is almal eintlik skuldig. Die hele wêreld. Diere ly oral, elke dag. Min mense kan hiervan wegstaan en onskuld pleit.
In die 1970’s het Richard Ryder die begrip spesiisme ontwikkel; hy beskryf dit as wanneer mense hulself eerste stel en het dit gelyk gestel aan rassisme. Beide is nie logies nie. Ryder het onder meer gevra wat sal gebeur indien mens byvoorbeeld ’n professor in biologie kruis met ’n aap – sal die nasate in ’n hok of ’n wiegie gehou word?
Peter Singer het dit verder gevoer en gesê so ’n uitkyk is net daar om die mens te bevoordeel. Moreel en eties is dit verkeerd. Die grens tussen mens en dier is toenemend arbitrêr.
Dit is omdat ons vandag weet – en daar is honderde bewese voorbeelde, al sedert Goodall haar werk in die 1960’s gedoen het – dat talle diere ook in ’n interne leefwêreld het. Hulle het individuele persoonlikhede, dra selfs kultuur, soos die gebruik van gereedskap en kommunikasie, oor van een geslag na die ander; speel, treur, ervaar angs, voel pyn, waak by siekes, kan komplekse probleme oplos, ontwikkel lewenslange bande met mekaar, en wys emosie. Hulle is allesbehalwe onnosel.
Om hierdie rede is dit arm van ons om die mens volgens sekere kenmerke te beskryf en behoort ons lank te dink oor die morele en etiese status van diere. Wat rasioneel is, is relatief. Is ’n baba, ’n persoon met ’n ernstige kognitiewe agterstand of selfs ’n neurodegeneratiewe siekte rasioneel? Nee. Tog beskerm en erken ons hulle regte. Daarom behoort ons nie na die verskille tussen ons en ander spesies te kyk nie, maar na die ooreenkomste, want alles wat leef, het ’n inherente waarde.
Ons is disrespekvol teenoor onsself wanneer ons nie alle spesies met waardigheid hanteer nie. In die lewe en in die dood.
- Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis.
- Reason for hope: a spiritual journey(2000) – Jane Goodall
- Video’s: Enca, News24, SABS, TimesLIVe, Netwerk24, Politicsweb, IOL, EWN, verskeie ander opgelaai op YouTube en Twitter.
- Asian-Australasian Journal of Animal Science, 2012, 25(11):1499–1506. 5713/ajas.2012.r.02.
- Australian eJournal of Theology 2, Februarie 2004. http://aejt.com.au/__data/assets/pdf_file/0012/395679/AEJT_2.15_Wade_Animal_Theology.pdf.
- https://plato.stanford.edu/entries/moral-animal/#Spec.
- https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2018-12-31-timeline-rites-racism-and-rights-clash-on-cliftons-pristine-sands.
- https://www.iol.co.za/news/politics/reclaimclifton-three-to-face-charges-over-sheep-slaughter-18649194.
- https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/56629/Qekwana_Assessment_2017.pdf?sequence=1.
- https://www.hsa.org.uk/stunning-and-killing/stunning-and-killing.
Kommentaar
Wreed is wreed teenoor mens of dier. Ons verloor ons menslikheid en menswaardigheid.
Puik gestel. Baie dankie.
Die aarde is OORBEVOLK. Daar is nie genoeg spasie vir sewe biljoen nie.
“Ancestor-on-call” oorle Grootoupa Galant, die Cliftonskaapslagters en eiewyse politieke onkunde
Ek kom van ’n lyn van slagters van Elsiesrivier wat met diere beide vir private en rituele verbruik geboer het. Dit in die apartheidsjare toe daar nog in Elsiesrivier en Tiervlei veë aangehou was op djaarts wat uitgebreide gesinne huisves wat weens armoede hul voedselstapel self so moes aanvul.
Van die Animal Protection Act van 1962 het Grootoupa Galant die hoofslagter goed geweet en sy vakleerlinge gereeld gewaarsku dat die gevolge ernstig sou wees indien die goewerment hulle op heterdaad sou vang. So ek was nie verbaas toe daar onkundig met hierdie Wet gedreig word teen die Cliftonstrand-skaapslagters nie.
Maar wat my wel die verstand te bowe gaan is dat niemand eintlik die vorige strafbepalings van Artikel 2 van daardie Wet gelees het nie, en dit in alle erns waag om lukraak na dié Wet te verwys. Dit veral met die se nou ooglopende ongrondwetlike strafbepalings van Artikel 2 wat destyds soos volg gelees het: “... a fine not exceeding 12 months or to such imprisonment without the option of a fine, or, where such an act is of a willful and aggravated nature, to a whipping not exceeding six strokes, or to both such a fine and a whipping, or to both such imprisonment without the option of a fine and such a whipping.”
Ek kan verstaan hoekom Grootoupa Galant so bekommerd oor sy vakleerlinge se toekoms was. Ek wonder of dit vir veeboere ook soos hy en ons in daardie apartheidsjare ook so ’n angstige ondergrondse affêre was. Was hulle ook lyfstraf (whipping) toegedien indien hul dié Wet oortree het, of was dit net ons?
So gepraat van verouderde wetgewing en die beginsel van oorkoepelende statute. Daar word ook in afsondering verwys na Artikel 4 van die Wet op Abattoir-higiëne van 1992 met betrekking tot die slagting van die Cliftonskaap. Dit móét gelees word met die heelwat later oorkoepelende bepalings van die National Meat Safety Act 40 van 2000 wat in Artikel 7 slagting vir Private verbruik en kulturele of godsdiensdoeleindes uitsluit. Dit lees soos volg:
‘Prohibition of slaughter of animals at places other than abattoirs, and exemptions.-
(1) No person may-
(a) slaughter any animal at any place other than an abattoir;
(b) permit the slaughter of any animal at any place under his or her control, unless the place is an abattoir; or,
(c) sell or provide meat for human and animal consumption unless it has been slaughtered at an abattoir.
(2) (a) Subsection (1) does not apply to slaughter for own consumption or for cultural or religious purposes.
(b) No meat or animal product obtained from an animal slaughtered as contemplated in paragraph (a) may be sold to any person.’
Ongeag die ooglopende vrystellingbepalings van subseksie (2), let ek op dat ’n plaaslike munisipale politikus verantwoordelik vir veiligheid en sekuriteit sowel as die burgemeester ook met die National Meat Safety Act 40 van 2000 in die media gedreig het. Seker maar te kortsigtig in hul haas om politieke munt uit die situasie te skraap dat hulle versuim het om hierdie wet reg te lees.
Daar word ook wyd in die media en anders gepraat van ’n munisipale ‘by-law’ oor ‘animal cruelty’ wat glo ook mee gedreig word. Die enigste verwysing na so iets wat ek kon vind is die ANIMAL BY-LAW van 2010 soos gepromulgeer in die Provinsie Wes-Kaap Provinsiale Koerant 6896 op 5 Augustus 2011. Maar daardie verwysing het niks te doen met die slagting van diere nie; sy bepalings spreek die gebruik van diere vir gevegte en vermaak aan.
Ten slotte, Nxele het nie in die 1819 aanval op Grahamstad gesneuwel nie soos onlangs uit onkunde deur Cliftonstrand-skaapslagkriterati beweer is nie. Hy is wel deur die Britte gevang en na Robbeneiland-gevangenis gestuur waarvan hy op 25 Desember 1820 saam met ’n groep gevangenes ontsnap he,t maar in die proses na bewering verdrink het. Sy liggaam was nooit gevind nie.
Jeremy vannie Elsies, jou toekomstige ancestor-on-call.
Ek stem saam met Ou Clifton Skaap van der Vlakvark.
Die Homo sapiens sapiens is veronderstel om met sy baie breins te weet hoe om naasteliefde teenoor sy eie soort en ander lewende spesies te beoefen.
Maar o wee, wat 'n teleurstelling is die Homo sapiens sapiens tog nie! Die Homo sapiens sapiens bevat in sy DNS-biblioteek die saad van alle soorte sonde wat net wag vir die regte omstandighede om op Cliftonstrand of elders te ontkiem tot nadeel van lede van sy eie en andere spesies. En so stap die tyd aan . . . na waarheen?
Groetnis aan spesie olifant in die vertrek. Welke vertrek?
Die WARE "Olifant in die Vertrek" word gerieflikheidshalwe verswyg in hierdie artikel: Die ONWETTIGE en ONGEMAGTIGDE verwydering van MENSE van 'n OPENBARE strand af.
Lees weer die woorde in HOOFLETTERS, en FOKUS: As MENSE nie ONWETTIG opgetree het nie om ander MENSE soos DIERE van 'n OPENBARE strand te VERJAAG nie, sou daar nooit die geleentheid gewees het vir politieke opportuniste om munt te slaan daaruit nie.
Die skrywer is egter meer begaan oor hoe mense 'n DIER behandel het as oor wat daartoe aanleiding gegee het en voel 'n veer oor hoe mense ander MENSE behandel het, en steeds behandel ...